Die Nasionale Minimumloonwet:  Wat nou?

Plaaswerkers laai ’n hoop gras af . Foto: Verskaf

Die nuwe minimum loon hou baie ernstige implikasies in vir werkgewers gegewe dat die wetgewing geskryf is met die klem op afdwinging en kan tot kwaai boetes en vervolging lei. Daarby saam hou die skielike kostestyging van 17% die gevaar van werksverliese vir die landbousektor in.

Die Nasionale Vergadering het op 29 Mei 2018 ’n geskiedkundige stuk wetgewing aanvaar. Die Nasionale Minimumloonwet gee uitvoering aan ’n universele minimum loon, geskoei op die beginsel wat deur die Internasionale Arbeidsorganisasie voorgehou word om onbehoorlike lae salarisse te elimineer en om behoorlike werk na te streef. Die nuwe minimum loon sal R20 per uur wees. Uitsondering is gemaak vir drie kwesbare sektore, wat ’n persentasie van die nasionale minimum loon sal betaal.  Hierdie sektore is landbou (90% of R18) huiswerkers (75% of R15) en werkers in die regering se uitgebreide openbarewerkeprogram (R11 per uur). Die datum waarop die wetgewing in werking gaan tree, is nog nie aangekondig nie. Die wetgewing moet nou na die Nasionale Raad van Provinsies vir goedkeuring, waarna die president dit moet onderteken en die datum van inwerkingtreding aankondig.

Die motivering agter minimum lone is suiwer: Die daarstelling van ’n minimumloon is veronderstel om die kwesbaarste werkers, normaalweg mense met min opleiding en vaardighede, teen uitbuiting te beskerm. In die landbousektor is daar alreeds sedert 2006 ’n sektorale vasstelling wat, onder meer, ’n minimum loon vir plaaswerkers bevestig. Die bedrag van die minimum loon word per regulasie deur die minister van arbeid aangepas, gewoonlik op 1 Maart elke jaar.

Teen hierdie agtergrond is minimum lone wêreldwyd dus nie ’n vreemde verskynsel nie en beslis nie binne Suid-Afrika nie. Die nuwe wetgewing probeer egter om alle sektore oor een kam te skeer, wat nie noodwendig moontlik is binne die Suid-Afrikaanse konteks nie. Juis hieroor is daar besluit dat al die verskillende sektorale vasstellings wel sal aanhou voortbestaan – wat ’n positiewe verwikkeling is.

’n Ander positiewe verwikkeling is dat die wetgewing ’n nasionale kommissie op die been gebring het, wat oor die verhogings in minimum loon sal besluit. Die kommissie sal beslissings maak op grond van navorsing en ’n verskeidenheid insette – insette van al die partye wat normaalweg by Nedlac teenwoordig is, sal in ag geneem word voordat ’n besluit geneem word. Dit beteken ’n inklusiewe proses op nasionale vlak.

Die vlak waarop ’n minimum loon bepaal word, kan baie ernstige implikasies hê, gegewe dat die wetgewing geskryf is met die klem op afdwinging. Daar kan baie ernstige gevolge vir werkgewers wees wat nie daaraan voldoen nie. Dit behoort in elk geval onder geen omstandighede ’n opsie te wees nie. Die wetgewing verhoed ook dat werkgewers eensydig werknemers se ure of enige ander diensvoorwaardes verander en dan daardie artikel van die wet teruggedateer na 1 Februarie 2017. Dus bly daar die opsie oor om aansoek te doen vir kwytskelding – wat ’n elektroniese proses gaan wees – en slegs vir een jaar geldig sal wees.

Werkverliese kan moontlik gebeur as gevolg van die skerp kostestyging (dis ’n 17%-verhoging in die landbousektor sedert 1 Januarie 2018 tot die inwerkingtreding van die Nasionale Minimumloonwet), in gevalle waar ’n besigheid reeds op die rand van finansiële ineenstorting was. Dit is belangrik om te onthou dat die meerderheid boerderye in Suid-Afrika eintlik klein- en mediumgrootte-ondernemings (sogenaamde SME’s) is en dat boere prysnemers, nie prysvasstellers nie.

Dit baie moeilik om minimum lone as heeltemal positief of negatief te bestempel en dis waarskynlik nie ’n goeie manier om daarna te kyk nie. Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing is veronderstel om beide die werkgewer en die werknemer te beskerm, maar dit is uiters gekompliseerd, gereguleerd en dikwels vol grys areas en interpretasie-ruimte. ’n Argument dat ’n potensiële werknemer self behoort te kan besluit wat hy of sy vir hul arbeid wil vra, is verkeerd. Die magswanbalans in ’n omgewing waar daar ’n ooraanbod van arbeid is weens ’n werkloosheidskoers van 27% is so erg dat dit nie ’n onderhandeling sou wees nie. Aan die ander kant is dit ook hartverskeurend dat ’n minimum loon moontlik iemand kon verhoed om ’n werksgeleentheid te kry, omdat ’n potensiële werkgewer nie kan bekostig om die persoon in diens te neem nie.

