Die mag van vernedering en die krag van vryheid

dr-danie-langner-en-jaap-steyn

Dr. Danie Langner en prof. Jaap Steyn tydens die bekendstelling van Steyn se boek ‘Afrikanerjoernaal’. Foto: Verskaf.

Toespraak by NALN, 25 Februarie 2017, met die bekendstelling van prof. Jaap Steyn se publikasie, Afrikanerjoernaal – ʼn Vervolgverhaal in 365 episodes.

NP van Wyk Louw skryf in Liberale Nasionalisme die woordjie krisis word dikwels oppervlakkig gebruik om “ʼn moeilike of selfs gevaarlike tydstip” aan te dui. ʼn Krisis is vir Van Wyk Louw nie ʼn laagtepunt nie, maar ʼn “hoogtepunt” wat verband hou met die idee van ʼn skeidingsoomblik en ʼn beslissingspunt. “Nie ʼn hoë punt van ontsteltenis of inspanning nie, maar ʼn hoogtepunt van waar die uitslag in een van twee teenoorgestelde rigtings in onherstelbare finaliteit kan afloop.

Die omvang van die historiese geheueverlies onder Afrikaners het die toekoms van Afrikaans en Afrikanerkultuur by so ʼn beslissingspunt gebring.

Die Nederlandse teoloog, Herman Bavinck, het in die dertigerjare opgemerk Afrikaners se geskiedenis vir hulle reëel in tye van krisis. Hulle put krag daaruit vir die stryd en hoop vir die toekoms. ʼn Lewende historiese bewussyn stel ʼn kultuurgemeenskap in staat om die kulturele kapitaal van die verlede op sy wyse te ontsluit sodat hulle, selfs te midde van ʼn veelvoud krisisse, steeds positief, skeppend en opbouend kan leef en werk.

Is dit vandag nog so? Die omvang van ons historiese geheueverlies herinner eerder aan JD Kestell se waarneming oor die gevolge van Britse imperialisme as aan Bavick se opmerking. Kestell skryf in 1926 Afrikanerkinders het die name en datums van al die Britse konings en koninginne op die punte van hul vingers geken, maar geen benul gehad wie Pieter Retief, Gert Maritz of Andries Pretorius is nie.

Waaraan is die historiese geheueverlies te wyte?

Enersyds aan die ANC se propagandamasjien, wat verstommend suksesvol daarin geslaag het om Afrikaners se historiese bewussyn te reduseer tot apartheid en Suid-Afrikaanse geskiedenis te herinterpreteer vanuit slawerny en kolonialisme. Hermann Giliomee skryf in sy outobiografie dat die ANC met hulle “Jakobynse benadering” nie net een dominante taal en een kultuur op gemeenskappe afdwing nie, maar veral “een interpretasie van die geskiedenis op skoolleerplanne afdruk”. Die Jakobynse benadering staan lynreg teenoor die gemeenskapsbenadering wat ʼn verskeidenheid van tale, kulture en historiese interpretasies as ʼn nasionale bate beskou.

Andersyds het ons  ook skuld aan die historiese geheueverlies. Geskiedenis word dikwels op so droë en feitelike wyse aangebied, sonder dat ons kinders begelei word om die krag van die storie agter die storie te ontdek en verbande tussen gister en vandag te lê. Geen wonder baie kinders dink geskiedenis is ʼn dooie en nuttelose vak nie.

Van Wyk Louw vra wat moet ʼn kultuurmens in ʼn krisis doen? Sy antwoord is eenvoudig: “Hy moet kultuurmens bly. Hy moet sy soort werk met nog groter toewyding en nog groter hartstog doen.”

In ʼn krisis, skryf Van Wyk Louw, het die kultuurmens ʼn “vreemde taak”. “Hy moet in die krisis wees, maar nie van die krisis nie. Hy is nie die man wat blind saamspoel met die stroom van gebeurtenisse nie, maar effens afsydig die stroom bestudeer en peil en miskien help beheer. Wat vir die onnadenkende mens die volle lewe is, verward, donker, gespanne, is dit vir die kultuurmens die grondstowwe waarmee hy moet werk om in die verwarring orde te bring en in daardie donkerte lig te laat straal.”

