Die nuanses van politiek

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Ek merk gereeld ’n beduidende verwarring by baie mense in Suid-Afrika as hulle oor die politiek debatteer. Dit gaan veral oor begrippe, en vandag wil ek enkele daarvan behandel. Hopelik dra dit by tot helderheid in die debat.

Kom ons begin by liberaal en konserwatief en kyk wat die korrelasie met woorde soos links en regs, kapitalisties en sosialisties is.

Die woord liberaal word afgelei van die Latynse woord “liber” (vryheid).

Vir baie Suid-Afrikaners wat hulself as konserwatief beskou, is dit so na aan ’n politieke vloekwoord as wat jy kan kry. Vir hulle beteken dit dieselfde as onverdraagsaam, die ontkenning van alle etniese verskille, die verafgoding van die individu ten koste van die gemeenskap en as die teenpool van nasionalisme.

Dis nie soos die liberalisme in die geskiedenis voorkom nie. Inteendeel, in die laat 18de tot diep in die 19de eeu was die liberalisme eerder sinoniem met nasionalisme en die ontwikkeling van demokratiese regte teen die koninklike outokrasieë in byvoorbeeld Brittanje, Nederland, Frankryk en Duitsland.

In die loop van die 20ste eeu het die begrip stadigaan verskillende dinge in verskillende lande begin beteken.

In die Angel-Saksiese wêreld – dus Brittanje en sy kolonies (inklusief Suid-Afrika) en Amerika – het liberaal in ’n ietwat linkse rigting opgeskuif. Toe het dit inderdaad beweeg in ’n rigting waar individuele regte dikwels ten koste van die gemeenskap beklemtoon is, en waar etniese verskille onderbeklemtoon is.

In Brittanje het dit gestaan teenoor konserwatisme, wat egter ook uiteenlopende dinge beteken het. Enersyds het ’n filosoof soos Edmund Burke ’n gematigde, rasionele konserwatisme verkondig, teenoor, byvoorbeeld, die erfenis van Thomas Hobbes, wat al in die 17de eeu die outoritêre owerheidsbenadering teenoor die gewone mense verdedig het.

Die inhoud wat in Brittanje aan liberalisme gegee is, het oorgewaai na Amerika, waar dit deesdae taamlik sinoniem met links is. Dis logies dat dieselfde proses hom in Suid-Afrika afgespeel het.

Daarteenoor staan dat konserwatisme in Brittanje ook sinoniem met imperialisme was, die deur God gegewe reg van die Britte (of dalk meer presies: die Éngelse) om te regeer. In Brittanje is die imperialisme teenoor die Afrikaners deur konserwatisme gedryf, terwyl dit juis die liberale was wat aan die Boere se kant gestaan het.

Op die Europese vasteland het dinge anders ontwikkel.

Daar het die uitdaging vir die outoritêre monargieë, veral in die 20ste eeu, hoofsaaklik gekom uit die rigting van die sosialisme (of hul iets gematigder weergawe, die sosiaal-demokrasie). In sy suiwerste vorm het die sosialisme in die Sowjetunie op die kommunisme uitgeloop, en dié ideologie se skerpste ideologiese teenstander was juis die liberalisme.

In Europa het die liberalisme dus sinoniem met die kapitalisme geword. Teen dié agtergrond sou jy die vastelandse liberale in bepaalde opsigte eerder as gematig konserwatief kon beskou.

Dis hoekom partye wat hulself as liberaal tipeer, meestal ietwat regs van die sentrum staan. En waarom die sogenaamde Christen-Demokratiese partye (by wie die “Christen” in die naam feitlik sonder inhoud is) vir alle praktiese doeleindes ook liberaal is.

Liberaal in Europa is dus sinoniem met die verdediging van die demokratiese regstaat en die vrye mark. Met ander woorde, regs.

Wat is die verband – indien enige – met die begrippe links en regs?

Links en regs is begrippe wat uit die Franse Revolusie van 1789 dateer. Toe het ondersteuners van die monargie in die parlement regs van die voorsitter gaan sit en dié van die revolusie links. Mettertyd het regs verdedigers van die status quo geword en links dié wat dit wil verander.

Beteken dit dat konserwatief en regs altyd sinoniem is?

Jy kry natuurlik verskillende skakerings van konserwatief, en dikwels is konserwatiewe inderdaad ook regs en andersom.

Maar dis nie noodwendig altyd só nie. As konserwatief in mindere of meerdere mate die behoud van die status quo voorstaan, is regs nie altyd konserwatief nie.

In Nazi-Duitsland was Adolf Hitler en die Nazi’s ekstremisties regs. Hulle was fel nasionalisties en rassisties, maar die teendeel van konserwatief.

So was hulle teen standverskille gekant – in die Nazi-beweging het standverskille geen werklike rol gespeel nie. In ekonomiese opsig het die staat ’n veel groter rol gespeel as wat konserwatiewe liberale voorgestaan het.

Hitler wou álles tot in die verste uithoeke van die samelewing revolusionêr verander. Sy ideologie, bekend as die nasionaal-sosialisme, dui daarop dat hy van konserwatisme niks wou weet nie.

