Die nuwe Koue Oorlog word warm

amerika-rusland-vlagDie globale magsbalans het in 2014 dramaties verander – en gelei tot ʼn nuwe Koue Oorlog tussen die groot moondhede. Dit maak die wêreld ʼn gevaarliker plek, omdat wêreldvrede grootliks deur die magsbalans tussen groot lande bepaal word – hoewel die nuwe Koue Oorlog nog nie met die vorige een vergelyk kan word nie. Die grootste verloorder in hierdie herskikking van die globale magsbalans is die Weste, met China as die grootse wenner.

Die een Verskriklike wat ons moet vrees, is die stilte wat oor die wêreld sal neersak wanneer daar nie meer binne die volke gepraat sal word nie, gestry, geredeneer nie; en die volke self teenoor mekaar nors en stil en sonder gesprek soos groot roofdiere sal lê.
N.P. van Wyk Louw

Die internasionale kettingreaksie is aan die gang gesit deur die Westerse lande se aggressiewe uitbreiding van hulle militêre alliansie Navo, tot by die Oekraïne in die Ooste langs Rusland. Dit volg op Navo (Noord Atlantiese Verdragsorganisasie) se 1999 insluiting van talle ander lande wat tradisioneel in die Russiese invloedsfeer was, soos Hongarye, Pole en die Tsjeggiese Republiek.

Die tweede ronde Navo uitbreidings na voormalige Oosblok-lande vyf jaar later, het Bulgarye, Roemenië, Letland, Estland, Litaue, Slowakye en Slowenië ingesluit. Dit het destyds tot groot ontsteltenis in Rusland gelei, wat weens hulle verswakking na die val van die Sowjetunie niks daaraan kon doen nie. Maar Navo se bombardering van Serwië in 1995, het Rusland se destydse President Boris Jeltsin laat opmerk dat dit ʼn voorteken is van wat kan gebeur as Navo tot teen die Russiese Federasie se grense uitbrei. Hy het skerp gewaarsku dat dit die “vlamme van oorlog regoor Europa kan laat uitbars”.

Direkte bedreiging

Die Russe het terselfdertyd gewaarsku dat hulle enige verdere Ooswaartse uitbreiding van Navo as ʼn direkte bedreiging vir Russiese veiligheid sou sien. Russiese leiers het daarop gewys dat Amerika nooit sou toelaat dat enige ander grootmoondheid Amerikaanse buurlande in ʼn militêre alliansie teen die VSA sou betrek nie. Dink byvoorbeeld hoe Amerika sou reageer as China ʼn sterk militêre alliansie sou opbou en Kanada en Mexiko daarby betrek! Dit was nie net Russiese leiers wat teen die Navo-uitbreiding gekant was nie. Die VSA se veteraan diplomaat George Kennan het self gewaarsku dat die ondeurdagte uitbreiding van Navo in die Russiese invloedsgebied Rusland tot vyandskap sou dryf. Frankryk en Duitsland het self bekommerd begin raak dat die intrek van tradisioneel Russiese bondgenote in ʼn Westerse militêre alliansie Rusland ernstig kan vervreem. Hierdie waarskuwings het egter op dowe ore geval, en in 2008 het Navo verder Oos begin kyk en planne begin maak om Georgië en die Oekraïne ook in te lyf.

Dit was die finale strooi wat die kameel se rug gebreek het, en Rusland het Georgië in 2008 ingeval om te keer dat hulle deel van Navo word. Hierdie waarskuwing is nie ernstig deur die Weste opgeneem nie, en in 2009 het Navo Albanië en Kroasië as lede toegelaat. Die Weste het deurlopend die wortel van ekonomiese voordele gebruik om die eertydse Russiese bondgenote na die Weste te lok. Dit het groot voordele vir hierdie lande ingehou, omdat die meeste ernstige ekonomiese probleme gehad het.

Die ironie van die Westerse strategie om Navo as hulle militêre alliansie te vergroot in 2014 as die honderdste herdenkingsjaar van die Eerste Wêreldoorlog, is dat hierdie oorlog juis ontstaan het weens die uitgebreide alliansiestelsels wat ‘n globale oorlog onafwendbaar gemaak het as daar konflik met net een lidland uitbreek.