Met die publikasie van Afrikanerjoernaal bied Jaap Steyn ʼn beslissende antwoord op historiese geheueverlies. Hy orden nie net meer as drie eeue se geskiedenis tot maklik leesbare eenhede nie, maar bestudeer en peil ook die dieptes van die historiese strome op ʼn rigtinggewende wyse. Die publikasie is voorwaar ʼn lig wat skyn in die donker.

As kultuurmens vryf prof. Steyn nie op ʼn nasionalistiese wyse Afrikanergeskiedenis blink en plaas dit op ʼn volksromantiese troontjie nie.

Hy verstaan ook nie die geskiedenis as ʼn klassestryd tussen ryk en arm, waar rykes arm slagoffers se geleenthede en grond steel nie.

Nog minder trap hy in die slaggat van soveel linkse historici en joernaliste wat Suid-Afrikaanse geskiedenis vervlak  tot  rassekonflik waarin witmense met ʼn rassemeerderwaardigheid swartmense wil onderdruk en oorheers.

Steyn beskou, soos Giliomee, geskiedenis as “die stryd tussen gemeenskappe, elkeen met ʼn eie geskiedenis en waardestelsel, wat nie soseer ander gemeenskappe wou oorheers nie maar ʼn belangrike mate van selfbeskikking oor wesenlike sake, soos onderwys, wil hê.” Geskiedenis is die verhaal van diverse kultuurgemeenskappe wat deur die eeue na lewensruimte vir hulle en hul kinders soek.

Met die sleutel tot geskiedskrywing in die hand, wys Giliomee op die impak van “nasionale” of “kulturele vernedering”. Christoffel Brand, ʼn Kaapse Afrikaner, vertel hoe die Britse veroweraars na 1806 alles moontlik gedoen het om hul kulturele meerderwaardigheid te beklemtoon, deur die Hollanders goed te laat verstaan hulle is maar net “the Dutch”.

Giliomee verwys ook na Olive Schreiner se kommentaar op die Groot Trek: “Wat die koloniste se harte die meeste verbitter het, was die koue onverskilligheid waarmee hulle behandel is en die bewustheid dat hulle as ʼn onderworpe en minderwaardige ras beskou is. Die verbittering het so intens geraak dat groot getalle individue omstreeks 1836 besluit het om die kolonie vir altyd te verlaat.”

Steyn behandel die ontsaglike vernedering van die Anglo-Boereoorlog, Milnerisme en die armblanke vraagstuk. In die FAK se bekroonde film, Doodkry is min, wys Jamie Uys die toneel van ʼn seuntjie wat as straf  met donkie-ore in die hoek van die klas moet staan. Die rede? Hy het  Afrikaans gepraat. Ook Uys vertolk Afrikaners se uitdaging as vernedering, verarming en verengelsing.

Kulturele vernedering lei maklik by diegene aan die ontvangkant daarvan tot ʼn kollektiewe patologie van minderwaardigheid. Vernedering kan selfs lei tot hensoppers, hanskakies en volstruispolitiek, maar dit lei  nooit tot kulturele selfmoord nie. Die geskiedenis wys in bykans alle gevalle kulturele vernedering het eerder gelei tot ʼn nuwe en hegter saambind van kultuurgemeenskappe, tot versterking van die bestaande en die skep van nuwe gemeenskapsinstellings, tot ʼn nuwe vryheidstryd.

Geskiedenis word geskryf deur die dinamiese spanning tussen die mag van vernedering en die krag van vryheid.

