Die Maroelaboom groei tot ʼn Afrikaanse reus

Flip-Buys-2015-September

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging Foto: Reint Dykema.

In die ou tyd was die dorpsplein die bymekaarkomplek vir oud en jonk. Die dorp se inwoners en omwoners het op die plein ʼn gemeenskap geword. Dit was die ruimte waarheen almal gekom het as hulle lus was vir kuier, iets wou koop of verkoop, die nuus wou kry, ʼn koffie wou drink, of sommer net saam wil wees. Die dorpsplein was die middelpunt van die gemeenskap, die as waarom alles gedraai het.

Maar vinnige vliegtuie en kommunikasie tegnologie het ʼn wêrelddorp geskep. Afrikaans kan deesdae reg oor die aardbol gehoor word, omdat sy sprekers wêreldwyd reis en in talle lande woon en werk. Maar selfs in Suid-Afrika het almal so besig geword dat daar nie meer tyd is vir gemeenskaplike gesellighede nie – elkeen is met sy eie dinge besig. So ʼn dun verspreiding met soveel besige bye kan ʼn gemeenskap laat ontbind en verbrokkel in ʼn paar miljoen enkelinge.

Maar toe kom Maroela Media, en skep ʼn kuberdorpsplein, ʼn gesellige bymekaarkomplek vir Afrikaans en sy sprekers – waar jy ook al is. Hier onder die Maroelaboom se vriendelike Afrikaanse skaduwee, kan mense rustig saam in Afrikaans kuier oor alles en nog wat. Dis nie net ʼn eenrigting “gepreek en gepraat” nie, ons lesers sê hul sê. Hier kry ons die nuus, sê wat ons daarvan dink, hoor wat kenners kwytraak, lekker met hulle stry, en sien en hoor ons alles oor ons geliefde taal en haar mense. Die beste van alles is, dis alles gratis, en dis alles in Afrikaans. In kort, hier onder die Maroelaboom het meer as ʼn miljoen Afrikaanse enkelinge ʼn gemeenskap geword! Daarmee het Maroela die grootste boom in die Afrikaanse bos geword, danksy al die lesers wat saam natgooi en help grootmaak het. Maar vir my is die wonderlikste die vermenigvuldigingsrol wat Maroela speel. Maroela dra die boodskap van Afrikaanse skole, Afrikaanse idees, Afrikaanse organisasies en ʼn Afrikaanse lewe ver en wyd uit. Só help Maroela ʼn hele bos Afrikaanse bome groei.

Maroela-dorpsplein

Maroela is die hedendaagse weergawe van ʼn dorpsplein. Hier is elkeen iemand, of jy nou ʼn inwoner van Suid-Afrika, ʼn omwoner in ʼn buurland, of ʼn Afrikaanse uitwoner in ʼn vreemde land is. Maroela maak dit moontlik dat mense nog ʼn Afrikaanse lewe kan lei, al bly jy in die middel van Londen. Susan Lombaard en haar span se Maroela-resep is terselfdertyd hipermodern en heerlik outyds, byderwets gemeng met heimwee wat jou na jou ouma laat verlang. Maroela vat Afrikaans in die toekoms in, maar het die kosbaarste skatte uit die verlede saamgebring. Hier op die Maroela-plein lag en juig ons saam as dinge goed gaan, maar huil ons ook saam as ʼn ramp iemand tref. Maroela is pro-Afrikaans, maar behandel anderstaliges met respek.

Saampraat

Baie ander webblaaie wil nie hoor wat hulle lesers sê nie. Hulle wil alleen praat. Maar Maroela glo aan ʼn tweegesprek. Ons lesers is opgevoede en moderne mense wat wil saampraat, hulle wil nie net “gesien maar nie gehoor” word nie. Hulle wil nie soos kinders behandel word nie. Daarom sê Susan Lombaard dat ons lesers die gesprek wat met die berig begin, in die kommentaar onderaan voortsit. Maar, in mooi Maroela-taal, vra die redaksie mooi: “Moenie die oom of tannie in die familie wees van wie niemand hou nie”. Goeie maniere is alles maar kos niks. Dus, as jy vuilpraat voor jou ouma en haar kleinkinders sal sy jou vra om buite te gaan speel, anders loop al die kuiermense al vroegaand.

Die Oop Gesprek

My droom vir Maroela bly steeds Van Wyk Louw se “Oop Gesprek”. Kom ons luister na hierdie Afrikaanse grote: “So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ‘n volk. Die sirkulasie van gedagtes; dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ‘n wisselwerking ontstaan…”

Want – soos hierdie groot intellektueel ook gesê het – is die vrye meningswisseling die lug waarsonder ons nie kan lewe nie. “Die een Verskriklike wat ons moet vrees, is die stilte wat oor die wêreld sal neersak wanneer daar nie meer binne die volke gepraat sal word nie, gestry, geredeneer nie; en die volke self teenoor mekaar nors en stil en sonder gesprek soos groot roofdiere sal lê.”

