Die naalde is nie lank genoeg om by ons harte uit te kom nie!

Argieffoto van die Puk-hoofhek

Argieffoto van die Puk-hoofhek

Soos u weet is die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus sedert Februarie vanjaar in die warm water.

Eers het dit begin waar sommige media ons gebrandmerk het dat ons ‘n Nazi-kultuur ondersteun. Terselfdertyd was ons gestenig omdat ons ontgroeningspraktyke, wat studente se menswaardigheid aangetas het, aangespreek het. Nou gaan dit oor Afrikaans en transformasie. Dit voel asof ons ‘n voedoe-pop is wat vol naalde gesteek word. Ons vat houe, maar ek wil dit duidelik maak dat ons nooit sal gaan lê nie. Die naalde is nie lank genoeg om by ons harte uit te kom nie.

Dit is opmerklik dat ons studente kwaad is. Ek deel hulle sentiment. Ons is kwaad omdat ons kampus as gevolg van klaarblyklike agendas op die voorblaaie van dagblaaie verskyn. Ons studente – wit, swart, Indiër, of bruin beskou ons kampus as ‘n werkende, suksesvolle kampus. ‘n Kampus wat toeganklik is. Eksklusiwiteit bestaan nie hier nie, enige iemand is welkom. Ons onderrigtaal is wel Afrikaans, maar ek wil dit baie duidelik stel dat Afrikaans op hierdie kampus nie ‘n kleur het nie. Die kwessie hier is die taal en sommige verwar dit opsetlik met velkleur.

Transformasie in ‘n Suid-Afrikaanse konteks is reeds etlike jare ‘n sensitiewe kwessie. ‘n Kwessie wat alle landsburgers beïnvloed. Maar, wat presies is transformasie? Is dit bloot om wit met swart te vervang, of gaan dit oor meer as net kleur? Om tydens ‘n sportbyeenkoms ‘n pawiljoen vol swart studente te sien en aan die ander kant, ‘n handjie vol wit studente op hul eie onder die bome te sien braai, is nie transformasie nie. Dié verskynsel speel homself by universiteite af wat meen hulle is reeds ten volle getransformeer. Hulle getalle lyk dalk reg, maar is daar werklike integrasie tussen studente van ras?

Daar is wel nog baie werk wat gedoen moet word wat transformasie betref. Nie net op die NWU-Potchefstroomkampus nie, maar landswyd. As mens gaan kyk na die werklike integrasie tussen studente van ras, na die hartsake en omgee vir mekaar sonder om noodwendig blind na getalle te staar, is ‘n suksesverhaal besig om homself op die NWU-Potchefstroomkampus af te speel.

Die verantwoordelik lê by dié wat transformasie dryf om ‘n gevoel van geborgenheid te kweek. Dit, sodat daar ‘n gesamentlike gevoel van hoop en entoesiasme gevorm word wat sal lei tot ‘n blink toekoms vir almal. Ons probeer ons studente, swart en wit, met die siening toe te rus dat elke bietjie wat elkeen bydra, vir ons ‘n ander toekoms sal gee as wat deur die doemprofete geprofeteer word. Dít, is transformasie.

Ons studente het tans 84 aktiewe gemeenskapprojekte wat hulle vir die liefde van die saak doen. Oor die afgelope vyf jaar is R6.8 miljoen deur studente ingesamel en aan gemeenskapsprojekte en individue in en om Potchefstroom uitbetaal. Terselfdertyd hang die media ‘n albatros om ons studente se nekke en word hulle met warm ysters gebrandmerk. Hulle is glo Nazi’s en selfs rassiste wat nie wil transformeer nie. Dit terwyl 5 470 van ons 20 771 kontakstudente, en 29 415 van ons 31 173 afstandstudente, swart is.

Sommige media kritiseer nie net ons studente nie, maar word die hele Potchefstroomgemeenskap ook in die tande geskop met die opmerking: “Die NWU het ’n unieke geleentheid misgekyk om te transformeer en menseregte binne die breë Potchefstroom-gemeenskap – wat self aan die verstikkende gevolge van die NWU se institusionele kultuur ly – te bevorder.”

