Die nuwe kulturele Koue Oorlog

berlynse-muur

Foto: Photoholiday/Pixabay.com

Dit lyk al meer of die wêreld weer in ʼn Koue Oorlog ingly. In die “Eerste Koue Oorlog” was daar ʼn vertikale verdeling tussen Wes en Oos, met die VSA en die Sowjetunie as die leiers van die twee magsblokke. Die “Tweede Koue Oorlog” verdeel die wêreld daarteenoor horisontaal in bykans elke land. Hierdie verdelingslyn loop tussen ʼn invloedryke elite wat “liberale internasionalisme” voorstaan, en die res van die bevolking se “demokratiese nasionalisme”.

Liberale internasionalisme verwys na die oortuiging dat kulturele en ander groepsidentiteite moet ontbind en dat mense in vryswewende enkelinge verander. Volk moet bevolking word, oftewel nasie ʼn groep enkelinge wat saam in ʼn land bly. Nasionale-, kulturele-, of godsdienstige “burgerskap” en gemeenskap moet opgaan in ʼn globale Engelssprekende burgerskap, bestaande uit gedenasionaliseerde enkelinge. Hulle glo in oop landsgrense, onbelemmerde immigrasie, vervanging van nasionale en gemeenskapsregte en -belange met individuele menseregte, linkse sosiale waardes en onbeperkte ekonomiese globalisering. Vir hierdie groep is die geskiedenis “verby” en is mense wat aan hul tale en godsdienste “vasklou” eintlik agterlik, en moet hulle nog die verligte toekoms sien of selfs daarin gedwing word.

Konflikpotensiaal

Die ingeboude konflikpotensiaal van hierdie siening is dat die liberale internasionaliste glo dat hulle beskouing op die wêreld afgedwing moet word, omdat dit die hoogtepunt van menslike vooruitgang verteenwoordig. Vanweë die Westerse oorsprong en inslag van hierdie siening vervreem dit ander “beskawings” soos die Chinese, Moslems, Russe asook die mense van Afrika, Japan en Indië, wat dit sien as die voortsetting van kolonialisme. Dit kan lei tot die Weste teen die “Reste”. In sy uiterste vorm is hierdie internasionaliste wat hul bloudruk van liberalisme met politieke, ekonomiese en selfs militêre mag op die wêreld wil afdwing, ʼn bedreiging vir wêreldvrede. Die bekendste mislukking van hierdie ideologie is die oorloë in Irak, Libië en Sirië waar internasionaliste diktators wou afsit en die lande wou demokratiseer. Hierdie goeie bedoelings se rampspoedige gevolge soos voortslepende burgeroorloë en die Europese immigrasiekrisis het min aan die blindekolle van die aanhangers van hierdie ideologie gedoen. Die internasionaliste wil gevolglik gemeenskappe se kultuur met liberale politiek as nasionale bindingskrag vervang. Die onbedoelde maar voorsienbare gevolg is dat dit lande kan laat verbrokkel omdat dit die bindingskrag van hierdie samelewings verswak weens die gebrek aan kulturele, godsdienstige of historiese eenheid.

Nasionaliste

Die demokratiese nasionaliste in die Weste se opstand teen die internasionaliste se afdwinging van hulle agenda sluit aan by die nie-Westerse lande se groeiende weerstand teen die Westers-gedrewe liberalisering. Brexit, die Trump-verkiesing en die opkoms van nasionale bewegings in Oos-Europa soos in Pole, Hongarye en Slowenië, kry nou momentum in Wes-Europese lande soos Oostenryk, Frankryk en Nederland. Die geskiedenis van Europa, die feit dat die groot mediahuise binne die internasionale liberale denkraamwerk funksioneer en dat die meeste nasionale bewegings se beleid en idioom die grense van die bestaande politieke denke oorskry, laat die media hulle afskryf as rassisties en ondemokraties. Die populistiese leiers, wilde uitsprake, regse verlede en omstrede beleidsrigtings van sekere van hierdie groepe dra by tot hulle geloofwaardigheidsprobleme. Die groot vrees van die liberale internasionaliste is dat die demokratiese nasionaliste nie regtig demokraties is nie, dat hulle klem op nasionaliteit tot konflik kan lei en dat hulle konserwatiewe waardes die liberale waardes ondermyn.

