Die morele geloofwaardigheid van om verskoning vra

WWII-geskiedenis-collage

Leopold Scholtz ondersoek die morele geloofwaardigheid van om verskoning vra. Foto: Commons.wikimedia.org

Om verskoning vra vir egte en vermeende misdade uit die verlede is tans baie aktueel. Esmaré Weideman, besturende direkteur van Media24, het onlangs om verskoning gevra vir haar maatskappy se ondersteuning van apartheid. Dít nadat Ton Vosloo, gewese besturende direkteur en voorsitter van Naspers, in sy bydrae tot ’n pas verskene boek na aanleiding van die onderneming se eeufees (Konstante Revolusie: Naspers, Media24 en Oorgange), daarop gewys het dat hy in vele toesprake gesê het “apartheid, soos toegepas deur die Nasionale Party oor vele dekades, het ontaard in ’n onmenslike wreedheidsbeleid en het verdienstelik in die asblik van die geskiedenis beland”.

Maar apartheid was natuurlik nie al vergryp waarvoor internasionaal verskoning geëis is nie en dis interessant om op die ontwikkeling hiervan sedert 1945 te let.

Wes-Duitse leiers moes in die eerste dekades ná die Tweede Wêreldoorlog bontstaan om om verskoning vir die Nazi’s se misdade te vra. Boaan die lys was die volksmoord op ’n geskatte ses miljoen Jode en die “Wiedergutmachung” (herstelbetalings en politieke steun vir Israel) het ’n sentrale leitmotif van Wes-Duitsland geword.

Veral bondskanselier Willy Brandt se aangrypende knieval voor die monument van die Joodse opstand in Warschau in 1973 het groot indruk gemaak. Net drie jaar gelede nog het die huidige bondskanselier, Angela Merkel, gesê steun aan die Jode en Israel is ’n sentrale bestaansrede van Duitsland.

Terloops, Oos-Duitsland het nooit met sulke gebare gebodder nie. In die voormalige konsentrasiekamp Sachsenhausen, noord van Berlyn, wat later ’n museum geword het, het die Oos-Duitsers feitlik geen enkele woord oor die Jodevervolging kwytgeraak nie en slegs die aandag op die vervolging van kommuniste gevestig.

Nietemin, namate die tyd aangestap het en die twee Duitse state in 1990 herenig is, het die drang om om verskoning te vra, afgeneem. Dis nie dat die destydse misdade ontken word nie; inteendeel, ’n nuwe geslag neem egter oor en wat destyds gebeur het, sink stadig weg in die geskiedenis. Dit speel nie meer ’n sentrale rol nie.

Dit loop bietjie anders in Japan, wat byna ewe veel misdade in die Tweede Wêreldoorlog as die Nazi’s gepleeg het. Toe die Japanse kapitulasie van 1945 afgelope naweek herdenk is, is sterk druk op die land se premier, Sjinzo Abe, uitgeoefen om om verskoning te vra.

Hy het geweier. Hy het “diepe droefheid” oor die miljoene dooies uitgespreek, maar nie om verskoning gevra nie. Japan se buurlande, wat kwaai onder die Japanse besetting gely het, het woedend gereageer, maar kan nie veel daaraan doen nie.

Om die waarheid te sê, in Japan is daar ’n groeiende gevoel onder konserwatiewe nasionaliste dat die beweerde misdade òf sterk oordryf is òf glad nie plaasgevind het nie, ondanks die oorweldigende bewyse tot die teendeel.

Vanwaar die verskil tussen die Duitsers en Japanners? Een verklaring wat nogal oortuigend klink, is dat die Duitsers ’n Christelike “skuldkultuur” het en die Japanners ’n “skaamtekultuur”.

In die Christelike kultuur moet jy erken as jy fout gemaak het en jy moet om verskoning vra. In die Oosterse skaamtekultuur is dit ’n skande om ’n fout te erken. Dan verloor jy jou aansien en dis blykbaar min of meer die ergste wat ’n Oosterling kan oorkom.

Dan is daar natuurlik nog die Russe, wat in die kommunistiese tyd geen enkele millimeter in wreedheid vir die Duitsers en Japanners teruggestaan het nie. Met ’n besoek aan Moskou iets meer as ’n jaar gelede het my gasheer my in ’n bos buite die stad gewys waar duisende intellektuele in die jare dertig doodgeskiet is. Intellektuele dink naamlik te veel en in Josef Stalin se Sowjet-Unie was dit gevaarlik.

