Die NUK-vergadering en die pad vorentoe

Deur prof. André Duvenhage

Prof. André Duvenhage. Foto: NWU

Die pas afgelope vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het primêr gefokus op korrupsie en beide Ace Magashule en Cyril Ramaphosa gaan skynbaar voor die party se integriteitskommissie moet verskyn.

Dit vind plaas teen die agtergrond van gerugte dat ʼn lys van senior politici bekend geraak het wat deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in ondersoeke geïdentifiseer is en ʼn brief van Ramaphosa aan ANC-lede oor die status van korrupsie binne die organisasie. Korrupsie ten opsigte van Covid-19-gelde was skynbaar die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het. Ramaphosa se brief aan mede-ANC-lede het gelei tot ʼn teenbrief van “Jacob Zuma” (waarskynlik geskryf deur Carl Niehaus) waarin Ramaphosa aan korrupsie verbind word, sy leierskap bevraagteken word, en sy verbintenis tot wit kapitaal en -steun geïmpliseer word.

Hoe dit ook al sy, die gevegslyne is getrek en na my oordeel was daar sover geen duidelike wenner of verloorder nie. Die feit dat die party hom agter Ramaphosa se antikorrupsie-inisiatief geskaar het, is ʼn aanduiding dat hy ʼn taktiese oorwinning oor die RET-groep (Radical Economic Transformation Group) van Magashule en Zuma behaal het.

Dat Ramaphosa voor die integriteitskommissie moet verskyn, is enersyds ʼn aanduiding dat daar iets is om uit te klaar, maar andersyds dat laasgenoemde hom aan dieselfde eis onderwerp as wat hy van medepartylede verwag, is myns insiens ʼn goeie taktiese skuif. Dit beteken egter dat Magashule, Sizulu, Yengeni en andere ook tot verantwoording geroep kan word. Dit kan egter op sy beurt weer die spreekwoordelike kan wurms oopmaak met verreikende implikasies vir talle binne die groter ANC-elite

Dit is steeds my standpunt dat die probleem groter is as wat die ANC kan hanteer en dat dit ongelooflike druk, spanning en konflik binne die party en groter familie van organisasies gaan veroorsaak. Hierdie geveg is nog lank nie verby nie, maar dalk ʼn punte-oorwinning vir Ramaphosa en sy ondersteuningsbasis by verlede naweek se NUK-vergadering. Ten minste word daar na korrupsie gekyk en gaan ANC-lede voor die integriteitskommissie moet verskyn.

Diegene wat Magashule ken en weet dat hy alles het om te verloor, sal ook weet dat dit ʼn geveg tot die bitter einde gaan wees. Dink maar aan die sogenaamde Stalingrad-strategie van Zuma wat hom vir ten minste die laaste 10 jaar uit die tronk gehou het. Hierdie geveg gaan net groter en vuiler wees met baie slinkse beplanning en manipulasie wat aan die orde van die dag gaan wees. Die name Magashule, Mabuza, Mahumapelo en Yengeni vertel ’n eie verhaal.

Ramaphosa moet weet dat hierdie net een poging was om hom aan die kaak te stel en dat daar verskeie verdere aksies sal kom. Verdere ondersoeke en moontlik skuldigbevindings gaan die katnes ook verder oopmaak en sal ongetwyfeld tot teenreaksies en -optredes lei. Hierdie is ’n Hobbesiaanse wêreld wat kan eindig in die dood…. aldus die Britse filosoof.

Dit word dikwels gesê dat jy nooit ʼn oorlog op meer as een front kan en moet veg nie. Korrupsie is wydverspreid (ook binne die sogenaamde Ramaphosa-kamp) en dit is belangrik om steun en bondgenote in hierdie geveg teen korrupsie te hê. Hierdie ondersoeke, bevindinge en die uitspeel hiervan gaan vyande vriende maak en vriende vyande. Dit is gevaarlik, nie net vir die president nie, maar vir die regering en stabiliteit binne die party. Tot dusver is daar geen aanduiding dat die Ace/Zuma-groepering (RET-groep) gaan bes gee nie. Trouens, hulle sal die geveg eerder intensiveer; politieke netwerke en ondersteuningsbasisse aktiveer; en werk op die takvlak van die party om uitgebreide steun te mobiliseer– ’n strategie soortgelyk aan die een wat Zuma suksesvol teen Mbeki gebruik het. Die verkiesing op hande plaas groot mag in die hande van die Luthuli-huis en Magashule.

