Die NGV-monster sal SA bankrot maak en pasiënte laat ly

dr-koos-marais

Dr. Koos Marais. Foto: Verskaf.

Deur dr. Koos Marais

Dit kos nie ’n breinchirurg om te besef dat Suid Afrika se mediese bedryf terminaal siek is nie. Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, is juis nie ’n breinchirurg nie, en ook hý het die mediese kat aan die pankreas beet.

Die etiologie (oorsaak) van hierdie siekte is die befondsingsmodel van mediese dienste, en die probleem is nie uniek tot ons wye, droewe en droë land nie. Ook die magtige VSA en Haar Hoogheid se koninkryk sukkel met presies dieselfde krankhede. Suid Afrika en hierdie twee superstate het eenvoudig gesproke twee befondsingsmodelle. Die een model lei tot oorbehandeling, die ander lei tot onderbehandeling – en in albei gevalle is dit die pasiënte wat daaronder ly.

Eersgenoemde model kom neer op gratis behandeling omdat een of ander derdepartysisteem die dokter, hospitaal of apteek vir elke item betaal; en laasgenoemde model kom ook neer op gratis behandeling, omdat niemand vir enigiets betaal nie, want die staat betaal vir alles.

Langenhoven het gesê as jy ’n stuk werk gedoen wil hê, moet jy twee mense aanstel: betaal die een per dag en die ander per taak; sodoende sal die een die ander jaloers maak en sal hulle mekaar oppas. Dit is presies hierdie toestand wat die wortel van die kwaad is in die gesondheidsbedryf.

Aan die een kant dryf die mediesefondssisteem dokters en ander personeel om soveel as moontlik itemkodes op hul rekeningstate aan te bring, want hoe meer hulle opskryf, hoe meer geld kry hulle. Gaan kyk maar na enige hospitaalrekening vir elke pleister en stukkie watte. Kyk ook maar na doktersrekeninge se lang lys van byna onbenullige items. Hierdie toedrag van sake is nie heeltemal so eenvoudig nie, want dit kom ’n lang pad. Oor dekades het die wedywering tussen die derdepartysisteem, die “mediese fonds” en die “dokters” om die pot geld gesorg dat die dokters se deel van die koek al dunner gesny word, terwyl die vet katte van die sisteem se deel al ruimer gesny is. Kyk maar net na Netcare en Discovery se aandeelpryse en die salarisse en bonusse van mense soos Adrian Gore, die grootbaas van Discovery. Kyk dan ook na jou plaaslike huisdokter of tandarts se vergoeding onder hierdie sisteem. Gaandeweg het dit vir die eerlike dokter onmoontlik geword om onder die terme en voorwaardes van hierdie magtige sisteem te funksioneer. Die een opsie is om al meer en meer items op daardie rekening te skryf, maar dit  oorskrei later die perke van eerlikheid en wettigheid, en grens aan oneerlikheid en onwettigheid. In die ergste gevalle ly die pasiënte onder verskillende vorme van oorbehandeling – wanneer die dokter onnodige of te veel ondersoeke en behandelings uitvoer, ’n gevaarlike situasie. Die ander opsie is om nie meer direkte betalings van mediese fondse te aanvaar nie, die roete van baie spesialiste.

Aan die ander kant bestaan die staatsgesondheidsisteem. In die ou dae het dit min of meer gewerk, want die staat se dokters en ander personeel het die etiese kodes vanself gehoorsaam. Daar was mense soos prof. Chris Barnard en honderde ander wat toegewyde dokters en rolmodelle was. Volgens Langenhoven se model is hulle “per dag betaal” – die mense wat inderwaarheid die etiese kodes verpersoonlik het sodat hul privaat kollegas skaam sou kry om werk van mindere kwaliteit te lewer. Vandag is dit nie meer so nie en getuig elke staatshospitaal en kliniek, met natuurlik die uitsonderings van enkele, van ongewaardeerde engele wat hulself dag en nag hulle afsloof en hul bes probeer onder die haglikste omstandighede. In die algemeen is die rolmodel van mediese staatsamptenare niemand anders nie as hul president, die agbare Jacob Zuma. Hierdie mense, gedryf deur hul rolmodel en ten spyte van redelike salarisse waaroor hul kollegas in die privaat sektor deesdae selfs jaloers is, het die situasie in die staatsgesondheidsisteem waar die norm onderbehandeling is, geskep. Pasiënte sit hul dae om in toue en wagkamers en gaan dood voordat hulle gehelp of behandel kan word.

Een slim man, wat ook nie vertroud was met die fyner kunsies van operasies op die menslike brein nie, het in 2001 gaan sit en dink oor hierdie probleem. Hy was die ekonoom Milton Friedman en hy het die probleem so opgesom: “Third-party payment has required the bureaucratization of medical care… A medical transaction is not simply between a caregiver and a patient; it has to be approved as ‘covered’ by a bureaucrat… The patient has little… incentive to be concerned about the cost since it’s somebody else’s money. The caregiver has become, in effect, an employee of the insurance company or, in the case of Medicare and Medicaid, of the government… An inescapable result is that the interest of the patient is often in direct conflict with the interest of the caregiver’s ultimate employer.

Nou dink dr. Motsoaledi dat hy die oplossing vir die hele wêreld se mediesebefondsingsprobleme het met die skepping van sy nuwe burokratiese Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)-monster. Al wat hy gaan skep, is die volkome, perfekte en volmaakte tweekoppige draak van onder- en oorbehandeling. In die proses gaan die gesondheid en tevredenheid van pasiënte daaronder ly, en die land gaan uiteindelik bankrot word.

