Die NWU en Afrikaans

hans-du-plessis-02

Hans du Plessis. Foto: Nwu.ac.za

Deur Hans du Plessis

Wanneer ʼn mens vandag oor taal in Suid-Afrika praat, mag dit nie ontaard in ʼn emosionele gesprek oor een enkele taal in isolasie nie. Die Grondwet dwing die gesprek in die rigting van ʼn taal tussen elf tale. Selfs die gesprek oor Afrikaans is ʼn gesprek oor dié taal wat met tien ander amptelike tale moet saamleef.

Aangesien die Noordwes-Universiteit (NWU) een van die laaste residensiële tersiêre instellings is waar ʼn student nog in Afrikaans kan studeer, is dit noodsaaklik om ernstig te besin oor hoe Afrikaans by hierdie inrigting hanteer moet word. In die lig van die taalbepalings van die Grondwet, moet ʼn mens in so ʼn gesprek aanvaar dat Afrikaans sy plek tussen ander tale sal moet inneem.

Of Afrikaans in ʼn meertalige omgewing kan oorleef, is nie ’n nuwe vraag nie. Sedert die begin van Afrikaans vier eeue gelede moes die taal tussen ander tale groei en oorleef – dit kon selfs naas ʼn wêreldtaal soos Engels presteer. Meertaligheid is daarom niks nuuts nie. Die vraag is egter of Afrikaans (en die ander inheemse tale) sedert 1994 die ongebreidelde politieke voortrekkery van Engels sal kan weerstaan, want meertaligheid word alte dikwels misbruik om van Engels die enigste taal te maak. Daarom is dit belangrik om te gesels oor die NWU se voorgestelde beleid van funksionele meertaligheid.

Die probleem is nie meertaligheid nie, maar die praktiese toepassing daarvan. In die debat oor taal in die onderwys, moet ʼn mens versigtig wees om nie die gesprek te laat ontaard in ʼn debat tussen openbare en privaat onderwys nie. Ek steun ʼn privaat universiteit, soos Akademia ten volle, maar terselfdertyd dink ek dit is ons plig om die ANC (en die Afrikaanssprekendes!) daarvan te oortuig dat Engels nie die enigste taal van intellek is nie, en dat die staat ‘n grondwetlike verantwoordelikheid het teenoor die ander tien tale – wat hulle self as amptelike tale aanvaar het.

Ons gesprek kan daarom nie net oor Afrikaans gaan nie. Dit is egter onvermydelik dat Afrikaans in die brandpunt van die debat te lande kom omdat Afrikaans, bevoorreg of nie, die enigste amptelike Suid-Afrikaanse taal is wat hoë funksies moet prysgee.

Al wat ek met hierdie gesprek wil probeer keer, is dat Afrikaans ‘n tweedeklastaal by die NWU word, en wat ek vra, is dat die student wat in Afrikaans wil studeer, dit aan die NWU moet kan doen, sonder vrees dat daar op ons moedertaal en sy mense gevloek en gespoeg word. En as ek van Afrikaans praat, bedoel ek daarmee die totale Afrikaanssprekende gemeenskap.

Die NWU se taalbeleid gaan iewers in Oktober raad toe. Daarom moet ons proaktief besin, want daar is tog by my ʼn tikkie kommer oor die universiteit se interpretasie van die beleid van funksionele meertaligheid. Funksionele meertaligheid impliseer dat meer tale op hoëfunksievlak gebruik moet word, sonder enige diglossie (wanneer ‘n spreker meer as een taal in sy omgewing hoor en dit dan die gebruik van sy moedertaal versteur).

Dit beteken dat Sesotho, Setswana, Afrikaans en Engels (in die NWU se geval) as gelyke onderrig-, administrasie- en vergaderingstale gebruik moet word. Sodra enige van dié vier van enige hoë funksie uitgesluit (of bevoordeel) word, is dit nie meer funksionele meertaligheid nie. Die huidige taalpraktyk aan die NWU weerspreek egter hierdie teorie, en dit wil vir my lyk of funksionele meertaligheid bloot as dekmantel vir die vestiging van Engels as verstektaal gebruik word.

