Die las van ons verlede en die soeke na ʼn weg vir die toekoms

“Ons word die afgelope 30 jaar vertel dat die nuwe ‘demokratiese bewind’ uit die hemel op ons toegesak het.” (Argieffoto)

Mites is een van die oudste gestaltegewings van menslike nadenke.

Ons kom die eerste mites wat op skrif gestel is teë in die prosa en digkuns van die Griekse skrywers, Homerus (agtste eeu v.C.) en Hesiodus (740 – 670 v.C.). Hulle mites was gegiet in die vorm van ʼn genealogie van die gode. Hulle het gepoog om die sinvolheid van hulle bestaan te koppel aan die ontstaansgeskiedenis van die gode. Dit mag vandag vergesog klink, maar talle van ons doen dit eintlik nog steeds vandag; net op ʼn meer subtiele manier.

Volgens die HAT (sesde uitgawe) is ʼn mite ʼn vertelling oor die gode; ʼn storie sonder grond (fabel); onwaarhede of vooroordele oor sekere mense en groepe. Hierdie definisie gee dus te kenne dat mites (a) verhale oor “ons” mense en hulle gode kan wees wat nie noodwendig met die waarheid klop nie. Mites kan ook (b) oor “ander” mense se doen en late handel, wat ook nie noodwendig waar is nie. Ek laat eers die mitiese verhale oor “ons” voorgeslagte, soos ons dit graag vertel, en konsentreer eerder op die mites wat “oor ons” handel, soos vertel deur die “ander”.

Die “ander” se mite oor ons

Prominente ANC-politici vertel graag aan hulle ondersteuner dat alle mense van kleur se vryheid en menswaardigheid eensklaps vernietig is met die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap.

Charles_Bell_-_Jan_van_Riebeeck_se_aankoms_aan_die_Kaap

Jan van Riebeeck land in Tafelbaai in April 1652 (Grafika: Charles Davidson Bell (1813–1882))

Hierdie mite mag dalk ʼn oomblik van waarheid bevat, maar sal nie die toets van rasionaliteit kan slaag nie. Wat hierdie mite wel doen, is om die idee van kollektiewe skuld tot ʼn vlak te rek, waaraan niemand nog gedink het nie. Om ʼn handjievol Hollanders verantwoordelik te maak vir al die ellendes van alle mense van kleur, oor ʼn tydperk van 370 jaar, is ʼn aanklag buite redelike perke! Oor soveel boosheid het geen ander kultuurgroep nog ooit beskik nie.

Die oordrewe skuldtoewysing maak die mite ongeloofwaardig. Hierdie mite is egter ʼn skande vir diegene wat dit verkondig. Om te glo dat massas mense oor honderde jare heen, magteloos uitgelewer was aan die bomenslike mag van ʼn paar Hollanders, is selfbeledigend. Om aan ander se boosheid te glo is één ding, maar om aan jou eie inherente swakheid te glo, is ʼn ander ding; ʼn ding waaroor ʼn mens eintlik skaam moet wees.

Die mite oor Van Riebeeck is eintlik skadeloos, aangesien dit nie met ander mites, soos dié oor die sondeval, kan kompeteer nie, maar dit is ook gevaarlik aangesien mense met ʼn minderwaardigheidsgevoel vroeër of later sal poog om te bewys dat hulle wel heldhaftig is.

Om te werk aan mites

Bogenoemde tipe mites gaan nie maklik verdwyn nie, maar wat wel gedoen kan word, is “om aan hulle te werk” (Hans Blumenberg 1920 – 1996 n.C.).

Die filosoof Xenophanes (Foto: Wikipedia)

Xenophanes (570 – 475 v.C.) was die eerste filosoof en digter wat die oortuigings van Homerus en Hesiodus betwyfel het. Volgens hom kan daar slegs één God bestaan, en die mites of die vertellings oor iemand soos Herakles (die seun van Zeus en die held wat die monsters oorwin het) is nie waar nie. So het Xenophanes die tradisie begin om “mites” met onware verhale te identifiseer. Die geskiedskrywer, Thukydides (460 – 400 v.C.), het hom gevolg deur te beweer dat die ou digters bloot ʼn klomp ongeloofwaardige fabels opgedis het waarmee niemand iets kan aanvang nie. Hiermee het die stryd tussen mites en historiese feite begin.

Om Xenophanes en Thukydides te volg is sekerlik die gevraagde optrede. Die probleem is egter, dat mense nie maklik van hulle mites afstand doen nie; gewoon omdat hulle glo dat hulle mites nie totaal onwaar is nie. Die filosoof Plato (428 – 348 v.C.) het dit ook besef en voorgestel dat ons nie alle mites botweg moet verwerp nie. Plato het beweer, dat mites wel grootliks onwaarhede versprei, maar dat daar tog ook oomblikke van waarheid in opgeneem is.

