Die lewe is beter as wat dit ooit tevore was. Hoekom sien niemand dit raak nie?

goed-ok-strand-sonsondergang

Die gemiddelde persoon het in 2018 ’n goeie lewensgehalte. Dit klink verregaande maar dit is ’n feit. Foto: Bithin Raj/Pexels.com

Deur Morné Malan

Wat het Alexander die Grote, Plato, Leonardo da Vinci, Martin Luther, Isaac Newton, Oscar Wilde, Marie Antoinette en John D. Rockefeller in gemeen? Hulle het almal ʼn laer lewensgehalte gehad as wat die gemiddelde persoon vandag het.

Dit klink verregaande. Dit is amper te goed om waar te wees en tog weet ons dit vir ʼn feit. Die deursneepersoon kan in 2018 feitlik te enige tyd net wanneer hy of sy wil en binne tien minute toegang kry tot beter kos as wat enige farao in die geskiedenis gehad het. Dit is moeilik om te begryp hoe goed dit in der waarheid met die mensdom in 2018 gaan, maar hier volg ʼn paar statistieke wat die prentjie ʼn bietjie duideliker skets.

  • Wêreldwyd is uiterste armoede in 2018 minder as 50% laer as wat dit in 1990 was – ja, in 1990, so onlangs as 28 jaar gelede.
  • In vergelyking met die lewensverwagting van kinders in 1990, oorleef 56% meer kinders deesdae hul vyfde verjaarsdag. Dit beteken dat daar sowat 50 miljoen kinders wêreldwyd is wat die voorreg het om skool toe in plaas van graf toe te gaan.
  • Om te reis was nog nooit so gerieflik, toeganklik of veilig soos wat dit nou is nie. In 2017 het ons, danksy verbeterde stelsels en tegnologie, die eerste jaar beleef waarin nie ʼn enkele persoon in ʼn kommersiële vliegongeluk dood is nie. Dink ʼn bietjie daaroor na hoeveel vlugte daar in ʼn jaar is, selfs per ʼn dag, selfs op ʼn gegewe oomblik – en nie een persoon is weens ʼn ongeluk dood nie.
  • Die planeet was nog nooit tevore so veilig as wat dit vandag is nie. Oorloë in die wêreld is tans beperk tot ʼn streek wat hoofsaaklik tussen Nigerië en Pakistan strek.
  • Hongersnood het bykans verdwyn: in 1945 was ondervoeding onder sowat 50% van die wêreld se bevolking teenwoordig, maar in 2015 het dit 10% beloop.
  • Meer as 90% van die wêreld het toegang tot skoon water. In 1990 was dit net tussen 50 en 60%.
  • Lewensverwagting het sedert 1900 meer as verdubbel vanaf die ouderdom van 31 na 71.

Dit is belangrik om te besef hoe vinnig hierdie dinge verbeter het. Die meeste van hierdie maatstawwe was millennia lank totaal stagnant. Tog beleef ons tans sulke drastiese verbeterings wat binne dekades eerder as oor eeue plaasvind.

Ek kan nog talle ander voorbeelde opnoem, maar die enkele voorbeelde waarna verwys is, is reeds meer as genoeg bewys om enige redelike mens daarvan te oortuig dat “die goeie ou dae” op elke denkbare manier veel slegter was as wat vandag die geval is. Dink maar net aan die voordele wat blote toegang tot die internet jou bied. Die verskil tussen die beskikbaarheid van inligting vandag teenoor die situasie tot so onlangs as tien jaar gelede is so groot, dat ʼn mens dit waarskynlik nie eens kan kwantifiseer nie. Hiermee gepaardgaande kan studente aanlyn studeer en sosialiseer; besighede bestaan volkome op die internet; bemarking kan verniet gedoen word; en ’n mens kan deesdae selfs jou potensiële lewensmaat op die internet ontmoet.

Tog het hierdie artikel ook ʼn ander doel. Ons moet enersyds bewus wees van hoe goed dit eintlik in die wêreld gaan, maar andersyds is dit ook kernbelangrik dat ons besin oor hoekom dit die geval is. Ons moet dus probeer vasstel wat aanleiding gegee het tot hierdie enorme vooruitgang.

Harvard-professor, Steven Pinker, is gedeeltelik reg wanneer hy in sy nuutste boek, Enlightenment Now, aanvoer dat kapitalisme die dryfveer van dié vordering is. Hy reduseer die katalisator vir die vooruitgang van ons samelewing tot niks meer nie as “die waardes van die Verligting.” Hy verduidelik egter nooit hoekom die “Verligting” van die 18de eeu hoofsaaklik in Wes-Europa plaasgevind het nie. Hoekom juis daar en nie elders in die wêreld nie?

Max Weber het waarskynlik reeds in die 1980’s die antwoord hierop verskaf. Weber verduidelik dat die werksetiek, gees van vooruitgang en pligsgetrouheid wat met die Christelike geloof, en dan veral die Protestantse vergestalting daarvan, geassosieer word die inisieerder van kapitalisme was. Die idee dat mense ʼn roeping ervaar en dat alles “tot eer van God” gedoen moet word, is sentraal tot die ontwikkeling van die Westerse wêreld.

