Die Mantashe-mynbouhandves – die skade duur voort

kumba-iron-ore-1

Kumba Iron Ore Kathu (Sishen-myn) Foto: Kumba Iron Ore

Die Suid-Afrikaanse mynboubedryf kry besonder baie aandag van die intervensioniste. Die regering se blik is tans stip op hierdie bedryf gevestig in die jongste weergawe van die omstrede mynbouhandves III, ʼn weergawe met die ANC-grootkop Gwede Mantashe aan die hoof.

Baie meen die nuwe Mantashe-handves wat nou vir kommentaar gepubliseer is, is beter as die vorige handves wat bekendgestel is deur die nou berugte Mosebenzi Zwane. Tog is die mate van verbetering in Mantashe se “onderhandelde skikking” debatteerbaar.

Miskien is die bewoording in die Mantashe-handves ietwat duideliker, miskien is sommige klousules meer deurdag bewoord, en die toepaslike nakomingstydperke is inderdaad verleng, en ná ʼn groot kabaal is die beginsel van “Een maal bemagtig, altyd bemagtig” met ʼn paar voorbehoude geïmplementeer. Vir baie lyk dit na verbeteringe. En in vergelyking met die selfs meer drakoniese weergawe van oudminister Zwane ís dit beter. Desnieteenstaande is die Mantashe-handves nogtans drakonies en ekonomies skadelik.

Globaal beskou is die Mantashe-handves slegs ʼn enkele tree terug op die pad na duur regeringsinmenging waarop die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleum Hulpbronne (MPRDA) en die mynbouhandves III die Suid-Afrikaanse mynbou reeds geplaas het.

Die verbeteringe in die Mantashe-handves is klein as ʼn mens Suid-Afrika met ander mynboujurisdiksies vergelyk en onbeduidend as ʼn mens Suid-Afrika se mynboujurisdiksie met die klassieke begrip van ʼn vryemarkstelsel vergelyk. Die huidige handves is ʼn baie duidelike bewys dat ons samelewing in ʼn groot mate aan regeringsinmenging as die norm gewoond geraak het. Intervensionisme as ʼn breër politieke werklikheid is nou deeglik ingegrawe.

Gelukkig is die mynboubedryf in Suid-Afrika vir voorstanders van vrye markte en vrye mededinging ʼn toonbeeld van verregaande regeringsinmenging. Ongeag watter newe-effekte en nadelige gevolge dit in die toekoms vir mynbou mag hê, sal vrye markte nie die skuld daarvoor kan kry nie. As die doel is om die vryemark te vermy, verdien die Mantashe-handves inderdaad ʼn spesiale gelukwensing.

Die mynboubedryf is oor die algemeen dikwels op die voorpunt van regulatoriese intervensie. Naas water, was mynbou die volgende bedryf wat aan die rampspoedige beleid van staatskuratorskap van regte onderwerp is, ’n beleid wat die potensiaal het om private eiendomsreg in Suid-Afrika heeltemal te ondermyn.

Die regulering van mynbou is nie uniek aan Suid-Afrika nie, maar die MPRDA en die voorgestelde mynbouhandves is ʼn verdubbeling van skadelike beleidsintervensies. In Suid-Afrika word mynbou nie net gereguleer om besoedeling en ander omgewingsiektes te voorkom nie; die regering se inmenging in plaaslike mynbou gaan veel verder.

Wat beteken die Mantashe-handves in die praktyk? Baie gevolge is denkbaar, maar dit gaan beslis die mynboujurisdiksie van Suid-Afrika baie minder mededingend maak en kapitaal verswak totdat dit beduidend swakker is van wat moontlik is. Dit sal Suid-Afrika waarskynlik met minder mynmaatskappye laat en tot laer produktiwiteit en minder werksgeleenthede lei.

Verbeel jou jy is ʼn uitvoerende beampte wat beleggingsgeleenthede in mynbou ondersoek. Gestel jy oorweeg dit om in SA mynbou te belê. Jy het kapitaal van R1 miljard om in ʼn onderneming met 100 uitgereikte aandele te belê. Jy tel die jongste mynbouhandves op en lees wat van jou vereis word om vir nuwe mynregte te kwalifiseer.

Die huidige konsep van die Mantashe-handves vereis dat jy mettertyd 30 van jou 100 aandele aan SEB-aandeelhouers oordra. Dié 30 aandele moet ekonomiese belang en stemreg insluit, wat beteken dat jy as aanvangsbelegger ʼn aansienlike mate van beheer oor jou belegging sal verloor.

Die 30 aandele hier bo word verder verdeel. Kwalifiserende werknemers in jou beoogde onderneming en gasheergemeenskappe in die streek waar jy beplan om jou kapitaal te belê, moet 16 van die 30 aandele kry, of onderskeidelik agt aandele elk. Tien van hierdie 16 aandele moet in die vorm van vryedeelnamebelang (free carried interest) wees, wat beteken die kwalifiserende werknemers en gasheergemeenskappe hoef geen kapitaal beskikbaar te stel om outomaties 10% van jou beoogde belegging te bekom nie. 10% is gelyk aan R100 miljoen van jou aanvangskapitaal. Dit verhoog die vereiste opbrengs van jou belegging dramaties en maak baie potensiële transaksies eenvoudig te duur.

Die oorblywende 20 van die 30 aandele kan as gefinansierde bemagtigingsvoertuie (byvoorbeeld ekwiteitslenings) gestruktureer word, maar dit beteken steeds dat jy as aanvangsbelegger ʼn kleiner terugbetaling sal ontvang omdat jy jou dividende moet deel met aandeelhouers wat op jou afgedwing is.

