Die NWU wil die taalbeleid van Potchefstroom-kampus verander

Dirk_Hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit. Argieffoto.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wat self ʼn oud-SR-voorsitter, raadslid en uittredende visepresident van die konvokasie van die Noordwes-Universiteit (NWU) is, het hierdie ope brief geskryf oor die konsultasieproses van die universiteit se taalbeleid.

Beste oud-Puk, ouer, voornemende ouer, student en almal vir wie Afrikaans belangrik is

Die Noordwes-Universiteit is besig om ʼn nuwe taalbeleid te ontwikkel. Op Vrydag 9 Maart 2018 het die universiteit aangekondig dat hy ʼn konsultasieproses gaan begin oor die nuwe beleid. Die nuwe beleid gaan reeds Junie 2018 aan die raad voorgelê word. Die tyd is dus min.

Niks is blykbaar nog finaal nie, maar ons het wel toegang gekry tot ʼn dokument wat deur prof. Robert Balfour, adjunkvisekanselier vir onderrig en leer, aan die bestuurskomitee van die NWU voorgelê is. Volgens hierdie dokument moet die universiteit se onderrigtaal, ook op die Potchefstroom-kampus, Engels wees. Die NWU het ook op 10 Maart ‘n dokument aan oud-studente gestuur met ‘n versoek om insette te gee. In die dokument kan gesien word dat die taalbeleid radikaal gaan verander. Die gevolge in praktyk is nie duidelik nie.

Ons moet in ons duisende nee sê. Ons moet die universiteit se konsultasieproses voor ʼn groot toets plaas: as tienduisende nee sê, gaan die universiteit steeds ja sê? Indien dit gebeur, kan die hele proses as irrasioneel bewys word. Dit kan die grootste Afrikaanse veldtog nog wees.

Die Afrikaanse gemeenskap moet ook besef dat ons in ʼn baie sterk posisie is om druk op die universiteit te plaas. ʼn Groot deel van die universiteit se inkomste, wat insluit studentegeld, skenkings en bemakings kom uit die Afrikaanse gemeenskap.

Die sprekers van Afrikaans moet die nodige selfvertroue kry om die laaste openbare plek waar Afrikaans nog primêr op tersiêre vlak onderrig word, te verdedig.

Ongelukkig is Engels net die voorwaarde vir transformasie; dit is nie die einde van transformasie nie, dit is die begin.

Die volgende wat geëis gaan word, is die dekolonialisering van die kurrikulum. Iets wat nog niemand weet wat dit behels nie. Ander kampusse wys die instrument om dit te eis is anargisme. Studentelewe gaan verdwyn, koshuise se name gaan verander en tradisies gaan sneuwel. Meer sentralisering kom. Die resep is al by ander universiteite getoets. Radikale transformasie gaan die kodewoord word.

Die waardes wat by so ’n gedekolonialiseerde universiteit oorgedra word waar laboratoriums en biblioteke brand as studente nie hul sin kry nie, is nie die waardes wat studente eendag in die wêreld daarbuite suksesvol sal maak nie.

Die voorstelle van Balfour plaas Afrikaans op die kampus in ʼn laaste loopgraaf – iets wat ʼn geveg verdien. Volgens die universiteit is sy voorstel nog net ʼn inset. Ons moet soveel moontlik druk uitoefen.

Die taalbeleid by die NWU is groter as die NWU. Dit gaan nou oor ʼn taal wat veg vir die oorlewing van sy akademiese funksie van hoë orde wat oor 100 jaar ontwikkel is. Dis te duur om net te laat gaan en niemand by die NWU het die reg om dit te vat nie.

In die lig daarvan gaan die Solidariteit Beweging die komende week met ʼn reuseveldtog begin om nee te sê vir Engels as primêre taal by die Potchefstroom-kampus van die NWU. Ons beplan om derduisende SMS’e, e-posse en WhatsApp-boodskappe aan oudstudente, studente en sprekers van Afrikaans te stuur om ʼn nee te mobiliseer. Groot veldtogte gaan ook op sosiale media gevoer en verskeie ander Afrikaanse organisasies betrek word.

Die uitkoms van die veldtog gaan ʼn inset vir die NWU se konsultasieproses wees. Kom ons gaan dus groot. Ons moet die konsultasieproses van die NWU met ʼn vloed tref.

Die Afrikaanse gemeenskap is moeg vir herhaaldelike beloftes wat verbreek word. Daar word altyd sousies van akkommodering van Afrikaans en mooi prosesse oor ʼn aggressiewe Engelse beleid gegooi. Tukkies, Maties en Kovsies het die Afrikaanse gemeenskap gestroop van enige naïwiteit. By die NWU moet ons net eenvoudig sê: nee.

  • Klik hier om jou stem by die mense te voeg wat nee sê vir ‘n Engelse PUK.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Neuteman

Geld die universiteitsbedryf in Engels by al die universiteite oor die land ook vir predikantsopleiding? Dan gaan ons mos in die kerk ook nou maar die Engelse pad opgaan? Wonder nou hieroor, wat Gereformeerde predikante soos di Fika J van Rensburg en Rikus Fick wat eintlik voltyds die Potch-kampus help bestuur, nou hiervan sê?

AP Hess

Baie beslis NEE
Ons buig genoeg om alle kostes betaal te kry om ordentlike onderig vir ons kind te kan gee. Sy kan nie alles he nie dus gun hulle AFRIKAANS Onderrig

Eish

Prysenswaardige veldtog wat elke Afrikaansprekende wat lief is vir sy taal en kultuur se ondersteuning verdien.
Verseker sal Solidariteit en Afriforum in die geskiedenis opgeteken word as die laaste bastionne wat vreedsaam, binne Westerse norme en die wet, alles in die styd gewerp het vir die behoud van die taal en kultuur en menswaardigheid van die blanke sprekers van die geliefde taal.
Tragies dat dit so n verlore stryd is…

A Dreyer

Puk het almal se “insette” oor die bestaande/nuwe pers kleur ook gevra(grootste klugspul!)…. en almal se keuse in elk geval gestoomroller!

Linda Kriel

Afrikaans het net soveel reg as enige ander taal. Waarom alles verander? Intimideer ons taal, Afrikaans, mense dan so vreeslik?