Die NGV in ’n neutedop

gesondheid-loopraam-bejaarde-siek

Foto: Rawpixel/Unsplash.com

Deur Nicolien Welthagen en Morné Malan

Só raak dit jou

  • Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is verpligtend vir alle burgers en wettige langtermyninwoners van Suid-Afrika. Jy gaan nie ʼn keuse hê of jy daaraan wil behoort of nie. Dit is nie duidelik hoe immigrante hanteer sal word nie.
  • Wanneer jy mediese dienste nodig het, sal jy na ’n fasiliteit moet gaan wat deur die regering goedgekeur is.
  • By die goedgekeurde fasiliteite sal jy slegs die toetse, behandeling en medisyne wat die staat beskikbaar gestel, goedgekeur en aangekoop het en wat deur die staat verskaf word, kan ontvang.
  • Jy sal geen heffings of bybetalings hoef te betaal nie.
  • Huidige belastingvoordele (belastingkrediete of -terugbetalings) op grond van jou mediesefondsbetalings, asook subsidies op mediese fondse (dit beloop ongeveer R20 miljard per jaar), sal voortaan nie meer aan individue uitbetaal word nie, maar direk in die NGV-fonds gestort word. Mense met ’n mediese fonds kry ’n belastingkorting van R3 636 per jaar – of R303 per maand. ’n Persoon met ’n afhanklike op die mediese fonds sal R606 minder belasting per maand betaal. Motsoaledi het destyds gesê die belastingkrediet is onbillik.
  • Daar word voorspel dat tot twee miljoen mense dan nie meer privaat mediese sorg sal kan bekostig nie en ook op die staat se reeds oorvol mediese instellings aangewese sal wees.
  • Hoewel daar nog geen duidelikheid is nie, blyk dit dat mense steeds aan privaat mediese fondse sal kan behoort vir dienste en sorg wat nie deur die NGV verskaf word nie.

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Só raak dit dokters

  • Dokters sal hul koste van die regering moet verhaal teen tariewe waaroor die regering sal besluit. As gevolg van die reuse-administrasie wat hiervoor vereis word, sal hulle waarskynlik baie lank vir betaling moet wag.
  • Tegnologie, diagnostiese toetse en voorskrifmedikasie sal voorgeskryf word op grond van dit waarvoor die staat betaal het en met wie kontrakte vir toerusting en dienste gesluit is.
  • Hoewel die detail nie duidelik is nie, sal die tariewe wat mediese personeel vra, heel moontlik beperk, gereguleer en voorgeskryf word: “Een standaardprys vir dienste”.
  • Dokters en ander mediese personeel kan verplig word om in sekere gebiede te werk of om ʼn deel van hul tyd vir openbare diens aan te wend.

Só raak dit mediese fondse

  • Ongeveer 8,8 miljoen mense uit ʼn totale bevolking van 55,5 miljoen behoort tans aan ʼn mediese fonds.
  • Mediese fondse, veral die kleiner privaat fondse en alle mediese fondse van die staat, sal tot niet gaan. Groter fondse sal slegs bykomende dekking bied vir die dienste wat nie deur die NGV gebied word nie.
  • Wanneer die NGV in werking is, sal mediese fondse toegelaat word om slegs bykomende dekking en dienste te bied wat nie deur die NGV verskaf word nie. Groot finansiële en werkverliese word vir die privaat sektor voorspel.
  • Ook in hierdie geval sal wetgewing verander moet word en sal die Wet op Mediese Skemas van 1998 herskryf moet word. In paragraaf 402 van die NGV word soos volg verklaar: “In die toekoms sal alle mediese skemas slegs aanvullende dekking bied vir dienste wat nie by die gesondheidsdiensvoordele en medisyne wat deur die NGV se Voordeleadvieskomitee goedgekeur is, ingesluit is nie. Die dekking wat deur mediese skemas verskaf word, moet die NGV-diensvoordele slegs aanvul (en nie dupliseer nie). As deel van hierdie werk sal ’n volledige hersiening van die bestaande stelsel van Voorgeskrewe Minimum Voordele vereis word, met inagneming van die siektelas en veranderende bevolkingsdemografie. Dit sal verseker dat die grootste moontlike toegang tot gesondheidsorgdienste vir almal binne beskikbare hulpbronne aan die bevolking verleen word.”
ekonomie-stockfoto-02

Foto: Pexels/Pixabay.com

Só raak dit ekonomie

  • 6 miljoen belastingbetalers sal die koste van die NGV moet dra vir die meer as 50 miljoen mense wat van die dienste gebruik sal maak.
  • Die regering sal meer as 100 000 bykomende staatsamptenare in diens moet neem om die NGV aan die gang te hou.
  • Die privaat mediese sektor sal groot verliese ly. Mediese en farmaseutiese maatskappye kan besluit om die land te verlaat.