Mite en redelikheid (logos) het dus raakpunte, aangesien ʼn mite ook elemente van redelikheid en of waarheid bevat. Plato kon daarom self sonder veel moeite mitologiese verhale in sy filosofie opneem (bv. mites oor die ewigheid in Phaidon; mites oor die oorsprong van die skepping in Timaios en mites oor die hemelvaart van die siel in Phaidros). Plato het die fantasie-ryke mites verwerp, maar sekere mites bewaar, aangesien die rede op die mites aangewese is.

Alle mites kan dus nie van die tafel gevee word nie, aangesien dit bronne van kennis, wysheid en begrip is. Mites berus grootliks op vertellings oor leiersfigure van die verlede wat deels waar en deels onwaar is, maar hierdie vertellings wil hoofsaaklik koers aandui in die hede en hoop bied vir ʼn onsekere toekoms. Dit bring ons uit by ʼn volgende mite waaraan ons gereeld herinner word.

Mite in die gestalte van utopie

Ons word die afgelope 30 jaar vertel dat die nuwe “demokratiese bewind” uit die hemel op ons toegesak het. Die mite dat die 1994-bedeling ʼn gawe van God is, maak van God se goedheid ʼn grap.

Om al die korrupsie en verval aan God se barmhartigheid toe te skryf, maak ʼn bespotting van die Christelike godsdiens. Om ʼn bedenklike politieke bedeling as God se geskenk te beskou, laat ʼn mens verstom staan oor die gebrek aan kritiese denke.

ʼn Mens wil aanvaar dat talle mense drie dekades gelede hierdie mite oor die toekoms omarm het.

Nelson Mandela op 16 April 1994 voor ‘n verkiesingsaamtrek. (Foto: ALEXANDER JOE / AFP)

Daar is vandag geen rede om verder aan hierdie utopie vas te hou nie. Die verval van die land se infrastruktuur is genoeg bewys dat die utopie ook daarmee heen is. Nuwe idees is nodig om te red wat nog te redde is.

Wat staan ons te doen?

ʼn Mens kan verstaan dat mense en groepe op mites steun vir die sinvolheid van hulle bestaan, maar saam met Paulus en sy medewerkers moet daar gemaan word om nie jou verlossing in mites te soek nie.

In 1 Timoteus 1:3-4 word Christene gemaan om hulle nie op te hou met “mites en geslagsregisters” nie, en in hoofstuk 4:7 word hulle gewaarsku om weg te bly van “goddelose en dwase mites”, aangesien dit leerstellings is wat neerkom op blote selfregverdiging (2 Timoteus 4:4). Ook Titus 1:14 vermaan die lesers om van die “Joodse mites wat van die waarheid afwyk” weg te bly. Volgens 2 Petrus 1:16-17 is die evangelie van Jesus Christus nie ʼn “vindingryke fabel” nie, maar die “waarheid oor sy teenwoordigheid”.

In die Vroeë Kerk was dit veral Sextus Empiricus (180 n.C.) wat teen mites gewaarsku het, aangesien ʼn mite “die daarstelling is van dinge wat nie voorhande is nie, sowel as die dinge wat nie waar is nie”. Hy is ondersteun deur Origenes (185 – 254 n.C.) wat gemeen het dat mites “leë vertellings oor goddelike wesens is”.

Sextus Empiricus (Foto: Wikipedia)

Buite konteks klink dit vreeslik veroordelend, maar ten diepste handel al die vermanings oor die gehoorsaamheid aan die eerste gebod. Vertellings oor die helde van die verre en onlangse verlede kan nie die plek inneem van die verhaal oor Jesus Christus nie. Hiermee word die relatiewe waarde van mites nie verwerp nie. Die verdere omgang met mites berus egter nie op geloof nie, maar op hermeneutiek.

Die weg van die hermeneutiek

Volgens die prosa en digwerk van Homerus en Hesiodus tree Hermes, die seun van Afrodite (Venus, Lat.), as die boodskapper van die gode op. Hy was die persoon wat die uitweg uit benarde situasies geken het, en daarom het hy die weg uit die doodloop-strate aangetoon.

Die woord “hermeneutiek” is van sy naam afgelei, en hermeneutiek beteken om die werklikheid (soos verwoord in tekste) te verstaan, en om deur samehangende denke na nuwe uitweë te soek. Hermeneutiek is ʼn onafgeslote proses, aangesien daar nooit tot ʼn finale bevinding gekom word nie. Hermeneutiek berus op ʼn begrensde perspektief, en daarom word die proses van verstaan nooit afgehandel nie.

Die filosoof Hermes (Foto: Wikipedia)

Wat ons as ʼn klein minderheidsgroepie te doen staan, is om voortdurend, hermeneuties, met die tekste (ook dié in die gestalte van mondelingse verhale) van hierdie land om te gaan.

