Die media se Malema-dilemma

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: ANA.

Deur Paul Maritz

Demokrasie is ʼn woord wat die gewone Suid-Afrikaner op straat redelik gereeld hoor. Alhoewel ons regering homself dikwels heeltemal te veel mag toe-eien, is die amptelike regeringstelsel wat binne die grense van Suid-Afrika heers, ʼn demokratiese stelsel. Die woord demokrasie kom van die Griekse woorde demos, wat beteken “mense” en kratos wat beteken “heers”. ʼn Demokrasie is dus ʼn regeringstelsel waarbinne dit die mense toelaat om te heers. Oor hierdie regeringstelsel en hoe dit beter kan funksioneer, sou daar sekerlik baie geskryf kan word, maar kom ons fokus op media, en veral die vryheid en ongestoordheid van die media, se rol in ʼn demokrasie.

Siende dat moderne demokratiese prosesse daarvan afhang dat mense gaan stem, dus hul stem agter ʼn persoon of party sit, is dit noodsaaklik dat daar in ʼn demokrasie so veel moontlik inligting beskikbaar moet wees. Onder alle omstandighede is ingeligte landsburgers voordelig vir ʼn land, maar in ʼn demokrasie is dit juis belangrik omdat kiesers veronderstel is om die beste kandidaat in ʼn verkiesing te kies en goeie, volledige inligting is nodig om te kan bepaal wie presies hierdie “beste kandidaat” is.  Dit is op hierdie punt waar die media ʼn kernrol speel.

Die eerste koerante is in ongeveer 1780 versprei en sedert daardie tyd is die media gebruik – aanvanklik slegs die gedrukte media, maar later alternatiewe, soos die radio en televisie, en tans moderne tegnologie om mense in te lig van die dinge wat om en oor hulle aan die gang is. Die media is, wanneer dit reg funksioneer, is die groot klok waaraan regeringsvergrype of korrupsie, of enige ander vorm van magsmisbruik of oortreding van regulasies deur die regeerder wat ons oor ons staat aanstel, gehang kan word. Só word burgers teen die vergrype en misbruike beskerm.

Dit is van kernbelang dat die media vry en ongebonde moet wees, juis omdat die werk van die media dikwels is om fel kritiek teen gesaghebbendes uit te spreek.

Op 20 November 2018 het Julius Malema, die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters, (EFF) aan ʼn skare mense buite die kommissie van ondersoek na staatskaping, gestel dat sy ondersteuners “met oortuiging moet afreken” met die media, wat volgens Malema teen hom en sy party gekant is.  Na afloop van sy kommentaar het die Suid-Afrikaanse Redakteursforum, SANEF, hom uitgenooi na ʼn gesprek, omdat hulle die intimidasie van joernaliste natuurlik in ʼn uiters ernstige lig beskou.

Sou Julius Malema daarin slaag om joernaliste in die samelewing te negeer tot “personae non gratae”, waarop konstant gepik word en wat gebuk moet gaan onder alle vorme van intimidasie en selfs fisieke geweld – soos in die geval toe die EFF se adjunkhoof Floyd Shivambu op 20 Maart vanjaar vir Adrian de Kock, ʼn joernalis, buite die parlement rondgestamp het – sou dit beteken dat kiesers nie meer volledige inligting sal kry nie omdat joernaliste nie daaroor verslag sal lewer nie.

As samelewing is dit ons plig om van joernaliste akkuraatheid en eerlikheid te verwag, maar ons het ook die plig om hulle te beskerm, om hulle die kans te gee om die oë en ore van die burgers te wees en hul werk doeltreffend en gereeld te kan verrig!

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Celtis Africana ·

Mini Idi is n diktator in wording.
Vandaar die vyandigheid.

liz ·

Malema moet nou leer wat jy uitdeel moet jy kan terug ontvang, anders………….

