Die nasionale minimumloon se katastrofiese impak op die Suid-Afrikaanse jeug

jongmense-jeug-werk

Foto: @rawpixel/Unsplash.com

Deur Paul Maritz

Dit sou onmoontlik wees om namens absoluut almal te praat, maar dit is heel moontlik redelik veilig om te stel dat meeste jongmense graag geld wil hê. Dit behoort dan ook redelik regverdig te wees om te sê dat meeste jongmense graag baie geld wil hê, en dit so gou moontlik wil hê. Siende dat geld ongelukkig nie net van bome gepluk kan word nie, verstaan meeste jongmense dat arbeid ingeruil sal moet word vir geld. Die uitdaging wat hier na vore kom, is die term “baie”. Baie toon ʼn hoeveelheid aan, ʼn hoeveelheid wat iemand bereid sal moet wees om te betaal – indien hulle enigsins bereid is om enigiets te betaal.

Gestel ʼn jongmens is op 24-jarige ouderdom ʼn gekwalifiseerde rekenmeester, aktuaris, ingenieur of blitsvinnige linkervleuel, dan verstaan ʼn mens dat so ʼn jongmens ʼn skaars vaardigheid het, en heel moontlik baie gesog is in die arbeidsmark – en gevolglik ʼn redelik ordentlike salaris sal verdien. Sou daar egter in ag geneem word dat die gemiddelde 24-jarige in Suid-Afrika nie aan enige van hierdie vereistes voldoen nie, dan volg dit natuurlik dat ʼn hoë salaris nie noodwendig aan die orde van die dag is nie.

Inteendeel, vir meeste jongmense in Suid-Afrika tussen 15 en 24 jaar is geen salaris eerder die realiteit. Volgens Statistiek Suid-Afrika se arbeidsmarkoorsig van die tweede kwartaal van 2018 is 53,7% van dié ouderdomskategorie tans werkloos.

Sonder om doemprofeties op te tree, sou hierdie syfer tans as laag beskou moet word – dit gaan binnekort heel moontlik nader aan 55% of selfs 60% wees, danksy die nasionale minimumloon (NML), wat tydens die tweede kwartaal van 2018, op 29 Mei, deur die parlement aanvaar is.

Die filosofie agter ʼn minimumloon is die sosialistiese gedagte dat die sterk regering tussenbeide moet tree waar die werkgewer en werknemer onderhandel oor hoeveel die werkgewer bereid is om te betaal, en hoeveel die werknemer bereid is om te aanvaar vir ʼn gegewe stuk werk.

‘n Mens kan vra hoe edel dit regtig is om by wyse van staatsdwang tussenbeide te tree waar twee partye vrylik besluite maak oor werk en vergoeding.

Gestel ʼn pasgetroude man se eerste konflikpunt staar sy huwelik in die gesig (as gevolg van gras wat langer is as wat vroulief bereid is om te aanvaar). Gestel hierdie man is toegegooi in die skuld van ring koop, wittebrood hou, en huis opsit, en hy kan/is slegs bereid om R15 per uur te betaal vir iemand om sy gras te sny. Gestel nou dat een van hierdie 53,7% van die werklose jongmense in Suid-Afrika bereid en gretig is om hierdie gras te sny teen R15 per uur. As beide partye instem, behoort daar handel gedryf te word, die pasgetroude jong man spaar sy huwelik van ʼn eerste onderonsie, en die werklose jeugdige verdien dalk R45 of R60 vir sy arbeid, en het ietsie in die sak. Minimumloon beteken dat, al wil beide persone handel dryf, hulle nie mag nie. Die direkte gevolg van die nasionale minimumloon vir hierdie twee persone is dat geen geld hande wissel nie.

Alhoewel die hele idee van ʼn minimumloon teen vryemarkbeginsels ingaan, en sonder twyfel werkloosheid sal laat toeneem vir diegene wie se produktiwiteit laer is as R15 per uur, lyk dit asof hierdie skippie vir eers uit die hawe is, en asof ons dit nie gou omgedraai sal kry nie. Wat ons egter hier wil voorstel, is dat hierdie wet nie van toepassing gemaak word op die jeug nie (15 tot 24 jaar).  Siende dat daar reeds wetgewing ingestel is om werknemers van haglike werksomstandighede te beskerm, is die raamwerk eintlik reeds gebou om persone in hierdie kategorie vry te skeld van die gewigtige nasionale minimumloon.

Ons stel voor dat die minimumloon, as dit dan nou moet geld, slegs van 24-jarige ouderdom af geld.  Hierdie voorstel sou werkgewers wat tydelike poste of geleenthede vir ongeskooldes het, aanspoor om jongmense aan te stel. Hierdie jongmens kry ʼn voet in die deur en bou ervaring op, al is dit dan vir min geld. Volgende keer kan hierdie jongmens dan na die tafel tree as ʼn persoon met ʼn bietjie ervaring, en dus ʼn hoër waarde aan sy arbeid toeëien, ʼn prys wat die werkgewer dalk as gevolg van hierdie vorige arbeid bereid is om te betaal. Hierdie model het al in verskeie ander lande gewerk. Ten opsigte van uitbuiting is daar, soos reeds gestel, ʼn ordentlike stel wetgewings in Suid-Afrika wat werksomstandighede reguleer.

Die NML forseer landboukundiges en werkgewers in die vervaardigingsektor om te meganiseer, dus al hoe meer masjinerie of selfwerkende implemente te koop, wat beteken dat al hoe minder mense aangestel gaan word. Deur ruimte te skep vir jongmense om die werkplek te betree en ervaring op te doen, vaardighede te leer, en hulself op te bou, sal die regering werklik in die belang van jongmense moet optree.

  • Paul Maritz is die koördineerder van Solidariteit Jeug. Vir meer artikels oor die jeug en die werkplek, besoek gerus Solidariteit Jeug se webblad www.jeug.co.za.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

BRAAM ·

Ek woon in Australia , het al hier gewerk saam met jong mense van Suid -Afrika met grade wat as hand langers werk omdat dit vir hulle en hul gesinne ‘n beter lewe bied . Omdat Suid – Afrika deesdae so slegte naam het …en ons almal weet hoekom , word al hulle harde werk om ‘n graad te kry nie hier erken nie …..HARTSEER

susan ·

Jy sien daar het dit nou gebeur eerder nie werk as min geld. Al my skoolmaats het gaan studeer ek kon nie want daar was nie geld nie dus het ek vir my hele lewe minder as hulle verdien. So vir wie moet ek blameer en afbrand en lui wees?

John ·

En voor die haan 2019 kraai gaan die #feesmustfall-spul wee betoog vir ‘n verhoging en ‘n #freecashcard.nostringsattached.ormoreofthesameasin2017.remember?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.