Die lewe van ‘n taalaktivis

Prof. Wannie Carstens reageer op Piet le Roux se bydrae, Afrikaanses is dood. En Afrikaners dan?

Piet le Roux het gevra dat ek moet skryf oor die bestaanvoorwaardes vir die Afrikanergemeenskap in die land. Ek dink nie dit is iets waaroor ek my behoort uit te spreek voordat ek meer hieroor gelees en nagedink het nie. Ek pak dus ʼn ander tema aan – oor die lewe van ʼn taalaktivis. Dit is iets waarvan ek meer weet.

Ek sien dat in sommige koerantberigte al na my verwys is as ʼn “taalbul” en as ʼn “taalstryder”. Ek is nie een van die twee nie. Dit is natuurlik ʼn maklike manier om iemand soos ek uit die taaldebat (soos oor die taaldebat aan die Universiteit van Stellenbosch) te haal – gee my ʼn etiket om die nek en dan word ek in ʼn hoekie geplaas as ʼn afbrekende en negatiewe mens. Dit is ʼn ou taktiek waarvoor min mense gelukkig nog val. (Dit is soos om iemand ʼn rassis te noem en dan spandeer jy jou energie daaraan om te bewys jy is nie een nie. So word jy vernuftig uit die debat gehaal en eenkant geskuif.)

Ek is wel ʼn taalaktivis, bedoelende dat ek my beywer (besonder aktief!) vir die regte van tale in die land. Primêr vir Afrikaans, maar vanselfsprekend ook vir die ander tale in die land, selfs ook vir Engels… Daar is ook niks fout daarmee om ʼn taalaktivis te wees nie. Daar is gelukkig heelwat van ons in die land en ek vereenselwig my graag met mense soos Neville Alexander, Michael le Cordeur, Christo van de Rheede, Vic Webb, Theo du Plessis, Cerneels Lourens en andere. Ek (ek kan beslis nie namens hierdie persone praat nie) is nie ʼn ‘vegter’ in die ware sin van die woord nie, ek is net knaend besig om die saak waaroor ek sterk voel, in die openbare oog te hou sodat die doel van werklike talegelykberegtiging bereik kan word. Dit is eenvoudig. Die kwessie van moedertaalonderrig is so byvoorbeeld van groot belang: wat ek vir Afrikaans probeer doen en verkry, geld ook vir die ander Suid-Afrikaanse tale. Ek sal nie die saak van Afrikaans dien as ek eksklusief net vir Afrikaans werk nie. Die sprekers van die tale in Suid-Afrika is vennote van mekaar en het mekaar nodig om volledig vry in Suid-Afrika gebruik te kan word.

Die lewe van ʼn taalaktivis is wel nie altyd maklik nie. Die kritiek reën dikwels op jou neer. Kom ek illustreer. Ek was onlangs in die Lae Lande (Nederland en België) vir ʼn navorsingsbesoek en in hierdie tyd het ek ook die geleentheid gebruik om met belanghebbendes te praat oor Afrikaans. Op 13 Januarie 2012 het ek die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Werksgemeenskap (NZAW) in Delft (naby Den Haag) toegespreek oor verwikkelinge rakende Afrikaans. Die aanwesiges was mense wat baie belang stel in Afrikaans en het met belangstelling geluister. Saam met my op die paneel was die Vlaamse politikus dr. Rita de Bont en die Nederlandse oud-akademikus dr. Ceasar Hulstaert. Beide van hulle is ou vriende van Suid-Afrika. Dr. De Bont het selfs nege jaar in die Paarl gewoon en gewerk as tandarts.

Na afloop van ons elkeen se bydrae (ek het bietjie gepraat oor Afrikaans en taalpolitiek in Suid-Afrika) was daar vrae uit die gehoor waarop ons weer kon reageer. Ek het na aanleiding hiervan twaalf punte terugvoer gegee en een van hierdie punte het gelei tot ʼn berig in Beeld en Die Burger (16 Januarie) dat ek gesê het ons moet Vlaamse en Nederlandse parlementslede gebruik om ook druk op die Suid-Afrikaanse regering rakende tale te plaas. Dit is die kern van my storie: aan die een kant is ek baie kwalik geneem dat ek kon sê dat ons eksterne druk op die Suid-Afrikaanse regering moet laat plaas omdat die Afrikaanse gemeenskap tog in gesprek met die regering is en dat so ʼn standpunt verhoudings kan beduiwel en vordering wat reeds gemaak is, kan laat sneuwel. (Daaroor kan ons by geleentheid wel praat, want uit die binnekringe kan ek nie veel vordering rapporteer nie …) Daar is gesê dat my legitimiteit hierdeur aangetas word. Aan die ander kant is ek geluk gewens met ʼn sterk standpunt omdat dit juis sal help om vordering mee te bring.

Wie is dus reg? Ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat ek die geleenthede moet benut wat na my kant toe kom en my saak oor taal (ook Afrikaans) stel daar waar ek gehoor kan word. Dit het ek gedoen en ek glo dat ek nie ver van die kol af is nie.

ʼn Taalaktivis word nie altyd waardeer nie. Met die kritiek kan ek saamleef – dit is deel van die pad wat ek loop – en ek weet ook daar is genoeg steun om my te laat voortgaan op hierdie pad.

Lees ook Maretha Maartens, Isak Burger en Christo van der Rheede se reaksie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Wannie Carstens

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae