Die nuuskantoor van so 40 jaar gelede

Deur Freek Robinson 

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

In die groot wiel van veranderings-siklusse het die huidige digitale rewolusie seker die vinnigste en met die meeste ontwrigting plaasgevind… en die grond verskuif nog steeds onder ons voete soos ons nou met mekaar op hierdie platform kommunikeer. En natuurlik was die sneller daarvoor die ingrypende impak wêreldwyd van die koronavirus. Binne weke, en selfs binne dae, moes veral tegnologie-gestremde ouer mense die tegnologie van die nuwe manier van kommunikasie aanleer. Jy is gekonfronteer met die harde werklikheid dat mobiliteit, aanraking en die versameling van mense op een plek oral drasties ingeperk is.

Die virtuele kantoor het ast’ware uit die niet ontstaan, want jy mag nie loop, ry of vlieg om sake te doen of te konfereer nie. Skielik besef sakebestuur dis nie noodsaaklik vir besigheid om te reis nie. Jy spaar onkoste deur by die huis te bly, in te skakel op die internet en op virtuele ruimtes soos Zoom. En siedaar, jy kan (bykans) net so goed sake doen. Gelukkig het die tegnologie reeds bestaan om die handomkeer manier van sake doen, te hanteer.

Hierdie nuwe vorm van kommunikasie en interaksie het ook tot ingrypende veranderinge in die media gelei. Ek het in my 45 jaar van diens in die media al deur ’n hele paar tegnologiehoepels moes spring om by te hou.

Toe ek by die SAUK begin het in November 1975 was TV nog nie op lug nie. Ek is ingedeel as die junior by een van die twee Afrikaanse skryfspanne. Ons moes leer nuus uitsaai teen Januarie 1976. Daar was niemand in die Afrikaanse skryfspanne – of onder die joernaliste in die veld – wat enige ervaring in televisie gehad het nie.

Ons het elke Donderdag ’n proeflopie-nuusbulletin opgeneem asof dit ’n lewendige uitsending sou wees. Teen die Maandag het ons al gespanne begin raak om die regte stories te kies met die nodige beeldmateriaal en grafiese werk daarby.  Teen Donderdagaand was die senuwees klaar.

TV-nuus sonder die toepaslike visuele inkleding is eenvoudig nie TV nie.  Ons het ons internasionale beeldmateriaal op film gekry van Independent Television News (ITN) of Visnews in Londen. Dit was in so ’n ronde aluminiumhouer. Daar was gewoonlik so tien rolletjies 16 mm-film in die houer. Dit het gehandel oor internasionale stories van so twee tot drie dae vantevore. Die film kon jy kyk op ’n Steenbeck-redigeertafel. Dit was nogal ’n gedoente om die film netjies om al die rolletjies van die masjien te ryg.

Plaaslike film is geskiet met ’n Arriflex-filmkamera. Voordat die joernalis en kameraoperateur vertrek, is die kamera se film gelaai. Die film sou hou vir so 12 minute. As jy te lank bly skiet, raak die film klaar en dan is dit ’n lang proses om onder ’n swart doek die film in die kamera uit te haal sonder dat dit aan lig blootgestel word. ’n Nuwe film word dan ewe versigtig gelaai en dan kan die skietery weer begin. Hierdie realiteit het ’n mens gedwing om baie bepland jou storie te skiet sodat al die skote wat jy nodig het, binne die 12 minute op film vasgelê kon word. Boonop moes jy probeer om jou skote in volgorde te skiet soos jy dit in jou stories sou gebruik, want so spaar jy baie tyd met die redigeerproses. Met jou storie klaar geskiet, moes jy terug haas kantoor toe om die film te laat ontwikkel in die laboratorium. Dit het minstens ’n halfuur geneem terwyl jy naels kou en die horlosie dophou.

Ons skryfspannetjie het so 11:00 se kant saam na die internasionale nuusfilm gaan kyk om te besluit wat ons sou gebruik. Elk is ’n storie toegedeel en dan moet jy redigeer met die hulp van ’n operateur. Hy/sy moes letterlik die film knip. Dit word dan in stroke met pennetjies in volgorde aan ’n draad gehang en dan aanmekaar geplak. En die redigeerder moes seker maak dat die las aan beide kante met kleefband vasgeplak is – anders kan die lasplek loskom gedurende die uitsaaiproses… wat wel van tyd tot tyd gebeur het as die redigeerder onder druk kortpaaie kies.

Die harde kopie nuus het ons gekry van Agence France-Presse, Deutsche Presse-Agentur, Reuters en die plaaslike nuusagentskap, Sapa. Dis per teleks aan ons gestuur op rolle papier. Dit was dan my taak as junior om gereeld die velle papier te gaan haal. Ek moes dit dan met ’n liniaal skeur in velle per storie en aan die redakteur gee. Hy het die velle per storie in hopies gepak en gerangskik in volgorde van uitsending. Elk het dan sy pakkie velletjies met sy toegedeelde stories gekry. Ons het tikmasjiene gebruik om te skryf. Elk het sy botteltjie Tipp-Ex byderhand gehad wat jy gebruik het om spelfoute te bedek. Ná ’n paar goeie blase om die vloeistof te laat stol, kon jy dan weer die woord tik.  Uiteindelik is so 20 kopieë van elk van die voltooide tekste gemaak en op ’n groot tafel in volgorde uitgepak. Elke spanlid moes dan om die tafel loop en ’n kopie van elke storie optel. Pakkies van stories word dan aan al die tegniese personeel gegee.