  • Lank voor die EFF het die Vryburgers met ekonomiese vryheid as dryfkrag, teen die VOC se vernederende prysbeheer en korrupsie opgestaan en private eiendomsbesit as ʼn reg gevestig. Later jare het Afrikaners die Britse ekonomiese meerderwaardigheid getroef met Volkskas, Sanlam, Santam, die Rembrandt-groep, Federale Volksbeleggings, SASOL, YSKOR en vele ander nywerhede.
  • Met godsdiensvryheid as dryfkrag, het die Hugenote van die vernederende godsdiensvervolging uit Frankryk gevlug en ruimte vir alle geloofsoortuigings in Suid-Afrika gevestig.
  • Afrikaans is deur Engelse snobs afgemaak as ʼn minderwaardige huis-, tuin- en kombuistaal. Met taalvryheid as dryfkrag om in Afrikaans te mag lees, praat en sing, het ʼn Afrikaanse Bybel, ʼn Afrikaanse radiostasie, Afrikaanse koerante, ʼn Afrikaanse liedereskat in ʼn FAK-Sangbundel, ʼn magdom van Afrikaanse tydskrifte, gedigte en boeke gevloei. In die woorde van wyle prof. Elize Botha, “tot heil van miljoene”.
  • Na die vernedering aan die oosgrens, het die Voortrekkers met politieke vryheid as dryfkrag by Taba Nchu demokrasie in Afrika gevestig, republieke gestig, grondwette geskryf en met vele politieke partye en belangegroepe demokrasie oor dekades uitgebou.
  • Afrikaners het die vernedering van armoede met die Helpmekaarfonds, Reddingsdaadbond en vele ander maatskaplike instellings twee keer in een eeu oorwin.
  • Met denkvryheid as dryfkrag het Afrikaners in vyf dekades wêreldgehalte Afrikaanse skole, universiteite en tersiêre kolleges gestig en Afrikaans tot ʼn volwaardige wêreldgehalte akademiese taal uitgebou.

Vryheid is ʼn kultuurgemeenskap se antwoord op vernedering. Die stelling sou selfs gewaag kon word dat ʼn vryheidstryd sonder vernedering onmoontlik is.

Juis daarom moet ons ag slaan op die waarskuwing van Van Wyk Louw dat die historikus nie in ʼn krisis net sal fokus op dít wat “troos of aanmoedig” nie, maar ook sal praat oor die “tragiese en tekortkominge” van ʼn volk.

Dit is ʼn historiese tragedie dat Afrikaners nie net verneder is nie, maar ook mede-landgenote deur middel van apartheid verneder het. Dit het aanleiding gegee tot ʼn vryheidstryd, ʼn struggle, waarvoor taal en kultuur vandag ʼn baie duur prys betaal.

Afrikaners mag nie blind wees vir die vernedering van miljoene mede-landgenote wat ʼn sukkelbestaan in armoede voer nie. As kultuurmense moet ons ook die omvang en diepte van hierdie krisis peil en oor hierdie vraagstuk, dalk die grootste van ons land, leiding gee.

Laat  ons nie doekies omdraai nie. Afrikaners en Afrikaans staan vandag in vele opsigte weereens aan die ontvangkant van kulturele vernedering.

Op die beslissingspunt mag kultuurmense nie net tevrede wees om eenkant te staan nie. NJ van der Merwe beskryf Afrikaners se kultuurtaak “as die stryd van individu en gemeenskap om hulself te wees, vir hulself te dink en eie selfstandigheid te handhaaf.” Kultuurmense se taak is om die vlammetjie van kulturele vryheid om onsself te mag wees, ons taal te mag praat, ons mense se geskiedenis te mag vertel, te laat brand. Selfs al flikker die vlammetjie soms gevaarlik naby aan uitdoof.

Op die beslissingspunt kan ons nie die verantwoordelikheid van ons kultuurtaak delegeer aan die staat nie. Asof die staat besorg is oor ons taal en kultuur. Die verantwoordelikheid dwing kultuurmense om nuut te dink en anders te doen. Danie Goosen beskryf dit as “ʼn beweging weg van staatsafhanklikheid na gemeenskapselfstandigheid; weg van die sindroom van wag op die staat se inisiatief na deelname aan eie gemeenskapsinstellings; weg van die teleurstellings in die staat na ʼn benadering wat self skep, self handel en self die toekoms oopmaak. Dit is ʼn kultuurstrategie wat gekenmerk word deur nuwe kulturele woordeskat, kulturele vlugvoetigheid en die wegbeitel van uitgediende benaderinge.”

