Die NGV en die verhaal van twee hospitale

Foto: Daan Stevens/Unsplash.com

Ek het onlangs, as deel van AfriForum se rol as waghond oor gesondheidsake, twee hospitale in ’n boerderydorp in die landelike Limpopostreek besoek. Hierdie hospitale – die een privaat en die ander ʼn staatshospitaal – is naby mekaar geleë, en tog kon my belewenis van albei nouliks meer uiteenlopend wees. As ek by Charles Dickens kan leen, dit was “ ’n verhaal van twee hospitale”.

By die privaat hospitaal is ons begroet met aanvanklike skeptisisme (toegegee, die burgerlike samelewing bring nie dikwels onaangekondigde besoeke aan enige van die hospitale in die gebied nie), wat gou-gou omgeskakel het in vriendelike betrokkenheid en openhartigheid. Die sekuriteitswagte by die hek het onmiddellik geweet na wie ons moes gaan en was hulpvaardig in elke opsig. Een van die bestuurders het ons op ’n omvattende toer deur die hospitaal geneem. Dit was nie vir ons nodig om te vra om enigiets spesifieks te sien nie, en hulle het klaarblyklik niks gehad om weg te steek nie. Alles word onberispelik in stand gehou, personeellede is hoflik, kundig en professioneel, en ’n paar pasiënte met wie ons gesels het, was almal baie tevrede met die diens wat hulle by dié hospitaal kry.

In my gesprek met die uitvoerende hoof van die privaat hospitaal het hy ’n paar uitdagings geopper wat ek ook in gesprekke by ander privaat hospitale gehoor het. Reeds in 2017 is daar aansoek gedoen om die hospitaal te vergroot om vir meer beddens en spesialisdienste voorsiening te maak, maar daar was nog geen terugvoer van die provinsiale gesondheidsdepartement nie. Hulle het reeds bykomende grond gekoop – die groter vraag bestaan beslis, en die hospitaal is bereid om die risiko te loop. Ongelukkig is die regering traag met goedkeuring van iets wat ’n geweldige voordeel vir die gemeenskap en die plaaslike ekonomie sal wees. Trouens, meer beddens, dokters en spesialiste is noodsaaklik vir die toekomstige gesondheidsbehoeftes van hierdie spesifieke dorp en die omliggende dorpe. En hoewel dit ’n privaat instelling is, dra hierdie hospitaal ook nog ’n beduidende las van bykomende pasiënte wanneer die staatshospitaal se personeel staak – en selfs wanneer hulle nie staak nie!

Ná afloop van hierdie besoek het ons na die staatshospitaal ’n paar blokke verder gery, en die kontras was onmiddellik merkbaar. Die hospitaal se ingang lyk vervalle en ons is deur verskeie fronsende, nors wagte gekonfronteer. Hoekom daar so baie wagte is om geringe takies te verrig – terwyl die ingang so droewig lyk – is oop vir bespreking en is ’n ernstige vraag. Ons is met niks anders nie as vyandigheid en skeptisisme begroet. Die eerste wag wat ek teëgekom het, was uiters kortaf en wou onmiddellik weet met wie ek ’n afspraak het. Ek kon ’n pasiënt gewees het, maar hy het blykbaar nie omgegee nie. Nadat ek vir hom gesê het wie ek is en dat ek net in die hospitaal wil rondkyk, het hy my met nog groter agterdog behandel en my motor etlike kere deursoek. Daarna het hy my en ’n kollega begelei na die afdeling vir menslikehulpbronnebestuur (ons weet steeds nie hoekom hy dit gedoen het nie) en ons op verskeie ander plekke laat wag met streng instruksies om net daar te wag. Hy het klaarblyklik nie geweet wat hy doen nie en was nie vertroud met protokol wat hy teen dié tyd moes geken het nie. By elke plek was daar ’n ander persoon met ’n ander flou (selfs absurde) verskoning waarom ons nie in die hospitaal mog rondkyk nie.

Op die ou end is ons daar weg sonder dat ons alles van die hospitaal gesien het, maar ons het genoeg gesien om ons te laat ril. Smerige vloere, stukkende vensters (party daarvan onsuksesvol met plastiek en kleefband toegeplak), ’n aaklige stank, lang toue pasiënte en ongeërgde personeel begroet jou by dié hospitaal. ’n Plaaslike dokter en apteker met wie ek vroeër daardie dag gesels het, het gesê dit is onwaarskynlik dat jy selfs antibiotika by hierdie hospitaal sal kry. Dít is waarheen ons belastinggeld gaan, en ons – as belastingbetalers – word nie eens toegelaat om in die hospitaal rond te kyk nie.