Ons studente word geëtiketteer. Dit raak dalk tyd dat mense saam met hulle reageer. Hierdie studente moet binnekort die arbeidsmark betree met hierdie onregverdige etiket om hul nekke.

Dieselfde geld vir alumni, wat dwarsoor die wêreld werk en waarvan hierdie universiteit se graad die sleutel tot hulle beroepe is. Hulle misnoeë met hierdie etiket wat die afgelope tyd die wêreld ingestuur word, is duidelik te sien in hulle reaksie in die dagblaaie se briewekolomme en op sosialemedia-platforms.

Ek kan met vertroue sê dat dit met die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus goed gaan. Ek nooi u uit om ons te steun in dit wat behoort. Aan dit wat eie is aan ‘n unieke kampus en sy gemeenskap. Oor Afrikaans. Oor kwaliteit-opvoeding. Gesels met ons oor dit wat moet verander…

Ons erken dat ontgroeningspraktyke plaasgevind het ten spyte daarvan dat dit teen die reëls en etos van die instelling is. Ons het ook waar nodig streng opgetree, maar ons uitdaging is nou om te verhoed dat dit weer gebeur. Ek weet dat NWU-Pukstudente te lief is vir hulle plek om die kampus weer so bloot te stel. Eenmaal ʼn NWU-Puk, altyd ʼn NWU-Puk.

Tree gerus met my in gesprek op Twitter by @HermanvanS en ook op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alwyn Beetge ·

Uitstekende verslag deur n uistekende rektor. Dit is duidelik die PUK word nie aan sy neus rond gelei deur die verskuilde politieke agendas van redakteurs, oud-kanseliers en andere nie.Dit is tyd dat die studente en personeel dit duidelik stel en die boodskap aan die die minister ook gee.

Hanno Visagie ·

Kulturele en volksverskeidenheid Die Here het grense tussen nasies en tussen volke gestel, en verwag van ons om dit te eerbiedig (Hand. 17:26). Dit is ‘n voortsetting van die taalverwarring wat tydens die bou van die toring van Babel ingestel is (Gen. 11:5-8). Dit was verkeerd in die oë van die Here dat die Babiloniërs ‘n wêreldstaat met net een taal wou instel, daarom het Hy vir elke groep sy eie taal gegee. Hulle het uitmekaargespat en elkeen in sy eie woongebied onder sy eie regering gaan woon. Hieruit het verskillende volkskulture ontstaan. Die erkenning van hierdie verskeidenheid is die enigste grondslag vir gesonde verhoudings tussen volke. In die evangelisering van die wêreld word ons ook na elke volk en taal gestuur sodat hulle verkieslik in hulle eie taal geëvangeliseer kan word. In die eindtyd gaan daar egter onder die aanstigting van die Satan, die Antichris en die valse profeet ‘n wêreldstaat met net een regering, een godsdiens en een ekonomiese stelsel geskep word (Op. 13:1-18). Die opkomende nuwe wêreldorde beywer homself hiervoor. Dit sal ‘n ernstige vergryp teen God se orde van onafhanklike en selfbeskikkende volke wees, daarom sal die Here Jesus die bose lewenswyse en samelewingsorde van die Antichris tydens sy wederkoms vernietig. http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Fundamentalisme.htm

Jessica ·

Dis juis omdat NWU se vyande besef dat alles wat jy sê waar is, Herman, dat hulle alles in die stryd gaan werp om Afrikaans en Afrikaners daar te marginaliseer. Daarvoor het hulle reeds ‘n groot gedeelte van die Afrikaanse pers wat aan ‘n terminale skuldgevoel oor Apartheid ly, gekoöpteer.

Die doel van hul National Democratic Revolution is immers om alles wat Afrikaans is universeel te stigmatiseer en tot die status van ‘n blote kuriositeit te devalueer.

‘n Suksesvolle Afrikaanse universiteit pas nie lekker in daardie scenario nie – om dit sagkens te stel. Selfs al sou hulle die aanslag tydelik staak, sal dit net ‘n taktiese skuif wees wat geen verskil aan die uiteindelike doelwit sal maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.