Die nalatenskap van die 2007/-’08-finansiële krisis

ekonomie-stockfoto

Argieffoto

Monetêre inflasie, negatiewe rentekoerse en ander gevaarlike ekonomiese beleid

Die finansiële krisis van 2007/-‘08 was ʼn gebeurtenis wat die wêreld op verskeie maniere verander het. Trouens, die huidige ekonomie en die wêreld waarin ons vandag woon, is in werklikheid in dié krisis gesmee. Die ware impak van die krisis is steeds met ons en die gevolge daarvan is nog nie verby nie.

Ons lewe tans in ʼn wêreld waar dinge soos negatiewe rentekoerse, hoë staatskuld en uitsonderlike ingrepe deur sentrale banke, soos kwantitatiewe verruiming (quantitative easing) en selfs sprake van “helikoptergeld” aan huishoudings, kwansuis “normale” ekonomiese beleid geword het.

Vandag se wêreld is ook die wêreld van die Brexit-stem en ʼn wêreld waarin Donald Trump, buiten baie “slimkoppe, ontleders en peilingagentskappe” se verwagtinge, tot president van Amerika verkies is. Die stand van die globale ekonomie, maar veral die post-2008-ekonomie in die VSA, het ʼn groot rol in Trump se oorwinning gespeel.

Ontevredenheid oor lae BBP-groei en arbeidsabsorpsiekoerse oor die laaste sewe jaar kan veral hier genoem word. Die koerse het laag gebly, selfs in die nasleep van ʼn stewige opbloei van Amerika se staatskuld en uitsonderlike ingrepe deur beleidmakers en die Amerikaanse sentrale bank, oftewel die Fed.

Opsigself het die Amerikaanse establishment en beleidstegnokrate alles in hul vermoë probeer om die Amerikaanse ekonomie te “stimuleer”. ʼn Reeks uitsonderlike ingrypingsmaatreëls is onderneem, maar die uiteinde was nog steeds dat iemand soos Trump om grotendeels ekonomiese redes genoegsame steun kon werf in die lig van die establishment se swak post-2008-prestasie.

Sedert 2008 is die globale ekonomie ʼn ongekende en uitsonderlike omgewing. Die impak van die huidige tegnokratiese makro-ekonomiese bestuur en ongekende monetêre ingrepe sedert 2008 word wyd gevoel, selfs verstaan die man op straat dit nie heeltemal nie.

“Verruiming” van die geldvoorraad

Om te verstaan watter impak die krisis eintlik gehad het, kan ons begin deur die impak van die Fed op die Amerikaanse geldvoorraad onder oë te neem. Ná 2007 is Amerika se monetêre basis, ʼn breë aanduiding van al die geld wat in die Amerikaanse bankstelsel is, yslik deur ongekende monetêre ingrepe verruim.

Die aantal dollars in die Amerikaanse bankstelsel is bykans 5 maal vermeerder. Duisende miljarde se nuwe dollars is “geskep” (elektronies “gedruk”), oftewel uit die lug gegryp. Die volgende grafiek gee ʼn aanduiding van die skaal van die Fed se post-2008-verruiming van die VSA-geldvoorraad.

nalatenskap-01

Grafika: Verskaf.

In die verre verlede, toe geld tipies nog goud, silwer, skulpe, pelse of selfs sout was, was dit nie so maklik om die geldvoorraad te “verruim” nie. Die vermoë, om waarde te stoor, was een van die kernelemente van geld – een wat nou grootliks weens die slenter van inflasie verlore gegaan het.

Om die geldvoorraad te “verruim” moes die keisers van ouds die goue of silwer munte in hul lande uit sirkulasie neem, stukkies afknip, oorsmelt en met ander metale meng om sodoende uit die ontwaarding (“verruiming”) te baat – voordat pryse later noodgedwonge deur die inflasie van die geldvoorraad sou styg.

Terwyl die meeste van ons die optrede as oneerlik beskou, kan hedendaagse regerings, gewoonlik deur middel van sentrale banke en die breër bankstelsel, die geldvoorraad bykans na hartelus elektronies verruim, hoewel ʼn aanvaarbare regverdiging aan die gebonde gebruikers van ʼn fiatgeldeenheid in die meeste gevalle wel nodig is.

