Die nalatenskap van Barack Obama

 

Barack-Obama

Pres. Barack Obama (Amptelike Withuis-foto deur Pete Souza)

Die stryd om die kandidate vir die komende Amerikaanse presidentsverkiesing aan te wys het in alle erns begin en dié stryd beloof om sy nie-amptelike naam van “die grootste vertoning ter wêreld” gestand te doen. Die verkiesing vind in November plaas en die nuwe president neem oor in Januarie 2017.

Dit is egter van waarde om die huidige Amerikaanse president, Barack Obama, se  presidentstermyn, wat altesaam agt jaar beloop het, in oënskou te neem. Was Obama ’n reusesukses soos die meer linkse Amerikaners wil voorgee of ’n reusemislukking soos die regterkant van die spektrum hom beskou?

Die feit is dat Obama die eerste swart president van die VSA geword het. Hy het met groot fanfare en sukses ’n boodskap van “ja, ons kan” en “verandering” as slagspreuke gebruik met sy verkiesing in die eerste termyn en daarna redelik maklik die herverkiesing vier jaar later gewen. Die vraag is nou natuurlik of hy wel die verandering teweeggebring het of eintlik maar misluk het.

Lesers sal onthou dat die Amerikaners, en selfs die breëre wêreldgemeenskap, baie verwag het van die  jeugdige president (hy was maar 48 toe hy verkies is). Dermate dat hy net ’n jaar in sy presidentskap die eerste Amerikaanse president geword het wat die Nobelprys vir vrede ontvang het. Ook het die Amerikaners in die agt jaar van sy presidentskap nooit in ’n direkte oorlog betrokke geraak nie, hoewel daar heelwat konflikte soos dié in Sirië en Libië was wat in ’n gemors ontaard het.

Hoewel elkeen maar sy mening oor Obama se presidentskap het, moet ons dit beoordeel uit ’n paar oogpunte: sy binnelandse politieke beleid, sy hantering van een van die grootste ekonomiese krisisse in die VSA se geskiedenis en sy buitelandse beleid. Ons moet onthou dat Obama se agtergrond hier in ag geneem moet word. Hy was die Demokratiese Party se kandidaat wat onbeskaamd staan vir herverdeling van rykdom en aangedryf word deur die sosiale liberalisme.

Die saak het natuurlik drie kante: die Obama-ondersteuners se weergawe, sy teenstanders se weergawe en die afleiding of gevolgtrekking wat dááruit gemaak kan word. ’n Baie goeie perspektief op die goeie en slegte aspekte van Obama se presidentskap word reeds in 2015 deur die Amerikaanse tydskrif National Review geplaas en ons kan van die argumente gebruik om sy presidentskap te ontleed.

Volgens hierdie tydskrif het Obama se ondersteuners eens dat hy twee oorloë beëindig het deur eers troepe uit Irak te onttrek en daarna stapsgewys troepe uit Afganistan te onttrek. Hy het die VSA van ’n ernstige ekonomiese depressie gered, Amerikaners word oral ter wêreld nou eerder geëer as verag en hy het die “über”-terroris Osama bin Laden laat uitsnuffel en volkome uitgeskakel.

Dan het hy ook in die Midde-Ooste baie uitgerig: Hy het Iran sy kernprogram laat ontbind, die VSA het ’n meer gebalanseerde verhouding met state in die geweste en Israel is nie meer die uitverkorene Amerikaanse bondgenoot in die Midde-Ooste nie. Obama het ook Wladimir Poetin, die Russiese president, se ekspansionisme vasgevat en grootliks uitgereik na die Moslem-gemeenskap in die VSA en daarbuite.

