Die moeilikheid is so oud soos die Grondwet self

grondwethof

Die konstitusionele hof. Foto: Wikimedia

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks van vyf artikels wat deur Malan oor die Grondwet geskryf is. Die artikels sal oor die volgende vyf weke elke Donderdag op Maroela Media gelees kan word.

Die regstaat, verskanste Grondwet en gewaarborgde regte swig toe oplaas voor die aanslag van die ideologiese program van transformasie. Trouens, in plaas van hierdie dinge, wat so lank en so stellig as die troef vir politieke mag voorgehou is, gebeur die teenoorgestelde:

  • grondwetlike regte word in die lig van transformatisme vertolk en aangewend om die ANC se program deur te voer, in plaas daarvan om ʼn skans daarteen te wees;
  • die remme en teenwigte faal en die howe, wat die gewaande opperteenwig teen politieke oormag en magsvergryp moes wees, dien as juridiese regverdiger van die ANC se transformasieprogram; en
  • die vermeende finale en oppermagtig Grondwet word ʼn plooibare werktuig vir die ideologie van transformatisme.

Ten slotte was regstaat, grondwetlike oppergesag, verskanste regte en dergelike magiese woorde deel van ʼn valse heilsleer, wat die diepliggende gebreke in die grondwetlike orde verdoesel en mense op die maat van die gerusstellende koorsang van ʼn korps van (oud)politici, ʼn aantal grondwetkenners en joernaliste aan die slaap gesus het.

Nou, in ʼn betreklike laat uur, gaan die ligte oral op. Skerpsinnige politieke ontleder, Frans Cronjé, stel ʼn onstuimige toekoms vir Suid-Afrika as die mees realistiese scenario in die vooruitsig. Die uitgangspunt is dat dit dwaas is om op die meganismes van die gewaande oppermagtige Grondwet te vertrou. Cronjé vat dit raak saam met sy betoog vir ʼn plan B. Die gewaande Plan A – die Grondwet met al die heilslerige verkondiging daar rondom – was ontoereikend.

Ek stem slegs in een opsig nie met Cronjé saam nie, naamlik oor sy benaming, te wete plan B, want op die keper beskou, was daar nooit werklik ʼn plan A nie. Ons moet nou vir die eerste maal ʼn werklike plan A in werking stel.

In die nastrewing van geregtigheid moet ʼn konstitusie in die eerste plek oorheersing, hetsy deur die meerderheid of ʼn minderheid, verhoed. In ʼn land soos Suid-Afrika met sy kenmerkende diep kulturele en dergelike verdelings, moet die konstitusie ʼn ewewig tussen die meerderheid en minderheidsgroepe bewerkstellig.

Daar moet helder tussen meerderheidsregering en meerderheidsoorheersing oor minderhede onderskei word. Meerderheidsregering is aanvaarbaar, maar meerderheidsoorheersing is onregverdig en verwerplik, net so onregverdig soos minderheidsoorheersing.

Meerderheidsoorheersing word verhoed deur minderhede grondwetlik te beskerm.

Minderheidsbeskerming, byvoorbeeld van die Afrikaner-minderheid, kan op ʼn verskeidenheid maniere bewerkstellig word. Die belangrikste daarvan is die volgende twee:

Eerstens, dat instellings wat van besondere belang vir die welsyn van die betrokke minderheidsgemeenskap is, vir dié minderheid opsy gesit word. Daarby inbegrepe is onderwysinstellings, openbare kommunikasiemedia, kulturele bates soos museums en dergelike instellings en watter ander instellings ook al in die besonder op die welsyn van die betrokke minderheid betrekking het. Na gelang van die omstandighede kan die omvang van instellings vir minderhede veel verder strek. Dit kan ook (ʼn) gebied(e) met al die instellings wat daarin voorkom, insluit.

Tweedens dat die betrokke gemeenskap self outonome gesag – selfregering – oor dié instelling kan uitoefen.

Naas regte ook gesag

Om ʼn regverdige balans tussen die meerderheid en die minderheid te bewerkstellig, is dit dus nie genoeg om bloot regte aan individue toe te ken nie, maar ook gesag aan gemeenskappe.

Die ANC wou, volgens sy gulsige transformasie-ideologie (die NDR), soos wat hy telkens openlik verklaar het, juis allesoorheersend wees. Daarom het hy instellings en gesag vir minderheidsgemeenskappe, selfs oor aangeleenthede wat slegs daardie gemeenskap raak, verwerp.

Waarvoor hy wel te vinde was, was individuele regte, vertolk deur die howe. Uiteindelik was al die vaders van die Grondwet dit eens dat die handves van individuele regte, soos deur die howe uitgelê, basies die volledige pakket vir die insluiting en beskerming van almal – ook die minderhede – bied.

Alle ander dinge, soos die outonome instellings vir minderheidsgemeenskappe waarna pas hierbo verwys is, was oorbodig.

