Die minister ken nie haar Calvyn nie, maar ken ons hom?

Minister Lulu Xingwana se uitspraak, naamlik dat jong Afrikaner-mans in die Calvinistiese godsdiens opgevoed word met die oortuiging dat hulle vroue besit, vra om reaksie. My reaksie is tweërlei.

In die eerste plek het Johannes Calvyn bewustelik gewaarsku teen ‘n leer of ‘n sisteem wat na hom vernoem sou word (die Calvinisme). Hy was daarvan oortuig dat die leer wat hy uitgedra het die leer van die Skrif is. Maar as ons, ten spyte van sy waarskuwing, tog van die Calvinisme wil praat, dan moet ons sekerlik die ‘vader’ van die Calvinisme reg weergee. Ek verwag egter nie van die minister om Calvyn op haar bedkassie te hê nie (hoewel sy slegs baat daarby sal vind), en daarom ruim ek graag haar wanpersepsies uit die weg deur ‘n ander beeld van Calvyn te skets.

Man en vrou geniet, volgens Calvyn, gelyke waardigheid voor God. Beide is na God se beeld geskape, en beide deel op gelyke wyse in God se genade en in die heil in Christus. Ook in die huwelik het man en vrou gelyke verpligtinge en gelyke voorregte. Hoewel elkeen ‘n eie, unieke taak van God ontvang het, is Calvyn nie die chauvinis waarvoor hy implisiet deur die minister uitgemaak word nie. Inteendeel…

Calvyn, wat van oorsprong ‘n regsgeleerde was, het homself daarvoor beywer om die huwelikswetgewing van die stad Geneve op ‘n gesonde grondslag te plaas. En net soos wat minister Xingwana haar beywer vir die beskerming van vroue, het Calvyn dit ook gedoen (hoewel hy van feminisme en die moderne konsep van menseregte nog niks geweet het nie). In sy huweliksorde van 1546 skryf hy immers: “Die reg om te skei behoort op gelyke wyse aan beide partye, aangesien beide ‘n gemeenskaplike en gelyke taak tot getrouheid ontvang het. Hoewel in ander sake die man bo die vrou gestel is, het die vrou in sake wat die huweliksbed aangaan, ‘n gelyke reg.” Calvyn het persoonlik daarvoor gesorg dat hierdie vorm van gelykwaardigheid in die juridiese wetgewing van Geneve vasgelê is. Klink dít vir die minister soos die soort ‘godsdiens’ wat mans leer dat hulle hul vroue besit?

Maar die regsgeleerde het ook ‘n hart vol liefde en agting vir sy eie vrou gehad (net om die minister daarvan te oortuig dat dit nie net oor koue wetgewing gegaan het nie). Wanneer Calvyn se seuntjie kort na geboorte sterf, dan skryf hy in ‘n brief aan Pierre Viret onder andere die volgende: “My vrou bedank u vir die vriendelike troosbrief. Want sy kan u nie anders bedank as deur my skrywe nie, en tydens die diktering vind sy dit moeilik om haar gedagtes uit te druk.” ‘n Vrou wat aan haar man dikteer (voorsê) wat om te skryf?! En wanneer sy vrou enkele jare later te sterwe kom, dan beskryf Calvyn haar met die mees liefdevolle terme as sy lewensmaat!

Sowel in die praktyk van sy eie huwelik, as in die wetgewing waarvoor hy hom beywer het, wys Calvyn dat Calvinisme nie is wat die minister daarvan maak nie (weereens met die kwalifikasie dat Calvyn die begrip ‘Calvinisme’ radikaal afgewys het).

In die tweede plek ‘n kort woord aan die ‘Afrikaner-mans’ oor wie die minister haar uitgelaat het, veral dáárdie Afrikaner-mans wat graag in die sogenaamde Calvinistiese tradisie wil staan. Wanneer minister Xingwana wanpersepsies het oor die ‘Calvinistiese godsdiens’, dan moet dit óns bring tot selfondersoek. Ons is immers diegene wat veronderstel is om die ‘Calvinistiese godsdiens’, die gereformeerde leer, uit te leef. En indien ons dit nie doen soos wat die Skrif ons leer en soos wat Johannes Calvyn ons voorgeleef het nie, dan moet ons nie verbaas wees met wanpersepsies soos dié van minister Xingwana nie. Ons liefde en respek en agting vir ons eie vroue, en vir vroue in die algemeen, bepaal die persepsies van diegene daarbuite. Voordat ons die minister se afdanking eis, moet ons dalk eers ons eie huwelike weer ‘n slag onder die vergrootglas plaas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Erik van Alten

Ds. Erik van Alten is ’n gereformeerde predikant en doktorale student van Kampen Universiteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Roelf van Vuren ·

Ek is beindruk deur Mnr van Aklten se kennis van Calvyn.
Ek is egter minder beindruk deur sy geen vermelding, anders as dat die betrokke minister moontlik nie veel van Calvyn weet nie, van enige fout, wanpersepsie of versteekte agenda wat agter die kommentaar van die minister lê nie.

Die indruk word geskep dat die minister se kommentaar geregverdig is en dat ons as calviniste selfondersoek moet doen, op grond van die minister se kundige kommentaar.?
Sy het vergeet om te verwys na die afrika kultuur van verkragting en moord, die hoogste in die wêreld, maar was moontlik nie ingelig hieroor nie.

Ek dink ons moet ophou om vir alles skuld te vat. Dit het ‘n negatiewe uitwerking op veral ons jong mense.

Chris de Weerdt ·

Geagte ds. van Alten

Ek respekteer u siening oor Calvyn. Dit wat u oor hom sê kom baie duidelik uit u teologiese agtergrond na vore. Maar nou is dit ook waar dat ‘n pannekoek nooit te dun kan wees om nie ‘n ander kant te hê nie. Soos gebeure waaroor meeste teologies studente tydens hul opleiding ongelukkig nie ingelig word nie.

Sou u egter die tyd kon vind om u Bybel vir ‘n wyle opsy te skuif en ‘n intensiewe nie-teologiese agtergrond studie van die anderkant van die pannekoek te doen, sou u miskien ‘n uitgeslape reeksmoordenaar ontmoet wat ondermeer andersdenkendes eensydig as ketters laat verklaar en hul daarna summier aan brandstapels ‘n gestadigde marteldood laat sterf het. Dit en nog veel,veel meer.

Nadat u die met anderkant van die heer Calvyn kennis gemaak het, kan u gerus kyk na die voorafgaande gebeure tydens die opstel van u eie gereformeerde geloofbelydenis asook die subtiele invloed wat biskop Augustines op keiser Konstantyn se denkwyse gehad het.

Vra uself dan af wie hierdie biskop was en onder wie se invloed hy die heilige drie eenheid en die heilige water konsep in die religie ingesmokkel het. En nou bedoel ek nie die keer toe hy deur vader Ambrose tot die Rooms katolieke leer bekeer is nie, maar spesifiek sy voorafgaande geskiedenis.

Na u ‘n Deeglike studie van sy herkoms asook die twee religië wat hy daartydens aangehang het gemaak het behoort u na my beskeie mening tot heel ander insigte te kom. En sou u hierdie stuk geskiedenis deeglik,eerlik en objektief nagevors het sou u dit miskien nodig vind om daartydens ‘n kopskuif in u denkwyse te maak. En soiets is seker een van die moeilikste dinge wat ‘n mens kan oorkom, glo my vry.

Maar na die voltooing daarvan breek ‘n heerlike vryheid van begrip in jou aan wanneer ‘n waarlike wysheid na vore gekom word.

Ek wens u sterkte toe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.