Die volle effek van ’n landwye minimum loon sal hom in die komende maande en jare afspeel. Die praktiese manier om ’n impak te maak, is deelname aan die prosesse binne die Nasionale Minimumloon-kommissie en om seker te maak dat die proses deursigtig en ewewigtig bestuur word. Intussen word dit al hoe belangriker vir werkgewers om seker te maak dat hulle die inhoud van al ons arbeidswetgewing, waarvan die nuwe Nasionale Minimumloonwet maar een is, verstaan en korrek implementeer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jahni de Villiers

Jahni de Villiers is ʼn arbeidsreg- en arbeidsverhoudingespesialis. Sy werk vir Agri SA as hoof van Arbeid en Ontwikkeling. Sy is tans besig met ʼn LLM-graad en haar proefskrif handel oor seksuele teistering in die werkplek. Sy is passievol oor die rol van die vrou in die werkplek.

Deel van: Meningsvormers, Produksie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

julius ·

‘n Kleinboer in Noordwes het vir my gesê as die minimum loon goedgekeur word, is hy onderdeur en sal hy moet verkoop. Hy het tans 80 permanente werkers en 15 tydelikke werkers. Werkloosheid gaan op na 50% as die regering so aangaan.

Danie ·

Ongelukkig werk enige besigheid (en alles anders) op die beginsel dat jy net kan kry wat jy kan bekostig. As jy dit nie kan bekostig nie, dan moet werkers maar laat gaan word. Dit is of afdankings of besigheid toe maak.

Frans C ·

Die idee van ‘n minimum loon is nie vreemd nie.Die probleem is egter dat korrupsie onder die ANC-regering gepaardgaande met ‘n sosialistiese beleid die ekonomie se groei so gekniehalter het,dat dit tot afgradering van die land se kredietwaardigheid gelei het.

Die lae ekonomiese groei het by gedra tot ‘n die hoë werkloosheid vandag en dus hoë arbeidaanbod.Om nou ‘n minmum loon af te dwing gaan indiensneming nie verbeter nie en mag tot verdere afleggings lei omdat verhoogde insetkoste ook op die einde in produkpryse en dienste gaan weerspieël en inflasie gaan aanblaas.

Die verbruiker gaan dus op die ou einde vir dit betaal.

John ·

Die ANC se kamma-beleid om armes op te hef en werkloosheid te verminder word met hierdie nuwe wet duidelik as skyn blootgele. Om net die werkendes se saak te veg en afdankings te veroorsaak weens die impak, hou niks goeds in nie. Duidelik glo die ANC nie dat werkgewers nie oor Alibaba-grotte vol skatte beskik wat ten alle koste oopgeforseer moet word nie. Besighede gaaan vou agv bankkrotskappe en stakende en gegriefde werkers verniel dan soveel infrastruktuur wat astronomiese kostes meebring.

Skepties ·

Ek gaan eenvoudig vroeer uittree en my besigheid sluit. My kompetisie sit oorsee en is inelkgeval op die punt om my uit besigheid uit te druk. Wat effektief gebeur is dat die poste uit SA na China en Vietnam skuif.

Boerseun ·

Ek maak nie van enige (volksvreemde) arbeid gebruik nie, dus pla die regime se minimumlone my glad nie. Ek kry egter boere en besighede jammer wat nie ‘n keuse het nie.

Meganiseer of disinvesteer ·

Meganiseer of disinvesteer (onttrek beleggings), dis die keuse.

Erhard T ·

Baie hartseer le voor in die land. In my geval boer ek en hier is 4 wat geen opleiding het nie. Hulle kan nie skryf lees of tel nie Wat gaan word van hulle ? Is bietjie geld n huis kos en n werk nie beter as niks nie? Wat gaan word van duisende sonder heenkome? Hartseer

Hul gee nie om ·

Die ANC, EFF en vakbonde gee gladnie om nie. Moet nie sulke moeilike vrae vra nie asseblief Erhardt.