Westerse waardes

Maar die Russe was nie net ontsteld oor die Westerse politieke- en militêre inmenging in hulle tradisionele invloedsfeer nie. Die Westerse pogings om hulle waardes en stelsels na die Oosblok uit te voer, is deur die Russe vertolk as ʼn veldtog om die “Ooste te verwesters”. Die VSA het sedert 1991 byvoorbeeld meer as $5 miljard bestee om die politiek in die Oekraïne te beïnvloed, deur onder meer Westersgesinde partye en leiers te befonds om “demokrasie te bevorder”. Nadat die pro-Russiese president Yanukovych in 2010 demokraties in die Oekraïne aan bewind gekom het, het Amerikaanse “pro-demokrasie” organisasies wat deur die VSA befonds is teen hom gedraai en die opposisie begin steun, wat uiteindelik tot sy ondemokratiese omverwerping gelei het. Terselfdertyd het Amerikaanse leiers wat in die Oekraïnse bewindsverandering betrokke was, soos Carl Gershman, die president van die Stigting vir Demokrasie, begin uitsprake maak dat hulle Rusland en die Poetin-bewind self in die oog het. Westerse liberale sien Westerse liberale stelsels as die algemene wêreldstandaard waaraan alle lande moet voldoen. Hulle wil nie daarvan hoor dat die afdwing van Westerse stelsels tot ʼn teenreaksie onder nie-Westerse moondhede soos Rusland en China kan lei wat dan weer tot nadeel van die Weste en Liberalisme kan strek nie.

Krim herinlywing by Rusland

Die omverwerping van die Oekraïnse president vroeg in 2014 het die Russe in aksie laat kom, en Russiese magte het die Krim Skiereiland binnegeval. Die Krim was vir eeue deel van Rusland, maar is in die laat vyftigers deur die Sowjetunie se president Khrushchev na die Oekraïne oorgedra om hulle lojaliteit aan die USSR te verseker. Die Krim se bevolking is oorwegend Russe, wat na die verbrokkeling van die USSR deurlopend gevra het om weer deel van Rusland te word. Daarby is die Krim van strategiese militêre belang vir Rusland, soos die hawe van Sewastopol wat die tuiste van die Russiese Swartsee vloot is en die enigste vlootbasis van die land wat nooit vasvries nie.

Die Oekraïne is vir die Russe histories ʼn belangrike buffer teen invallers uit die Weste.
Napoleon se soldate het in die vroeë 1800’s daardeur ingeval, en die Duitsers in die Eerste- en die Tweede Wêreldoorlog. Daarom het Poetin met ʼn aggressiewe teenstrategie in die Oekraïne begin, veral in die Oosterse deel van die land waar etniese Russe ʼn groot meerderheid van die bevolking vorm. Die optrede van die VSA het die Russiese vrees bevestig dat die Weste besig is om Rusland self te bedreig, toe die Amerikaanse vise-president Joseph Biden en die direkteur van die CIA, John Brennan, tydens besoeke aan die Oekraïne steun beloof het teen die Russe. Die president van die Europese Unie, Manuel Barroso en Navo se sekretaris-generaal Anders Rasmussen het die Russe ook die harnas ingejaag met hulle aanbod om die Oekraïne se militêre vermoë te help uitbou.

China en die Islam

Die Weste se vervreemding van Rusland is hoogs waarskynlik musiek in die Chinese-, Islam- en Indiese ore. China en die Moslem-wêreld word gewoonlik gesien as die twee belangrikste magsblokke wat die Weste bedreig. Daarom is daar allerweë verwag dat die Weste strategies nader sou beweeg aan Rusland en Indië, omdat hierdie lande China en Moslemlande as moontlike teenstanders sien. ʼn Internasionale bondgenootskap tussen die Weste, Rusland, Indië en Japan sou die globale magsbalans beslissend in die Westerse guns laat swaai, en vir dekades vrede en die Westerse oorheersing van die wêreld verskans. Maar die Westerse strategiese fout om Rusland te vervreem, het tot ʼn historiese herskikking van die globale magsbalans gelei. Die belangrikste magsverskuiwing was dat dit Rusland, China en Indië in mekaar se arms gedryf het, en die Weste gelyktydig isoleer het. Indien die Weste nie dramatiese stappe doen om hierdie magsverskuiwing om te keer nie, kan dit onomkeerbare gevolge hê vir Westerse waardes soos demokrasie, menseregte en die markekonomie. Die ironie is dat die Weste se groeiende isolasie juis spruit uit hulle projek om hierdie waardes op die ander magsblokke af te dwing.