Elke geredigeerde filmstorie is in ’n rolletjie in ’n houer geplaas en met haas na die telecine-masjiene vir uitsending geneem. Dit was op ’n ander vloer as die uitsendingsateljee. By die telecine-masjiene is die film in die regte storievolgorde gelaai vir uitsending.

By een geleentheid het die produksiesekretaresse met die houer geredigeerde filmrolletjies geval. Verskeie van ons moes help om ’n filmstorie te gryp, by die telecine-masjien te gaan staan en die storie invoer op bevel van die regisseur –  terwyl jy die film blaas om die stof af te kry.

Destyds was ons nuusaanbieders almal programaanbieders by RSG. Geen van hulle het TV-ervaring gehad nie. Hulle het rustig so sesuur se kant by die kantoor aangekom, deur die tekste gelees, grimeerkamer toe gegaan en dan gaan aanbied.

Die ou bedeling was ’n meganiese een. Die produksieproses was lank, moeisaam en die toerusting duur. Die kyker het geen keuse, inspraak of betrokkenheid gehad nie. Die bulletin het op die kop om agtuur begin en klaar.

Kom ons spring minstens 40 jaar vorentoe.  Die internet het alles verander en ons leef in ’n digitaal-geïntegreerde wêreld waar die individu die keuse het om sy nuus van enige bron, waar ook al te kry. Die toerusting is kleiner, goedkoper, multifunksioneel en die kwaliteit uitsonderlik.

Solank daar Wi-Fi is, kan jy van waar ook al regstreeks in ’n nuusbulletin verskyn en jou storie vertel.

Die aanbieder/skrywer, ’n ervare joernalis, kom deesdae kantoor toe so ses uur voor uitsending. Jy gaan sit by jou lessenaar en kyk watter stories die redakteur vir jou gegee het. Jy doen ’n internasionale soektog na die storie, kyk watter videomateriaal beskikbaar is, skryf jou teks met aanduiding van videogrepe en stuur dit na die redakteur en die videoredigeerder. Die regisseur kyk dat als pluis is en laai dit op die looporde. Die tegniese regisseur in die ateljee en sy span kry dit dan vir uitsending. As aanbieder kan jy dikwels so drie stories self skryf – als in die laaste sowat drie uur voor uitsending. As jy in die ateljee kom, is jou teks reeds op die stelsel en jy kan net gaan sit, voorberei en aanbied. En deesdae word die Zoom-tegnologie ook gebruik om onderhoude te doen met nuusmakers tydens uitsending.

Vir spanne in die veld is daar geen gesukkel met film nie. Solank daar Wi-Fi is, kan jy van waar ook al regstreeks in ’n nuusbulletin verskyn en jou storie vertel.

Daar is ook gestroomde nuuskanale soos Maroela Media wat pas sy negende jaar vier. Dit is tans die grootste diens in sy soort in Suid-Afrika. Maroela het gemiddeld so 2,5 miljoen maandelikse lesers, en bied tussen 20 miljoen en 25 miljoen bladsyvertonings per maand.

Jy kan self ook jou selfoon gebruik om materiaal op te neem, te redigeer en aan te stuur na jou nuuskantoor of selfs na jou eie blog.

Die sosiale media het ’n lewe van sy eie begin kry. Dis nie net ’n gerief om stories uit te ruil en vriende te maak nie. Dit kan ongelukkig ook gebruik word as kanaal om fopnuus te versprei en rewolusies te stook.

Die internet en swak ekonomiese omstandighede veroorsaak tans ’n bloedbad onder koerante, tydskrifte en tradisionele TV-kanale. Ná Covid-19 gaan die medialandskap beduidend anders lyk. Die skielike druk op mense om deur tegnologie te bly sake doen en webinare te hou, sal die proses net verder momentum gee.

Maar in hierdie dae is dit des te meer noodsaaklik om versigtig te wees vir fopnuus. By ’n instansie soos Maroela Media is daar ’n span om die egtheid van elke storie te toets.

Geloofwaardigheid is die grootste bate vir diegene wat in ’n onsekere omgewing wil oorleef. Dis een van die ou waardes wat sal bly staan.

  • Freek Robinson is ‘n televisie- en radiojoernalis met 45 jaar ervaring in die bedryf. Hy is die eienaar van sy eie kommunikasiemaatskappy wat webgesprekke fasiliteer en opleiding verskaf aan senior sakelui in mediavaardighede. Hy was tot onlangs die hoofanker van eNuus op kykNET en het ook sy eie aktualiteitsprogram, Robinson Regstreeks, aangebied. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese ·

Dié puik, interessante artikel verduidelik ook sommer waarom daar nie iets soos “fopnuus” in die goeie ou dae was nie … daar was bloot nie tyd om strooi uit te dink nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.