Kan mens dit beter as Louw saamvat: “Daar is geen edeler plesier as die intellektuele omgang met mense wat totaal anders dink as jy nie – wat ander dele van die eindelose rykdom van die waarheid tot hul besit gemaak het…”

Luister en dink

Maar praat is hoogstens maar net die helfte van ʼn werklike Oop Gesprek. Die ander, miskien belangriker deel is om te luister, werklik te luister, en nie net te hoor nie. En om nie te praat voordat jy gedink het nie, denke soos Louw tereg gesê het, “is om streng en omvattend te dink”. Kyk mens vandag na baie oppervlakkige denklose rubrieke in ons koerante, én die warmkop elektroniese kommentaar onderaan, dan wonder mens soms wanhopig of lees, dink en die tradisie van die Oop Gesprek sonder erfgename en testament uitgesterf het.

Standpunte

Daarom is die voorwaardes vir ʼn Oop Gesprek ʼn oop gemeenskap, oop denke, oop koppe en ʼn oop platvorm soos Maroela.

Soos Van Wyk Louw gee ek nie voor om die gesprek onverbonde en gevoelloos van “buite” te voer nie. In hierdie tye veroorloof ek myself nie die luukse om standpuntloos te wees nie, want as jy staan vir enige iets, val jy ook vir enige iets. Buitendien het ek nog nooit ʼn “objektiewe waarnemer” ontmoet wat werklik onverbonde was nie, die geroemde neutraliteit was meestal maar net ʼn rookskerm om te skiet sonder om teruggeskiet te kan word.

Saam met Louw sê ek “jy het jou een kort lewe aan hierdie volkie onherroeplik verbind, ja verknog”, wat nie beteken dat ek doof en blind is vir ander standpunte of vir die Afrikaner se foute nie. Nee, soos Louw gesê het: “By ’n volk vir wie ’n mens werklik liefhet, sien jy sy vooroordele, sy kleinlikhede, sy geestelike agterstand”.

Om ʼn uitgangspunt of ʼn standpunt te hê, beteken dus nie ʼn Toe Gesprek of Eenrigtingdebat nie, maar om in die lig van die omstandighede van ons klein volkie “aan die Afrikaner en Afrikaans se kant” te wees – sonder om teen die ander kant te kies of in ʼn “ons-hulle” strik te verstrik. Demokratiese volwassenheid is immers ʼn onlosmaaklike bestanddeel van ʼn Oop Gesprek.

In ʼn tyd wat Afrikaans en sy sprekers onder druk van alle kante af is, moet ons weer groot droom, groot dink en groot doen vir ons taal en sy mense. Daarom is my Groot Droom vir Maroela, om in Van Wyk Louw se woorde, die “skat van Afrikaans veilig deur die skare te dra”. Onthou, ons het Afrikaans verniet gekry, maar dit het die wat voor ons gekom het, baie duur gekos. Daarom is dit nou weer ons voorreg om ons taal vir die volgende geslag aan te gee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Theuns ·

Beste Flip ek antwoord op jou skrywe met ongelooflike dankbaarheid teen oor Soldariteit, AfriForum,Maroela en al julle hoog aangeskrewe Meningsvormers. Danksy julle almal is daar nou weer lig in die tonnel vir Afrikaans. Groete.

Piet ·

Maroela moet Naspers bedank en hul meningsvormers soos Max du preez, Kopdoek Croukamp, Christi van de Westhuizen ens ens. Die een se dood is die ander se brood.

Henry ·

Jy’s binne innie kol in Piet!
N24 het foutiewelik aanvaar dat hulle die reëls en regulasies vir die Afrikaner se politieke denke kan bepaal, maar toe werk Max en kie se Politieke Korrektheid nie.
Dankie vader dat Flip ook oopkop is vir ander standpunte. In hierdie verband haal hy vir Louw aan:
“…Daar is geen edeler plesier as die intellektuele omgang met mense wat totaal anders as jy dink nie – wat ander dele van die rykdom van die eindelose waarheid tot hulle besit gemaak het…”
Wat ‘n wonderlike, tydlose en navolgingswaardige wysheid is dit nie!!!
Respekteer dit.
Wanneer daar van hierdie waarhede afgewyk word, omdat ander siele se standpunte onverteerbaar/onversoenbaar met die betrokke nuusmedium se benepe/onbuigbare opvattinge sou raak, is dit ook die einde van daardie nuusmedium se nut.
Dankie tog daarvoor!
Vir die rekord. Vuil taal, persoonlike en kru beledigings, haatspraak ens is eweneens nie toelaatbaar nie.

Isabella Carstens ·

My hart bokspring as ek sulke suiwer, maar praat-en lees-Afrikaans sien. Met waardeering Flip, met opgewondenheid om tuis te kom hier onder die boom op die dorpsplein.!