Die makro-politieke omgewing is tans ʼn omgewing wat baie moeilike besluite en uitdagings gaan stel en waarvoor Ramaphosa en sy regering verantwoording moet doen. Die ANC is tans op ’n populistiese trajek in ’n poging om verlore steun terug te wen, maar die volgende groot uitdagings staar die regering in die gesig:

  • ʼn Werkloosheidsyfer wat na meer as 50% gaan toeneem;
  • ʼn Skuldlas wat eskaleer teen bykans R50 miljard per maand;
  • ʼn Ekonomie wat hierdie jaar gaan inkrimp teen meer as 7%; en
  • Disfunksionaliteit in bykans 80-90% van die munisipaliteite met ʼn plaaslike verkiesing wat bykans ʼn jaar weg is. (Neem in gedagte dat die ondersteuningsbasis van die ANC stem vir reële en tasbare voordele soos geld, water, elektrisiteit, behuising, ensovoorts, en nie vir politieke ideologie en die hoë morele grond nie.)

Waarom al die syfers? Die kort en die lank is dat die ANC op ʼn populistiese en selfs radikale politieke trajek beweeg, maar deur harde werklikhede gedwing gaan word om uiters moeilike besluite te neem. ʼn Paar hiervan sluit in:

  • Wysigings aan Artikel 25 van die Grondwet en die ekonomiese en finansiële implikasies hiervan vir die eskalerende krisis in die land;
  • Toenemende onstabiliteit in die land as gevolg van talle redes en die noodsaak van ongewilde besluite om wet en orde te handhaaf. (Dit is noodsaaklik vir, onder meer, beleggingsvertroue);
  • Die reaksie op rasgebaseerde wetgewings en die miskenning van die regte van minderhede. (Daar is toenemende tekens van mobilisasie en verset, disinvestering, en inisiatiewe om belastings te weerhou asook ander vorme van burgerlike ongehoorsaamheid.);
  • Die hervorming van die ANC as organisasie met uitgediende en verouderde beleidsrigtings wat nie meer volhoubaar is nie, waaronder breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging BBSEB) en kaderontplooiings. (Dit gaan weerstand ontlok veral van die kant van die populiste en staatskapers binne die ANC.);
  • Optredes teen endemiese korrupsie (en vorme van staatskaping) binne die ANC en die groter regime en die reaksie wat hierop kan volg;
  • Finansiële ondersteuning wat waarskynlik van die IMF sal moet kom en wat gaan indruis teen tradisioneel en gevestigde ANC-beleidsrigtings; en
  • Pogings tot die nasionalisering van die Reserwebank en die moontlike politieke en finansiële implikasies van sodanige besluit.

Pres. Cyril Ramaphosa, (Foto: GCIS)

Hierdie is die tipiese omstandighede wat selfs groot leiers moeilik kan hanteer. Ramaphosa val nie in hierdie klas nie en die scenario op hande is bepaald ʼn swakstegeval-scenario. Dit is ʼn omgewing waar gevestigde vriende maklik geswore vyande word en waar belange populisties gemobiliseer kan word. Die RET-groep en hul leierskap is meesters om hierdie tipe situasie te kan uitbuit en sal dit ongetwyfeld ook doen.

Die NUK-vergadering van einde Augustus 2020 was ʼn belangrike taktiese oorwinning vir Ramaphosa. Die werklike toets is egter die uitvoering hiervan en wanneer die mes begin sny onder die ANC-elites – en dalk selfs Ramaphosa en familie.

