Die nasionale gesondheidsversekering-nagmerrie

Deur Reiner Duvenage

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Hush Naidoo/Unsplash)

Die beplande implementering van die nasionale gesondheidsversekering (NGV) is die ANC-regering se laaste magshongerpoging om sy greep op Suid-Afrika te monopoliseer en te sentraliseer.

Die regering probeer die NGV as ’n wonderkuur vir die heel armste Suid-Afrikaners se gebrek aan toegang tot gehaltegesondheidsorg voorhou. Die uiteinde hiervan gaan egter ’n rampspoedige ineenstorting van die hele gesondheidsorgstelsel wees wat verreikende gevolge vir alle Suid-Afrikaners sal hê.

Sou ’n mens die NGV vanuit ’n kritiese oogpunt bestudeer, kom die vraag op hoe die bestuur (of eerder wanbestuur) van hierdie gesentraliseerde fonds van dié van ander staatsbeheerde ondernemings gaan verskil. Die ouditeur-generaal sowel as die Zondo-kommissie se onlangse bevindings het die wanbestuur, staatskaping, korrupsie en ondoeltreffendheid by prominente staatsbeheerde ondernemings soos SAL, Transnet en Eskom op verdoemende wyse ontbloot. Die NGV gaan op ’n nóg groter skaal bestuur word, wat die weg baan vir selfs groter mislukkings en finansiële verliese. Die regering het duidelik gewys dit het ’n totale gebrek aan wilskrag om die stelselmatige korrupsie in alle regeringsektore tot ’n einde te bring. Dit is onmoontlik om te bereken hoeveel geld reeds vanweë korrupsie verlore gegaan het sedert die ANC aan bewind gekom het, maar onlangse skattings dui daarop dat daar slegs tussen 2014 en 2019 R1,5 triljoen verlore geraak het.

Die regering het ook al bewys dat hy nie skroom om skaamteloos geld te steel wat vir die desperaatste mense in die samelewing bestem is nie. Hierdie feit het duidelik na vore gekom in die ondersoek deur MedicalBrief na die plundering van die Covid-19-verligtingsfonds, wat 10% van R152,5 miljard ondersoek het en toe bevind het dat een uit elke twee rand wat bestee is, gesteel is en dat 62% van die kontrakte onregmatig toegeken is. Voorts is die huidige openbare gesondheidsektor aan flarde weens die regering se versuim om fasiliteite en infrastruktuur in stand te hou. Die omvang van hierdie mislukking is duidelik sigbaar in die feit dat die Wes-Kaapse departement van gesondheid die enigste provinsiale gesondheidsdepartement is wat in 2019/2020 ’n skoon oudit ontvang het. Met die ANC se baanrekord van hoe hulle die huidige infrastruktuur bestuur, is dit haas ondenkbaar dat hulle ’n grootskaalse nasionale gesondheidstelsel sal kan bedryf. As dít in ag geneem word, kom die NGV neer op niks anders nie as ’n onverantwoordelike dobbelspel met die gesondheidsektor, en gevolglik, met die lewens van miljoene Suid-Afrikaners.

Bogenoemde argument is egter slegs teoreties, as ’n mens in ag neem dat die NGV net eenvoudig onbekostigbaar is. Discovery Health beraam dat 44% (R212 miljard) van die totale bedrag wat aan gesondheid bestee word aan die privaat sektor betaal word. As privaat mediese fondse dus uitgeskakel word soos wat in die NGV-wetsontwerp aangedui word, sal die gevolglike tekort deur die staat befonds moet word. Die land se afgryslike ekonomiese situasie en astronomiese skuldlas, wat vererger is deur die wanbestuur van die Covid-19-pandemie, skakel die moontlikheid van die NGV-befondsing deur middel van lenings uit. Dit laat dan die verhoging van belasting as die enigste oorblywende manier om die NGV te befonds. Suid-Afrika se belastingkoers is reeds hoër as ander lande op dieselfde BBP-skaal – volgens skatting betaal 25% van belastingbetalers 80% van die persoonlike inkomstebelasting. Buiten hiervoor dwing die regering se mislukkings Suid-Afrikaners om dubbel belasting te betaal op baie noodsaaklike geprivatiseerde dienste soos skole, veiligheid en, natuurlik, gesondheidsorg. Belastingverhoging met die doel om die NGV te befonds sal die laaste strooi wees vir die reeds oorbelaste belastingbetaler.

Soos reeds kortliks genoem, sal die implementering van die NGV die einde van die privaat mediesesorgbedryf beteken, ’n bedryf waarop die staat reeds swaar steun om in Suid-Afrikaners se gesondheidsorgbehoeftes te voorsien. Dit beteken die regering sal burgers van reeds bestaande gehaltedienste ontneem ten gunste van ’n stelsel wat onbekostigbaar, onhaalbaar en onwerkbaar is. Dit is tragies dat die ANC-regering toegelaat het dat die openbare gesondheidsorgbedryf tot so ’n mate agteruit gaan dat baie arm Suid-Afrikaners nie toegang tot gehaltegesondheidsorg het nie. Hierdie probleem sal egter nie opgelos word deur om die privaat mediese bedryf, waarvoor sat belastingbetalers reeds uit hul sakke betaal, op sy knieë te dwing nie.

