Die meer as 116 rassewette van die post-1994-era

Deur Martin van Staden

(Foto: pixabay)

Oorsee dink talle mense dat met die koms van inklusiewe demokrasie in 1994 het Suid-Afrika wetgewing-gebaseerde rassediskriminasie agtergelaat. Maroela Media-lesers weet dalk beter as ander dat hierdie opvatting onwaar is. Maar kan ons so iets kwantifiseer?

Prof. Koos Malan en dr. James Myburgh het in die verlede insiggewende navorsing gedoen oor die hoeveelheid rassewette wat in die demokratiese era aangeneem is. Albei het egter net die oppervlak begin krap van hoe die demokratiese parlement te werk gegaan het met sy rassige onderneming.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) het op 1 Desember 2022 sy Indeks van Rasreg aangekondig. Die inisiatief is ʼn poging om ʼn opgedateerde rekord van die sentrale parlement van Suid-Afrika se rassewette te skep. Tot dusver blyk dit dat die parlement in sy hele geskiedenis, sedert 1910, ten minste 313 rassewette aangeneem het.

116 van hierdie wette – ongeveer 37% van die totaal – is ná 1994 aangeneem.

Lesers word aangemoedig om by te dra tot die Indeks deur ons aandag te vestig op enige rassewette – vóór of ná 1994 – wat ons dalk misgekyk het. Dit kan op die webblad gedoen word (www.RaceLaw.co.za).

Post-1994-rassewetgewing

In al Suid-Afrika se geskiedenis vanaf 1910 is die demokratiese-era jaar 1998 die mees numeries verteenwoordigend van rassereg. Daar is 20 stukke wetgewing van die jaar wat óf oorspronklik rassig is óf daarna rassig gemaak is. Die tweede mees numeries verteenwoordigende jaar is 2000, met 17 rassewette. Daarna volg 1976 met 9, 2001 met 8, en 1957, 1963, 1968, 1969, 1997, 2002, en 2008 met 7 elk.

116 is egter die minimum, omdat die ANC-regering selfs wette uit die pre-demokratiese era, wat oorspronklik nierassig was, in rassewette omskep het. Al is die 1936-insolvensiewet, die 1941 Wet op die Industriële Ontwikkelingsmaatskappy, en die 1941 Handelswaremerkewet dus vanuit die pre-demokratiese era, het hulle eers ná 1994 rassig geword.

Met ander woorde is ʼn handjievol van die rassewette wat volgens die Indeks uit die pre-demokratiese era kom, eintlik rassewette van die demokratiese era. Die Indeks toon hierdie wette deur aan te dui dat hulle ‘gerasseer’ (racialised) is, eerder as net ‘rassig’ is.

Dit kan nie gesê word dat die rassewette van die jare na 1994 so intens skadelik is soos baie van die wette uit die pre-demokratiese era nie. ʼn Enkele raswet, soos die 1950-groepsgebiedwet, kan sonder twyfel as meer skadelik as al die 20 raswette van 1998 saam geag word.

Rasreg is beslis nie net ʼn syferspeletjie nie. Maar die feit alleen dat daar wél so baie post-1994 jare so hoog op die Indeks gerangskik is, is rede genoeg om te besef dat daar groot fout is.

Nierassigheid is ʼn kardinale beginsel van regspleging, die gemenereg, en die Grondwet. Rassigheid het geen plek in die wetboek nie. En dit is in die gees van Versoeningsmaand – Desember – dat die IRR besluit het om die Indeks van Rasreg nou bekend te stel.

ANC se rasse-agenda

Die ANC se leierskapkonferensie word óók die maand gehou. Die Indeks toon duidelik hoe hierdie party nie net daarin misluk het om rassigheid uit die weg van die Suid-Afrikaanse reg te ruim nie, maar in baie gevalle dit vererger het.

Dit was nie die ANC wat die meeste van die pre-1994 rassewette herroep het nie. Dit was die uittredende Nasionale Party-regering wat die meeste hiervan gedoen het in die 1980’s en vroeë 1990s.

Die ANC het eintlik ʼn onderweldigende wetgewende rekord van ontrassing. Daar is buitendien vandag nog apartheidswette – wat deur die ANC-meerderheidsparlement wel al gewysig is – maar wat steeds ou rassige bepalings bevat! Die 1979 Wet op Onderwys en Opleiding en die 1980 Wet op Swart Arbeid (Oordrag van Funksies) is voorbeelde hiervan.

Die nuutste rassewette op die wetboek is die 2017 Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor, die 2017 Versekeringswet, die 2019 Eiendomspraktisynswet, en die 2019 Wet op die Buitelandse Diens.

Nierassige wette vanuit die demokratiese era wat tans wag vir die president om ʼn rassige wysiging in werking te laat tree, sluit in die 1997 Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, die 1998 Nasionale Omgewingsbestuurwet, die 1999 Huurbehuisingswet, en die 2009 Burgerlike Lugvaartwet.

