Die media is nie die enigste slagoffer van Malema nie

Julius Malema leier van die EFF onlangs in Brooklyn. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Die Amerikaanse kommentator William F. Buckley jr. het by geleentheid gesê, “Ons is so begaan daaroor om die meerderheid ter wille te wees, dat ons uit die oog verloor hoe gereeld dit nodig is om die meerderheid trompop te loop ter wille van die behoud van die vryheid van die minderheid, sowel as vir die individu.”

Die laaste paar dae is die media met reg ontsteld oor die EFF-leier Julius Malema se aanvalle in toesprake op individuele lede van die media. Pas het die EFF ook die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) se uitnodiging tot gesprek om die kwessies op te klaar, van die hand gewys. Dit kan dus met reg aanvaar word dat die aanvalle op die media meer bitsig en nog meer vyandig gaan word.

Wat egter in dié tyd ook gevra moet word, is hoekom sommige media nou eers wakker skrik en reageer op die uitsprake van Julius Malema? Waar was dieselfde lede van die media toe Julius Malema met sy haatveldtog begin het teen wit mense, telkens al in die besonder gemik teen Afrikaners? Waar was die media toe Malema anti-Semitiese uitsprake gemaak het met haatspraak teen Indiërs en bruin mense sy ondersteuners aangehits het?

Sommige van die media het die Malema-rassisme in die verlede óf bloot geïgnoreer óf aktief bygedra tot ʼn diep verdelende debat en die instansies wat wel in die bresse getree het vir minderheidsgemeenskappe verdag of as regsgesind probeer afmaak. Hoe ironies dat sommige van die media-instansies, en ook individue, nou self aan die ontvangkant staan van die Malema-rassisme.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet is baie duidelik daaroor dat die Grondwet die regte van alle mense in ons land verskans en bevestig die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid.

Dit moet weer eens baie duidelik gestel word. Die media word nie verkwalik dat hulle standpunt inneem teen Malema nie. Die vraag is waarom nou eers en waarom nou so verontreg terwyl minderhede al lankal (Sedert 2010 al) aan die ontvangkant is van Malema se haattirades?

Dit is nie mediavryheid wat nou skielik in gedrang is nie. Alhoewel vryheid van uitdrukking gewaarborg word in die Grondwet (16), word dit beperk en “omvat dit nie (a) propaganda vir oorlog nie; (b) die aanstigting van dreigende geweld nie; of (c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.”

Oor elkeen van die punte kan baie omvattende klagstate teen Malema en lede van sy EFF gemaak word. Vele klagte is inderdaad ook al ingedien by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, wat eintlik maar net in naam bestaan en hoegenaamd nie sy mandaat uitvoer nie.

Professor Kader Asmal het reeds in 2007 ernstige leemtes en gebrek aan doeltreffendheid in sy ondersoek van Grondwet 9-instellings waaronder die Menseregtekommissie uitgewys. Die verslag is aan die parlement oorhandig. Die erkenning van ʼn vorige voorsitter van die MRK, mnr. Jody Kollapen, dat “die MRK onvoldoende magte het om op te tree teen mense wat die Grondwet skend of bepalings daarin oortree” word in 2018 korrek uitgewys. Die Parlement het egter versuim om die verslag verder te neem en nou pluk ons die wrange vrugte van dié versuim. Daar is nie ʼn instrument wat Malema tot orde kan roep nie. Veel erger – dit word nou baie duidelik dat die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie nie net hul grondwetlike plig versaak het nie, maar in werklikheid Malema se nuwe rassisme en haatspraak teenoor minderhede, en nou ook die media, deur hul gebrek aan optrede en stilswye kondoneer.

Die eerste skote is geskiet in die aanloop tot die 2019-algemene verkiesing en dit is nou reeds duidelik dat daar geen genade gaan wees nie, nie vir die media nie, nie vir minderhede of selfs vir sommige politici nie.