Horisontale alliansie

Die eerste Koue Oorlog tussen Wes en Oos was ʼn ideologiese konflik tussen vertikale magsblokke. Die Tweede Koue Oorlog is ʼn kulturele konflik, horisontaal bínne lande, tussen die liberale elite en die nasionale publiek. Die globale Westerse politieke, media- en sake-elite se horisontale alliansie strek oor nasionale grense. Hulle word saamgebind deur hul liberale ideologie wat hulle universeel wil laat geld. Die Noorde, Ooste en Suide moet verwesters word, volgens ʼn bepaalde liberale resep.

Daarteenoor is die demokratiese nasionaliste ook besig om ʼn horisontale alliansie oor nasionale grense te vorm, wat met mekaar saamwerk teen die liberale internasionaliste. Hulle word verenig deur die wedersydse erkenning en respek vir mekaar se kultuur, lewenswyse en identiteit. Hulle verwerp die internasionaliste se projek om hul eie nasionale selfontbinding na hulle gemeenskappe uit te brei. Hulle voel dat die internasionaliste kulturele selfmoord gepleeg het en nou kulturele moord op ander wil pleeg.

Toekoms

Dis verstaanbaar dat die internasionaliste bekommerd is dat ʼn nuwe klem op nasionalisme tot wrywing tussen verskillende nasionaliteite kan lei. Aan die ander kant lei internasionale ideologieë soos kommunisme en liberalisme net so veel tot konflik en geweld. Die internasionaliste se eis dat alle nasionaliteite moet internasionaliseer lei self tot weerstand en konflik. Brexit is byvoorbeeld grootliks ʼn demokratiese reaksie op die afstaan van die Britte se nasionale onafhanklikheid aan die internasionale Europese Unie. Nasionaliste streef na politieke onafhanklikheid en ekonomiese interafhanklikheid.

Dit lyk of die VSA se nuwe regering die internasionale uitvoer van die liberale ideologie wil vervang met interkulturele samewerking op grond van elke land se nasionale belang. Dis waarskynlik waarom liberale leiers soos Angela Merkel negatief op Trump se verkiesing gereageer het, teenoor die besadigde reaksie van nasionaliste soos die Russiese, Japanse, Indiese en Chinese leiers. Dit kan lei tot samewerking tussen lande op grond van nasionale belange, in plaas van op voorwaarde dat lande hulself aan die liberale ideologie moet onderwerp.

Die liberale internasionaliste se aandrang dat die wêreld hulle kulture moet laat vaar en hulself moet herskep volgens die liberale politieke ideologie, is besig om ʼn sterk teenreaksie te ontlok. Soos die politieke wetenskaplike Patrick Moynihan gesê het, “kultuur is die moeder, instellings die kinders”. Daarmee het hy bedoel dat instellings wat vir die een kultuurgroep werk nie noodwendig vir almal werk nie. Dié beroemde Amerikaanse minister van buitelandse sake, Henry Kissinger, het jare gelede al teen die afdwing van waardes gewaarsku: “Vir die VSA om aan te dring dat China liberale Westerse waardes moet aanvaar is verspot in die sestigs, onhaalbaar in die tagtigs, en gaan gevaarlik in die negentigs wees”.

Soos prof. Samuel P. Huntington van Harvard dit gestel het in sy bekende boek The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order: “Die Westerse geloof in die universaliteit van die Westerse kultuur het drie probleme: dit is vals, dit is immoreel en dit is gevaarlik.”