Cryo ·

Werkloosheid gaan toeneem, meer mense wat goed verniet wil hê, groot moeilikheid op pad

Nouja ·

Indien daar een ding is waarmee ek Orania volmondig ondersteun en my hoed vir hul afhaal, gaan dit oor die beginsel van selfwerksaamheid. Daar is ‘n paar ander goedjies van die plek waarvan ek nie hou nie, maar in selfwerksaamheid het hulle ‘n wenner. Dis ‘n beginsel wat ek self al vir die afgelope omtrent 30 jaar self probeer toepas. Soms is dit nodig om hulp en kennis van buite te kry wanneer jou eie twee hande nie genoeg is om ‘n taak te aan te pak of af te handel nie. (Sonwaterverwarming stelsel). Maar ooit weer enige van hierdie bakhand minimum loon brigade weer permanent in diens neem – Nooit! My huis en tuin lyk dalk nie so mooi en afgerond soos die huise hier om my nie, maar dis myne. Dit wat hier staan en groei het ek geplant en aanmekaar geslaan. My sweet, my handewerk en niemand behalwe ek self om te blameer wanneer iets nie mooi lyk of wil werk soos ek oorspronklik beoog het nie. Dis nie altyd maklik nie en tyd vir agteroor sit en die vrugte van jou handewerk gade te slaan bestaan omtrent nie. Dog, dis als die moeite werd. Hoekom? Eerstens omdat selfwerksaamheid moontlik is en tweedens dat dit jou verlos en bevry van die houvas wat die reënboognasie dink hulle oor ons het dat ons nie sonder hulle kan klaarkom nie. Nee meneer werksoeker, ek het jou hulp nie nodig nie. Ek kan sonder jou klaarkom. Dankie en totsiens.

Uvonka ·

Stem 100% saam met jou! My werk vat dalk langer maar ek weet dit is ordentlik gedoen. Ons kan beslis sonder hulle klaarkom!!

RK ·

Dit is erg om te sien as ‘n persoon besig is om ‘n groot fout te maak. Dink maar aan kinders wat baie geneig is om groot foute te maak en jy sien die resultaat kom. Nou aanskou ons van regeringskant af presies dieselfde. Enige mens met verstand kan sien hoe werkloosheid gaan toeneem en gevolglik misdaad.
Ek het klaar die meeste van my grond verkoop en die meeste van die geld uit die land gevat. Ek het die geld in ‘n trading rekening waarmee ek aandele in enige maatskappye in die wêreld kan koop. Ek het al in heelwat maatskappye aandele gekoop waarin ek baie meer vertroue het as ‘n plaas in hierdie land. Ek moes maar my emosies laat vaar. Ek bly nog steeds op die stuk wat ek nie verkoop het nie. So, ek het my risiko baie verklein maar dit is steeds nie nul nie. My raad aan mede boere: as jy ‘n koper kan kry, maak jou grond minder. Grond gaan vinniger waarde verloor as kontant. En as jy bang is vir aandele in die buiteland, belê jou geld by Oranjekas.co.za As jy steeds wil vasklou aan al jou grond, gaan dink weer oor wat in Die Bybel staan omtrent “moenie vir jou skatte op die aarde bymekaarmaak nie”. Dit mag dalk betrekking hê op dié wat so grond-honger is. Ek sê maar net !

Noeline du Toit ·

Ek het my huis en tuinwerker se werks ure al so gesny om nog hul dienste te kan bekostig dat dit amper nie meer vir my lonend is om hul enigsins in diens te hê nie. Volgende stap is maar afdanking en meer toestelle koop om my eie werk te vergemaklik. Misdaad en rampokkery sal net vererger want almal moet tog eet en aantrek !!! Die regering skep groot probleem vir hierdie land !!!

Tjaart du Plessis ·

Ek dink die tydsberekening gaan krities wees. Weens die swak ekonomie is baie klein ondernemings naby aan ondergaan. Hierdie kan die finale nekslag wees wat nie alleen lei tot werkverliese nie, maar ook groot ekonomiese skade.

Johan ·

Die regering onder Zuma het n enorme skade berokken teenoor all suid Afrikaners en gaan nog vir jare gevoel word.

Casper Labuschagne ·

Die minimumloon ontneem persone van hul kans om dalk ooit werk te kan kry – dit is die tragiese gevolg hiervan.

Werkgewers weet goed dat R20 net die begin is en hulle sien die vakbonde se plakkate wat vra vir R12,000 as ‘n maandelikse minimumloon. Werkers word nie laag betaal omdat hulle uitgebuit word nie, hulle word betaal volgens wat hulle werd is. Omdat daar baie werkers is wat nie R20 per uur werd is nie, sal maatskappye afskaal, werkers aflê en uiteindelik toelaat. En vir diegene wat steeds ‘n loon betaal word wat hulle nie werd is nie, sal inflasie binne ‘n kort tydjie hierdie wanbalans regstel deur die waarde van geld sodanig te verminder dat die verband tussen produksie en koste weer binne verhouding kom.

Ironies genoeg, behou die staat die reg voor om R11 per uur te betaal, maar die privaatsektor moet R20 per uur betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.