Deesdae hoef edelmetaalmunte nie oor en oor gesmelt en vermeng te word om te verruim nie, maar dit is selfs nie eens meer nodig om nuwe kontantnote, soos in Zimbabwe en Weimar-Duitsland, te druk nie. Elektroniese inskrywings in bankrekeninge is al wat nodig is om te verruim.

Die groot finansiële krisis het klaarblyklik aan die Fed ʼn politieke regverdiging vir verruiming gebied. In die Fed se eerste kwantitatiewe verruimingsprogram (QE1) is bedenklike finansiële instrumente (wat hoofsaaklik uit sg. Mortgage Backed Securities bestaan het) ter waarde van 600 miljard dollar deur die Fed gekoop. Daarná, in verdere verruimingsprogramme (QE2 en QE3), is instrumente soos tesourie-effekte, tesame met ander skuldinstrumente, ook gekoop.

Met “koop” word bedoel, die Fed neem finansiële skuldinstrumente op sy balansstaat en skep nuwe dollars deur inskrywings te maak in die rekeninge van die Amerikaanse handelsbanke en so word dollars letterlik uit die lug gegryp.

Teen November 2015 staan die VSA-monetêre basis by 4,1 duisend miljard VSA-dollars vanaf om en by 870 miljard in 2008. Dit is waar dat nie al dié dollars in die gemiddelde Amerikaner se hande beland het nie. Eenvoudig gestel, heelwat van dié dollars het in die banke en finansiële stelsel en uit die hande van verbruikers, gebly. Wat wel hiermee saamgeloop het, is groot inflasie van batepryse.

Sedert 2008 het aandelebeurse regoor die wêreld weer nuwe hoogtes bereik. Dit het gebeur oor ʼn tydstip waar ekonomiese groei, plaaslik en in lande soos die VSA en Europa, nog steeds nie groeikoerse van die verlede, soos in die 80s en 90s, ingehaal het nie.

Zero- en lae-rentekoersbeleid

Tesame met die QE-programme in Amerika en soortgelyke ingrepe Europa (en Japan), is voortdurende uiters lae rentekoerse ʼn verdere buitengewone ingryp van hedendaagse monetêre beleid. In Amerika en ander Westerse lande staan sleutelrentekoerse naby aan nul en langtermynkoerse in die effektemarkte is in sommige lande selfs negatief, soos tans in Japan die geval is en vroeër dié jaar nog in Duitsland die geval was (nog ʼn uitsonderlike gebeurtenis sedert 2008).

nalatenskap-02

Grafika: Verskaf.

Die volgende grafiek illustreer tot watter mate ʼn lae rentekoersbeleid sedert 2008 in Amerika gehandhaaf is. Let op hoe lank rentekoerse in die grafiek al teen die vloer van die grafiek is. Die storie is soortgelyk in Europa en Japan.

Lae rentekoerse, wat nie by inflasie byhou nie, het twee denkbare uitwerkings. Aan die een kant dien dit as ʼn aansporing (“stimulus”) vir skuld maak. Dit hang natuurlik af wie die  skuld kan bekom, maar gewoonlik ondersteun maklike skuld (tydelik) markte vir goedere wat mense op skuld koop, soos huise, motors en ander duursame items.

Dit opsigself dien as ʼn aansporing vir die uitbreiding van industrieë wat dié markte diens. Aan die ander kant is lae rentekoerse nadelig vir mense wat van spaargeld moet leef, soos pensioenarisse. Lae rentekoerse ondersteun dan ʼn opbloei van krediet en besteding aan en raai spaar af.

Verskeie hoofstroom ekonomiese skole gee min steun aan die idee van nie-inmenging met rentekoerse. Daardeur word min gewig aan die ontstaan en handhawing van “natuurlike” rentekoerse deur die mark gegee. Maar indien rentekoerse werklik soos enige ander prys op die mark ontwikkel, in die geval uit die vraag na en voorsiening van (spaar)geld, sal die manipulasie daarvan, soos by die manipulasie van enige ander markprys in die ekonomie, nadelige gevolge inhou.