Die sekuriteitswag het ons fyn dopgehou en gevolg tot ons by die uitgang uitgery het. Terwyl ek wegry, het ek onwillekeurig gedink dat hierdie hospitaal simptomaties is van alles wat verkeerd is met die Suid-Afrikaanse regering en sy instellings. Die oorvloed werkers wat nie nodig is nie en die tekort aan bekwame werkers wat wel nodig is; omvangryke agteruitgang en verrotting; ’n algehele gebrek aan instandhouding; ’n siening dat die publiek vyande en dienaars is eerder as mense wat gehelp en tegemoetgekom moet word; ’n algehele gebrek aan aanspreeklikheid en deursigtigheid – die lys is eindeloos.

En natuurlik het ek gewonder hoe die nasionale gesondheidsversekering (NGV) geïmplementeer gaan word in die lig van alles wat verkeerd is met staatshospitale soos dié een. In hierdie spesifieke dorp het jy nou darem nog keuses wat mediese behandeling betref. Mense ry baie kilometers verby talle staatshospitale en klinieke om hierdie privaat hospitaal te besoek. As die privaat gesondheidsektor genasionaliseer word (dit is waarop die NGV eintlik neerkom), sal ons almal egter geen keuse hê nie as om van staatsinstellings gebruik te maak. Diegene wat kan, sal emigreer en ’n steeds krimpende poel belastingbetalers agterlaat om die NGV-nagmerrie te befonds.

Hierdie twee gevallestudies het nogmaals ’n paar lesse by my tuisgebring: Los die privaat sektor uit om te sorg vir diegene wat kan betaal en vrywillig daar behandeling ondergaan, en verbeter die openbare gesondheidsektor omvattend om behoorlik te voorsien in die behoeftes van die armes. Dis ’n skreiende skande en tragedie dat die ANC dit nie kan insien nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pete ·

Nie verbaas oor die waarnemings nie. Die planne is in der waarheid niks anders as die “dumbing down” soos waar te neem in onderwys. Dit is ook perfek in lyn met sosialisties stelsel wat die ANC aanbid – Venezuela is sprekende voorbeeld.

charmaine ·

Want die regering maak gebruik ban Privaat hospitale en dokters of gaan na 1Militer Hospitaal. Hulle gee nie om vir enige mens op hierdie aarde maar almal ryk of arm se geld is goed genoeg.

hercu ·

as ek die NGV of NHI reg verstaan is daar ‘n ontnugtering vir ouens wat huidiglik ‘n hospitaal en dr van sy/haar keuse mag gebruik

staats hospitale, is soos dr Brink tereg opmerk, grillerig vuil en stink!

Petrus ·

Privaat hospitale sal toemaak. Almal sal staatshospitale moet gebruik, en dit kan vêr van jou huis wees. Jou private dokter sal nou deur die NGV betaal word. Hulke sal ook toemaak en eerder emigreer.

Jimmy ·

Verwag dat meer en meer prokureurs in gesondheidsake sal spesialiseer. Elke burger wat bekommerd is oor sy of haar se gesondheid sal ‘n prokureur moet hê. Indien jy hospitaal toe gaan moet die prokureur jou kom besoek. Indien jy nie die regte behandeling kry nie, in ‘n vuil bed moet lê en nie gesonde kos kry nie, moet jou prokureur optree. Daar sal geen ander uitweg wees nie, al beteken dit daar moet beslag gelê word op staatsbates om kostes te dek.

Kallie ·

Ek verstaan nou hoekom sekere dele van die gemeenskap staatsgeboue afbrand. Nooit gedink ek sal dit ondersteun nie, maar dis al wat aandag trek.

Gert ·

Dan sê ons president in die parlement dat 80% van die bevolking geen toegang het tot mediese sorg nie. Vyf-en-twintig jaar gelede het staatshospitale nog presies soos private hospitale gelyk, met minder koste as nou vir die belastingbetalers. Toe het almal toegang gehad tot mediese sorg.

se net ·

Klink of jy my buurdorp besoek het. Al verskil is dat ons 2 staatshospitale het. Die een erger as die ander. Ons privaathospitaal het ook al toestemming gevra om te vergroot en het ook al grond gekoop. Tog snaaks dit is juis die regering se mense wat ons privaat hospitaal beset met sy mense. Selfs die armste persoon wil nie eens staatshospitaal toe gaan nie. Nee, hul sal eerder die privaat hospitaal besoek.

Anoniem ·

Ja, dit weet ons alreeds.
Afriforum, wat is die alternatief? Kan ons nie ‘n privaat hospital en kliniek stig of in Orania bou wat nie onderwerp is aan NGV? Die NGV asook die onteiening van pensioen en aftree beleggings is die finale punt oor die besluit om te immigreer.

Anni ·

Soek di fout/probleem by die CEO’S en management van staats hospitale. Hul wan gebruik die gelde. Dit word nie Reg gealokeer nie. In stand houding ni op hul lyste ni

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.