Nou weet ek jy gaan vra hoekom ek daaroor durf praat. Maklik: sonder Afrikaanse tersiêre inrigtings, is daar geen sin meer in Afrikaanse hoërskole nie; sonder Afrikaans in sekondêre onderwys, is daar geen sin in primêre Afrikaanse onderwys nie; sonder Afrikaanse laerskole, is daar geen sin in preprimêre Afrikaans nie en sonder Afrikaanse onderwys, is daar geen sin meer in Afrikaans nie.

Laat ons dan proaktief oor die NWU se taalbeleid praat, want dit mag wees dat die NWU polities afgepers word om meertaligheid as verskoning vir Engelse eentaligheid te misbruik.

Ware funksionele meertaligheid is ʼn én-oplossing, want dit gaan nie om Afrikaans óf Engels op die NWU nie, maar om Afrikaans én Engels in ʼn meertalige opset. Dit is ook ʼn én-oplossing vir politici se ewige óf-probleem.

As Afrikaans nie die enigste taal van die NWU is nie, is Engels dit per definisie van funksionele meertaligheid net so min. Miskien kan ons die NWU se Langenhoven-spreuk vernuwe: “Die NWU, waar jy graadkry in jou ma se taal kan klaarkry!”

  • Hans du Plessis is ‘n bekende navorser, akademikus, digter, dramaturg, rubriekskrywer, romanskrywer en skrywer van jeugfiksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Engels het sy plek. Ek het in Afrikaans skool gegaan en was in ‘n Afrikaanse universiteit in my 20’s en nou is my universiteit Engels in my 30’s. Ek swot nou verder. Ek sukkel agv taal. Moedertaal onderrig moet bly en aangemoedig word.

Anel ·

Die NWU het reeds 2 ander kampusse wat in uitsluitlik Engels onderrig gee. Los die Potchkampus om in Afrikaan te onderig. Daar is in elke geval tolke.
En niemand, niemand verhoed die andertaliges om universiteite op te rig en in hul moedrtaal te leer nie.
Verder, gaan kyk maar, ons kinders wat in Afrikaans studeer het aan Afrikaanse instellings is baie gesog oorsee.
Afrikaans word nie net deur blankes gepraat nie en die ander rasgroepe wat wel in Afrikaans studeer doen in elke geval baie beter as hul engelssprekende rasgenote. Afrikaans is net ‘n soveel makliker taal om onder die knie te kry ad engels.
So, los NWU POTCH uit om in Afrikaans te onerrig waar kinders nog in ‘n veilige en rustig omgewing hulle self kan voorberei op hulle toekom. My tiekie in die armbeurs.

Fortis ·

Ek is jammer, Prof Du Plessis, maar jy sit die pot mis. Die onlangse geskiedenis van taalimperialisme aan Suid-Afrikaanse universiteite bewys onteenseglik dat die sogenaamde én-oplossing die dood in die pot is vir die taal wat saam met Engels moet funksioneer. Dié taal word onvermydelik uitgerangeer en ‘n eentalig-Engelse opset is die noodwendige gevolg. Die óf-oplossing is die enigste werkbare oplossing wat die oorlewing van Afrikaans aan die PUK (of dan NWU Potch) gaan verseker: dié universiteit moet óf vir uitsluitlik Afrikaans (vir alle Afrikaanssprekers) op dié kampus kies, of boedel oorgee en vir Engels kies. Beide tale kon nie saam bestaan by die UP, die US of die UV nie. Wat laat jou dink dat die PUK enigsins anders sal wees indien die én-opsie gevolg word?

