Die mite oor verdeling van opposisiestemme

(Foto: Maroela Media)

Suid-Afrika is besig om te herstel van die verkiesingskoors wat die land getref het die afgelope maand. Noudat die stof gaan lê het en die wetgewer se setels vasgestel is, wag ons vir die finale verkiesingsformaliteit, die inhuldiging.

Daar is baie te sê oor die verkiesingsuitslae en wat dit vir Suid-Afrika se toekoms inhou. Een spesifieke interessantheid van die afgelope verkiesing is die effek wat stemme vir kleiner partye op die groter party het.

’n Aantal van die groot opposisiepartye het voor die verkiesing op die aanslag teen kleiner partye gegaan met die boodskap dat ’n stem vir ’n klein party ’n vermorste stem is. Hierdie verkiesing het dit egter klinkklaer duidelik gemaak dat dié stelling en verkiesingsfoefie deur sommige van die opposisiepartye eenvoudig nie waar is nie.

Ná afloop van die 2014-verkiesing het die Demokratiese Alliansie (DA) 89 setels in die nasionale wetgewer verwerf en die Vryheidsfront Plus (VF+) 4 setels. Gesamentlik het die twee partye dus 93 setels gehou. Tussen die DA en die VF+ het die twee partye 23,13% van die nasionale stemme verwerf.

Ná vanjaar se verkiesing het die DA 84 setels en die VF+ 10 setels in parlement – gesamentlik 23,15% van die nasionale stemme. Altesame dus 94 setels. Een setel meer as wat die twee partye saam in 2014 gehad het.

Die enigste rede dat die twee partye saam in 2019 een meer setel ontvang het, is te danke aan hoe die Suid-Afrikaanse proporsionele kiesstelsel werk. Ons kiesstelsel beloon kleiner party en bevorder deelname van veelvoudige politieke partye in ons demokrasie. Indien die stemme vir die VF+ in 2019 aan die DA gegaan het sou die DA op sy eie nie 94 setels behaal het nie.

Te veel Suid-Afrikaners is onder die indruk dat stemme slegs die wenpartye in Suid-Afrika bevoordeel. Dit is waar in lande wat die sogenaamde eerste-oor-die-wenstreepstelsels gebruik waar die wenner slegs 50% + 1 van die stemme nodig het om die hele setel te wen. Suid-Afrika het eerder ‘n proporsionele verteenwoordigingstelsel. Die persentasie stemme wat ‘n party ontvang, bepaal dan hoeveel setels hulle elkeen onderskeidelik in die parlement en die provinsiale wetgewer sal beset.

Ná die 2019-verkiesing is daar ’n rekordgetal van 14 politieke partye wat kiesers in die wetgewer verteenwoordig. Kleiner partye wat hopelik meer direk en spesifiek hul kiesers verteenwoordig.

Indien genoeg Suid-Afrikaners besef dat jou stem vir ’n kleiner party nie vermors word nie, gaan die klein partye kort voor lank nie klein partye bly nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jerry ·

In SA moet verkiesings deur teenrevolusionere opposisie partye geveg word om die revolusionere meerderheid te verhoed om n twee derde meerderheid te kan behaal. Dit het nie gebeur nie. Die ANC en EFF het gesamentlik n twee derde meerderheid behaal wat opposisie partye magteloos gaan laat ten opsigte van enige wetgewende veranderinge wat die twee partye saam beoog. Of jy dus vir groter of kleiner teenrevolusionere opposisie partye stem, hulle is absoluut magteloos teenoor n revolusionere twee derde meerderheid. Daar is doodeenvoudig nie genoegsame swart kiesers in SA wat vir die teenrevolusionere opposisie partye stem nie en dus is die teenrevolusionere minderheid vir die volgende 5 jaar uitgelewer aan die wil van die revolusionere meerderheid! Dit is ongelukkig die realiteit dat te veel kiesers die revolusioneres ondersteun en te min kiesers ondersteun die teenrevolusioneres. Vir die meerderheid gaan dit nie oor beleid en manifestos nie, dit gaan oor die revolusionere struggle wat nog voltooi moet word en soos sake tans staan kan die teenrevolusionere groot of klein partye nie die gesamentlike twee derde revolusionere meerderheid stop nie. Al wat die opposisie kan bereik is om hulself die onguns op die hals te haal van die twee derde meerderheid. Die enigste partye wat verandering teweeg kan bring of nie, is dus die twee derde meerderheidspartye, die klein of groot opposisie partye dien slegs as n niksseggende oorkombare hindernis!

marco polo ·

Gun dan maar gerus die meerderheid die gebrekkige dienslewering, chaos en verwoesting. Hulle het immers daarvoor gestem. Net wanneer ons ‘n meerderheid in ons eie gebied is, sal ons stemme enige waarde he.

Chris Ws ·

Sover my kennis strek kan die grondwet net verander word deur die regerende party mits hy meer as 2/3 stemme het.Aliansies tel nie hier nie.

Daniël ·

Dit is ongelukkig nie hoe dit werk nie. Die 2/3 meerderheid kan bereik word deur enige kombinasie van stemme of partye.

Judge Dredd ·

Nee, slegs 2/3 steun in parlement he – ongeag waar die steun vandaan kom.

koos ·

Daniël en Judge is reg. Jerry jy nie. Slegs die grondwet kan met 2/3 stemme gewysig word. Enige ander wet met 50% plus 1 stem. Neem in ag dat wette wat verander word nie net die parlement nie, maar ook die raad van provinsies en nog die howe (as wetgewing betwis word) voordat die president, wat nie ‘n lid van die parlement is nie, dit kan bekragtig.