Teen hierdie droefgeestige agtergrond is daar reeds baie vaardige en professionele Suid-Afrikaners wat emigreer in hul soeke na beter waarde vir hul belastinggeld, asook persoonlike veiligheid in ander lande. As die NGV geïmplementeer word, gaan daar ’n ongekende uittog van mediese personeel plaasvind. In Junie 2021 het die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging gewaarsku dat tot soveel as 38% van hul 12 000 lede beplan om te emigreer as die NGV ingestel word. Voorts was daar ’n verdere 6% wat om ander redes beplan om landuit te gaan en 17% het gesê hulle is onseker of hulle die land sal wil verlaat as die NGV ’n realiteit word. Te midde van die huidige ernstige tekort aan personeel is die massa-emigrasie van professionele gesondheidsorgwerkers die laaste ding wat Suid-Afrika kan bekostig.

Kortom, ten spyte daarvan dat die ware kostes en vereistes vir die NGV nog nie ten volle bepaal kan word nie, word daar steeds met planne voortgegaan om dit op die reeds oorbelaste belastingbetaler af te dwing. Die geskiedenis van staatsbeheerde monopolie-ondernemings is ’n aanduiding dat die NGV ook getref sal word deur korrupsie, buitensporige burokrasie, wanbestuur en ondoeltreffendheid. Die regering gebruik die NGV om stemme by arm Suid-Afrikaners, wat geldige griewe het oor die gehalte van gesondheidsorg in Suid-Afrika, te probeer werf. Die NGV gaan egter nie hierdie probleme oplos nie. Inteendeel, dit sal die algemene toegang tot gehaltegesondheidsorg belemmer deur die privaat gesondheidsektor te vernietig, en dit sal ook die massa-emigrasie van mediese dokters en spesialiste tot gevolg hê. Die regering is steeds afhanklik van die privaat gesondheidsorgbedryf en sonder dié bedryf se finansiering en personeel sal die hele stelsel in duie stort.

Ongelukkig is dit die armste mense in Suid-Afrika wat die meeste hieronder sal ly.

* Reiner Duvenage is ’n veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marthinus W ·

Ek dink Discovery is n piramideskema. Lede moet gedurig ekstra inbetaal, terwyl hulle miljone betaal aan nuwe geboue, en selfs n paar jaar gelede die smerige Bill en Hillary Clinton oorgebring vir `n “leiersberaad”, nogal.
Ek is by n staatshospitaal. Daar is nie iets soos gratis mediese hulp nie. Vir n doktersondersoek en medikasie betaal ek R70. Vir my maandelikse chroniese mediaksie betaal ek R40. ens.

Boon ·

jy moet dankbaar wees jy kry nog mediese diens by die staat. Dink net wat sal met jou gebeur as dit ook in duie stort. Ons moet eerder hard aandring dat die Bestaande mediese sorg verbeter word deur die ver plattelandse gebiede beterr te bedien.

AmY ·

Hulle dink hulle is slim, en sal oorsee vlieg vir behandeling as hierdie misluk.
Maar wat van hartaanvalle, beroertes, ernstige motorongelukke of gebarste blindederms?
Covid? As die grense weer gesluit word.
Of gaan daar spesiale hospitale net vir hulle wees?

Kompas ·

Het geen vertroue hierin! Kan my net voorstel wat gaan gebeur met die kwaliteit van gesondheidsorg. Plaas hulle eerder aandag gee aan die toestand van staatshospitale .

Tonginmykies ·

Ek dink Engels en Marx dans in hulle grafte… uiteindelik ‘n regering wat verstaan! ????????‍♀️????

annie ·

Die NVG beoog om sy hand in die private fondse se laaikas te kry. Punt. Daarna sal die geboue afgerem word tot op die vlak van die staatskrotte vir sy geliefde armes wat aangevul en aangemoedig word as die bakermat vir pledging en nogmaals snikbede by die Weste. Afrika glo nie daar is iets soos doodgaan van die die honger nie. Vra enigeen. Hul glo die staat sal voorsien.

Boon ·

Ons moet ten alle koste die idee van n NGV in die kiem smoor. Dit sal die laaste strooi eees wst ons land finansieel dal vernietig. Konsentreer om voortdurend berigte te plaas van die staat se onvermoë om.die bestssnde openbare gesondheidsdiend in stand te hou. 1Militêre Hospitaal in Pretoria is n sprekende voorbeeld van staat se totale onvermoë om.hospitale te bedryf. Hang ook die ander voorbeelde aan die groot klok, bv die afgebrande hospitaal in Jhb wat hule nie eens kan herstel nie, ens.

Kensy ·

Dit het tyd geword dat die regering ons buurstate invoice vir die mediese sorg wat hulle burgers in ons land gratis ontvang.
Herbedink die immigrasie beleid en bespaar miljoene!!! Hierdie land se burgers suig aan die agterste speen terwyl ons medici lam gelê word deur wettige en onwettige immigrante!
Die regering moet nog bewys dat hulle een munisipale gebied korupsie vry kan bestuur voordat hulle die Nasionale gesondheids sorg wil probeer bestuur!

Ek is seker van een ding…. as daar nie geleentheid is vir self veryking nie, stel die regering nie belang nie…. so wie gaan hierdie keer GROOT skep!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.