Die Maroela-boom groei tot ‘n Afrikaanse bos

In die ou tyd was die dorpsplein die bymekaarkomplek vir oud en jonk. Die dorp se inwoners en omwoners het op die plein ‘n gemeenskap geword. Dit was die ruimte waarheen almal gekom het as hulle lus was vir kuier, iets wou koop of verkoop, die nuus wou kry, ’n koppie koffie wou drink, of sommer net saam wou wees. Die dorpsplein was die middelpunt van die gemeenskap, die as waarom alles gedraai het.

Maar vinnige vliegtuie en kommunikasietegnologie het ‘n wêrelddorp geskep. Afrikaans kan deesdae reg oor die aardbol gehoor word, omdat sy sprekers wêreldwyd reis en in talle lande woon en werk. Maar selfs in Suid-Afrika het almal so besig geword dat daar nie meer tyd is vir gemeenskaplike gesellighede nie – elkeen is met sy eie dinge besig. So ‘n dun verspreiding met soveel besige bye kan ‘n gemeenskap laat ontbind en verbrokkel in ‘n paar miljoen enkelinge.

Maar toe kom Maroela Media, en skep ‘n kuberdorpsplein, ‘n gesellige bymekaarkomplek vir Afrikaans en sy sprekers – waar jy ook al is. Hier onder die Maroela-boom se vriendelike Afrikaanse skaduwee, kan mense rustig saam in Afrikaans kuier oor alles en nog wat. Dis nie net ‘n eenrigting “gepreek en gepraat” nie, ons lesers sê hul sê. Hier kry ons die nuus, sê wat ons daarvan dink, hoor wat kenners kwytraak, stry lekker met hulle, en sien en hoor ons alles oor ons geliefde taal en haar mense. Die beste van alles is dis alles gratis, en dis alles in Afrikaans. In kort, hier onder die Maroela-boom kon meer twee en ‘n half miljoen Afrikaanse enkelinge ‘n gemeenskap bly! Daarmee het Maroela die grootste boom in die Afrikaanse bos geword, danksy al die lesers wat saam natgooi en help grootmaak het.

Maar vir my is die wonderlikste die vermenigvuldigingsrol wat Maroela speel. Maroela dra die boodskap van Afrikaanse skole, Afrikaanse idees, Afrikaanse organisasies en ‘n Afrikaanse lewe ver en wyd uit. So help Maroela ‘n hele bos Afrikaanse bome en blomme groei.

En nou is Maroela ‘n volle tien jaar jonk! Ouma sou gesê het “my kind, maar jy het groot geword!” “n Groot “hoera” vir almal wat Maroela die afgelope dekade geplant, natgegooi en saam in die skadu kom sit en kuier het.

Maroela-dorpsplein

Maroela het oor die afgelope tien jaar die hedendaagse weergawe van ‘n dorpsplein geword. Hier is elkeen iemand, of jy nou ‘n inwoner van Suid-Afrika, ‘n omwoner in ‘n buurland, of ‘n Afrikaanse uitwoner in ‘n vreemde land is. Maroela maak dit moontlik dat mense nog ‘n Afrikaanse lewe kan lei, al bly jy in die middel van Londen. Susan Lombaard en haar span se Maroela-resep is terselfdertyd hipermodern en heerlik outyd; byderwets gemeng met heimwee wat jou na jou ouma laat verlang. Maroela vat Afrikaans in die toekoms in, maar het die kosbaarste skatte uit die verlede saamgebring. Hier op die Maroela-plein lag en juig ons saam as dinge goed gaan, maar huil ons ook saam as ‘n ramp iemand tref. Maroela is pro-Afrikaans, maar behandel anderstaliges met respek.

Saampraat

Baie ander webblaaie wil nie hoor wat hulle lesers sê nie. Hulle wil alleen praat. Maar Maroela glo aan ‘n tweegesprek. Ons lesers is opgevoede en moderne mense wat wil saampraat, hulle wil nie net “gesien maar nie gehoor” word nie. Hulle wil nie soos kinders behandel word nie. Daarom sê Susan Lombaard dat ons lesers die gesprek wat met die berig begin, in die kommentaar onderaan voortsit. Maar, in mooi Maroela-taal, vra die redaksie mooi: “moenie die oom of tannie in die familie wees van wie niemand hou nie”. Goeie maniere is alles maar kos niks. Dus, as jy vuilpraat voor jou ouma en haar kleinkinders sal sy jou vra om buite te gaan speel, anders loop al die kuiermense al vroegaand.

