Die Mammon-staat

Argieffoto: Kent Williamson

Deur Jeannette Gnade

Oudpres. Thabo Mbeki het jare gelede op sy herrie gekry toe hy gesê het net armoedeverligting kan misdaad doeltreffend voorkom. Dit was nogal ná ʼn reeks skokkende plaasaanvalle en stadsmoorde en baie landsburgers was ontsteld omdat lewensverlies tog nie iets is waaroor daar gemoraliseer kan word nie. Vandag is sy stelling oor en oor verkeerd bewys. Misdaad duur voort – selfs deur dié mense wat ʼn fortuin opgebou het.

Die Moerane-kommissie wat politiek gemotiveerde moorde in KwaZulu-Natal ondersoek hoor gereeld getuienis aan oor huurmoordenaars wat ingespan word om opponente te vermoor. Die “opponent” behoort dikwels aan dieselfde politieke party, maar steun ʼn ander faksie. Armoede op sigself maak nie van mense moordenaars en rowers nie. Daar is ʼn groot verskil tussen iemand wat ʼn brood steel omdat hy honger is en ʼn bende wat by huise en sakeondernemings inbreek om waardevolle goedere weg te dra. Hulle het nie kos en komberse in gedagte nie, maar luukse motors, ontwerpersklere en ʼn luilekker lewe – totdat die geld wat met die verkoop van die gesteelde goedere gemaak is, opdroog.

Hierdie geldsug heers ook in regeringskringe en in die ANC. ʼn Bietjie geld wat met feitlik onsigbare oneerlikheid bekom is, maak gou plek vir miljoene rand wat nog meer verdoesel is en daarna word dit miljarde rand.

Mbeki het destyds gesê daar is niks verkeerd daarmee as kabinetslede en ander regeringsleiers private sakeondernemings bedryf nie. Hy het waarskynlik nie insae gehad in die honderde staatstenders wat gemanipuleer is om salaristrekkende amptenare te verryk nie. Toe daar uiteindelik strenger beheer toegepas is, is tenders na familielede en vriende gekanaliseer.

Mbeki se waardigheid en integriteit het hom waarskynlik naïef-dom gemaak vir sulke verregaande uitbuiting. Sy opvolger, pres. Jacob Zuma, het sy lewenslesse egter op ʼn ander plek geleer. Sedert die begin van sy politieke loopbaan het hy altyd ʼn geldtekort gehad en ander kaders – selfs oudpres. Nelson Mandela – moes hom uit sy penaries help. Vernuftige sakemanne soos die Shaik-broers het dié swakheid uitgebuit en nie lank nie of die president-in-wording verskyn op die salarisstate van oorsese maatskappye wat tenders vir die wapenaankope gekry het.

Vandag het die Shaiks vir die Guptas plek gemaak en die presidensiële vergoeding verloop ietwat anders. Hy het nou ook opgeskote seuns wat hom kan help om sy nes te veer en met genoeg geld oor hulle eie neseiers op te bou. Die president verdien ʼn stewige salaris en al sy uitgawes word deur die staat betaal. Die regering betaal ook salarisse en toelaes aan verskeie lede in sy poligame huishouding.

Steeds is dit nie genoeg nie – die versugting na geld is net te groot. Dit is die probleem met duisende en selfs miljoene landgenote. Hulle wil nie net genoeg hê om van te lewe nie – hulle wil skatryk wees. Armoedeverligting het toe nie gehelp om misdaad te verminder nie – die begeerte na rykdom het dit juis laat toeneem.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Anoniem ·

En daar kry ek toe so aardige gevoel toe ek hierdie artikel lees – het juis nou die dag by myselwers gedink dat Zuma, die Guptas en kie diep voor Mammon buig en die armstes van die armes sonder om ‘n oog te knip op Mammon se altaar neersmyt.

Anoniem ·

Pragtig uiteengesit maar nou die vraag hoe kom ons hier uit?

Eish ·

Verval van die Christelike waardestelsel of geen waardestelsel wat ooit tussen die kaders gegeld het nie.
1 Timotheus 6:10
” Want geldgierigheid is n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit be geen, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. “

Jordaan ·

Korrek – kyk nou net na die houding van die student in wie se rekening per ongeluk R14m betaal is. Daar is geen poging om eties op te tree nie, sy kyk eerder hoe vinnig sy soveel as moontlik van die geld kan spandeer (hou in gedagte die NSFAS stelsel beperk haar tot verkope van kos, boeke, ens vir haar studies, so sy moes regtig moeite doen om glo om en by R800000 in bietjie meer as 2 maande te spandeer. Dit is ‘n simptoom van iemand b y wie daar geen begrip is van ‘n gewete of morele waardes nie – nav die voorbeeld gestel deur die ANC kaders.