Hermeneutiek bring ou(er) tekste met die hede in verbinding. Uit die bronne van hierdie land kan daar dalk nuwe perspektiewe geopen word in die huidige doodloopstraat. Wat wel vir my duidelik is, is dat daar nie na nuwe utopieë gesoek moet word nie, aangesien dít slegs nuwe gestaltes van mites gaan wees.

Plato het in sy Politeia 497d ʼn waar ding geskryf. Volgens Martin Heidegger (1889 – 1976 n.C.) se vertaling beteken dit “alles groots staan in ʼn storm”, en volgens Friedrich Schleiermacher (1768 – 1834 n.C.) se vertaling beteken dit “alles groots is bedenklik”. Beide vertalings waarsku ons oor ons toekomsprojekte. Dit waarsku ons om nie groot meesterverhale te wil skryf nie.

Prof. Natie van Wyk (Foto: NHKA-webblad)

Groot ideale en planne laat ons in die stormwaters beland, aangesien dit dikwels, o so dikwels, bedenklike en onrealiseerbare ideale najaag. Die tyd het aangebreek om beskeie te wees, aangesien redelikheid in die beskeidenheid verborge lê. Redelikheid getuig van die konsentrasie op kleiner, haalbare doelstellings.

Die ontvlugting in nuwe utopieë sal maar net weer getuig van die miskenning, dat groot doelstellings altyd in die storm sal staan, omdat dit bedenklik is. Gelukkig getuig die “Afrikaner-verklaring van 22 April” van beskeidenheid en redelikheid, en daarom is dit ʼn goeie wegwyser die toekoms in.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

annie ·

Professor, wat stel jy voor? Die waarheid is onaanvaarbaar in SA. In 1994 is besluit om die leuen te wettig en dit is hoe die speletjie tot dusver verloop het. Die Waarheid, soos verkondig deur die Woord, is duidelik nie aanvaarbare spelreëls nie. Watter deel van die leuen sal die beste resultate lewer?

George ·

@Annie, het wat van al die sondes wat gepleeg is teen ons mense pre-94? Wat stel jy voor.

Kobus ·

Annie, kom met voorstelle en oplossings. Jy het nou die geleentheid.

annie ·

Die leuen waarna ek verwys, is die een wat in 1994 as die waarheid onderteken is deur die DeK & M-onderhandelaars wat aanvaar het dat Afrikaners onderdrukkers is en die ANC die grootse bevryders uit die juk. Nou wil die opvolgers hierdie gruwelike huwelik weer bevestig in die hoop dat daar ná die volgende 30 jaar iets oor is en pleit nou om genade. Wat gaan so ‘n fanfare en monumentale show bereik? Meer apartheid en onderdrukking deur die ANC?

Johan ·

“Die tyd het aangebreek om beskeie te wees,”
Ek dink die Afrikaner was nou lank genoeg “beskeie”. Redelik was ons in oormaat. 30 Jaar lank. Die meerderheid is beslis moeg om alewig die knie te buig voor dom astrante politici.
Ek sê weer die vermurwe oues moet eenkant toe staan en die jonger geslag indruk. Maar nee, die 68 jarige wil “herbou”.

skurweberg ·

Prof. Uit ervaring het ek gemerk dat mites en veral ‘n filosofie oor godsdienste en Teologiese kwessies mense verwar, wat ‘n aanslag op die Leer van die aardse Ware Kerk en Onsigbare Kerk is. Eersgenoemde is baie minder vatbaar vir mites en filosofieë as die aardse Valse Kerk wat altyd baie subtiel voorggestel word.

Mari ·

Al wat ek weet is: Om met die voetewasskotteltjie elke keer nader te draf het tot nou toe nie gewerk nie.

Sokrates ·

Baie dankie vir soveel pitkos. Die Afrikaner het sy lesse geleer in terme van die hubris van hoogmoed. Hy was bereid om hand in eie boesem te steek, meer as wat van party ander volke en kulture gesê kan word. Wat hy nou opeis, is maar bloot sy beskeie deel as n klein minderheidsgroep, iets wat internasionaal vir alle volke erken word. Die verlede is verby, die toekoms moet kreatief herbedink en beplan word. Die Afrikaner verklaring is so n inisiatief.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sokrates, jou voorbok het in Dakar sy hand in eie boesem gesteek, sommer namens Afrikaners. Nou doen hy dit weer. En jy glo die twak.

Mari ·

Hoe meer ons sê ons is skuldig en die oorsaak van al Suid-Afrika se probleme, hoe meer sal hulle ons vertrap.

Mari ·

@Ryan,

Die predikante het al die jare vir die verkeerde teikengroep gepreek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.