Die mistieke Noord-Koreane en die Kim-dinastie

Argieffoto

Argieffoto

Noord-Korea se aanspraak dat hy vroeg in Januarie 2016 ʼn waterstofbom laat ontplof het, het die wêreld weer laat regop sit. Noord-Korea, ook bekend as die Demokratiese Volksrepubliek van Korea (DVRK), is die een land in die wêreld wat steeds vierkantig vasgevang is in die Koue Oorlog. Selfs Kuba het intussen aanbeweeg, maar die Noord-Koreane het sedert die Koreaanse Oorlog van 1950 tot 1953 steeds nie vrede gesluit met die geallieerde magte, wat Suid-Korea, asook die VSA en sy bondgenote insluit nie.

Die NP en die Koreaanse oorlog

Terloops, Suid-Afrika het onder die ou Nasionale Party-bewind aan die konflik deelgeneem. Dr. D.F. Malan was die eerste minister in 1950 en sy regering het geglo Suid-Afrika moes help om die Westerse wêreld teen kommunisme te beskerm. Die enigste lid van die parlement wat gekant was teen Suid-Afrika se deelname, was mnr.S. Kahn. Kahn was ʼn lid van die SA Kommuniste Party en die sogenaamde “naturelle verteenwoordiger” vir die Wes-Kaap in die parlement. Voorwaar interessant dat ʼn kommunis in daardie jare swart mense in die SA parlement verteenwoordig het!

Suid-Afrika het ʼn eskader vegvlieëniers gestuur om aan die oorlog deel te neem. As die “vlieënde cheetahs” het die SA Lugmag homself baie goed van sy taak gekwyt om die opmars van kommuniste te stuit. Meer as 800 Suid-Afrikaners het deelgeneem aan die oorlog en meer as 11,000 lugaanvalle geloods. Die Suid-Afrikaners het uiteindelik 34 vlieëniers en heelwat meer Mustang en Sabre vegvliegtuie in die oorlog verloor. Die Suid-Afrikaners het ook heelwat hulde ontvang van hul Amerikaanse kollegas en honderde medaljes en toekennings is uitgedeel. Voorwaar die sogenaamde “apartheid” Suid-Afrika se enigste en baie gewaardeerde bydrae tot oorloë as deel van die geallieerde magte onder leiding van die VSA en die Verenigde Nasies.

Die oorlog het nietemin gelei tot die vestiging van twee Koreas, die pro-Westerse Suide en Noord-Korea, wat aanvanklik eers deur die Sowjet-unie en later militêr en ideologies deur die Chinese ondersteun is. Ten spyte van die val van kommunisme aan die begin 1990’s, het Noord-Korea die beskerming van die kommuniste in China gekry. Anders as China wat ekonomies hervorm het en sedert die 1970’s met die Weste begin handel dryf het, het Noord-Korea geweier. Gevolglik is Noord-Korea die enigste bewind in die wêreld wat as ʼn Stalinistiese bewind steeds onveranderd voorbestaan. Die land is ekonomies ligjare agter die moderne en ontwikkelde Suid-Korea, maar haat laasgenoemde erg en veroorsaak haas elke jaar ʼn insident (soos die nuutste waterstofbom-toets) wat spanning veroorsaak en die oorlogswolke laat saampak.

Die Kim-dinastie

Noord-Korea se relatiewe isolasie en vermoë om deur staatsbeheerde propaganda die aanslae van die VSA en Suid-Korea te weerstaan om te verander, kan eintlik toegeskryf word aan die Kim-dinastie. Die Kim-afstammelinge regeer al vir drie geslagte, van 1948 tot vandag, Noord-Korea (68 jaar). Eers het Kim Il-Soeng, of soos hy in Noord-Korea bekend staan – die Groot Leier – die land van 1948 tot 1994 met ʼn ysterhand regeer as diktator. Dermate dat baie mense in die land blykbaar geglo het hy is ʼn goddelike wese. Dit was met groot verwarring en afgryse dat die bevolking van sy dood verneem het in 1994. In tipiese Sowjet-styl word meer as 500 standbeelde van Kim Il-Soeng tans in Noord-Korea uitgestal.

Nietemin het sy seun, Kim Jong-Il, wat weer die titel van “Liewe Leier” verkry het, oorgeneem. Die jonger Kim was na alle berigte erg eksentriek. Hy het hoëhakskoene gedra om homself langer te laat lyk, het ʼn besondere voorliefde gehad vir baie duur drank, sigare en kos (terwyl grootskaalse hongersnood in sy land geheers het) en was versot op Hollywoodfilms en mooi vroue. Hy het ook sy land met ʼn ysterhand regeer en alle vorme van opposisie uitgewis. Die Liewe Leier is dood in 2011.

Dis ook in Kim Jong-Il se tyd dat Noord-Korea met ʼn daadwerklike kernprogram begin het. Kerntoetse het gevolg in 2006, 2009 en 2013. Dit is nie seker hoe ver die Noord-Koreane gevorder het met hul strewe om ʼn kernwapen te vervaardig nie, maar sanksies en dreigemente deur die Weste het nie die program gestuit nie. Noord-Korea is ook besig om interkontinentale ballistiese missiele te ontwikkel, wat gebruik kan word om sy kernplofkoppe duisende kilometers ver af te vuur.