Santjie Stoof ·

Wat n wonderlike “boom”
Dankie in jou skadu hoor ons onse taal en onse mense, soos wind deur die blare ritsel.

Therese van Schalkwyk ·

Pragtige stuk!

Veels geluk aan al die mense by Maroela. Dis sowaar ‘n pronkstuk waarop almal baie trots kan wees.

Treffende woorde: “Onthou, ons het Afrikaans verniet gekry, maar dit het die wat voor ons gekom het baie duur gekos”.

Luister goed, alle Afrikaanssprekende besluitnemers aan voormalige Afrikaanse universiteite!

Derek Meyer ·

Geluk, Maroela en Flip. Mag daar nog baie meer lesers wees.

johann cb ·

Baie dankie en baie geluk Maroela Media, ons lees lekker in ons taal! Dankie Flip! Groete, in Afrikaans.

Johan ·

Wat ‘n mens hier lees is ‘n riem onder die hart en verblydende nuus vir die Afrikaanse taal, doen so voort! Mag die lesers dramaties verdriedubbel.

rudi ·

As ‘n siber soldaat vir jare kan ek jul komlimenteer vir jul uitstekende blad. ‘n paar wenke: 1) Jul groei het baie te doen met ander webtuistes wat komenaar gebock het. Moet dus nie te veel polisieman speel met mense se kommentaar. 2) Almal hou van die laaste se so draai jul kommentaar om sodat die laaste kommentaar eerste gelees word. Vra IOL hoekom hul so vinnig gegroei het todat ANC hom ook stil gemaak het. As jul dit nie doen gaan mense net meer reply” wat nogal irreterend kan wees 3)Hou aan om die moorde op plaase te plaas. Dis negatief maar dit is besig om mense se oe oop te maak. Dis tans net jul wat dit doen. Dit gaan vir jul tel. 4)Laaste maar belangrikste: Die persoon wat my boodskap lees en WEER soos talle ander van my boodskappe gaan “delete”, Aseblief gee tog die boodskap oor aan jou bestuur:)

Koos ·

Maroela moet groei tot ‘n volwaardige uitsaaier geskoei op die ou SAUK beleid sodat ons kan wegbreek van die verdrukking en voorskryf van sabc en dstv met hulle ANC gedagtes

Johan Piek ·

Pragtige en inspirerende stuk skryfwerk deur Flip Buys ! Ek stuur dit vir almal wat ek ken ! Jojan Piek

Hennie Theart ·

Wat vir my lekker is van die boom….hier onder sy skaduwee kan ek ook my God aanroep. Dankie dat ons Afrikaners nog ons Christelike waardes ook hier kan beoefen.

JP vd Merwe ·

Beslis. Eg afrikaans geskoei op ‘n besonderse respek en balans van waardes en nugtere verslaggewing.

Ek ·

Baie dankie Maroela nou kry ons tog nuus en al die ander dinge in ons eie soetste taal sonder om ander te benadeel.

Patrys ·

Ek was so ‘n paar jaar gelede in Mexico. Daar het elke dorp en stad nog ‘n dorpsplein of stadsplein. Kenmerkend van hulle dorps-of stadspleine is dat die Groot Katedraal van die stad by die plein is. En is so ‘n plein nie ‘n wonderlike bymekaarkomplek nie! In die stad Puebla noem hulle hul plein el zocálo. Daar is bymekaargekom, gekuier, danskompetisies gehou, boekemark of kunsmark of kosmark gehou dat jou tone omkrul van plesier. So moet ons maroelaplein vir al die Afrikaanssprekendes word, waar ‘n hond uit ‘n bos gesels, geredeneer, beplan en gedroom word oor Afrikaans wat nie net my taal is nie maar my hele menswees.

Ricci ·

As ek iets nuuswaardigs wil lees, lees ek Maroelamedia. Ek het nie ‘n televisie of radio in my huis nie en koop ook nie die koerant nie, so as ek die waarheid wil weet oor wat aangaan, lees ek die nuus in Afrikaans op julle webblad. Andersins luister ek na die radio oppad werk toe, en lees ek die koerantopskrifte op die lamppale. Dankie vir hierdie wonderlike blad. Ek versprei van julle berigte sover ek kan omdat dit so goed, die waarheid of sommer net pittig is of omdat daar ‘n lekker reseppie is! Flip Buys is inderdaad ‘n fantastiese voorbeeld vir so baie ander wat gerus van hom en sy span kan leer.

Andre ·

Ek dink Netwerk24 gaan baie bekommerd raak. Hulle sien hoe hulle R99 rande begin verdwyn.

Annatjie ·

Dankie Flip vir hierdie geweldige inisiatief…. Dit noem ek positief innoveer en nie te verval in klaagsang nie. Mag julle hiervan die vrugte pluk. Groete. Annatjie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.