Therese van Schalkwyk ·

Solidariteit, AfriForum, Steve Hofmeyr, Dan Roodt en ander moet gereeld koes vir onregverdige, venynige, verdoemende aanvalle uit hierdie einste joernalistieke geledere wat nou so sensitief vir “intimidasie” is.
Die EFF moet kwansuis doodgeswyg word, op aanbeveling van bekende meningsvormers. Waarom word die stilte van ANC kant af telkens wanneer Malema dreigemente uiter teenoor wit mense nie luidkeels veroordeel deur hierdie verontwaardigde joernaliste nie? Jammer, geen simpatie.

Cherokee ·

Therese, en woord wat jy opgedis het ‘kwansuis’. Dit het jou stelling verwater. Probeer die woord regverdig in opvolg hiervan.

Jerry ·

Deur daaroor te praat, skryf, optogte en deur kruise te plant werk nie, so Paul hoe stel jy voor moet die samelewing daadwerklik hierdie joernaliste beskerm teen EFF idees wat deurgegee word na die massas toe?

Henk ·

Paul, jy gaan ń lang pad moet stap voor jy simpatie vir joernaliste by die deurslag Afrikaner wek.

Jy noem dat die werk van joernaliste is om die regering aan te vat en vel kritiek te lewer… jy sien, dit is presies die punt.

Dit is nie die werk van joernaliste, of koerante of TV nuuspanne on enige mense of instansie aan te vat nie. Om vir die “media” te sê dat dit hulle taak is, is bitter gevaarlik en skep juis die giftige en totaal verotte media soos ons in die VSA sien. ń Groep sluimerige mense wat enige liegstorie sal opdis om ń politieke agenda te dryf. Vra jy hulle hoekom hulle so willens en wetens lieg… “dis ons plig om die regering aan te vat.”

Nonsense! Dis julle plig om vreesloos die waarheid te verkondig en net dit, die waarheid. Nie die waarheid soos jy dit sien nie. Net die waarheid.

Ek is geen Malema aanhanger nie,maar die SA media is net so skuldig aan die volksmoor teen Afrikaners as enige van die ander rolspelers en ek sal min trane stort vir hulle.

Vaalseun ·

Henk, jy is reg, dis hoog tyd dat die Media vir ons sê daar is nie so ‘n ding soos dorps- of plaasmoorde nie. Dit is alles “swak-sekuriteitsmoorde.”

Judge Dredd ·

Stem saam dat die media ‘n kern rol speel in demokrasie.
Dus is dit noodsaaklik dat die media ONPARTYDIG is.

Almal praat net van media vryheid maar bitter min bevraagteken die media se partydigheid/leuens – wat my insiens die grootste gevaar van werklike demokrasie is.

Cora Simpson ·

Hulle se : Die hoogste bome kry die meeste wind! Sny hierdie outjie se takke, gee hom geen publisieteit en dan gaan jy hoor hoe huil hy want hy word nie meer geken nie!!

Jerry ·

Ondersoekende joernaliste moet beskerm word deur die demokrasie, grondwet, wetstoepassers en wetstoepassing. Indien dit nie die geval is nie is Jacques Pauw en sy mede joernaliste in die moeilikheid by die massas aan wie die eff hulle idees so mildelik oordra. N mens kan dan tereg vra wie is volgende op die lys na die joernaliste en volgende en volgende, want as n radikale idee vir verandering eers posvat en momentum kry dan hou dit aan en aan en aan. Dit word n “never ending story” en raak deel van die “struggle for liberation”!

Hans ·

SANEF veroordeel nou die joernalis wie Julius M se woonadres bekend gemaak het-Sanef sal nou moet besluit is hulle vis of vlees.

waarheid ·

Cora ek stem saam mt jou – maar die media verstaan dit nie.
Hulle voel ‘n veer.

Bets Bothma ·

Ek wens die media wil ophou om oor die mens te skryf , want dan sal hy en die EFF in die niet verdwyn. Dis net die media wat hul “lewendig” hou!

