Die nie-oppermagtige en onstabiele Grondwet

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die hoeksteen van die Suid-Afrikaanse Grondwet – die Grondwet se belangrikste geloofsartikel – is sy beweerde oppermag. Daarby is twee dinge inbegrepe.

Die eerste is dat die Grondwet die maatstaf behels waaraan alles gemeet moet word – ook alle handelinge van die regering. As enigiets gedoen word, wat nie met die Grondwet strook nie, is dit ten slotte ongeldig. Daarvoor sal, volgens die Grondwet, veral die regbank as bewaker van die Grondwet en ons regte sorg.

Die tweede aspek van oppermag is dat die Grondwet verskans is. Hy kan nie maklik verander word nie. ʼn Tweederde meerderheid van die Nasionale Vergadering en die ondersteuning van ses van die nege afvaardigings in die Nasionale Raad van Provinsies word vir wysiging vereis. In die geval van artikel 1 van die Grondwet – die grondliggende waardes – is die wysigingsvereistes selfs nog strenger. Dan word ʼn 75 persent-meerderheid vereis.

Vanweë grondwetlike oppergesag is die Grondwet dus ʼn onaanvegbare krag. As gevolg hiervan, sein die denkbeeld van grondwetlike oppergesag ʼn besonder gerusstellende boodskap, naamlik: wees nie besorg nie; wat in die Grondwet staan, staan vas; ons kan daarop vertrou dat dit ons blywend sal beskerm. Juis daarom word dikwels na die Grondwet as die Finale Grondwet verwys.

Hoe belangrik die denkbeeld van grondwetlike oppergesag ook al mag wees, is dit egter wesenlik vals. As jy daarop vertrou, soos dit afgelope dekades aan die Suid-Afrikaanse publiek verkondig is, staar ontgogeling jou in die gesig, want die ware toedrag van sake sien heel anders daaruit. Laat ons verduidelik.

Dooie formulerings teenoor daadwerklike reg

Die Grondwet bestaan uit ʼn stel bepalings, waarvan die belangrikste die formulerings van ʼn aantal regsnorme is; dit wil sê van dinge wat behoort te gebeur. Die formulerings waaraan ons dadelik dink, is die formulerings in die Handves van Regte en die grondliggende waardes van artikel 1, waarna pas hierbo verwys is. Daar is natuurlik ook talle ander. Formulerings van die regsnorme oor grondwetlike instellings wat vir die beskerming van ons veiligheid verantwoordelik is; formulerings van die regsnorme oor in welke instellings die wetgewende en uitvoerende gesag setel; formulerings wat die regsbeginsels vir die optrede van die staatsadministrasie neerlê; formulerings van regsnorme oor die amptelike tale en hoe hulle behandel moet word; en talle ander formulerings.

Dis egter baie belangrik om helder te begryp dat die formulering van ʼn regsnorm nie noodwendig beteken dat daar in die praktyk daadwerklik ʼn regsnorm bestaan nie. Daar mag mooiklinkende formulerings wees wat sê hoe sake daar behoort (of moet) uitsien; en oor hoe ʼn staatsinstelling behoort op te tree. Dit beteken egter nie dat die betrokke staatsinstelling werklik optree soos wat hy moet nie, of dat sake werklik so uitsien soos ʼn formulering verklaar dat dit behoort nie.

transformasie-grondwethof-prof-koos-malan-02

Prof. Koos Malan. Foto: Reint Dykema.

Doodgebore reg

Inteendeel. Daar is formulerings van regsnorme in die Grondwet, wat eenvoudig nooit daadwerklik nagekom word nie. In so ʼn geval het daar nooit ʼn daadwerklike regsnorm in werking getree nie. Op papier bestaan daar dus ʼn formulering, maar in die praktyk het daar nooit daadwerklike reg tot stand gekom nie. Dit (die regsnorm) is eenvoudig dood gebore. Doodgebore reg (of in Engels still-born law) sal ons dit kan noem.

Vervalle reg

Tweedens is daar formulerings van regsnorme, wat aanvanklik gehoorsaam is, maar mettertyd so skraps nagekom word, dat dit vir alle praktiese doeleindes verval het. Die formulering bly dus steeds op papier voortbestaan, maar in praktyk het die norms eenvoudig verval. Dis bloot vervalle reg (in Engels lapsed law).

Vervangde reg

Derdens gebeur dit dat mense, veral staatsamptenare en politici, eenvoudig op ʼn heel ander manier optree, as wat die regsformulerings (volgens die beste moontlike interpretasie) bepaal. Die andersoortige optrede is konstant en die betrokke amptenare en politici is oortuig van die korrektheid van hul optrede. Hierdie derde geval is natuurlik selfs meer ingrypend as die tweede geval, want hier – anders as in die tweede geval – het ons nie te doen met bestaande reg wat in onbruik verval nie. Hier word bestaande grondwetlike reg boonop deur nuwe konstante gebruike met nuwe grondwetlike reg vervang. Ons kan praat van vervangende reg (substituted law.)

Verandering van die konstitusie sonder wysiging van die Grondwet se bewoording

Let wel, in nie een van hierdie gevalle het ons te doen met ʼn wysiging van die Grondwet deurdat die bewoording van grondwetlike bepalings op grond van die voorgeskrewe parlementêre proses vervang word nie. Nêrens word daar dus aan die vereiste van ʼn twee derde (of 75%) -meerderheid voldoen, soos wat die Grondwet vereis nie.