Maar geen enkele Sowjet- of Russiese leier het ooit ekskuus gevra vir die miljoene liters bloed wat hulle vergiet het nie. Inteendeel, in die nuwe Rusland van pres. Wladimir Poetin word Stalin soos van ouds bewierook. Die Poetin-regime gebruik hom sinies as instrument om die Russiese nasionalisme aan te wakker, bloot om sy eie magsposisie te verstewig.

Dan het jy natuurlik ook nog die Britte, Franse, Italianers, Nederlanders – noem maar op – wat almal vergrype in mindere of meerdere mate gepleeg het. Maar niemand vra om verskoning nie, al word steeds meer daaroor in die burgerlike samelewings gedebatteer.

Dis natuurlik ook ’n vraag hoe ver die misdade in die verlede lê waarvoor jy om verskoning moet vra.

Moet die Italianers die Tunisiërs en Israeli’s om verskoning vra omdat hul voorvaders, die Romeine, Karthago in 146 v.C. en Jerusalem in 70 n.C. verwoes het? Moet die Europeërs die Afrikane om verskoning vra omdat miljoene Afrikane eeue gelede in slawerny weggevoer is?

En as dit inderdaad moet, wat van al die Afrikane wat aan die proses meegewerk het? En die Arabiere, wat min of meer ewe veel Afrikane as die Europeërs weggevoer het?

Daarby kom nog ’n oorweging. Wanneer die “oortreder” die “veronregte” om om verskoning vra, hoe moet laasgenoemde reageer? Moet hy die verskoning aanvaar en aanbeweeg? Of moet hy dit as onvoldoende verwerp en eis dat die “oortreder” nog dieper in die stof buig en dalk selfs geldelike kompensasie gee?

Die Christelike weg is natuurlik om opregte verskonings te aanvaar en aan te beweeg. Teen dié agtergrond is dit interessant dat die Jode en ander slagoffers van Nazi-Duitsland die Duitse apologieë meestal wel aanvaar het. Slegs ’n minderheid wantrou die Duitsers nog weens die misdade wat hul ouers en grootouers gepleeg het.

Maar toe pres. F.W. de Klerk voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie namens die Nasionale Party om verskoning vra vir apartheid, is dit onmiddellik emosioneel – selfs deur aartsbiskop Desmond Tutu – as onvoldoende verwerp.

Esmaré Weideman se verskoning het weliswaar minder reaksies uit dié kringe ontlok, dalk omdat die  verlede ook al effens in die kollektiewe geheue begin vervaag het. Maar een reaksie het wel opgeval: dié van dr. Blade Nzimande, leier van die SA Kommunistiese Party.

In ’n persverklaring het Nzimande Weideman se apologie as “far from sufficient” verwerp. Media24 moet eerder die Menseregtekommissie nader “to deal with all aspects of its role under apartheid”. Dit kan ook help om die ander media sover te kry dat dié “its own rule and complicity under apartheid as a crime against humanity” konfronteer.

Dít komende van die leier van ’n party wie se houding in die struggletyd, in die woorde van niemand minder nie as Joe Slovo, bepaal is deur “blind adherence to the decisions of the Soviet Communist Party”.

Dáárvoor het Kameraad Lem nog nooit om verskoning gevra nie.

Ja, op sigself kan ’n mens om verskoning vra vir foute. Maar die oomblik as jy dit éis om jou eie politieke posisie te verstewig, verloor jy alle morele geloofwaardigheid.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Bruno Stef ·

Dit is ook so dat die wenner van so n oorlog die geskiedenis skryf en in die posisie is om SG misdade van die verloorder aan die groot klok te hang.Diekommuniste was nog altyd meesters op die gebied daarom was Mussolini/Hitler/Japanse keiser en voor dit Napoleon die groot misdadigers maar baie oorlogsmisdade van hulle oppenente is deur die Gallieerde magte toegesmeer en in sommige gevalle die anderkant blatant daarvan beskuldig. Dit is die selfde pad wat ons tot ewigheid in SA met die kommuniste gaan stap want hulle aanvaar net skuld as dit kollektief gedoen word MAW geen enkeling kan verantwoordelik gehou word nie.