Vaalseun ·

Dankie vir jou insigte, Paul.
Die bedoeling met demokrasie was om weg te beweeg van een mens heers, dws een mening en besluite daarvolgens.
Demokrasie is in der waarheid, “Menings heers”, want in ‘n demokrasie speel die opposisie-partye ‘n sleutelrol. Hulle menings, bevraagtekening van die meerderheidsparty se bedoelinge en voorstelle, en ondersoek van die regerende party se optrede hou ons weg van ‘n diktatorskap. En dit, ongeag of ek of jy die meerderheidsparty ondersteun of nie.
Dis waarom enige party ook nie moet toelaat dat net sy leier en dié se groepie volgelinge se mening en besluite die party se beleid en optrede kaap nie. Ons moenie ‘n diktatorparty (of -partye) in ons demokrasie toelaat nie.
Ek dink die onafhanklike Afrikaanse (en ander) media in Suid-Afrika het ‘n lang pad gekom om vandag ewewigtige en geloofwaardige verslaggewing en kommentaar te lewer op wat gebeur. Ons is baie bevoorreg om onafhanklike en grootliks objektiewe mediadekking te hê in Suid-Afrika. Dit is vir baie ander lande en hulle mense, waar die meederheidsparty of diktator die media gekaap het, nie beskore nie.

B ·

DIE MEDIA, ons heil! BWHAHAAH!
Die media se breinspoeling van gewone / naiewe mense het SA gebring waar dit is. (Gaan lees maar op oor veral oor die media se rol sedert mid 1860’s.)
Ja ek stem saam onafhanklike onpartydge joernaliste het ‘n rol om te vervul maar hulle is uiters dun gesaai. Grootliks het die ‘media’ se betaalmeesters ook ‘n eie agenda.
So dink weer oor WIE moet ons beskerm? Ons moes eerder vir jare teen joernaliste beskerm gewees het! So dink weer ou maat – julle kon vir jare uitdeel maar nou dat daardie tier mooi groot gemaak is? Kry vir julle.

(NS : Is SA ooit WERKLIK ‘n demokrasie? ‘n Demokrasie is nie daarop uit om minderhede te vernietig op alle vlakke)

Ronnie ·

En steeds geen kommentaar oor Dr Johan Rupert se onderhoud nie

GP ·

Die media is sy skoothondjie hardloop heeltyd agter hom aan en noem elke dingetjie wat hy se. Al so moeg daarvoor.

Nouja ·

Hou asb eenvoudig op om oor hierdie persoon te berig. Ignoreer hom spesifiek. Moet nie sy naam noem nie in berigte nie. As daar oor die eff berig moet word, doen dit in absolute uitsonderlike gevalle, maar moet nie na hom as persoon verwys nie. Indien absoluut noodsaaklik, verwys na hom in die derde persoon of as leier van die eff. Moet nie fotos van hom wys nie. Gebruik minder vleiende fotos van die eff indien werklikwaar absoluut noodsaaklik.

Nouja ·

… terloops, dit is nie rassisties om iemand te ignoreer nie.

ChrisE ·

Mens moet vra wat die doel van die tradisionele media is. Volgens my is dit om gebalanseerde beriggewing te weergee. Die media moet onpartydig objektief en aktueel wees. Die volgende vrae moet beantwoord word, “wie waar wanneer hoe en hoekom”. Om media vryheid te hê is die ideaal. Daar word gou ten hemele geskree wanneer daar sprake is teen optrede teen die media. Om media vryheid te hê is om verantwoordelik op te tree binne die grense van menslikheid respek en waardigheid. Jou verslaggewer moet emosioneel volwasse en intelligent optree. Die media in die land (wêreldwyd)word gebruik vir beinvloeding. Die VSA se beserkte demoonkratiese party aanhangers is ‘ sprekenede voorbeeld daarvan. Almal haat Trump agv die media. In SA haat almal Malema (blankes). Die rede hoekom hy so optree is agv die media dekking wat hy kry. Ignoreer die man. Die onderhoud van Rupert is ‘n duidelike voorbeeld. Hy kom as arrogant voor. Die media dra die beeld uit. Hy is lid van die White Monopoly Capitalist (WMC ) groep. Ek stem in een opsig saam met hom. Wanneer daar ‘n goeie teenargument gebruik word, word die rassekaart vinnig uitgehaal. Ons demokrasie (kiesers) is nie volwasse genoeg om die regte keuses te maak nie. Dit gaan nog driehinderd jaar plus neem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.