Tans rapporteer die integriteitskommissie aan die NUK van die ANC en moet van die top geïmpliseerde leierskap dus eventueel oor hulself besluit. Wie is in beheer van die Luthuli-huis? Ek volg Magashule se loopbaan nou al oor bykans drie dekades en weet waartoe hy in staat is. Dalk sterf die ondersoek na korrupsie ʼn stille dood binne die ANC en/of word lede kwytgeskel van alle skuld soos wat ʼn tyd gelede met David Mabuza gebeur het. Ek hou nie juis asem op vir besondere groot besluite vanuit daardie oord nie. Dit is ook nie duidelik of korrupsiesake wat by die ANC se integriteitskommissie gaan dien, aan onafhanklike regsprosesse onderwerp gaan word nie.

Hierdie was een ronde in ʼn groter politieke geveg of oorlog. Dit was die regte besluit, maar oor die uitvoerbaarheid van optredes teen korrupsie en die skuldiges bestaan daar groot kommer in my gemoed. En iewers op die agtergrond hoor ek die twiet van Duduzane Zuma waar hy reken dat Ramaphosa se tyd buitendien verby is. Moontlik nog ʼn eggo, maar iewers trek daar ʼn rokie en moet moeilike besluite geneem word, en staan Vryheidsvegter teenoor vryheidsvegter (Broer oor die visier).

Die oorlog is nog nie verby nie, die geveg teen korrupsie allermins gewen en die president moet daad by woord voeg. Kom ons hoop dat Ramaphosa my verkeerd bewys en dat hy daadwerklik handel soos wat daar aanvanklik van hom verwag is. Weet verseker dat dit nie maklik gaan wees nie. Elke handeling het ʼn prys en ons praat hier van miljarde en selfs biljoene. Soos Theuns Eloff dit stel naamlik “Die uur is daar, maar is die man daar?” My sentiment is bekend in hierdie verband.

  • Prof. André Duvenhage is ‘n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU). 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris

Wat verstaan ons wittes nie? Geen maar geen aksie sal teen enige van die bende se lede geneem word nie. Die binnegevegte van die paartie verstaan ons nie. Ons wittes is die gemene deler in die land. Ons is die vyand van die piepols. Ons is die bedreiging, ons is die Minority Capitalists. Solank die retoriek nog uitbasuin word gaan in die land geen gelykheid wees nie en die euwels wat plaasvind voor die deur van apartheid en die wittes gegooi word. Ons wittes moet onsself uit die Afrikaan se poltiek hou. Dit is nie dieselfde as die witman se… Lees meer »

Adam Adriaan

Stem saam met Chris. My vader het vir my gesê toe ek nog ‘n jong man was. Jy sal nog sien die etniese geweld wat nog in SA; tussen die onderskeie volksgroeperinge gaan plaasvind, sal geen grense ken nie. Hulle gaan mekaar nog erg verniel. Hy was ‘n myner vroeêr in sy lewe en het “Fanagalo” flot gepraat. As dit in Tsjaka se tyd so was, hoekom sal dit nou anders wees?

Mieke

Dus daar gaan nou weer biljoene uitgegee word vir hierdie spul wat seker maar op niks gaan eindig. En die belastingbetalers gaan seker weer moet opdok vir al dié moontlike regsprosesse en integriteits kommissie!

Kerneels

Ek het groot respek vir hierdie Prof. Hy praat altyd soveel sin!

annie

Ten beste moet alle magtelose ‘comrades’ wat geen druk kan uitoefen nie wat uitgevang word nou weer van die huis af werk tot die aanvalle van die glo ‘wit bose’ die wyk geneem het om dan weer elders geìmplimenteer te word… onthou wat maarskalk Z sè: Ons split nie op mekaar nie. Maar haat en nyt woeker sedert die aanvang van die ANC in sy midde. Die baie grafte van ‘ongehoorsame’ kaders in Zambiè en elders dien as bewys.