Benewens die eiendomsvereistes word jy ook verplig om uiteindelik ʼn deurlopende dividend (trickle dividend) van 1% op bedryfswins (EBITDA) te betaal in jare wanneer dividende nie verklaar word nie. Dit gaan beslis jou kontantvloei beperk, wat weer die risikoprofiel van jou beoogde belegging verhoog en nog meer potensiële Suid-Afrikaanse mynboubeleggings in die stof sal laat byt.

Nie net is jou eienaarskapstruktuur duidelik duurder en jou vereiste opbrengs hoër nie, maar die handves meng ook in met jou daaglikse mynboubedrywighede.

Die handves beperk jou aankoopopsies deur in breë trekke te spesifiseer van wie jy mag koop (die nasionaliteit, ras en geslag van verskaffers word voorgeskryf) en hoe jy moet belê (beleggings in navorsing en personeel word byvoorbeeld gestipuleer). Dit spesifiseer ook die ras van mense wat jy op verskillende vlakke van jou onderneming moet aanstel.

Hoewel jy gereeld hoor dat politici mynbou as “spesiaal” beskou, sal jy waarskynlik voel dat beleggings in Suid-Afrikaanse mynbou ʼn bietjie té “spesiaal” vir jou is. Jy sal waarskynlik eerder ʼn aantal mededingender mynboujurisdiksies met minder inmenging oorweeg. Te danke aan die mobiliteit van kapitaal, kan jy relatief maklik iewers belê wat jy voel vir jou minder beperkend is.

Die tragedie van Mantashe se handves is dat dit ʼn sterk gevestigde nalatenskap van ekonomies skadelike regulasies en intervensies voortsit. Die verstandige beskerming van kontrakte en private eiendom is nie mynbouhandves III se doel nie, sy doel is eerder die voortsetting van grootskaalse inmenging. Nog erger, dit is ʼn selftoegediende en heeltemal onnodige wond.

In plaas daarvan kan ʼn mededingender regulerende bestel meer beleggings lok en ’n produktiewe sektor skep wat bydra tot welvaart, werksgeleenthede en broodnodige ekonomiese groei.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Rupert Ashford ·

…en dan kan mens byvoeg jou kanse om daardie hoer opbrengs te verwesenlik wat kan kompenseer vir die “beperkings” word verder ondermyn deur peperduur arbeid en baie onvriendelike arbeidswetgewing en Unies. Kom ons gaan praat weer met Botswana…

Jerry ·

Beleggingsgewys is dit gemik op n spesifieke teikengroep wat seker reeds vooraf ingekoop het met die wete dat wit Suid Afrikaners nie hiervoor te vinde sal wees nie en hulself dus sal uitsluit. Dit sal die deur dan oopmaak vir ongure karakter beleggers van Indier afkoms en sodra hulle die monopolie van mynbou beheer sal daar dan gunstiger aanpassings vir hulle as beleggers gemaak word of iets soortgelyk wat hulle en die nuwe elite sal bevoordeel.

schalk ·

Die ANC het geen maar geen besigheids sin nie. Dis reg om die vorige regering te kritiseer maar dan moet jy verbeter op hulle foute.
Die wereld het die slagoffers van apartheid ondersteun en gehelp. Nou val die skille van hulle ooglede af en wys die ware prentjie. een van selfverryking en korrupsie. Rassisme in omgekeerde intense felheid word toegelaat.

Chris Ws ·

Mnr.Mantashe moet aangekla word van rassisme deur sy spesifieke bewoording in die mynbou handves 111.AfriForum waars julle??As lid dring ek daarop aan!
Dankie tog ek is klaar met mynbou!Nou kan ek sit en kyk hoe die anc mynbou in SA laat vou.

Pietman ·

Wonder wat dink die kredietgraderingsagentskappe hiervan? Hulle sien baie verder in die toekoms in en besef baie deeglik waarheen Suid-Afrika op pad is – baie anders as die mense wat aan totale stompsinnige tonnelvisie ly. Het in elk geval nooit verwagtinge gehad het dat regering tot beter in staat is nie.

Leonardo ·

Hoe op aarde word so ń komplekse stelsel bestuur? Die meganismes, strukture en kapitaal ontbreek tans en om dit in plek te kry en wél effektief te bestuur kan jare en selfs dekades neem. Dit is bloot onprakties.

Paul ·

Ek sou graag al die ministers en parlementslede se kwalifikasies wou sien, ook hoe lank hulle ondervinding in hul vakgebied gehad het voor hulle in hul huidige pote aangestel is. Wat het hulle dan nou daarvoor laat kwalifiseer? Mantashe kom uit die mynbou se vakbond, en DIT maak hom ‘n ekspert dat hy nou minister in daardie sektor is en ook sommer vir die bedryf kan beduie hoe hulle moet opereer.

Jacques du Toit ·

Dit laat my dink aan roelf meyer (kleinletters met opset) wat minister van verdediging was. Watse militêre ondervinding het hy gehad? En voor dit was hy in ‘n heeltemal ander portefuelje (grondwetlike ontwikkeling dink ek).

Die oorgrote meerderheid ministers (eertyds en huidig, plaaslik en internasionaal) het op die meeste slegs ‘n LLB of BA Regte graatjie. Beslis niks om oor huis toe te skryf nie. Geen wonder die planeet is in die toestand waarin hy wel is nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.