Volgens dié opvatting sal kunsmatige lae rentekoerse sekere markte onvolhoubaar en kortstondig rugsteun. Verder sal ʼn kunsmatige opbloei van veral verbruikskrediet totale vraag – die spilpunt van verskeie hedendaagse makro-ekonomiese modelle – wel aanjaag, maar met die voorbehoud dat die opswaai slegs tydelik sal wees.

Uiteindelik sal markgerigte spaar van geld afneem, kredietskepping kunsmatig toeneem en kapitaalvorming volgens vrye markkragte in die wiele gery word. (Kunsmatig lae rentekoerse gee ʼn groen lig aan beleggings en projekte wat eerder moes gebly het, wat oor die lange duur ʼn skadelike vermorsing van hulpbronne sal beteken.)

ʼn Opbloei van staatskuld

Lae rentekoerse ondersteun wel kredietskepping, maar huishoudings en regerings kan net tot by ʼn sekere punt geld leen, selfs onder uitermatige lae rentekoerse. (Die snel groei van die Suid-Afrikaanse regering se skulddienskostes, wat nou teen ander staatsbesteding indruis, is ʼn goeie voorbeeld van hierdie beperking.)

Sedert 2008 was daar plaaslik en internasionaal by verskeie lande ʼn stewige groei van staatskuld. Groot staatskuld is nog ʼn gevolg van die nadraai van die 2007/-‘08-krisis. Sommige ontleders meen daar is nou ʼn dreigende krisis in die markte vir staatskuld en selfs nasionale geldeenhede; sou so ʼn krisis werklik realiseer, sal die skaal daarvan die vorige finansiële krisis kan oortref.

nalatenskap-03

Grafika: Verskaf.

Hierdie enorme opbloei van skuld in baie lande, op die rug van uitsonderlike lae en selfs negatiewe rentekoerse, tesame met QE-programme en allerlei ander ekonomiese “stimulusmaatreëls”, het sedert die 2007/-’08-finansiële krisis slegs met ʼn bedenklike ekonomiese herstel in Westerse ekonomieë saamgeloop, soos die volgende grafiek illustreer.

Fiskale stimulus en helikoptergeld

Deesdae wonder beleidmakers wat verder gedoen kan word om lewe in die globale ekonomie te blaas. Fiskale stimulus en helikoptergeld is twee idees wat die afgelope tyd na vore getree het. Fiskale stimulus, nou ʼn meer gewilde onderwerp ná Trump se oorwinning, beteken meestal óf ʼn vermindering van belasting, óf ʼn verhoging van staatsbesteding.

Sommige hoofstroomontleders meen nou die monetêre stimulus van die afgelope jare moet deur fiskale stimulus deur regeringsbesteding opgevolg word. Plaaslik is fiskale stimulus, in die vorm van openbare infrastruktuurprojekte ter waarde van bykans R1 000 miljard, ook in die jongste begrotingsdokumente aangekondig; maar nie die laer belastingopsie nie.

Sulke projekte sal ʼn voortsetting van die regering se gesentraliseerde inmenging by die ekonomie beteken en uiteraard hulpbronne uit die privaatsektor ontneem om volgens die doelwitte van burokrate en politici te bestee. Dit verhoog die risiko van vermorsing en wanbeleggings, wat uiteindelik ʼn reeds stewige belastinglas kan verhoog.

Om meer geld in die privaatsektor te los om volgens sy oordeel te bestee en belê, is klaarblyklik nooit ʼn opsie nie, maar dit is wat eerder moet gebeur. Herbelegging en ʼn verdieping van die kapitaalstruktuur is die lewensbloed van produktiwiteit en die privaatsektor. Hoë belasting, tesame met ʼn onsekere en swak beleidsomgewing, belemmer dit.