Die Sjanghai Samewerkingsorganisasie (SCO)

Die Chinese het nie op hulle laat wag nie, en besluit op ʼn strategie om nie net die bestaande Westers-oorheersde wêreldorde uit te daag nie, maar om ʼn nuwe orde onder Chinese leiding te bou.

Die SCO is die Oosterse weergawe van Navo, en het net na Navo se bekende beraad in Wallis hulle beraad gehou, met gesamentlike militêre oefeninge in China. Die SCO sluit onder meer reeds China en Rusland in, met Indië en selfs Pakistan wat graag lede wil word. Maar dis nie die enigste anti-Westerse blok wat gevorm is nie. Die Chinese, Russe, Indiërs en Brasiliërs se “Brics” het Suid-Afrika ook betrek, met die waarskynlike doel om Afrika verder uit die Westerse invloed te kry. Daarby het die Russe ook ʼn teenvoeter vir die Europese unie en Navo gestig, saam met lande soos Belarus en Kazakstan.

Herleef in plaas van oorheers

Dit is natuurlik nog te vroeg om te voorspel waar al hierdie internasionale skuiwe gaan eindig, maar die Weste behoort die Harvard professor Sameul Huntington se raad te volg. Hy het met verwysing na die Westerse ekonomiese krisis en die internasionale demografiese veranderings gesê dat die tye verander het, en dat die Weste nie verder moet probeer om die wêreld te oorheers nie, maar eerder om hulself te laat herleef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hanno Visagie ·

Maroela Media, julle vra “Neem deel aan die debat”. maar telkens as ek iets korts vanuit ‘n Bybelse perspektief plaas, en iemand vloek Christus of Christene, en ek reageer met ‘n kort enkelsin uitnodiging tot bekering, verwyder julle alles, insluitend my aanvanklike plasing. Hoekom? Is julle blote kultuurchristene wat die wereld navolg? dr hv.

Werner ·

Hanno, jy plaas iets uit JOU perspektief- nie uit die Bybelse perspektief nie. Die probleem is by jou- nie Maroela.

Hanno Visagie ·

Nee, prof Johan Malan van http://www.bibleguidance.co.za is ‘n erkende wedergebore Christus-dissipel en skrywer van baie Bybelgegronde artikels en boeke. So ook dr Peter Hammond van o.a. die Christelike tydskrif Juig! – drhv, mb chb.

Piet ·

Dit gan oor Amerika wat hulle pertrodollar wil beskerm wat deur die bricks nasies bedryg word. Hulle het te veel skuld om mense toe te laat om weg te stap van die dollar af. Die VSA sal met hulle weermag , CIA of hulle manopolie op die vrye mark ander lande sink wat dit bedryg.

Aan die einde is die VSA nes Rome , ‘n reus wat besig is om van die binnekant af uit te vrot en ander lande kom dit agter en reageer daarop.

Johan Oosthuizen ·

Flip Buys, baie dankie dat jy die ding waaroor ons wonder so briljant in perpektief gestel het. Behoorlik op die keper beskou! Dis lekker om ‘n stuk te lees wat getuig van nugtere denke en waarneming. Doe so voort!

Marius ·

Baie dankie. Ek verstaan die spulletjie nou beter. Dui dit nie dalk aan ‘n gebrek van sterk leierskap in die Obama faksie nie? Hoe groot is die VSA se stem in Navo? Kan die weste nog oorloë bekostig? Baie interresant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.