Die nalatenskap van die ANC

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Die geskiedenis is baie fel en eerlik in sy beoordeling van die handelinge van mense, maar veral van politici.

Weinig politici kom ongeskonde anderkant uit en in Afrika is die seerkrysyfer heel beduidend. Sukses vir ’n politikus is wanneer die land en mense gedy en daar vir hulle ’n beter lewe in die praktyk gegee word en dit nie net belowe word nie.

So bou die ANC voort aan húl nalatenskap. Woorde wek, maar dade strek.

Dat die ANC-leiers by uitstek orators is, sal niemand bestry nie, maar iewers moet die woord en die daad bymekaar uitkom en dit is net hier waar die werklikhede inskop.

Heelparty debatte doen die rondte of ons nou reeds ’n falende staat is al dan nie. Dit kan grootliks afhang vanuit watter hoek daar na die saak gekyk word. Die kernvraag behoort te wees wat die uitkomste is wat die regering bewerkstellig met belastinggeld in belang van die inwoners (al die inwoners) van die land.

Indien daar gekyk word na die effektiwiteit van dienste wat gelewer word op feitlik al die terreine van die samelewing, is dit moeilik om opgewonde te raak. ’n Beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het veroorsaak dat nie net die staatsdiens nie, maar ook die privaat sektor ’n baie duur prys begin betaal het as gevolg van die gebrek aan effektiwiteit.

Waar moet ons begin wanneer daar oor die vordering van die falende ANC-omgewing gepraat word?

Die beste vertrekpunt is seer sekerlik die beleidsomgewing wat geskep is in samewerking met hul vennote in die drieparty-alliansie, die SAKP en Cosatu.

Die verskillende sienings hierin vervat is ’n waarborg vir mislukking indien dit oor ekonomiese groei moet gaan. Aan die orator se kant is die skep van ekonomiese groei seker een van die sterkste aspekte wat uitgebasuin word. Daarteenoor word volgehou om al die verkeerde dinge te doen om groei te bewerkstellig. Die partye hou mekaar gevange in hul eie verwronge ideologiese net, waarin nie net elkeen self verstrengel geraak het nie, maar ook die ander vennote. Die ideologies-gedrewe beleidsomgewing wat geskep word om sosialisme te vestig, is ’n waarborg om Suid-Afrika in armoede te dompel.

In 1994 het die ANC ’n land met werkende stelsels op ’n skinkbord ontvang. Die semi-staatsinstellings soos Eskom, Sasol en die SAL was die trots van die land en het ekonomies elk hul bydrae gemaak om ’n gunstige samelewingsorde te skep. Werkloosheid was baie laag en ’n sterk infrastruktuur wat die ekonomiese aktiwiteite gunstig ondersteun het, was goed gevestig en in stand gehou.

Maar helaas het die ANC oorgeneem en onmiddellik begin om kundigheid te verdryf met hul beleid van regstellende aksie.

Vandag sit ons met massas mense – swart en wit – wat maandeliks na die buiteland verhuis – juis daardie mense wat oor die kundigheid beskik om hier ter plaatse ’n positiewe verskil te kan maak. Die ANC boesem eenvoudig net nie genoeg vertroue in nie en is besig om die toekoms van al die inwoners van Suid-Afrika te steel. Verstommend is dat kiesers steeds hul ondersteuning gee aan die groepering mense wat hulle in armoede gevange hou.

Suid-Afrika het eens uitgestaan in Afrika as ’n ekonomiese reus waarheen massas mense vanuit die noorde van die land gestroom het om in die wrede apartheidsomgewing te kom soek na ’n toekoms, want in hul eie bevryde lande het hulle gekrepeer van ellende. Selfs in lande wat nooit gekolonialiseer was nie, het die hulp van die Weste grootliks gehelp om die omgewing te stabiliseer.

Argieffoto

Vandag is die ANC vinnig besig om Suid-Afrika ook te neem na die ashoop van Afrika waar ons ook net deel van die statistiek sal wees.

ʼn Eens trotse volke het toegelaat dat hul erfenis deur die ANC van hulle gestroop is en hulle word gevange gehou deur geld wat vir die leiers gegee word. Dubbele standaarde is aan die orde van die dag, want op elke terrein word ’n onderskeid getref tussen wat reg is vir swart mense en wat reg is vir wit mense.

Suid-Afrika is gewis ’n baie komplekse land en soos die ANC kwessies nou verstrengel het, raak dinge net nóg meer deurmekaar. Oral word die boodskap “I’m staying” versprei. Dit is goed en wel, maar dan moet die stel waardes gedefinieer word waarbinne dit sal geskied.

