Die nasionale bate-sindroom se totalitêre implikasies

Wat bedoel ʼn persoon wat sê: die Universiteit van Stellenbosch is ʼn nasionale bate? Want ek hoor dit dikwels – ek hoor dit veral wanneer iemand oor rassekwotas, taal, akademiese vryheid, of visie en missie van ʼn instelling soos die US praat.

Mag die US hoofsaaklik Afrikaans wees? “Nee, dis ʼn nasionale bate.

Wat moet die US se ideale rassesamestelling wees? “Volgens die nasionale demografie, want dis mos ʼn nasionale bate.” Partykeer kroek mense hiermee, dan sê hulle iets soos “provinsie se demografie, want elke provinsie het sy universiteit as bate en saam vorm hulle ʼn nasionale bate.

Moet die universiteit sy studente leer om gehoorsame landsburgers te wees? “Ja, want universiteit is ʼn nasionale bate.” Gerieflik vergeet so ʼn persoon dan van gevalle waar hy nie van die regering of die nasionale grense van die dag gehou het nie – soos toe daar tuislande was of landswette wat mense tot rasseklassifikasie gedwing het (Oeps, laasgenoemde bestaan nog steeds).

Is die US ʼn nasionale bate?

Wie ook al hiermee bedoel dat die US hom moet rig na die eenvormigheid van ʼn sentrale politieke droom – tot diensbaarheid nie van sy samestellende dele nie, maar van ʼn supergesag, die staat – is besig met ondergrawing van die voorwaardes vir maatskaplike vryheid en orde. As middelinstelling, soos Robert Nisbet ons op die konsep attent gemaak het, dien ʼn universiteit juis as buffer tussen die totalitarisme en die vry-ordelike; as bolwerk tussen staat en indiwidu.

V.l.n.r. Jeremy Cronin, Jacob Zuma en Blade Nzimande by 'n SAKP-vergadering.

Suid-Afrika bied wat dit betref ʼn treffende illustrasie van die gevaar: Aan die spits van die Departement van Hoër Onderwys staan iemand wat terselfdertyd die toppunt van totalitêre denke in Suid-Afrika verteenwoordig. Die kommunis bekend as dr. Blade Nzimande, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, beklee die posisie van minister van Hoër Onderwys. Hy vier elke jaar die Oktober-revolusie, in die naloop waarvan Lenin en Stalin onder meer ʼn hele klomp miljoen mense dood getotalitariseer het.

Hy’s deel van ʼn regering wat die US onder genoeg druk plaas dat die universiteit van elkeen ons verwag om ons “ras” aan te dui wanneer ons inskryf as student of aansoek om ʼn US-pos doen. Die syfers word onder meer gebruik in die bepaling van subsidies vir die US, of jy toelating kry tot jou kursus of nie, of ʼn personeellid aangestel word of nie, ens. Dit word “nie-rassig” genoem (en mense wat dit in twyfel trek is “rassiste”). Rhoda Kadalie het einde laasjaar oor die “stryd tussen die populiste en diegene wat die universiteit se beste belange op die hart dra” uit die universiteitsraad bedank.

Maar so vernietigend soos die ANC is, hoef ʼn mens hulle nie te erg uit te sonder nie. Die staat se geneigdheid om indiwidue en gemeenskappe van spontane, vryelik assosiërende mense te onderwerp aan staatlike lojaliteit bo alles, hang nie af van wié in beheer is nie, maar is in die staatlike logika self ingebed. Dieselfde gevaar as wat nou met die ANC bestaan is al sedert die ontstaan van die US (toe nog die Victoria Kollege) in die laat 1800’s teenwoordig. Of dit nou die Britse Empire, Sappe, Natte, latere NP, DA of ANC is verander niks aan die beginsel van die staatlike, superstruktuurbedreiging nie.

Daarom vereis die droom om ʼn waardige universiteit te wees, dat ons ewig waaksaam teen staatlike bestaansredes moet bly en eerder behoort te verantwoord  aan die historiese en ontluikende aard van ʼn gemeenskap agter die US. Ons moet die middelinstellingstatus van die universiteit koester om sodoende ruimte aan ʼn verskeidenheid van assosiasies te gee en beperkinge aan groteske, maatskaplike ingenieurswese te stel.

Hierin speel die instelling van privaat eiendom ʼn belangrike rol: die gewoonte in die gemeenskap om sekere goed te erken as behorende tot ʼn indiwidu of ʼn instemmende groep indiwidue baken juis dinge af sodat die staat nie seggenskap daaroor kan opneem nie.

Dit was dié spontane institusie wat dit moontlik gemaak het vir Ons Weldoener Jannie Marais om 100 000 pond sterling te skenk waarmee hy op privaatwyse in 1910 wou verseker dat daar ook ʼn Afrikaans-Hollandse universiteit in die destyds pasgevormde Unie van Suid-Afrika was en nie net ʼn Engelse een (UCT) nie.

Teen hierdie tyd behoort dit duidelik te wees dat ʼn antwoord op die vraag oor taal by Stellenbosch nie beantwoord kan word met “Want dis ʼn nasionale instelling nie.

Daar is diegene van ons wat met reg besorgd is oor die vraag oor wat ʼn behoorlike taalbeleid vir die US is. As Maties, as oud-Maties en as donateurs – en andere wat binne die raamwerk van die spontane instelling van eiendomsreg kan handel – moet ons hieroor ʼn debat voer wat die historiese en die ontluikende aard van Stellenbosch in ag neem. En moet ons weet dat dié vraag se antwoord al nader sal kom hoe stewiger die US as middelinstelling staan, hoe minder dit ʼn arm van die staat is, hoe selfstandiger dit is.

Dit is binne ʼn raamwerk van selfstandigheidsdenke, in teenstelling met ʼn eng nasionale bate-geloof, dat ons redelikerwys kan hoop om tot ʼn oplossing te kom wat aanpasbaar en blywend genoeg is om volhoubaar te wees, juis ook deur in verantwoording van beide die historiese en ontluikende aard van die US te staan.

As jy ‘n oud-Matie is, oorweeg gerus om te stem in die US-raadsverkiesing wat Dinsdag om 16h00 ten einde loop. Alle gegradueerde Maties mag stem by http://alumni.sun.ac.za/afrikaans/Pages/Raadsverkiesing.aspx.

Ek is ʼn kandidaat – en as jy meer wil weet oor waarom ek staan, kyk gerus by www.pietleroux.blogspot.com.

*Hierdie artikel het oorspronklik op 12 Maart 2012 verskyn op die Stellenbosse studentewebblad VryeStudent.com.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.