Avokado ·

Almal wil slim wees, maar niemand wil geleer word nie. Almal wil maer wees, maar niemand wil minder eet nie. Almal wil ryk wees, maar niemand wil hard werk nie.

Johan ·

Goed gestel. Vervang die woord almal met meeste.
Dit geld deesdae op elke lewensterrein in die samelewing. En moet tog om hemelsnaam nie mense vra om by gemeenskapsaksies betrokke te raak nie.

Kannaland ·

Presies, dit is net n mite dat misdadigers arm og honger is. As ek ooit weer hoor dit is omdat hulle honger onskuldige slagoffers is!

Jordaan ·

Korrek – kyk nou net na die houding van die student in wie se rekening per ongeluk R14m betaal is. Daar is geen poging om eties op te tree nie, sy kyk eerder hoe vinnig sy soveel as moontlik van die geld kan spandeer (hou in gedagte die NSFAS stelsel beperk haar tot verkope van kos, boeke, ens vir haar studies, so sy moes regtig moeite doen om glo om en by R800000 in bietjie meer as 2 maande te spandeer. Dit is ‘n simptoom van iemand b y wie daar geen begrip is van ‘n gewete of morele waardes nie – nav die voorbeeld gestel deur die ANC kaders.

Marius ·

Die probleem lê veel dieper by almal van ons. Kyk maar wat is ouers se belangrikste argumente as hulle kinders moet kies wat om te studeer. Hulle sê 9 uit 10 keer of daar geld in ‘n loopbaan is of nie. Mense woon in 10 milj rand se huise terwyl 13 milj mense met R450 per maand moet klaarkom in hierdie land. Hulle argument is altyd dat hulle daarvoor gewerk het. Hulle het nie vir hul ouers, ‘n goeie skoolopleiding, ekstra klasse, stimulerende omgewings gewerk nie, maar dit sal hulle nie vir jou sê nie. Of hulle sal vra wie se skuld dit is -nie hulle s’n nie. Onthou egter net een ding: Iewers in jou voorgeslagte het iemand die regte keuses begin maak sodat jy nou die vrugte daarvan pluk. Dit was nie maar altyd net so nie. Daarom sê ek dat jou “sondige selfregverdiging” maak dat die arm man sy interpretasie van die storie “sondig” en selfregverdigend beoordeel en misdaad pleeg. Albei is eintlik skuldig. Ek bepleit nie sosialisme nie. Ek pleit dat ons nie soos ryk jong manne soos van ouds dink ons doen alles reg nie. Ek pleit dat ons meer moet uitreik na ander en hulle met ons getuienis die Here laat sien.
Dit word nou al van die kansel af gepreek: Kom na Jesus toe want Hy wil hê dat jy moet ryk wees. Dis die skuilweergawe van: Kom na Mammon toe, hy wil hê jy moet ryk wees.

Frikkie Brits ·

100 % in die kol, Marius. Jou stelling van “ek pleit dat jy meer moet uitreik…” is in lyn met die Boodskap regdeur die Bybel, opgesom in Matt. 23 :23. Daar is nie meer Geregtigheid nie, geen Liefde meer nie en nog minder Deernis te vinde in hierdie wêreld nie. . . . Die bose kry die oorhand deur ons ruggraatloosheid en die feit dat daar geen regte Leier meer in hierdie wêreld is nie….

Eish ·

Dit is nou aardskuddende kommentaar! Mooi omgegaan met die waarheid Marius! ” gaan en verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal n skat in die hemel hê. Kom dan hier, en volg My.”
Nie een van ons is onskuldig nie, nie n enkele een nie.

Anoniem ·

Wat ek voor pleit, is dat mense van hierdie sekonde af die regte keuses sal maak, omdat dit alreeds hulle lewens kan verbeter.

Die regte keuses behoort deur die Woord bepaal te word, bv (1) werk hard (2) gebruik jou talente tot eer van die Here en tot voordeel van jou naaste (3) verwek kinders binne die heiligheid van die huwelik (4) getrouheid tussen huweliksmaats (5) vermy drank en dwelms (6) wees eerlik (7) moenie begeer of jaloers wees nie……

Hoeveel probleme sal nie alreeds deur hierdie kort lysie opgelos/voorkom word nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.