Die noodlot van die noodlot

aylan 1

HA Hellyer, Twitter

Johan Schoeman

Die internasionale pers het aan die begin van September foto’s van die heersende Europese vlugtelingkrisis wat merkbaar ontstellend is gepubliseer, veral die nou reeds bekende foto van die seuntjie wat dood lê op ʼn Turkse strand. Vir verskeie kommentators verteenwoordig hierdie foto die ‘gees’, die tragedie van die krisis.  Dit is onteenseglik so dat, in gevalle soos hierdie, morele kwessies hoogty vier.

Maar daar is ook ʼn ander belangrike vraag wat dikwels geen rol speel nie – hoe het hierdie situasie ontstaan?  Die antwoord hierop kan boeke vul en vereenvoudiging lei in gevalle soos hierdie dikwels tot foute.

Kortliks moet die redes vir die krisis gesoek word in die oorloë in die Midde-Osste aan die begin van die 90’s, wat primêr deur die VSA (en sy bondgenote) gedryf is. Dit wil egter voorkom asof die gevolge daarvan egter nie nou eweredig deur hierdie selfde bondgenote gedra word nie.

Die Nederlandse filosoof en veral denker oor die tegnologie, Jos de Mul, het onlangs ʼn boek gepubliseer oor die kwessie van die ʼnoodlot’; die geskiedenis van hoe die noodlot deur die eeue deur mense hanteer is en wat in die moderne tegnologiese era daarvan geword het.

Waar die ou Grieke hierdie kwessie, veral in hul Tragedies as deel van die menslike bestaan gevier het en die tragiese held en sy keuses ʼn vername rol gespeel het, het die Christendom noodlot bloot aanvaar as deel van ʼn groter plan met menslike lewens. De Mul argumenteer verder dat die moderne tegnologiese samelewing nou weer sy eie vorme van die tragiese na vore bring.

De Mul maak in sy analise van die antieke Grieke se hantering van die noodlot en tragedies ʼn veelseggende opmerking.  Hy noem dat die tragiese in die tyd van die ou Griekse beskawing veral te wyte was aan drie menslike ondeugde, naamlik oormoed, verblinding en misrekening.  Die relevansie van hierdie opmerking vir die krisis wat Europa nou beleef, spreek vanself.

‘Oormoed’ van veral die deelnemers aan die Golf-oorloë, teen die agtergrond van ʼn filosofie en wêreldbeskouing wat geen negatiwiteit duld nie en opportunisme aanmoedig, vorm die eerste punt in De Mul se analise. ‘Verblinding’ vir die dinamika van die betrokke streek en ʼn onvermoë om die onbedoelde gevolge van optrede in te sien, is die tweede.  Die ‘misrekening’ met die kragte wat losgelaat word indien geen rekening gehou word met die eerste twee aspekte en hul gevolge nie, sowel as die afdwing van stelsels op mense sonder dat enige nuanses bekyk en ernstig geneem word, skep derdens die perfekte storm.

Die uiteinde daarvan word vandag in Europa aan die lyf gevoel. Sommige kommentators is van mening dat nie net die eenheid van die EU nou in gedrang is nie, maar dat die krisis Europa in sy wese, karakter en aard onherstelbaar gaan verander.

Wat het dit met Suid-Afrika te doen? Histories en eietyds kan die begrippe hierbo en hul relevansie vir Suid-Afrika self ʼn hele aantal rakke vul. Trouens, verskeie van die analises van die hedendaagse situasie in SA is op een of ander wyse ʼn analise aan die hand van een of meer van hierdie aspekte.

Meer spesifiek dalk: ons gaan binnekort weer ernstig gesprek voer oor die kwessie van ʼn land wat al meer begin lyk na die posisie van die strykorkes op ʼn welbekende skip wat vanweë ʼn ysberg nooit sy bestemming bereik het nie.  Of dalk, terwyl ons nou by die antieke is, is Nero se viool dalk ʼn beter beeld.

Die gebeure in Europa, die stamstreek van die Afrikaner en dié ter plaatse en gegewe De Mul se fyn analise van die noodlot en die tragiese (of dit nou onmoontlik is om te ontsnap of bloot op die een of ander manier hanteerbaar gemaak kan word) maak ten minste een ding duidelik.

Nie net is daar veel te doen nie, maar hoe dit gedoen word gaan uiteindelik bepaal of die gevolge daarvan ten minste ʼn aanvaarbare plaaslike weergawe van die noodlot gaan weerspieël.  ʼn Groter verantwoordelikheid vir deelnemers aan hierdie belangrike gesprek kan mens jouself kwalik voorstel.

  • Johan Schoeman is die sekretaris van die Solidariteit Beweging.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Heleen ·

Waarom vlug die mense uit Sirië? Dit lyk na oorwegend blanke mense. Is dit godsdiens of politiek?

Jacques j ·

Die USA ook besig met hulle evil dinge in Sirie dis hoekom daai mense moet vlug, ja en hulle is wit.

Jaycee ·

‘n Wonderlike artikel hierdie. Ek het nie De Mul se boek gelees nie, maar gegrond op wat hierdie artikel se moet ek saamstem dat ‘n (oor)vereenvoudiging van die geskiedenis in meeste gevalle tragiese gevolge het. Daarbenewens vier morele kwessies hoogty en dit gebeur teen ‘n agtergrond van oormoed, misrekening en verblinding. Kragte word deur die mens[?] vrygelaat en of die lyk van ‘n driejarige seuntjie op die kus in Turkye uitspoel en of die lyk van ‘n pasgebore baba in ‘n puttoilet erens in SA gevind word, simboliseer dit vir my dieselfde tragedie wat die gevolg is van gesagsfigure wat met oormoed, misrekening en verblinding (en partymaal selfs in die naam van God) kragte loslaat wat daarop uitloop dat te midde van “noodlottige” dood en vernietiging, hierdie rigtinggewers in hulle waansin hulleself nogtans moreel meerderwaardig beskou. [Wat ek hier se is miskien nie presies wat De Mul in gedagte het nie, maar die artikel het ‘n paar gedagte by my losgemaak].

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.