Dit is dus belangrik dat ons nie die belang van kultuur, geloof en waardes in ʼn samelewing geringskat nie. Hierdie faktore was gedurende die vorige eeu bepalend vir die vooruitgang van die Weste, en dit gaan ewe belangrik wees in die toekoms.

Ten spyte van die feit dat ons as ʼn samelewing beter daaraan toe is as enige vorige geslag, sien ons steeds dat rekordgetalle mense aan depressie ly of selfs hul eie lewe neem. Dit is omdat materiële welvaart nie genoeg is nie. Natuurlik is dit wonderlik dat ons meer toegang as voorheen het tot beter gesondheidsorg, dat ons toegang het tot soveel meer vervoermoontlikhede en talle ander geriewe en geleenthede waarvan voorheen nie eens gedroom is nie. Tog beteken hierdie rykdom niks as mense nie die vermoë het om groter betekenis vir hulself uit te kerf nie.

Mense ondervind ʼn behoefte aan sin, om te voel dat hul lewens meer as materiële welstand inhou en hulle wil weet dat hulle deelneem aan ʼn groter plan. Ek is bevrees dat mense weens ʼn gebrek aan hierdie groter prentjie wat deur geloof geteken word, nie net hul vermoë verloor het om al die wonderlike dinge in die wêreld raak te sien nie, maar dat ons selfs hierdie vooruitgang kan stuit. Dit sal die grootste tragedie denkbaar wees as die mensdom, ten spyte van al die vordering, begin om agteruit te gaan omdat ons nooit besef het dat dit waardes – en nie net ʼn koue, sekulêre verbintenis aan rede bo alles anders nie – was wat die welvaart geskep het.

Die materiële dra beslis by tot die genieting wat ons in die lewe ervaar, maar is op sigself nie genoeg om mense, of die stelsel wat tot ons ontwikkeling aanleiding gegee het, te onderhou nie. Die Amerikaanse outeur, Stephen Covey, is waarskynlik reg as hy sê dat ons nie werklik menslike wesens is wat soms geestelike ervarings het nie, maar dat ons eerder geestelike wesens is wat soms menslike ervarings het. Vanuit hierdie oogpunt verseker ons nie net ons vooruitgang nie, maar ook die vermoë om daardie vooruitgang te waardeer.

  • Malan is ’n navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Heinrich

Alhoewel die grootste gedeelte van die artikel waar is, het nie alle vooruitgang vir die mensdom positief gebeur nie. Kos, water, medies, tegnologies ens. wat in die artikel genoem word, het ons beslis vooruitgegaan. Ons geloof het agteruitgegaan. En met die opkoms van menseregte het ons die plot heeltemal verloor. Te veel kere het mense wat die reg het om te staak, vele ander regte van mense wat nie staak nie vertrap (stakers wat doelbewus mense van die omgewing se eiendom beskadig en daarmee wegkom). Te veel kere het kriminele meer regte as vrye burgers (kriminele het gratis behuising, kos,… Lees meer »

Halfvol

Geld vir wereld as geheel maar nie SA nie, en dit het gegeld tot so 2008 se kant, toe begin probleme weer inskop, veroorsaak deur weerstandbiedende siektes, klimaatsverandering en die oorname van die ekonomie deur globale superbesighede, menseregte wat misdadigers beskerm, die hernude opkoms van kommunisme.

TDW

Ja, ons lewens het meer gemaklik geword met spoel toilette, medici, elektrisiteit en selfone. Maar wanneer jou kind in die middel van die nag begin skree en jou eerste reaksie is om jou wapen te gryp en jou kind het nagmerries van inbrekers en nie monsters onder die bed nie, dan weet jy daar is iets groots fout met jou land en dat gemak nie kan pa staan vir onveiligheid nie. Lande wat in oorlog gedompel was het ten minste geweet hulle is in oorlog, by ons word daar gesê dat niks skort nie.

ML

Net omdat iets beter is as tevore beteken nie mens moet tevrede wees met die status quo nie. Dan sal niks ooit weer verbeter nie.

Frans C

‘n feit wat die skrywer nie noem nie,is dat daar tans meer slawe in die wêreld is as ooit te vore.Dit word beraam dat daar tans enigiets van 21 tot 30 miljoen slawe in die wêreld is,teenoor die 9 tot 11 miljoen voorheen. Dit word bv beraam dat daar tans 14.3 miljoen in India is (+- 1% van bevolking)Dit word gevolg deur,Sjina,Pakistan,Uzbekistan en Rusland. met ‘n beraamde 1 miljoen. Ja daar is voordele op verskillende lewensvlakke,maar dit gaan gepaard met ‘n morele agteruitgang.Daar is nie betroubare statistieke oor die aantal aborsies wat jaarliks plaasvind in Suid Afrika nie-dit wissel tussen… Lees meer »