Die ANC het goed verstaan dat die hoogste howe, wat soos in die vorige aflewering verduidelik is, sy (die ANC se) ideologiese uitgangspunte en transformasiedoelwitte deel. Die howe sou dus die individuele regte in ooreenstemming met die ANC se ideologiese oortuigings uitlê en sodoende transformasie bevorder. Die individuele regte, soos toegepas deur die howe, sou dus nie in sy pad staan om sy doelwitte te verwesenlik nie. Inteendeel, dit sou hom juis in die deurvoer van sy program ondersteun.

Die ANC was natuurlik in die kol, want, soos tevore aangetoon is, vertolk die hoogste howe wanneer dit by ideologies verwante sake kom, die individuele regte klokslag transformatief, dit wil sê, in die ideologiese lig van die regerende elite waarvan dit ʼn integrale deel is.

Die eertydse NP- en regeringsonderhandelaars het egter geen begrip hiervoor gehad nie. Hulle het naïef geglo dat individuele regte volkome voldoende was. En hulle het geglo dat die howe inderdaad onpartydig was – ook ideologies onpartydig.

Toe regstellende aksie, waarvoor die handves van regte self voorsiening maak, sy loop neem soos wat ons dit intussen leer ken het, was daar verbystering, einste ook onder diegene wat so hartstogtelik in die handves geglo het. Oudmin. Pik Botha het gesê as die NP geweet het dat regstellende aksie so ʼn nadelige wending sou neem, die NP nooit daartoe sou toegestem het nie. Regstellende aksie soos deur die konstitusionele hof in die Renate Barnard-saak vertolk, was vir die politieke joernalis, Tim du Plessis, soos ʼn hamerhou teen die voorkop en in die oë van prof. Marinus Wiechers het die hof jakkalsdraaie gemaak.

Die hof het natuurlik nie regtig jakkalsdraaie gemaak nie – ook nie figuurlik nie. Die eenvoudige waarheid is bloot dat regte nie ʼn objektiewe of korrekte betekenis het nie. Dit kry eers betekenis wanneer dit vertolk word. Dit is wat die hof gedoen het. Hy het die reg uitgelê in ooreenstemming met die transformasie-ideologie van die regerende elite, waarvan hy – die hof – ʼn gespesialiseerde komponent is.

Die NP se onderhandelaars en die latere verbysterdes het dit nie verstaan nie. Daarom het hulle geglo dat individuele regte en die onafhanklike en onpartydige regbank voldoende was. En daarom is minderheidsbeskerming afgewys.

Om die waarheid te sê, minderheidsbeskerming is soms verwoed verwerp. Daar is aangevoer dat dit ʼn truuk was om spesiale en voorkeurbehandeling te kry. Individuele regte was absoluut voldoende, is hardkoppig volgehou.

Dis natuurlik klaarblyklik verkeerd, want minderheidsbeskerming – outonome instellings vir minderheidsgemeenskappe – is noodsaaklik vir geregtigheid. Daarsonder is die minderheid heeltemal aan die genade van die meerderheid uitgelewer en daarsonder bly daar geen instellings – skole, ʼn universiteitskampus of wat ook al – vir enige minderheidsgemeenskap oor nie. Alle instellings word meerderheidsinstellings en die stelsel as geheel word een van ongenaakbare meerderheidsoorheersing. Individuele regte help beswaarlik hierteen.

Presies dít is wat ons nou toenemend ervaar, namate belange in kultuur, taal, onderwys, eiendom en dergelike ander belange in die gedrang kom: die onverbiddelike gevolg ʼn groot gebrek, wat vanaf sy ontstaansoomblik in die Grondwet ingebou was.

Juis vanweë die feit dat daar slegs individuele reg is, maar geen minderheidsbeskerming soos hierbo verduidelik is nie, kan transformatisme sy loop neem. Die ANC het dit geweet. Sy destydse teenstanders het dit egter nie begryp nie.

ʼn Minderheid beskik natuurlik nie oor die getalle om die Grondwet met paslike wysigings reg te stel nie. Dog, as die gebrek nie spoedig reggestel word nie, is ons, om dit saggies te stel, regtig diep in die moeilikheid. Gelukkig is daar inderdaad weë om van hierdie penarie te ontkom. Dit word aanstaande week toegelig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Regsgeleerde Bosvark ·

“Die eenvoudige waarheid is bloot dat regte nie ʼn objektiewe of korrekte betekenis het nie. Dit kry eers betekenis wanneer dit vertolk word. Dit is wat die hof gedoen het. Hy het die reg uitgelê in ooreenstemming met die transformasie-ideologie van die regerende elite, waarvan hy – die hof – ʼn gespesialiseerde komponent is.” Daarom dat die groot geloofsboeke so verskillend vertolk word en tot menigde geloofsoorloë gelei het en steeds lei.

1000% in die kol.

Therese van Schalkwyk ·

“Minderheidsbeskerming – outonome instellings vir minderheidsgemeenskappe – is noodsaaklik vir geregtigheid”.

Verbysterend dat hierdie item nie die één, ónonderhandelbare aspek vir ons kant van die tafel was nie.