Verstandige leierskap het verhoed dat die vorige Koue Oorlog in warm wapengeweld ontbrand. Mag die komende leierswisseling in talle wêreldlande die wysheid aan die dag lê om te sorg dat die opkomende Koue Oorlog nie warmer word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

110% reg! Wat saamhang met hierdie immoraliteit is dat die sg internasionalisering intrinsiek gevaarlike onheilige doelstellings koester nl magsmisbruik en wereldoorheersing van bronne en menslike denke waaronder godsdiens. Hierdie groep is ten eerste ateiste en totaal gevoelloos. IS word doelbewus bevorder om hul vuilwerk te doen. Verdowingsmiddels word selfs aan kinders verskaf om hul liggame op te blaas vir die saak of koppe af te kap. En ver weg sit Big Brother en speel met juwele van smarag, lapis lazuli en antieke beelde uit Sirie. Jerusalem is die hoofteiken; die kersie op die koek. Erge tye wag.

Therese van Schalkwyk ·

Skitterende opsomming van die situasie!
Skaar myself geesdriftig en voluit by die “demokratiese nasionaliste”.

Die feit dat dit slegs “regses” is wat gereeld as “populiste” uitgesonder word, bring ‘n mens by die vraag: Hoe sterk moet die sogenaamde populis se aanhang/gevolg wees voordat hy nie meer as sodanig gebrandmerk word nie, maar as ‘n volwaardige leier?

Piket ·

Die uiteensetting is volkome korrek en toepaslik. Geen ommekeer kan nou meer plaasvind nie,
dit is Bybelse profesie in wording, wanneer hierdie liberalisme in volle reg ge-eskaleer het sal die antichris se rol voltooi wees.

Loeis ·

‘n Baie goeie opsomming van die situasie.

Maar nou: wat is Afrikaner kultuur?

Vleisbraai?

Rubgy en kriket, wat terloops uit Engeland ingevoer is? En van die hoofredes vir mense se “Ja” stem in 1994 se verkiesing was, en presies is wat die internasionaliste wou gehad het mense moes kies.

Het jy verlede jaar vir ‘n party gestem wat Afrikaans as voertaal gebruilk, of Engels?

Dit lyk of ons self in ‘n identiteitskrises is, en hand in eie boesem moet steek.

JC ·

Baie dankie Flip! Ons het hierdie artikel bitter, bitter nodig gehad.
Weg met die internasionaliste! ‘n Chinees is ‘n Chinees en nie ‘n verwesterse Asier nie. so ook vir ‘n Japannees of ‘n Indier, laasgenoemde is nie ‘n verwesterse Suid-Oos Asier nie maar ‘n INDIER, wie se identiteit en gemeenskapsbelange nog vele meer ingedeel kan word in daardie kastesisteem, of hierdie mistieke en unieke geloofsoortuiging ens. ‘n Afrikaner is ‘n Afrikaner, ‘n Fransman ‘n Fransman of ‘n Nederlander ‘n Nederlander ens. Die punt is dat die internasionaliste en hul beweging ‘n oorreaksie was op die gevolge van die Tweede Wereldoorlog en wou hul as’t ware nasionalisme en patriotisme, wat hul as die oorsaak gesien het vd oorlog, verniel. NOU blyk dit egter dit is nie so maklik nie OMDAT KULTURELE EN GEMEENSKAPSREGTE TOT MENSE SE SIELE EN IDENTITEITE STREK en bg. beslis voorwaardes is waarsonder mense op aarde nie meer KAN of WIL lewe nie EN ALMAL IS IN OPSTAND TEEN DIE LIBERALE INTERNASIONALISTIESE ELITE! Die ander punt ook synde dat nasionalisme en patriotisme nie noodwendig tot oorlog lei nie, MAAR oorlog is menslik en ‘n natuurlike kondisie van die menslike toestand wat universeel is, daarmee is nie rekening gehou nie!!