Jerry ·

Hans elkeen moet doen wat hy kan doen vir Afrikaans en ek wens jou goeie intensies sterkte toe! Laat my egter toe om my opinie te spreek wat kan help om jou denkrigting proaktief te kan rig. Die vyande van Afrikaans gebruik NDR programme waarmee hulle die Afrikaner teiken in alle fasette en op alle terreine van die samelewing en waarvan Afrikaans as taal deel is daarvan. Selfs jy en die pos wat jy beklee is n teiken! Die NDR programme het dit ten doel om die onreg van die verlede reg te stel deur alles, en ek bedoel alles wat wit is, met swart te vervang en wit uit te sluit en wit belange of oor te neem en of te isoleer. As jy nou rondom jou kyk sal jy besef dit is besig om te gebeur. Jou bekommernis oor Afrikaans is dus n realiteit gegewe die aanslag teen ons taal. Die verlies aan Afrikaans by tersiere instellings en skole is egter n aanwins vir Afri-Forum en Solidariteit wat projekte loods vir Afrikaanse akademias, hoerskole en laerskole. Strategies het die ANC en EFF met hulle aanslag teen Afrikaans, heimlik in Solidariteit se hande ingespeel. Die vyande van die Afrikaner besef dit nog nie dat die Afrikaner hulle uitoorle en dat danksy hulle aanslag die toekoms van Afrikaans dus rooskleurig en veilig is by n Solidariteit wat elke dag groei en sterker staan. Die een se dood is die ander een se brood! Sterkte!

Leonard van der Dussen ·

Solidariteit het Akademia opgerig, maar waar is die projekte wat geloods word vir “hoërskole en laerskole”? Daar is ondersteuning van openbare skole en Afrikaanse onderwysers in die openbare skoolsektor, en advies hoe openbare skole moet probeer om gemeenskapbydraes los te hou van die openbare skool as entiteit omdat die staat begin beslag lê, maar oor die werklikheid van onafhanklike skole oprig is daar niks sigbaar nie. Al wat sedert die Augustus 2016 dringende konferensie gebeur het, is dat Solidariteit en kie en die SAOU stry gekry het.

OWO ·

Ek dink die skrywer se definisie van diglossie is foutief.Diglossie is ‘n vorm van tweetaligheid wat daarin bestaan dat daar twee vorms van dieselfde taal voorkom,een vir formele en een vir informele gebruik.Dit implisseer geensins dat ‘n spreker meer as een taal hoor en dit dan die gebruik van sy moedertaal versteur nie.Na mening kan dit wel in die praktyk gebeur.

Celtis Africana ·

Weereens met goeie bedoelings na die onderhandelingstafel, weereens gaan die een wat die meeste neem na die tafel( getalle in die geval), die uitkomste bepaal.
Die retoriek van die modus operandi daarvan is nou al welbekend.
Infiltreer.
Verkry getalle oorwig.
Protesteer met geweld.
Transformeer.
Afrikaniseer.
Ek is een met die sentiment van die artikelskrywer, dalk net meer van n realis oor die uitkoms.
Privaatinstellings is die enigste uitweg synde geen ander moontlikheid die afgelope kwarteeu onderhandel kon word nie.

Johan Neuteman ·

Mens wil nie onder mekaar baklei nie, maar dinge kan seker ook nie vooruitgaan as daar nie gedebatteer word nie: dis in daardie lig wat ek tog wil noem dat dit onwaarskynlik is dat mense bloot vir ‘n taal (in isolasie van iets anders) opofferings sal maak; daar is soos ek dit sien ‘n verwarring omdat in die vorige eeu die stryd vir en opbou van Afrikaans met die opkoms van Afrikanerwees geïntegreer was. Maar nou praat ons van ‘n stryd vir Afrikaans, maar probeer dit doen sonder om dit aan volksidentiteit te verbind. Ek dink nie dit gaan werk nie. Maar nou ja, die slim ouens wat die politieke wetenskappe studeer, verstaan seker beter wat hier aangaan as wat ‘n tegniese mens kan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.