Suid-Afrika het ʼn brose demokrasie wat beskerm moet word. Hierbinne is die Grondwet die fondament, met die parlementêre stelsel, die regstelsel en ʼn vrye media die pilare vir die demokrasie. Uitsprake van Julius Malema ondermyn die demokrasie en speel in die hande van elemente, merendeels misdadig, met moontlike noodlottige gevolge.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

leser ·

Dit is die media se eie skuld – hulle kon nie genoeg oor hom publiseer nie!Alles was net malema malema – in ons kele afgedruk.
Nou kry nou vir julle.

John ·

Dis nog net die begin van die smarte. Die honger vir moeilikheid-maak oor witgrond gaan net groter word. Die rooi is nie verniet rooi nie. Die EFF glo die party kan die hele tyd buite beheer optree; dis normaal en almal moet dit so aanvaar. ‘n Noodtoestand is nie vergesog so voor die verkiesing nie; die een wat toe nie in 2019 plaasgevind het nie…

lewies ·

Brose demokrasie? Nee Jan SA het ‘n liberale demokrasie wat nie beskerm kan word nie, omdat dit nie met ons eie siening oor demokrasie versoenbaar is nie. Ons is polities te korrek om die waarheid te praat. “To little to late”

lewies ·

Ons het ‘n liberale demotrasie wat nie beskerm kan en mag word nie. Die wat aan orde glo sal vir jou se dat geen demokrasie in Afrika werklik suksesvol bedryf is nie. Een of ander tyd word die vryheid wat demokrasie aan die mens gee misbruik soos nou voor ons oe in SA gebeur. As jou lewens en wereldbeskouing nie deur die Woord gevorm is nie, sal ons permanent voor ‘n afgrond staan.

Blaarman ·

Lewies

As Liberale Demokrasie nie beskerm mag word nie (jou woorde), watter ander werkbare politieke stelsel stel jy dan voor vir Suid-Afrika?

Helen ·

Stem tot ‘n mate saam met jou, maar my mening is dat die mannetjie nooit ooit so wyd media dekking moes kry nie want nou dink hy rerig hy is slim en ontasbaar, ‘n gevaarlike kombinasie want sy volgelinge is hoofsaaklik uit die massas wat baie maklik geïndoktreneerd (gebreinspoel) kan word en als glo wat vir hul vertel word want hul is so desperaat om als te ontvang wat van 1994 aan hul belowe was. Hy het op sy eie verskriklike haat vir mekaar in die bevolking veroorsaak, wat ek glo nie maklik weer herstel sal kan word nie.

Oudste ·

Die “golden one” wat lesersgetalle opgejaag het, soos tereg hierbo gese, in ons kele afgedruk was, is nou nie meer die geur van die maand nie. Toe die “white racist monopoly capital power driven”, “kill the boer” Afriforum en andere deur die intelligensie gestremde Malema aangeval was, het die pers , nie almal nie, maar die grote meerderheid oor mekaar se voete geval om dit gepubliseer te kry. Noudat hy die pers aangeval het, is hy skielik nie meer die geur van die maand nie. Eers het hy vir Adriaan Basson met inligting gevoer en nou noem hy hom “that white thing” Die media het die adder aan die bors gekoester en nou is hy gepik, want dis die adder se natuur.

Pêgeneul ·

Ek het twee opmerkings oor die situasie: moenie dink dat Makema van idees gaan verander as iemand of iets dit regkry om hom stil te maak nie. ‘n Stilgemaakte Malema is gevaarliker as die raserige een. En Malema is besig om iets reg te kry wat geen Afrikaner ooit kon doen nie: om die afrikaners te laat saamstem oor minstens een ding, synde Malema.

Jerry ·

Uitlokking, ontwrigting, intimidasie en “hit and run” taktiek gaan aan die orde van die dag wees voor, tydens en na die verkiesing. Ignoreer dit en laat die wetstoepassers vir ons wys hoe hulle gaan optree, of nie optree. Sorg dat bewyse op video vasgevang word.

Hans ·

Geen vertroue in Sanef-nie in staat om ‘n konsekwente standpunt in te neem nie.

lewies ·

Blaarman

‘n Christen demokrasie, ek weet mense sal lag, omdat ons ‘n liberale grondwet het, terwille van die mens se regte wat beskerm moet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.