Louis ·

Dis in elk geval nag vir ons. Die ANC en die EFF het ‘n tweederde meederheid. Hulle kan jou huis vat.

JohanL ·

Uit die 26 779 025 geregistreerde kiesers het net 17 671 616 gestem (65.99% stempersentasie). Maw 9 miljoen kiesers het nie kruisie gaan trek nie.

In Jerry se woorde – die teenrevolusionere opposisie (mense) het nie beheer oor die revolusionere massa wat gaan stem of nie stem nie. Maar diegene wat die teenrevolusionere partye steun en nie gaan stem het nie, kan dalk nou insien dat ‘n stem vir enige teenrevolusionere party, die revolusionere steunbasis tot onder daardie twee-derde meerderheid kon krimp. Die nie-stemmers moes net moeite gedoen het om hul kruisie te gaan trek. Ons moet regtig harder probeer om dit wat mens kan doen (kruisie trek op stemdag), om dit te gaan doen.

Maar nou is ons uitgelewer aan die potensiele samewerking tussen ANC en EFF. Dankie aan al die nie-stemmers.

Jimmy ·

Johan, die werklike prentjie lyk eintlik meer droewig. Ongeveer 13 miljoen mense wat 18 en ouer is het nie eers geregistreer nie, veral jong mense. Met ander woorde, meer as 22 miljoen vorm die stille meerderheid. Dis meer as dubbel die aantal wat vir die ANC gestem het. Of hulle deel is van die naderende revolusie weet ek nie, maar die demokrasie is aan die wankel. Net een uit vier 18 plussers het vir die ANC gestem, maar twee uit vier het buite stemming gebly.

Koos ·

Jimmy, en die nie stemmers is gewoonlik dievwat die meerste te sê het.

Ek is n NIE stemmer vanaf ·

Beste JohanL

Kom ons verbeel ons daar is n party wat skielik die teenwig word teen die ANC… die party sal die wegbly ANC stem moet teestaan. Kom ons speel mildelik met stemvee syfers en bekom 4 milj stemme. Die Nie-Stem party slaag steeds nie. Die ANC en EFF se magsbasis is te groot. Dis eenvoudige wiskunde en niks te doen met nie stem nie. Jys welkom.

Jimmy ·

Inteendeel, Koos. Die meerderheid van die nie-stemmers is waarskynlik swart. Hulle stel nie belang in die politiek nie, en probeer maar net oorleef, wettig en onwettig. Die dag wanneer die swart jeug opstaan gaan die poppe dans. Die wittes wat nie stem nie begin ander planne maak, insluitend emigrasie.

Nie Stemmer ·

Koos, jy sit die pot bietjie mis. As Minder mense gestem het, hoe kon die anc nog steeds 2/3 meerdeheid gekry het en die eff se stemme geklim het? Die uitslae klop nie. Hoeveel stembriewe is net nie getel nie? Met al die bedrog wat gepleeg is tydens die gestemmery was dit n wyse besluit om nie te stem nie. Die verkiesing was alles behalwe regverdig.

Henry ·

Indien die kiesersgetalle van die DA, VF+, Inkhata, Cope en ACDP tydens die afgelope verkiesing in ag geneem word, word dit betwyfel dat 9 miljoen nie-kiesers in noemenswaardige getalle vir enige van voornoemde partye sou gestem het. Nie een van hierdie partye kan daarop roem dat hulle enige noemenswaardige groei van swart kiesers ervaar het nie.

Is die die oorgrote gedeelte van die wegblyers nie gewoon ANC en/of EFF ondersteuners nie? Dat enige ander party behalwe die ANC en EFF, tans ‘n tuiste vir die oorgrote meerderheid van die 9 miljoen bied, is onbeskaamde wensdenkery.

Die wegblystem is mynsinsiens tewyte aan die tradisionele ondersteuners van die ANC en EFF se g.tvolgeit met veral die ANC se valse beloftes van Radikale Ekonomiese Bemagtiging, grond, geld en al die ander goue kallers wat reeds laaaaank voor 1994 aan almal beloof word en waarvan iedere keer dadels kom.

Die wegblyers is dalk meer van ‘n bedekte seën, as wat dit van enige ander nut is.

Lank lewe kleinpartye ·

Klein partye het al soveel samelewings gered. Die DA het my verloor toe hulle klein partye soos lafaards aangeval het en ek het nooit weer teruggekyk na hulle nie.

FN ·

HOE is dit moontlik dat net omtrent 7000 (?) stemmers vir ware vryheid gestem het? (Front Nasionaal)
Ja-nee wat, ons moet maar vat wat na ons kant toe kom – die vernietiging van die Afrikaanse wese. (Glo jy my nie, kyk bv na Lesufi se opmerkings. Dink julle dit gaan beter word?)

FN ·

Vir die wie dit gemis het, Hoerskool HF Verwoerd se naam het vandag verander na Rietondale Secondary.

Marius Dobson ·

Wat my aanbetref beteken die groot prentjie uitslag niks aangesien daar partye deelgeneem het wat openlik
Rassehaat , diskriminasie en bloedvergieting aanhits.
Die OVK het hulle wel toegelaat om deel te neem. Dit laat mens dus glad nie twyfel dat ons een vd mooi verkiesings met Zim tipe uitslae gaan sit nie.

Johan ·

Hoe is n stem vir partye wat nie n enkele setel in of die nasionale of provinsiale wetgewers kon wen nie, nie n vermorsde stem nie?

Belaglike grapkas partye soos die ‘Purple Cow’ ens wie se stemme baie beter elders aangewend kon word.

Daardie mense kon net sowel hul stem in die asblik gegooi het by die stemlokaal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.