Hoewel ʼn Westerse boikot en sanksies teen Noord-Korea toegepas word, het China nog altyd geweier om VN-resolusies teen die Noord-Koreane te steun. Hoe dit ook al sy, Noord-Korea het moontlik reeds ʼn kernwapen ontwikkel, of is baie naby daaraan. Hierdie feit maak die land ʼn enorme bedreiging vir die VSA, wie se twee bondgenote, Suid-Korea en Japan, binne maklike reikafstand van Noord-Korea is. Gevolglik het die VSA reeds vir dekades al groot militêre basisse op beide Suid-Korea en Japan.

Dit bring ons by die huidige Noord-Koreaanse leier, die Groot Leier se kleinseun en die Liewe Leier se seun. Hy is Kim Jong-Oen, wat slegs 33 jaar oud is en in 2011 as 29-jarige oorgeneem het. Soos sy pa, is die jong Kim ook ʼn pierewaaier in sy eie reg. Hy het in Europa studeer, maar is daarna deur sy pa as vierster-generaal aangestel en het die leierskap van Noord-Korea oorgeneem. Hy word beskuldig daarvan dat hy onder meer in 2015 sy minister van verdediging en ander senior amptenare laat teregstel het.

Daar word al jare lank baie wilde bewerings in die Westerse pers teen die jong Kim en veral die ontslape Liewe Leier gemaak. Baie is heel moontlik waar of bevat elemente van die waarheid, maar baie is gebaseer op bewerings en hoorsê. Nietemin is dit geen geheim nie dat die Kim’s geharde en meedoënlose diktators was en is en hulself deur propaganda in kultusfigure omskep het.

Die aanspraak van Noord-Korea dat hulle ʼn waterstofbom toets, word eweneens met agterdog bejeën. Dis onseker of Noord-Korea wel die vermoë het om ʼn waterstofbom te laat ontplof. Noord-Korea het laat blyk die toets is in reaksie op die VSA se dreigement van ʼn kernoorlog teen Noord-Korea. Dit het natuurlik net spanning verder laat toeneem.

ʼn Waterstofbom is baie kragtiger, maar meer gekompliseerd, as ʼn kernbom en hul toegang tot sulke tegnologie is nog ʼn groter bedreiging vir die VSA en sy bondgenote. Enige konflik tussen Noord- en Suid-Korea kan natuurlik daartoe lei dat lande soos China, die VSA, Rusland en Japan onmiddellik betrek word, wat eweneens kan veroorsaak dat só ʼn konflik in ʼn oogwink tot ʼn totale krisis in wêreldvrede kan lei.

Wat wil Noord-Korea bereik?

Noord-Korea het in die verlede dikwels ʼn taktiek gevolg om krisisse te skep en dan in die volgende jaar of twee belowe om nie verdere toetse te doen nie, as die Weste toegee tot voedselhulp of verslapping van sanksies. Ten spyte van Kim Jong-Oen se onvoorspelbaarheid, is dit heel moontlik weer die Noord-Koreane se taktiek.  Skep ʼn krisis, verhoog spanning om sy bevolking te oortuig dat die VSA en Suid-Korea op die punt staan om oorlog te maak en kry dan toegewings van sy opponente.

Hierdie taktiek se vorige sukses dra by dat die Noord-Koreaanse diktatorskap, ten spyte van die bevolking se ekonomiese ontberings, steeds staande bly. Natuurlik ook vanweë China se voortgesette steun. China sien Noord-Korea egter as ʼn ideologiese bondgenoot en hoop om deel te hê aan die verwagte ekonomiese suksesverhaal in Noord-Korea sou dié ekonomie eendag meer oop funksioneer. Tot dan bly die Chinese ʼn stille bondgenoot.

Noord-Korea wil natuurlik self uit sy internasionale isolasie te ontsnap. Die Noorde het dan ook in die laaste dekade probeer om betrekkinge met soveel lande as moontlik te bevorder. Dit het egter meestal gebeur dat die Noord-Koreane met lande wat self internasionaal geïsoleer is, die beste bondgenootskappe vorm. Dit sluit in Kuba, Iran, Laos, Pakistan, Rusland, Sirië, Zimbabwe en ook Suid-Afrika.

Suid-Afrika se betrekkinge met Noord-Korea is maar yl, ten spyte daarvan dat die Noord-Koreane ʼn ambassade in Pretoria het. Personeel is al in die verlede, so onlangs as Desember 2015, verdink van betrokkenheid by die smokkel van renosterhoring.

Suid-Afrika se amptelike standpunt is enige land het die reg het om kernenergie te ontwikkel en Suid-Afrika het die reg om met enige land diplomatieke betrekkinge te handhaaf. Suid-Afrika het ook al in die VN gestem teen resolusies om Noord-Korea te vervolg oor sy flagrante menseregteskendings. Dit wil dus weereens voorkom asof ideologie en anti-Westerse agendas Suid-Afrika se buitelandse beleid bepaal. Die feit dat die sogenaamde apartheidsregering destyds teen die Noord-Koreane geveg het, is seker ook ʼn aanbeveling.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Fanie ·

Nico, baie dankie vir jou uitstekende artikels. Hierdie een gee lig op daardie donker kand!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.