Obama word ook deur sy ondersteuners geëer as iemand wat die groot insinking ná die finansiële krisis van 2008 puik bestuur het, deur veral werkloosheid te verminder met grootskaalse uitbreiding van regeringsinstellings en regeringsbesteding. Hy word ook geloof vir sy insig om klimaatsverandering in toom te hou, die VSA se skuld min of meer te stabiliseer (al is dit op baie hoë vlakke) en die instelling van ’n nasionale gesondheidstelsel (in die volksmond as “Obamacare” bekend). Dan het hy ook baie gedoen om rassespanning in die VSA te balanseer en die proses begin om miljoene onwettige immigrante te wettig as Amerikaanse burgers. Die VSA het ook wegbeweeg van sy gebondenheid aan Midde-Oosterse olie deur eie oliebronne deur hidrobreking (“fracking”) te ontgin.

Nou ja, dis nogal ’n mond vol. Hoekom is dit dan dat Obama, met die uitsondering van sy eerste jaar as president, deurlopend uiters swak ondersteuningsvlakke in meningspeilings van die Amerikaanse publiek gekry het? Dit was soms so laag soos 39% en gemiddeld swakker as George Bush (Junior) se tydperk as president.

Obama se teenstanders het ’n ander uitkyk van Obama se presidentskap. Volgens hulle het Obama Amerikaanse troepe uit Irak onttrek nadat Bush reeds die insurgensie-oorlog gewen het. Sy haastige onttrekking het gelei tot die daarstel van ’n nuwe ekstremistiese mag deurdat die Islamitiese Staat (IS, ook bekend as ISIS) ontstaan het in die magsvakuum wat geskep is. Irak is daarna in nog groter chaos gedompel.

Sy onttrekking uit Afganistan gaan heel moontlik in die volgende paar jaar veroorsaak dat die Taliban weer beheer daar gaan oorneem en sy slegte keuses rakende Sirië het die land die nuwe middelpunt van internasionale terrorisme gemaak wat reeds ’n vlugtelingkrisis van onmeetlike afmetings in Europa veroorsaak het en terreur na Europa uitgevoer het.

Obama se bomaanvalle en optrede in Libië het die land verwoes en eweneens ’n terroristebedreiging in Wes-Afrika geskep wat reeds tot terreuraanvalle gelei het waarin verskeie Westerlinge en Amerikaners dood is.

Sy kritiek teen tradisionele bondgenote soos Israel asook die Arabiese Golf-koninkryke en sy aanvaarding dat Iran sy kernwapenprogram gaan beëindig sonder om aan te dring op volle inspeksies, het die Midde-Ooste in ’n kruitvat laat ontaard wat elke oomblik kan ontplof.

Obama het ook ’n aandeel aan grootskaalse menseregteskendings deur sy hommeltuig- (“drone”-) aanvalle op teikens in verskeie lande in die Midde-Ooste waarin honderde verdagtes koelbloedig sonder verhoor doodgemaak word. Sjina is besig om ekspansionisties te word in die Verre Ooste deur eilandjies letterlik met groot hoeveelhede grond en sand te vergroot en te bewoon, terwyl Poetin die Krim-skiereiland en groot dele van die Oekraïne beheer en toenemend die kitaar slaan in Sirië.

Op die plaaslike front het Obama se presidentskap eintlik net maatreëls van die Bush-regering geërf om die resessie af te weer en daarna die VSA se skuld verdriedubbel voordat dit gestabiliseer het.

Obama se inisiatiewe rondom “groen krag” het eintlik niks opgelewer nie en privaat inisiatiewe in die VSA deur hidrobreking het die olieprys afgedwing ten spyte van Obama se pogings om maatskappye regte te weier om verdere hidrobreking te laat doen. Hy het net self krediet vir die lae olieprys aanvaar.

Volgens die teenstanders is Obamacare eintlik maar ’n mislukking deurdat baie beloftes maar min verandering gemaak is. Die administratiewe stelsel wat geskep is en gevolglike rompslomp is eintlik maar die enigste nalatenskap.