Die korrupsie en selfverryking, die wetteloosheid, die afvalligheid van die enigste ware God – die drie-enige God – is maar enkele aspekte wat indruis teen dit wat mens graag in jou land sou wou sien – die gemene deler in die vorming van waardes. ’n Mens kom, indien daar objektief na die hele prentjie gekyk word, baie vinnig tot die besef dat Suid-Afrika eintlik nie die ANC se beleidsomgewing verder kan bekostig nie – dit het net te duur geword.

Waar laat dit mense wat graag wil bou vir die toekoms? Mense wat steeds hul toekoms vind as deel van ’n kultuuropdrag wat uit die Woord van God gevind word waar die riglyne duidelik uitgestippel word oor hoe daar gebou moet word aan waardes en norme; mense wat graag vir hul nageslag ’n werkende land met geleenthede wil nalaat. Duidelik besef mens vandag dat dit nie onder die ANC-regering moontlik is nie.

Soos ons voorouers hand aan die ploeg geslaan en begin het om Suid-Afrika ’n werkende, funksioneel doeltreffende land te maak, sal ons dit opnuut moet doen. Kom ons begin om onsself verby die ANC te presteer. Kom ons skep ons selfstandigheid en marginaliseer die siek beleid van die ANC.

Ons mag nie toelaat dat ons gevange gehou word deur ’n stelsel waarin ’n paar kaders hulself posisioneer en verryk ten koste van die land en sy mense nie. Dit het dalk tyd geword dat die onderskeie volkere weer hul trots opneem en weer wees wie hulle graag wil wees. Sodoende kan die ANC heeltemal gemarginaliseer word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anoniem ·

Dis so goed jy kry ‘n motor verniet en “strip” dit dan om die parte te verkoop, tot ‘n dag dat die wiele afval en daar niks meer oor is nie en dan is dit my skuld dat ek die motor vir jou gegee het. Eish

Louis ·

Baie reguit en realistiese artikel, wat ‘n mens laat dink. Ek is bevrees dat dit nog baie slegter sal moet gaan voordat ‘n draaipunt in die toestande in SA sal kom, as dit ooit sal gebeur. Daar is nog net te veel inwoners waarmee dit ekonomies goed gaan. Hierdie vernietigende trajek wat ons nou beleef sien ons in van ons buurlande, veral hulle wat dieselfde ideologiese mentaliteit geopenbaar het. God openbaar nie Sy volle raadsbesluit aan ons nie, daarvan is Israel ‘n sprekende voorbeeld. Hulle het ook nie altyd verstaan waarom hulle die oordeel van God moes verduur nie. Soos Hy met Sy Ou Testamentiese volk oppad was, so is Hy nou met Sy Nuwe Testamentiese Kerk oppad en ons is nie onkundig wat die eindbestemming is nie. Al is dit net om as getuies op te tree wanneer die finale dag van afrekening aanbreek.

Pieter ·

Met die afbreek van alles wat rein, goed en heilig is deur die ANC, is dit ons plig as Christelike Rentmeesters om nou die streep in die sand te trek en ‘n nuwe Gelofte aan God te doen om hierdie land te suiwer volgens Sy wil en die bestaande Geloftes te eerbiedig. Die groot onheiligheid is geanker in ons eie tradisies en handelinge wat moet reggestel word. Die ANC is maar ‘n poppekas uitvloeiend uit ons sondes. Maak die saak met God reg en die poppekas sal soos mis voor die son verdwyn. As Rentmeester huil ek oor ons volk, ons grond, ons water, ons flora en fauna en ons toekoms. Dit is my plig om my God te nader vir onfeilbare hulp. Ek slaan my oë op na die berge.

Fanie ·

Baie goeie feitelike berig. Raak ontslae van korrupsie, vakbonde, buitelanders wat nie tot die ekonomie bydrae nie, SEB (begin om meriete weer as maatstaf te gebruik) en behoorlike finansiële bestuur. Maar eers dink ek dis tyd dat ons, as Christene, weer ons terugdraai na ons Vader toe, onsself verootmoedig voor Hom en Hom begin eerste stel. Ons is tans waar die ou Jode was as hulle hulle rug op Hom gedraai het en dan onder vreemde volke en hulle gode moes leef. Sodra hulle teruggedraai het na God toe, hulself verootmoedig het voor God het hy hulle bevry van die vreemde volke.

Henk ·

‘n Eerlike en feitelike artikel, dankie, Bennie. Die Zuma-era het ongelukkig ‘n vals idee geskep dat Zuma die probleem is. Zuma was bloot die verpersoonliking van ‘n veel groter probleem: die ANC. Mense bedrieg hulself as hul glo dat hul op een mens, bv. Ramaphosa, of op sy faksie kan staatmaak vir beter uitkomste. Ons moet in afhanklikheid van God ons hand aan die ploeg slaan om vir onsself beter uitkomste te bewerkstellig. Daarom ondersteun ek bv. die benadering van organisasies soos die Solidariteit Beweging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.