Herbelegging en kapitaalverdieping kan plaaslik aangespoor word deur ʼn eenvoudiger en minder stremmende beleidsomgewing deur vryheidsgerigte ekonomiese hervormings te skep. Sover blyk dit dié opsie is plaaslik nie regtig op die kaarte nie; eerder ʼn voortsetting van inmengings- en herverdelingsmaatreëls in die naam van die nasionale ontwikkelingstaat.

Die ander vorm van “stimulus” wat nou deur sommige lande in die hoofstroom beoog word, is die sogenaamde helikoptergeld, wat as ʼn aggressiewe monetêre beleidsmaatreël beskryf word. In plaas van fiatgeld, wat uit die niet vir die banksektor geskep word, soos in die inleidende gedeeltes verduidelik is, word fiatgeld hier vir huishoudings geskep – wat net so goed is soos ʼn regering wat nuutgedrukte geldnote uit ʼn helikopter op die groot gedeeltes van die samelewing laat neerreën.

Minstens is dié vorm van monetêre ingryping eerliker as QE. Mense sal weet wanneer regerings ewe skielik geld in hul rekenings begin deponeer om na willekeur te bestee en inflasie sal vinniger die slenter aan die lig bring. Die ondersteuners glo allermins dié siening dat welvaart verhoog kan word deur geldeenhede te druk, maar tog is dié idee uiters twyfelagtig en roekeloos.

Slotsom

Ná 2008 lewe ons in ʼn wêreld waar beleidmakers en tegnokrate klaarblyklik reken hulle kan afwyk van ekonomiese vryheid, markpryse en -rentekoerse, sonder enige nadelige gevolge. Sedert 2008 is die geldvoorraad in groot Westerse ekonomieë ontsettend verruim en rentekoerse tot uiters lae vlakke gemanipuleer, terwyl staatskuld die hoogte in geskiet het en daar nou selfs sprake van helikoptergeld is.

Die gevaar hiervan is dat ekonomieë dalk nie soos ʼn masjien is wat eenvoudig en sonder nadelige gevolge gemanipuleer kan word nie. En dat markte met die gedeelde wyshede, inligting en aksies van derduisende deelnemers slimmer is en vinniger as die tegnokrate kan beweeg.

In dié geval bestaan daar afruilings en onbeplande gevolge op jare en jare se inmenging deur die state en hul tegnokrate en beleidmakers. In so ʼn wêreld kan dit gebeur dat die koste van grootskaalse inmenging ná 2008 nog geheg moet word en dat markkragte uiteindelik die laaste sal lag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jan ·

So word van die een gesteel en vir die ander gegee deur inflasie. Baie goeie stuk Gerhard.

Roelf ·

Goeie artikel! Daar is fout met die eerste grafiek. Die bedrae is in US dollar en nie Rand nie.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Roelf

Baie dankie dat jy ons laat weet het. Ons het die grafiek aangepas.

Groetnis

Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Erf Wetter ·

Uitstekende stuk. Hierdie behoort verpligte leesstof vir ekonomiestudente en enige beleidmakende regerings- of sentrale bankamptenaar te wees. Geen regering kan ooit geld so effektief aanwend as die privaatsektor nie. QE en helikoptergeld maak bowendien eintlik ‘n bespotting van die waarde van geld.

Johan ·

Goeie stuk skrywe. Verstaan steeds nie hoe VSA en menigte ander lande met staatskuld:BBP verhouding van 1:1 kan sit en steeds voortgaan sonder dat die borrel bars. Terloops, wanneer gaan ons in Afrikaans nou maar die term miljard laat staan? Dis verwarrend en sedert die Europeers nou ook die Amerikaanse Biljoen se waarde aanvaar het kan ons sekerlik nou maar aanpas as wat ‘n paar individue hardnekkig daarmee volhou en net verdere verwarring saai?

Rupert Ashford ·

Die ironie is niks van die redes vir die GFC is aangespreek nie. Daar is slegs pleistertjies oorgeplak en daar word gehoop die groot bedrae geld in omloop, meer Sosialisme en die groot herverdeling van rykdom onder die dekmantel van die Parys foefie oor klimaatsverandering gaan ons die dag van afrekening spaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.