Die oplossing is redelik eenvoudig, dog tweeledig. Eerstens is dit nodig dat pasiënte op een of ander wyse medeverantwoordelik word vir die befondsing van hull mediese sorg. Teoreties is dit moontlik met die skepping van ’n mediese spaarplan waartoe die staat ook kan en in sekere gevalle moet bydra. Hierdie spaarplan moet begin die dag wanneer ’n baba gebore word. Die ouers en/of die staat moet daartoe bydra en dan moet, eers die ouers en later die pasiënt self, as hekwagter optree vir uitbetalings. Groot katastrofiese toestande moet deur die staat befonds word. Almal weet dat baie van die groot mediese uitgawes aangegaan word deur mense wat in die laaste ses maande van hul lewe is. Jong mense, veral diegene met ’n gesonde lewenstyl, het nie sulke groot uitgawes nie en kan ’n groot spaarplan opbou.

Elke burger dra dan lewenslank tot sy of haar spaarplan by, en hou wag oor die uitbetalings, welwetende dat daar ’n dag mag kom wanneer daardie geld werklik nodig gaan raak. Dit is die een manier om oorbehandeling te voorkom. Die staat (Motsoaledi) wil die staatshospitale regruk; hy moet die meeste daarvan eerder sluit en nuwe privaat hospitale en klinieke aanmoedig. Só sal hy baie geld spaar, geld wat na die spaarplanne gekanaliseer moet word, veral aanvanklik. Die mag van die staat kan eerder aangewend word om onreëlmatighede te bestry.

Die ander manier om oor- of onderbehandeling te voorkom en uit te skakel is ongelukkig nie so eenvoudig nie. Jy leer dit by jou ma, uit Matteus 7:12: “Doen aan andere…” en by Hippokrates: “Primum non nocere”, oftewel “First Do No Harm”.

  • Marais is ’n tandarts wat 38 jaar in die praktyk staan en die outeur van The Excellent and Effective Dentist, ’n boek wat onder andere die saak van derde party betalings van mediese rekenings aanspreek. Die boek is gratis op sy webblad www.drkoosmarais.co.za beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Arak ·

‘n Ding wat my ook dwars in die krop steek is dat die medies fonds bestuurders bykans alle aandele in privaat hospitale besit. Dit is maar net hulle manier om die stelsel verder te melk en die gewone pasiënt die grond in te trap. Kyk gerus wat dit jou gaan kos om ‘n dag in ‘n privaat hospitaal te lê sonder die fonds. So, ‘forseer’ hulle jou basies in ‘n fonds in.
Dan praat jy nie eers van die “eiendom” wat hulle koop en terug verhuur aan die fondse vir premium bedrae, wat weer alles uit my en jou sak uit kom en op die ou end besit die bestuurder die eiendom wat ons vir hom afbetaal.

Johan ·

Vir ‘n tandarts het Dr Marais nogal die fynere kuns van breinoperasies goed opgesom. Ekself het egter heelwat simpatie vir dit wat Dr Motsoaledi wil bereik met gesondheidsbedryf in Suid Afrika. Ek dink egter nie die voorgestelde Nasionale Gesondehidsversekeringskema is noodwendig die regte voertuig nie. Die gesondheidsbedryf is inherent ondoeltreffend en een van die indikators is die feit dat mediese inflasie rofweg dubbeld soveel is as die algemene inflasie in Suid Afrika is. Baie simplisties kan inflasie as ‘n toename in koste gesien word sonder dat dit waarde verteenwoordig. Hiervoor is daar baie redes waarop ek nie sal ingaan nie. Die eindproduk daarvan is egter dat die gebruiker/pasient jaar op jaar meer betaal vir dienste wat nie noodwendig meer waarde verteenwoordig nie – ekstra koste word bloot na die pasient deurgegee. Dis ‘n probleem wat lank reeds bestaan en wat kalarblyklik nie binne die vermoe van die bedryf is om op te los nie. Dus wil die staat ingryp om die kostespiraal wat gaandeweg buite beheer raak, onder beheer te bring. Dr Motsoaledi sien die NGVS as die voertuig hiervoor en daar is moontlik goeie redes hoekom dit langtermyn, in voorgestelde vorm, nie die korrekte voertuig is nie. Wat egter soos ‘n paal bo water staan, is dat die voertuig gekritiseer word sonder dat die bedryf met ‘n werkbare alternatief na vore kom. Voortsetting van die bestaande model gaan nie groter voordele bring nie – dit gaan bloot dieselfde nadele as tans voortsit.

Stef Papendorf ·

Ek is self n tandarts en Koos is reg. Lank gelede kon die privaat hospitale nie kers vashou met die Staats hospitale nie en het privaat praktisyns die duur behandelinge/prosedures daar gedoen en die mediese fonds het die kostes gedra van die privaat pasient. Die dag tot dag behandelinge is in die spreekkamer privaat of teen lae koste by die hospitale gedoen.
Nou dat befonsers en praktisyns hospitale besit is die “beheer” oor die stelsel
In die verkeerde hande. Die pasient moet meer beheer kry en die Staat moet die fassiliteite daarstel. So kan die Staat die stelsel “beheer” terwyl die privaat en staats praktisyns die diens lewer aan die die betrokke pasient. Solank die Staat nie sy fassiliteite en kwaliteit verbeter nie en die behandeling wil beheer is ons gedoem tot chaos.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.