Die afwesigheid daarvan het reeds honderdduisende mense se lewenspaadjies onherroeplik verander, en ek deel die skrywer se kwalik bedekte misnoeë met die dokument en almal daarby betrokke.
Sien uit na die volgende aflewering.

JC ·

Dankie Prof!
Ek was die een wat altyd my Afrikaans so gemeng het in die gange en trappe van die regsgebou, waarop professor my geroskam het daaroor; NIE MEER NIE :)
Afrikaans leef!
Uitstekend, breedvoerig en op die keper beskou ‘n presiese samevattende analise van verskeie uiteenlopende probleme en beginsels! Daar le HARDE WERK voor…

MCH ·

Dis met groot belangstelling en afwagting dat ek prof. Malan se artikels lees. So word ek weekliks tot die werklikheid geskok deur wakker te word binnein die allervreeslikste nagmerrie. Wel, dis met skok en afgryse dat ek kennis neem van die waarheid. Ek is dankbaar vir die onverbloemde wyse wat die artikel die waarheid uitspel. Die huidige diskriminasie teen minderheidsgroepe, veral blankes, die hofsake en optogte van burgerregte organisasies, die aksies om die mishandling aan die groot klok te hang in die buiteland, dit alles het eintlik geen waarde nie, aangesien dit nie verandering teweeg bring nie. Bewusmaking is eenvoudig onsuksesvol indien dit die status quo onveranderd laat. Ek vertrou dat diegene na afloop van u artikels hul strategie sal aanpas ten einde vir die minderheidsgroepe die instellings soos gemeld tot stand te bring sodat ons kan aangaan met ons lewens en dat die eindelose geronddobber op die oseaan van wanhoop kan stop. Al die aksies het bewys dat u stellings n onomstootlike feitelike beslag het. Dis nou dan tyd vir n koersaanpassing. Die leiersfigure se Codesa onderhandelings is reeds geoordeel deur die geskiedenis. Mag ons bewaar word van soortgelyke leierskap.

JC ·

“Mag ons bewaar word van soortgelyke leierskap.” – daarmee kan ek volmondig saamstem!

Frans C ·

Soos reeds in vorige kommentaar elders uitgelig.Die onderhandellaars was geleerd maar nie wys nie en kon nie verder as wat hul neuse lank was dink nie.

John ·

Ons moet maar net hoop ons regters is nie so slim soos ons geagte professor nie… Was die uitslag van die destydse referendum werklik ‘n onomwonde ‘ja’ veral met die oog op die vreemde hoogdrawende dubbelsinnige samestelling van die vraag? Kan ons dit oordoen?

Rupert Ashford ·

Sjoe, dit stel dinge in perspektief ne. Ironies genoeg het ‘n oudstryder soos Langenhoven al geskryf oor “teorie en praktyk” en ek dink hierdie is ‘n klassieke voorbeeld van hoe ver die twee soms uitmekaar kan dryf. ‘n Paar dinge het teen ons getel destyds: 1.) Die isolasie het ons onderhandelaars slim maar nie wys nie (apologie FransC, ek stem hier nie saam met jou nie) gelaat – met hope boekekennis maar nie soos die Engelsman sal se “streetsmart” nie; 2.) Ons was siek daarvoor om altyd die “muishond” te wees en het naiewelik geglo as ons “nice” is sal die ander ouens ook so wees – dit is ongelukkig ‘n fout wat baie behoudendes regoor die wereld in die laaste 20-30 jaar gemaak het en oe begin nou-eers oopgaan; 3.) Die sterk Christelike karakter van die Afrikaner populasie met die tyd van die oorgang het ons kwesbaar gemaak vir manipulasie wat gruwelik deur die NP Leierskap uitgebuit is.

Frans C ·

Nadat ek baie jare aktief in die politiek betrokke was het ek agtergekom dat daar baie ander motiewe is wat mense se keuses dryf as ‘n blote ‘ja’ of ‘nee’ soos met die destydse referendum.
Ek onthou goed dat tydens ‘n verkiesing ek die dames wat die HNP tent beman het ,in ‘n klein plattelandse dorpie gevra het ,hoeveel mense navraag gedoen het om te kyk,of hul name op die kieserslys is.

Die antwoord was 6.Ja net 6 mense het die moed van oortuiging gehad om in die openbaar
hul politieke keuse bekend te maak.Jy kan jou dus voorstel hoe leedvermakerig en neerhalend die mense van die destydse NP was.Toe die uitslag later die aand bekend gemaak word was dit ‘n verassing vir die HNP en ‘n verleentheid vir die NP.

By nadere ondersoek het dit geblyk dat dit nie ‘n saak was dat NP sy saak so goed gestel het,maar dat mense bang was dat die hul werk en lewenswyse ingevaar sou bring,want
die regering was nie net inbeheer van die land nie,maar van sy ondersteuners het belangrike poste beklee in die munisipaliteit en besighede.

Die ANC se geheime teenstemmers is seker deur soortgelyke motiewe gedryf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.