Juis om daardie rede sal baie tradisionele staatsregprofessore, wat onverbiddelik in die oppermag van die Grondwet glo, die idee dat die konstitusie op dié manier – deur daadwerklike praktyk – kan verander, verontwaardig verwerp. Hulle sal wys op die Grondwet se vereistes oor wysiging en verklaar dat die Grondwet nie hierdie soort veranderings vanweë praktyke toelaat nie.

Sodanige verwerping beteken egter niks. Dit is gebaseer op wat volgens die formulerings van die Grondwet behoort te gebeur, maar verloor uit die oog wat werklik in die praktyk gebeur.

Die Grondwet teenoor die daadwerklike konstitusie

Prof. Koos Malan se nuwe boek plaas die soeklig op die Suid-Afrikaanse Grondwet. Foto: Verskaf.

Waarmee laat dit ons? Dit laat ons met die skriftelike Grondwet wat ʼn aantal skriftelike formulerings behels, maar tegelykertyd ook met ʼn daadwerklike konstitusie wat juis vanweë praktyke heel anders as die Grondwet lyk, en waarin die eintlike werklike konstitusie vervat is.

Dit beteken natuurlik dat wanneer ons probeer peil wat die konstitusie behels, ons nie by die skriftelike Grondwet kan volstaan nie. Want al maak die Grondwet ook op oppermag aanspraak en al gee dit voor dat dit slegs ná nakoming van streng wysigingsvereistes deur die parlement skriftelik gewysig mag word, verander dit informeel voortdurend. Dit verander vanweë die dinge waarna hierbo verwys is, naamlik doodgebore reg, vervalle reg en vervangende reg – in hierdie scenario’s nooit vanweë wysiging van die bewoording van die Grondwet nie, maar altyd vanweë die praktyke van amptenare, politici en watter ander mense ook al.

Om dus te bepaal wat die daadwerklike konstitusie behels, moet die daadwerklike praktyke sorgvuldig nagegaan word. Dit, alleen, bring aan die lig wat die konstitusie werklik behels. As ons slegs die formulerings van die Grondwet in ag neem, loop ons die risiko om onsself lelik te mislei. Ons kyk ons dan vas in in ’n geskrewe Grondwet, wat egter in die praktyk reeds lankal deur ʼn daadwerklike konstitusie opsy geskuif is.

Kan dit waar wees dat ook Suid-Afrika se oppermagtige Grondwet as gevolg van praktyke gemarginaliseer is en (ten dele) met ʼn andersoortige daadwerklike konstitusie vervang is? Het die Suid-Afrikaanse Grondwet werklik sy oppermag prysgegee en is dit stil-stil en voortdurend aan die verander? Die antwoord is, ja.

In die volgende bydrae gaan aan die hand van konkrete voorbeelde verduidelik word dat die Suid-Afrikaanse Grondwet inderdaad nie oppermagtig is nie en dat daar juis vanweë politieke kragte in beduidende mate ʼn andersoortige daadwerklike konstitusie tot stand gekom het.

  • Dié artikel is die tweede in ʼn reeks van ses artikels wat prof. Koos Malan geskryf het na aanleiding van sy nuwe boek There is no Supreme Constitution. Die boek word deur African Sun Media uitgegee en kan aangeskaf word by TakealotGoogle BooksITSI, African Sun se Facebook-winkelAmazon Kindle en EBSCO eBooks aangeskaf word. Dit kan ook by Protea Boekhuis gekoop word. Klik op die skrywer se naam bo-aan die artikel om alle vorige artikels te lees.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Venter ·

Hier met die volgende stelling van die Prof het ek dit verloor. Ek haal aan: “ … verander dit informeel voortdurend. Dit verander vanweë die dinge waarna hierbo verwys is, naamlik doodgebore reg, vervalle reg en vervangende reg – in hierdie scenario’s nooit vanweë wysiging van die bewoording van die Grondwet nie, maar ALTYD VANWEë DIE PRAKTYK VAN AMPTENARE, POLITICI EN WATTER ANDER MENSE OOK AL.”

Gaats, ek sou ook dink soos die tradisionele staatsregprofessore na wie die Prof hier bo verwys, maar nou blyk dit dat selfs die toepassing van die ANC se ideologie in die praktyk hierdie verandering teweeg kan bring.

Ek lees toe hiérdie artikel wat die punt juis baie duidelik maak:

https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/die-grondwet-onder-die-loep/

Ek het ‘n idee vir elkeen van ons wat hier op Maroela lees, is dit ‘n noodsaaklikheid dat ons die Prof se hele reeks betreffende die Grondwet volg.

Josef du Toit ·

Praktyk ondermyn dus ‘n idealistiese grondwet, ook mede deur die bewaker van die grondwet – andersins kon afwyking verhoed word in beroep op die howe. Natuurlik gebeur so iets in ‘n falende staat, bv waar ‘n polisiediens en onbeteulde moord- en doodslag gelyktydig bestaan. So ook wanneer die grondwet as “lewend” bejeën word ( – ‘n dinamiese betekenis vastrapplek kry wat aanpas by nuwe omstandighede, sonder amptelike verandering van bewoording).

“Originalisme” is daarenteen gebaseer op die oorspronklike begrip van die outeurs of bevolking ten tyde van bekragtiging – ‘n sinvolle vertolking waar die grondwet ‘n Christelike karakter vertoon. Wanneer ‘n volk sy Christelike geloof kwyt is, of op welke ander wyse homself onder ‘n humanistiese grondwet bevind, kan geen grondwetlike vertolking tot heil wees nie. Trouens, eedswering ter handhawing van ‘n humanistiese grondwet, soos vereis van parlementslede, bemoeilik Christene se deelname aan verkiesings.

Josef du Toit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.