*Hierdie artikel is met die vergunning van die Solidariteit Tydskrif geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Mrs H ·

Jukkel stukkel!!!! Dis glad nie Demokraties nie!!!! Doen inbraak op my menslikke regte man. Watse sot het hierdie plan aanmekaar gesit?!

BenaYaHU ·

@Mrs H
Inderdaad.. so in dieselfde kraal as die s.g. “ObamaCare” (deesdae “TrumpCare”) in die VSA – ek voorsien dieselfde, indien nie meer, implikasies en gevolge. Veral in SA .. want sekerlik gaan die stelsel dus ook nie eens die wat dit beoog om te help se lewens waarlik verbeter nie! Interessante tye..

Eish ·

Dis soos n nagmerrie waar die tokkelosie jou jaag en jy kom nie weg nie.
En word ook nie wakker nie!

bgj van der westhuizen ·

ja en weer eens sal die burgers van die land daar onder ly maar die vraag moet gevra word hoekom word dit gedoen die skuld le by dokters en hospitaal wat oor prys is en privaat gesondhied is baie duur en is besig om onbekostig te raak maar die selde tyd die staat kan niks behoorlik bestuur nie en daar sal op die einde geen gesondhied wees nie

Frankie ·

Weet iemand dalk al watter dienste en behandeling tot die NGV beperk sal wees….soos diabetes?

Hm ·

En dit beteken ek as n staatsamptenaar sal nie meer mediese subsidie ontvang van so R3000 nie en meer tax betaal vir die ngv, maar betaal r1000 kort op tax indien ek medies het, maar moet steeds addisionele dekking uitneem om nie dood te gaan in een van die staatshospitale nie. Dus sal ek medies moet uitneem, meer tax betaal en eks d subsidie kort….

koos1 ·

Die regering kan nie eers tans die staatshospitale (waar mens gratis mediese sorg kan kry!) of die militêre hospitale (waarheen SANDF lede moet gaan) bestuur nie. Hoe de ……… wil hulle nou ALLE mediese diense bestuur. Ons mediese mense gaan die land verlaat op strepe en gaan seker deur Kubane of Chineese vervang word.
Die is ‘n baie edele idee, maar in Afrika kan en gaan dit nie werk nie.
Mense, sosialisme (kommunisme) word in ons kele af gedruk. Stadig maar seker gaan niemand meer wil werk nie, veral as ek moet werk om 20+ ander mense te onderhou, dat hulle kan stem vir ‘n politieke party wat hulle verder kan onderhou en my meer uit mergel. Hierdie prentjie klink nie vir my reg nie.
Die regering moet alle werkloses dwing om verniet te werk aan hierdie idee en die bestuur daarvan, dit is tog hulle wat daarby gaan baat, teen geen kostes nie!

netso ·

Ek sien nog meer “Fat Cats” om die korupsie tafel sit en mekaar se fingers aflek!

Cecilia van Rooyen ·

Dit is net nog n manier hoe hulle ons gaan beheer……………sosialisme!!

Bekommerde ·

Dit sal ‘n groteske FLOP wees.
Ons sal nou al ons kruie en vrugtebome en groente tuine moet aanplant.

Privaat gesondheids werker ·

Een minister wat begroting groter as Eskom en SAL SAAM bestuur…….Om te kon registreer by HPCSA, moes ons ‘n jaar gemeenskapsdiens in staatshospitale doen. Toe ek spesialiseer, moes ek weer vir 2 jaar in staatshospitale werk @ geen vergoeding. Die staat het nie eers vir my studies betaal nie. Ek is besig om te emigreer, en baie van my kollegas ook. Wonder maar net hoe die “kwaliteit “ van gesondheids personeel gaan wees wanneer ons almal in lande gaan werk wat besig is om ons te werf en wat bereid is om ons te betaal vir die dienste wat ons verrig. Sterkte Mnr die President , but I have paid my dues…

John ·

… en ons geagte minister se gepraat is so onsamehangend en nou wil hy iets aanpak wat bo sy vuurmaakplek is. Mense sal moet verhuis na plekke waar daar ten minste nuwe hospitale is want baie dorpe en stede se staatshospitale sien gehawend daar uit en die personeel ditto. Pasiente wag glo vir meer as 8 uur by sekere staatshospitale se buitepasiente vir dringende x-strale. Dokters dra apparaat en stoele rond, te bang om hulp van die verpleegpersoneel te vra. Die private klinieke se ontvangsareas gaan lesopse want sekere politieke groepe gaan die nvg as teisteringsinstrument, sonder narkose, aanwend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.