Die Oop Gesprek

My droom vir Maroela bly steeds Van Wyk Louw se “Oop gesprek”. Kom ons luister na hierdie Afrikaanse grote: “So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ‘n volk. Die sirkulasie van gedagtes; dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ‘n wisselwerking ontstaan…”

Want – soos hierdie groot intellektueel ook gesê het – is die vrye meningswisseling die lug waarsonder ons nie kan lewe nie. “Die een Verskriklike wat ons moet vrees, is die stilte wat oor die wêreld sal neersak wanneer daar nie meer binne die volke gepraat sal word nie, gestry, geredeneer nie; en die volke self teenoor mekaar nors en stil en sonder gesprek soos groot roofdiere sal lê.”

Kan mens dit beter as Louw saamvat: “Daar is geen edeler plesier as die intellektuele omgang met mense wat totaal anders dink as jy nie – wat ander dele van die eindelose rykdom van die waarheid tot hul besit gemaak het…”

Luister en dink

Maar praat is hoogstens maar net die helfte van ‘n werklike Oop Gesprek. Die ander, miskien belangriker deel is om te luister, werklik te luister, en nie net te hoor nie. En om nie te praat voordat jy gedink het nie, denke soos Louw tereg gesê het, “is om streng en omvattend te dink”. Kyk mens vandag na baie oppervlakkige denklose rubrieke in ons koerante, én die warmkop elektroniese kommentaar onderaan, dan wonder mens soms wanhopig of lees, dink en die tradisie van die Oop Gesprek sonder erfgename en testament uitgesterf het.

Standpunte

Daarom is die voorwaardes vir ‘n Oop Gesprek ‘n oop gemeenskap, oop denke, oop koppe en ‘n oop platform soos Maroela.

Soos Van Wyk Louw, gee ek nie voor om die gesprek onverbonde en gevoelloos van “buite” te voer nie. In hierdie tye veroorloof ek myself nie die luukse om standpuntloos te wees nie, want as jy staan vir enigiets, val jy ook vir enige iets. Buitendien het ek nog nooit ‘n “objektiewe waarnemer” ontmoet wat werklik onverbonde was nie, die geroemde neutraliteit was meestal maar net ‘n rookskerm om te skiet sonder om teruggeskiet te kan word.

Saam met Louw sê ek: “Jy het jou een kort lewe aan hierdie volkie onherroeplik verbind, ja verknog”, wat nie beteken dat ek doof en blind is vir ander standpunte of vir die Afrikaner se foute nie. Nee, soos Louw gesê het: “By ’n volk vir wie ’n mens werklik liefhet, sien jy sy vooroordele, sy kleinlikhede, sy geestelike agterstand”.

Om ‘n uitgangspunt of ‘n standpunt te hê, beteken dus nie ‘n Toe Gesprek of Eenrigting Debat nie, maar om in die lig van die omstandighede van ons klein volkie “aan die Afrikaner en Afrikaans se kant” te wees – sonder om teen ander kant te kies of in ‘n “ons/hulle”-strik te verstrik. Demokratiese volwassenheid is immers ‘n onlosmaaklike bestanddeel van ‘n Oop Gesprek.

In ‘n tyd wat Afrikaans en sy sprekers onder druk van alle kante af is, moet ons weer groot droom, groot dink en groot doen vir ons taal en sy mense. Daarom is my Groot Droom vir Maroela, om in Van Wyk Louw se woorde, die “skat van Afrikaans veilig deur die skare te dra”. Onthou, ons het Afrikaans verniet gekry, maar dit die wat voor ons gekom het baie duur gekos. Daarom is dit nou weer ons voorreg om ons taal vir die volgende geslag aan te gee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

loddertjie ·

Maroela het werklik gegroei, hou ons daagliks op datum met alles wat mens kan aan dink en nog meer. Ek geniet die komiese ondertoon, sit daagliks ‘n glimlag op my gesig. Baie Geluk met dit wat julle bereik het in 10 jaar, ek geniet dit om saam te gesels in Afrikaans!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.