Die NGV sal gratis wees – dit word maar net met belasting betaal

Deur Daniel du Plessis

Die Twitter-plasing.

“Die NGV gaan jou nie geld kos nie – dit sal befonds word uit belasting uit,” lui die Twitter-plasing.

Sê wat jy wil, maar iemand by die departement van gesondheid verstaan bemarking. Toegegee – dis seker maklik om gratis goed te verkoop.

Baie Twitteraars het natuurlik onmiddellik uitgewys dat “belasting” nie die een of ander abstrakte, onuitputbare wonderbron van kapitaal is nie, maar dat dit tog deur íémand betaal sal word.

Hierdie is natuurlik heeltemal korrek. Ongelukkig het dit die departement se punt gemis – selfs al was dit een wat per abuis gemaak is. In hierdie – soos met baie dinge wat die regering doen – is jý, Meneer of Mevrou Belastingbetaler, nie juis die teikendemografie nie.

‘n Eenvoudige sommetjie illustreer die punt baie duidelik. Suid-Afrika is ‘n land van sowat 59 miljoen mense en drie miljoen inkomstebelasting-betalers. Hoewel hierdie syfers mens klaar mens effens benoud laat, is dit natuurlik nie die hele storie nie.

Die oorgrote meerderheid van hierdie belasting word deur net meer as 1,1 miljoen belastingbetalers betaal. Hierby ingesluit is 200 000 staatsamptenare in die staat se topsalarisgraderings – wat natuurlik uit hierdie selfde poel befonds moet word. Sonder hulle verskraal hierdie syfer tot net sowat 950 000.

Hierdie is geensins ʼn perfekte som nie, maar dit illustreer die punt baie duidelik: Daar is ‘n maksimum van 950 000 mense in Suid-Afrika wat, in enige betekenisvolle sin, nettobelastingbetalers is – minstens wat inkomstebelasting betref.

As jy ‘n politikus was, sou jy vreeslik besorgd wees oor hulle stemme? Onthou, hierdie is maar ‘n skamele 1,6% van die bevolking. As ons hulle sou beskou as ‘n persentasie van die stemgeregtigdes, is hulle maar 2,7%.

Wat staan ‘n minister of president dan te doen as dit tyd is om beleid te formuleer? Die truuk is om soveel as moontlik van die 1,6% se bates te gebruik om die 98,4% se behoeftes te diens.

Op die lang termyn is dit (natuurlik) moontlik dat die 1,6% sal verarm of emigreer, maar dit is nie die onmiddellike bekommernis nie. So ook is dit nie nodig om te bekommer oor die feit dat meer van die 98% nie opskuif na die ryk 1,6% nie.

Trouens, aangesien daar nou so definitiewe onderskeid ontstaan het tussen belastingbetalers en belastingafhanklikes se belange, sou dit politieke selfmoord wees om jou eintlik veel aan eersgenoemde te steur.

Dit werk alles heel goed uit, aangesien ongelukkige mense net soveel belasting moet betaal as gelukkiges – stemme word gewerf, maar belastings word gehef.

Die ironie is dat dit, natuurlik, mettertyd net nadelig vir almal is – almal behalwe die politici wat hierdie korttermynvoordele omskep het in langtermyn- politieke kapitaal.

Belasting sonder verteenwoordiging was genoeg om, in die geval van die eertydse Britse kolonies van Amerika, ‘n rewolusie te ontketen.

Wat sou die praktiese effek wees as hierdie 1,6% oornag hul stemreg sou verloor? Vir die oorgrote meerderheid van die Suid-Afrikaanse parlement sou dit geen effek op hul agendas hê nie.

In Suid-Afrika is jy meer as welkom om deel te neem aan die demokratiese proses – moet net nie verwag om deel te neem aan die demokratiese besluit nie. Demokrasie beteken immers in Grieks “die mag van die mense” – maar wie het ooit gesê jy is “die mense”?

Dit is dus tyd vir ʼn rewolusie – maar nie ʼn gewelddadige een nie. Die Grondwet was veronderstel om ʼn verskansing te wees teen meerderheidsoorheersing, maar dit sou ʼn fout wees om nie nuwe burgerlike instellings te bly bou nie.

  • Daniel du Plessis is ’n regsontleder by Sakeliga, ’n onafhanklike sakegemeenskap.
Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
Die meningstuk is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is om dit duidelik te maak dat daar na inkomstebelasting-betalers verwys word. – RED

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wielspore

Die syfers in die berig is nie heeltemal korrek.
Totaal belasting betalers – 21 Miljoen
Belasting betalers wat belasting forms moet voltooi – 6.6 Miljoen
Groot total – 27.6 Miljoen

MIA

So maarnet weereens ‘n bewys dat die mense wat belasting betaal, maar net weereens erger belas gaan word om hulle planne in werking te stel.

Naas

Die belastingbetalers word maar net al hoe minder. Dit pla nie die ANC nie – die koerse sal net verhoog word om genoege geld te hê om stemme te koop.

Stof

Wat nie genoem word nie, is dat baie van ons wat dien in die openbare gesondheidstelsel, en dus ook die latere Nasionale gesondheidsplan, vrywillige werkers is wat geen salaris ontvang nie. Belastingbetalers hoef dus nie te vrees dat ons hulle sal uitsuig nie.

Drikus

Wat gebeur as belasting verhoog?
Produktiwiteit neem af namate die belastingkoers styg, omdat mense kies om minder te werk. Hoe hoër die belastingkoers, hoe meer tyd spandeer mense aan belasting wat ontwyk, en hoe minder tyd spandeer hulle aan die meer produktiewe aktiwiteit. Hoe laer die belastingkoers, hoe hoër is die waarde van al die goedere en dienste wat geproduseer word