Henry ·

Soos gewoonlik ‘n uitstekende en goed gemotiveerde artikel van mnr Buys. Ene wat interessante en nuwe insigte rondom ‘n “Kulturele Koue Oorlog” bied.

Vir veels te lank na die Tweede WO het almal uit vrees vir ‘n herhaling van die nasionalisme wat tot die aanloop van die oorlog gelei het, na die anderkant toe oorgehel. Sodoende het ‘n paar Utopiese ideologieë onverdiende ruimte ontvang, soos wat daar grootliks na die liberale kant toe beweeg is.

Nasionalisme is uiteindelik so deel van ons en van meeste volkere se bestaan. Dit het ook tot die vorming van nasionale state en ‘n magdom ander nasionalisties-geïnspireerde kenmerke deur die eeue heen gelei het. Dit kan kwalik ontken word. Dit kan ook nie vernietig word nie, soos die onlangse geskiedenis reeds aantoon.

My vraag is egter:
Geld die konflik tussen Liberalisme en Nasionalisme ook vir Subsahara state in die algemeen en hierdie droewe land in besonder?
Afgesien van die korrupsie wat kenmerkend van meeste van hierdie state is, waar pas Zuma en die ANC in?
Waar hoort Malema en die snel groeiende EFF tuis?
Word nasionalisme nie misbruik om hul doelstellings wat lewensgevaarlik vir die inwoners asook vir die voortbestaan van hierdie staat is nie?
Waar pas liberalisme in hierdie droewe prentjie?

Flip ·

Henry, Afrika is sosiaal en kultureel konserwatief, wat bots met Westerse liberale waardes. Kultuur is sterker as ideologie, en ek verwag dat Afrika al meer sal verinheems. Baie Afrikalande het geleer uit hulle foute, en ontwikkel nou mooi, bv Zambië, Rwanda en Ghana. By ander soos SA en Zimbabwe lei die opkoms van Afrika nasionalisme tot al swakker regerings. Malema probeer soos vele ander rampspoediges voor hom Afrika nasionalisme, rassisme en sosialisme saamgooi, terwyl hy die armoede van mense uitbuit om stemme te kry. Sy doel is bloot mag en rykdom. Hy sal egter nie maklik veel verder vorder nie, omdat hy niks prakties aan sy ondersteuners kan bied nie- ‘n bekende probleem van opposisiegroepe in arm lande.

Henry ·

Flip, baie dankie vir jou reaksie, waarmee ek grootliks akkoord gaan, vir wat dit ookal werd mag wees. :-)
Ek wil steeds ‘n vraagteken agter die Malema verskysel plaas. Afrika is vrot van voorbeelde waar ‘aggressiewe’ – by gebrek aan ‘n beter term – nasionalisme gebruik is om tiranne aan bewind te plaas. Mense soos Amin, Mugabe, Museveni, elkeen van die onderskeie Hutu of Tutsi staatshoofde deur die jare heen, plus ‘n hele aantal ander siele waarvan jy sekerlik ook bewus is. Elkeen van hulle se motivering/doel is/was mag en rykdom, soos jy dit tereg uitgewys het.
Dit gesê, is ek oortuig dat slegs een hoop bestaan om die Malema verskynsel te bestry. Dat die meerderheid van die 50 miljoen swart inwoners van hierdie land die sotheid van karakters soos Malema betyds sal herken as die bedrogspul wat dit inderwaarheid is. Indien dit nie gebeur nie, sal die ANC en Zuma se kaskenades soos die spreekwoordelike Sondagskool piekniek lyk…

Henry ·

Flip, ek het jou bedank vir die vriendelike antwoord en nog ietsie by gegorrel, maar my pogings word gewoonlik uitgevee of ure later – na inspeksie? – geplaas.
Hiermee probeer ek weereens dankie sê en weereens probeer ek om finaal my rug op hierdie plek te draai. Is moeilik want dit is die enigste leesbare ene in Afrikaans, vir die huidige…
aquilla non capit muscas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.