Obama het in sy laaste jare uitvoerende bevele uitgereik eerder as om wetgewing deur demokratiese instellings soos die kongres en senaat te laat gaan en so onwettig opgetree. Hy het die VSA oopgestel vir verdere onwettige immigrasie en rassespanning aangeblaas deur te hamer op sogenaamde ongelykhede tussen swart en wit.

Dit is twee uiters teenoorgestelde sienings hierdie wat heel moontlik die pro- en anti-Obama-kampe se sienings goed opsom.

So, waar laat dit ons met ’n nugtere beoordeling van Obama se presidensiële tydperk? Een waarnemer, ene Victor Hansen van die Hoover Instituut, som dit goed op: Obama was versot op die kollig en met sy uitstekende vermoëns as orator het hy sy ondersteuners en groot segmente van die internasionale media gemesmeraais.

Hy het met groot hoop en groter beloftes die troon bestyg, maar was nooit meer as ’n gemiddelde senator en later ’n ondergemiddelde president nie. Hy was ’n onervare politikus en steeds nie voorbereid op die uitdagings van sy presidentskap nie. Hy het die boodskap van hoop en verandering uitgedra, maar geweet dat dit bloot liberale retoriek was.

Die punt bly: Obama was eintlik nooit ’n progressiewe hervormer soos sy ondersteuners hom graag wil voorstel nie, maar ook nie sy teenstanders se groot sosialis wat die VSA se kapitalistiese stelsel vernietig het nie. Hy sal heel moontlik ’n ereplek in die VSA se geskiedenis verkry: nie omdat hy iets vermag het nie, maar eerder omdat hy VSA se eerste swart president was. Dít is sy grootste nalatenskap.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Trolle ·

Ek het amper opgehou lees toe ek die liegstories in die begin sien van hom,gelukkig het ek aanhou lees om later die waarheid te sien.Ja lyk my om n vrede prys te kry moet jy oorlog maak.Speel daai se ding Yes we can van hom agteruit klink onstellend.
Tussen hom en Bush het hulle die wereld in gahos gedompel en die hele werld ly nou daaronder en madam queen Clinton gaan net aangaan waar Oubama gaan ophou want hulle werk almal vir die selfde mense wat agter hulle sit en se vir hulle wat hulle moet doen.Ek bid dat Trump inkom maar hulle sal dit nooit toelaat nie.Trump en Putin sal goed oor die weg kom sodat die spanning van word war 3 kan verminder.Op die oomblik lyk dit of world war 3 net om die hoek is .
Oubama se green projek gaan miljoene mense sonder werk los.
Dankie goeie berig.

Etienne ·

Trolle ,ek lewer nie kommentaar oor ander lande se leiers nie want ek word net gevra is jy patrioties en is jy trots op jou leier-Trolle, as ons werkloosheid maar 6%was en ons Rand net halfpad so sterk soos die Dollar was sou ek dalk met soveel argwaan soos Trolle ge reageer het maar helaas ek kan myself nie so belieg nie.

Trolle ·

Etienne het jy gesien hoeveel geld die USA nou skuld vir China wat hulle nie het om terug te betaal nie.
En jy moet darm weet olie moet gekoop word met US dollar wat die dollar sterk hou al print hulle net die heeltyd geld.Geen ander land kan oorleef net deur aanmekaar geld te print nie.

Flippie ·

Laat my dink die Nobelprys vir vrede het nie altyd iets met vrede te doen nie, maar het iets met politieke te doen wat aan verraad grens.

chrisp ·

Wag vir Hillary as julle gaos wil sien.
Hoe groter die liberalis hoe groter die gaos en onse Hillary is die uber liberalis.

As sy nie die volgende president word nie sal ek uiters verbaas wees.

chrisp ·

Ek dink sy grootste nalating is die klomp stemvee wat hy in die VSA ingebring het om die demokrate se kieserskorps an te vul.

Hillary skuld hom ‘n koue enetjie verseker.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.