Chris ·

Ek persoonlik dink dit is morel onregverdigbaar om een person te vra om verskoning te vra vir iets wat n ander persoon gedoen het en gemeenskaplike verskonings is sinneloos.

Baie meer vrugbaar is om so eerilk as moonlik die omstandighede wat gelei het tot vergrype te bestudeer en te analiseer.

Dit moet ook los gemaak word van identiteit. As ons nie verstaan hoekom die Duitsers vir Hitler gevolg het in die 1930’s nie, sal ons nooit kan keer dat dit in die toekoms weer kan gebeur nie. Net so moet ons eerilk wees oor die kompleksiteit van SA wat gelei het tot die instel van Apartheid. Enige politieke oplossing moet hierdie kompleksiteit in ag neem, anders sal daar nie volhoubare oplossings wees nie. Daar die kompleksiteit bestaan nog steeds, dit het nie weggegaan nie.

Ook net n ander opmerking. Die Duitsers en Jappanese kon hulle identiteit behou. Dit is duidelik dat in SA die politieke magte nie glo dat Afrikaners hulle identiteit mag behou nie.

Ampie ·

Onlangs het die Japanese die kernbomme wat op twee stede 70 jaar deur die Amerikaners terug gegooi is, herdenk. Meer as 100,000 Japannese her onmiddelik gesterf en honderde duisende is in die dae, weke en maande daarna dood van die bestraling of beserings. In Hiroshima is 90% van die dokters en 93% van die verpleegsters onmiddellik gedood. In Nagasaki het 40,000 onmiddellik gesterf, slegs 150 van hulle was soldate. Daar is nooit verskoning deur die Amerikaners gevra vir hierdie massamoorde teen die Japannese bevolking nie. Die Britte het Dresden gebombardeer en in 3 dae is 25,000 burgerlikes gedood. Tot soveel as 1,2 miljoen Duitsers is dood in die laaste maande van die oorlog en die vlugtelingskrisis daarna, meestal gedood deur Sowjet troepe. Daar is nooit hiervoor om verskoning gevra nie. In Suid-Afrika is 28,000 Boere burgerlikes in konsentrasiekampe dood. Weer eens geen verskonings nie. In Suid-Afrika het 21,000 mense gesterf tussen 1948-1994 as gevolg van politieke redes. 92% hiervan was swart-op-swart geweld, meestal aanvalle tussen die ANC en Inkatha. Sover ek weet het niemand ooit hiervoor verskoning gevra nie. 130 mense is in die tydperk weens politieke misdade gehang. Meer Boere op hul plase is dus sedert 1994 vermoor as wat mense in die “apartheidstyd” gedood is. Neem ook in ag dat seker die oorgrote meerderheid gedood is in aanvalle op polisiemanne of openbare geweld. Met ander woorde hulle kan nie as onskuldige burgerlikes geklassifiseer word as hulle wapens (wat watter aard ookal) gehad het nie. Vergelyk dit ook met 17-18,000 mense wat jaarliks vermoor word in Suid-Afrika. Vanaf 1994 tot 2015 is dit ongeveer 367,000 mense. Ek hoor geen woord van verskonings omdat die enorme polisiemag nie in staat is om hierdie moorde te keer nie. Die punt wat ek wil maak is dat alles relatief is en soos Bruno Stef hierbo laat blyk word die oorwinnaar se weergawe van die storie vertel en kom skotvry daarvan af. Wat nog ‘n bitter smaak laat is dat, volgens ons ou politici, ons as Afrikaners nooit oorwin was nie, maar dat dit ‘n onderhandelde skikking was!

girts. ·

Wens ek kan Ampie se antwoord êrens share dat meer mense dit só kan lees. Ai tog, die wêreld v politiek en mag. Hulle oorleef en is veilig en die onskuldiges sterf en ly.

Harry ·

Wel gestel Ampie. Na my mening is daar in al hierdie situasies geen oorwinnars nie maar allenlik verloorders. Ek dink ook dat daar by politici ook te veel verskuilde agendas is en dat daar baie persoonlike motiewe en doelwitte skuil. Die regering van die dag behoort egter by sy mense om verskoning te vra vir hul mislukking op alle sleutel terreine wat bepaal of ‘n volk suksevol sal wees aldan nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.