Kulturele vryheid is ʼn grondwetlike reg en word ook as ʼn groepreg erken deur die Verenigde Nasies. Op die beslissingspunt mag Afrikaners nie kulturele vryheid  vir onsself toeëien asof dit net ons reg is nie. Laat ons opstaan vir die reg tot kulturele vryheid van alle landsburgers. Tydens ʼn beraad vir hoërskoolleerders in 2000 beklemtoon Tom Dreyer, voormalige Hoofleier van Die Voortrekkers: “Ons moet almal dieselfde ideaal hê, naamlik dat Suider-Afrika ʼn veilige en voorspoedige woonplek vir almal sal wees. Kulturele vryheid is veel belangriker as wat die meeste mense besef. Ongelukkig voel jy eers die gemis as jy dit verloor het. Kulturele vryheid beteken dat Afrikaners hul taal en kultuur ongehinderd kan uitleef en dieselfde vryheid ook aan die ander burgers van die land gun, want ons bou aan die ideaal van ʼn land waar elke kultuurgroep se kinders en kleinkinders vry, veilig en voorspoedig kan woon.

Om aan die ontvangkant van kulturele vernedering te staan is sleg, maar nie net negatief nie. Die geskiedenis wys vernedering verskaf elke keer  nuwe vryheidshorisonne vir gemeenskappe. Afrikaners is nie slagoffers nie, maar bouers. Hoe groter die vernedering, hoe harder bou ons. Bouers wat met elke Afrikaanse boek, film, lied, koerant, organisasie, skool en daad nuwe geskiedenis skryf. NP van Wyk Louw sê met reg: “Moenie die kritiekheid van ʼn krisis oorskat nie, probeer eerder die woord ‘daad’ se diep betekenis verstaan.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Prof Jaap Steyn is ‘n stoere en volhoubare Afrikaner. Hy kan maar. Die grootste gevaar vir die bedreigde Afrikanerkultuur is die vyand se ou beskuldigings dat ons eers ‘ander’ moet help met hulle kultuurerfenisse voor ons ons eie kan ophef/herstel want dit is eintlik ons Christelike plig: Laat ander voor in die ry staan… gee eers vir ander kos voor jou kinders kan eet… gee eers beurse vir ander se kinders… ‘ag shame’… kies ‘n meisie uit die ‘ander’ om jou plekkie in Afrika te verseker soos in die VSA… sny dele uit jou Bybel want dit maak ander so seer… Die duiwel gebruik hierdie planne al lank… en so sneuwel kulture en sterf volksdrome.

JC ·

Dankie vir die artikel. Simpatiek moet gestaan word teenoor ander kultuurvolke in SA ja, MAAR NIE MEER simpatiek as teenoor ons eie mense nie!Nooit nie!Afrikaners eerste, veral gesien Afrikaners al hoe meer moet opdok vir die staatskas en ook terselfdertyd op minder en minder voordele kan staatmaak, asook gebrekkige of geen hulp met die uitbou van Afrikaanse skole, universiteite, gemeenskapsinisiatiewe en waardering vir Afrikanerkultuur ens. Dit sal selfmoord wees om ‘n utilitariese houding in te neem onder die omstandighede!!
Daadwerklike aksie moet geneem word om EERS ons eie mense wat gebuk gaan onder onderdrukking by te staan voordat gedink kan word aan ander kulture, soos die inisiatiewe wat Solidariteit onderneem om hulp en geleenthede te bied aan verdienstelike arm blankes. Solidariteit moet geprys word vir die werk, want op die wyse sal ons mede Afrikaners, so geholpe, op hul wyse weer kan bydrae tot ons gesamentlike Afrikaansheid en Afrikaner kennis, kultuurskat en nut. Ek hoop en bid net dat my ledegeld vir die doeleindes aangewend word. Hofsake vir die behoud van Afrikaans by staatsuniversiteite is prysenswaardig, maar ons moet NOOIT vergeet dat ons mede Afrikaners wat in armoede verkeer in hul vaderland eerste kom!!! anders is die geveg vir Afrikaans by bv die staatsuniversiteite futiel en eintlik ‘n paradoksale oefening. Die armblanke vraagstuk is dus die heel belangrikste kwessie dink ek vir Solidariteit, want daar is REEDS heelwat vordering gemaak, en die fondamente BEHOORLIK reeds gele, vir die verdere uitbreiding van ons eie Afrikaanse privaat universiteit.

JC ·

Ons moet egter terselfdertyd ons Afrikaanse bruin Broers en susters in die KAAP, vernaam die Noord-Kaap, ook omhels en hul ook bemagtig en so sal ons as kollektiewe groep Afrikaanses floreer!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.