Nog ’n voorbeeld is pres. Donald Trump van Amerika. Sonder om hom met Hitler gelyk te stel: Hy is wel regs, maar nie konserwatief nie.

Trump het sowat alle bestaande aspekte van die Amerikaanse politieke kultuur doelbewus deurmekaar gekrap. Jy kan dit goed- of afkeur (dis nie waaroor dit hier gaan nie), maar sy werkwyse is eerder dié van ’n regse radikalis; nie van ’n tradisionele konserwatis nie.

Kom ons kyk vervolgens na die verwyt dat die Demokratiese Party in Amerika tegelyk liberaal en sosialisties sou wees.

In beginsel is dié begrippe ook in Amerika teenpole, nes in Europa. Maar die Demokrate, soos die Republikeine voor Trump, is ’n breë kerk wat uiteenlopende benaderings huisves.

Enersyds het jy die party se presidentskandidaat, Joe Biden, wat duidelik ’n gematigde klassieke liberaal is. Andersyds het die Demokrate ook ’n linkervleuel, gelei deur mense soos sen. Bernie Sanders, wie se benadering sommer baie links is.

Sanders noem homself ’n “demokratiese sosialis”, wat hom min of meer in die kamp plaas van die tradisionele Europese sosiaal-demokrate. Dis mense wat van die égte sosialiste en hul verwerping van die liberale demokrasie weggebreek het en die demokrasie met ’n linkse ekonomiese beleid wil versoen.

In hul ondersteuning van die demokrasie is die sosiaal-demokrate steeds liberaal, maar in hul ekonomiese benadering in mindere of meerdere mate sosialisties. Waarby gesê moet word dat die linkse tande van verreweg die meeste Europese sosiaal-demokrate al lankal getrek is.

Deesdae kry jy in Europa ’n nuwe verskynsel, naamlik regse ekstremiste. Hulle is ’n beduidende aanwesigheid in Duitsland, Oostenryk, Italië, die Benelux en die Skandinawiese lande, en regeer selfs in Pole en Hongarye.

Die liberale kapitalistiese demokrasie het egter die interessante vermoë om ekstremiste in te sluk, te verteer en, getransformeer, weer uit te spoeg. In Duitsland het dit byvoorbeeld met die Groenes gebeur, en dit kan met dié “nuwe regses” herhaal word.

Hoe ook al, dit sou help as ’n mens al die nuanses verstaan wanneer jy oor die politiek menings wissel. Ek hoop ek het die lesers nie te veel deurmekaar gemaak nie!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Therese

Mag die nare “regse ekstremiste” die gawe “gematigde klassieke liberale” nog lank frustreer en irriteer.

Interessant dat ‘n lewenslange diktator soos Xi Jinping gereeld skitter in sy afwesigheid wanneer “die nuanses van politiek” bespreek word. Die magtige China voer tans ‘n skrikbewind teen handelsvennote en sluit links en regs teëpraters toe.
Jinping en Hitler se werkswyse kan eerder vergelyk word as wat die Amerikaanse president nogmaals as ‘n skadelike “radikalis” gebrandmerk word. Miljoene Amerikaners sal daarmee verskil.

Vrijburger

So die logika is – as Trump die huidige ‘ver-linksing’ en weg beweeg van “tradisionele konservatisme” in Amerika probeer stop en selfs omkeer terug na die “tradisionele konservatisme” van vroeër, dan is hy eintlik ‘n “regse radikalis”? Ek dink toe nou nie so nie. “Regse radikalis” is maar net een van daai ettikette wat gebruik word om konservatiewes wat sterk weerstand bied teen die ‘ver-linksing’ te probeer stil maak en marginaliseer.

Human

Vir Trump gaan dit nie oor lings of regs nie, vir hom gaan dit oor wie is die groep, wat die liggelowigste is en wie gaan die maklikste val vir sy liegstories en valse propaganda en soos die duiwel dit wil hé, is die regse konserwatiewe Amerikaners, met hul rassistiese uitkyk op die lewe en wie se motto die eie ek is, sy slaafse aanhangers wat hoop en glo, dat hy hul gaan beskerm teen die res van die wêreld, wat hul eenogige leefwyse tot niet wil maak.

Verskilmaker Vlakvark

Ek voel sommer “verkramp en verlig, links en regs” wanneer ek hierdie uitstekende artikel lees. Welke “shade of grey” is elk van die Suid-Afrikaanse politieke partye? En só hou die mensdom homself besig met drogbeelde soos “Transformasie”, “Demokrasie”, “Liberalisme”, “Pan-Afrikanisme”, “Vryheid”, “Gelykheid”, en nugter weet wat ookal op soek na ‘n utopiese wêreldorde. En die werklose arme ongeletterde massas weet nie eens waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom nie terwyl andere proefskrifte hieroor skrywe.

Dewald

As daar ‘n logiese lyn in hierdie artikel gevolg sou kon word, dan moet Trump mos eintlik radikaal LINKS wees as hy die politiek kultuur -m.a.w. ‘current establishment’ deurmekaarkrap? “Mettertyd het regs verdedigers van die status quo geword en links dié wat dit wil verander.”