Toekomstige fases

Vir nou fokus die Indeks van Rasreg slegs op wette wat deur die parlement aangeneem is.

In toekomstige fases sal dit uitbrei na regulasies, provinsiale en munisipale wetgewing, en die uitsprake van Suid-Afrika se hoër howe. Dit wil sê, alles wat in die verlede of hede as bindende reg in Suid-Afrika afgedwing was of word, wat individue se ras of velkleur betreklik maak, sal op ʼn stadium op die Indeks getoon word.

Die Indeks sal ook eers in die toekoms rassewette in substantiewe kategorieë plaas – byvoorbeeld, die wat betrekking het op eienaarskap (1913 Wet op Naturelle Grond, 2003 Wet op Breë Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging, ensovoorts) en residensiële apartheid (1950 Groepsgebiedwet). Maar dit is reeds duidelik dat die meeste demokratiese-era-rassewette betrekking het op demografiese verteenwoordiging op staatsliggame.

Dit gaan die verstand te bowe. Hoekom dink die Suid-Afrikaanse regering dat dit nog ‘nodig’ is om ʼn vereiste vir rasverteenwoordiging in wette op te neem? Verwag die ANC se parlementêre koukus werklik dat ʼn minister of regulatoriese liggaam vandag nog ʼn raad of komitee wat slegs, of grootliks, uit wit mans bestaan sal aanstel?

ʼn Mens verwag hierdie tipe irrasionele paranoia van diktatoriale regimes, nie demokratiese regerings nie.

Die IRR is beginselvas oor sy nierassige benadering tot openbare beleid. Nietemin word die Indeks van Rasreg bedoel om ʼn onpartydige hulpbron te wees. Historici wat wil leer oor die 197 rassewette van die jare 1910-1993, of maatskaplike navorsers en internasionale beleggers wat ʼn skets van die huidige stand van rassewetgewing in Suid-Afrika wil kry, sal almal by die Indeks baat, of hulle met die IRR se normatiewe standpunte saamstem of nie.

Met enige geluk, kan die Indeks as ʼn padkaart dien vir die burgerlike samelewing en goedgesinde beleidmakers na ʼn nierassige toekoms.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Martin van Staden

Martin van Staden is beleidshoof van die Vryemarkstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

annie ·

Diktatoriale regimes… Die skrywer is ‘n siener want dit is die pad vorentoe vir die kamma demokratiese Weste; dit waarvan hul die hele tyd die Ooste van beskuldig. Magsbeheptes sal mos nooit ooit erken dat hulle planne op mag sentreer nie, nee, eerder om die glo onderdruktes te ‘bevry’ om sodoende die glo ‘slegtes’ met reg wetlik te onderdruk.

Frank ·

Ek is seker dat Afriforum die verslag in groot druk beskikbaar het vir hulle huidige geveg in die VN teen die regering, goed so.

koos ·

Wat beteken intelligensie in Afrika? Die meerderheid benodig wetgewing om hulle teen die meer intelligente minderheid te beskerm.

Schalk ·

Jy is reg koos, ons leer ons kinders van beplanning en dit sluit gesins beplanning in.

Piet Snot ·

Martin, dalk kan jy hierdie artikel opvolg met een (dalk in 2 dele: dit mag lank raak) wat beskryf wat presies die rassistiese elemente in sommige vd wette is.
Byvoorbeeld, hoe kon mens enigsins die Insolvensiewet of die Wet op die Nywerheidsontwikkelingsmaatskappy rassisties maak.

Schalk ·

Piet, as ek moet dink is dit volgens my een woord – kriteria wat kwytskelding in sekere raamwerke verander vir sekere rasse individue.

Schalk ·

Die rassewette is die spreekwoordelike vonk wat ‘n groter vuur gaan ontsteek en die media is die petrol

gatgogga ·

” ʼn Enkele raswet, soos die 1950-groepsgebiedwet, kan sonder twyfel as meer skadelik as al die 20 raswette van 1998 saam geag word.”
Mag wees, maar ek het gedag dat na 1998 sou raswette verwyder word, nie vermeerder word nie.
Weer die ou vraag: het de Klerk vir ons gelieg, of het die ANC vir de Klerk gelieg?

Cobus ·

Nee wat daar is niks nerens gelieg nie, daar is net mense wat nie die waarheid wou erken nie. 33% het presies geweet wat sou gebeur en het dit ook presies so verwoord. Dit het ook dat presies so gebeur.

Anel ·

Hulle is so bang ons as blankes doen iets op ons eie. Maar op grond waarvan mag hulle Black association dit, en black association dat hê!!! Is dit nie rasisties nie? Wonder ook maar net.

Harley Davidson ·

Die probleem is groot en diskriminerend maak die media en politieke leiers weier om dit aan die groot klok te hang weens die feit dat as jy nie kruip of polities korrek is nie dan is jy rasisties die bang afrikaner is die rede vir hiérdie wette.Die gesegde as jy nie kla is jy tevrede is sterk van toepassing hier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.