Die NWU wil die taalbeleid van Potchefstroom-kampus verander

Dirk_Hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit. Argieffoto.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wat self ʼn oud-SR-voorsitter, raadslid en uittredende visepresident van die konvokasie van die Noordwes-Universiteit (NWU) is, het hierdie ope brief geskryf oor die konsultasieproses van die universiteit se taalbeleid.

Beste oud-Puk, ouer, voornemende ouer, student en almal vir wie Afrikaans belangrik is

Die Noordwes-Universiteit is besig om ʼn nuwe taalbeleid te ontwikkel. Op Vrydag 9 Maart 2018 het die universiteit aangekondig dat hy ʼn konsultasieproses gaan begin oor die nuwe beleid. Die nuwe beleid gaan reeds Junie 2018 aan die raad voorgelê word. Die tyd is dus min.

Niks is blykbaar nog finaal nie, maar ons het wel toegang gekry tot ʼn dokument wat deur prof. Robert Balfour, adjunkvisekanselier vir onderrig en leer, aan die bestuurskomitee van die NWU voorgelê is. Volgens hierdie dokument moet die universiteit se onderrigtaal, ook op die Potchefstroom-kampus, Engels wees. Die NWU het ook op 10 Maart ‘n dokument aan oud-studente gestuur met ‘n versoek om insette te gee. In die dokument kan gesien word dat die taalbeleid radikaal gaan verander. Die gevolge in praktyk is nie duidelik nie.

Ons moet in ons duisende nee sê. Ons moet die universiteit se konsultasieproses voor ʼn groot toets plaas: as tienduisende nee sê, gaan die universiteit steeds ja sê? Indien dit gebeur, kan die hele proses as irrasioneel bewys word. Dit kan die grootste Afrikaanse veldtog nog wees.

Die Afrikaanse gemeenskap moet ook besef dat ons in ʼn baie sterk posisie is om druk op die universiteit te plaas. ʼn Groot deel van die universiteit se inkomste, wat insluit studentegeld, skenkings en bemakings kom uit die Afrikaanse gemeenskap.

Die sprekers van Afrikaans moet die nodige selfvertroue kry om die laaste openbare plek waar Afrikaans nog primêr op tersiêre vlak onderrig word, te verdedig.

Ongelukkig is Engels net die voorwaarde vir transformasie; dit is nie die einde van transformasie nie, dit is die begin.

Die volgende wat geëis gaan word, is die dekolonialisering van die kurrikulum. Iets wat nog niemand weet wat dit behels nie. Ander kampusse wys die instrument om dit te eis is anargisme. Studentelewe gaan verdwyn, koshuise se name gaan verander en tradisies gaan sneuwel. Meer sentralisering kom. Die resep is al by ander universiteite getoets. Radikale transformasie gaan die kodewoord word.

Die waardes wat by so ’n gedekolonialiseerde universiteit oorgedra word waar laboratoriums en biblioteke brand as studente nie hul sin kry nie, is nie die waardes wat studente eendag in die wêreld daarbuite suksesvol sal maak nie.

Die voorstelle van Balfour plaas Afrikaans op die kampus in ʼn laaste loopgraaf – iets wat ʼn geveg verdien. Volgens die universiteit is sy voorstel nog net ʼn inset. Ons moet soveel moontlik druk uitoefen.

Die taalbeleid by die NWU is groter as die NWU. Dit gaan nou oor ʼn taal wat veg vir die oorlewing van sy akademiese funksie van hoë orde wat oor 100 jaar ontwikkel is. Dis te duur om net te laat gaan en niemand by die NWU het die reg om dit te vat nie.

In die lig daarvan gaan die Solidariteit Beweging die komende week met ʼn reuseveldtog begin om nee te sê vir Engels as primêre taal by die Potchefstroom-kampus van die NWU. Ons beplan om derduisende SMS’e, e-posse en WhatsApp-boodskappe aan oudstudente, studente en sprekers van Afrikaans te stuur om ʼn nee te mobiliseer. Groot veldtogte gaan ook op sosiale media gevoer en verskeie ander Afrikaanse organisasies betrek word.

Die uitkoms van die veldtog gaan ʼn inset vir die NWU se konsultasieproses wees. Kom ons gaan dus groot. Ons moet die konsultasieproses van die NWU met ʼn vloed tref.

Die Afrikaanse gemeenskap is moeg vir herhaaldelike beloftes wat verbreek word. Daar word altyd sousies van akkommodering van Afrikaans en mooi prosesse oor ʼn aggressiewe Engelse beleid gegooi. Tukkies, Maties en Kovsies het die Afrikaanse gemeenskap gestroop van enige naïwiteit. By die NWU moet ons net eenvoudig sê: nee.

  • Klik hier om jou stem by die mense te voeg wat nee sê vir ‘n Engelse PUK.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Johan Neuteman ·

Geld die universiteitsbedryf in Engels by al die universiteite oor die land ook vir predikantsopleiding? Dan gaan ons mos in die kerk ook nou maar die Engelse pad opgaan? Wonder nou hieroor, wat Gereformeerde predikante soos di Fika J van Rensburg en Rikus Fick wat eintlik voltyds die Potch-kampus help bestuur, nou hiervan sê?

AP Hess ·

Baie beslis NEE
Ons buig genoeg om alle kostes betaal te kry om ordentlike onderig vir ons kind te kan gee. Sy kan nie alles he nie dus gun hulle AFRIKAANS Onderrig

Eish ·

Prysenswaardige veldtog wat elke Afrikaansprekende wat lief is vir sy taal en kultuur se ondersteuning verdien.
Verseker sal Solidariteit en Afriforum in die geskiedenis opgeteken word as die laaste bastionne wat vreedsaam, binne Westerse norme en die wet, alles in die styd gewerp het vir die behoud van die taal en kultuur en menswaardigheid van die blanke sprekers van die geliefde taal.
Tragies dat dit so n verlore stryd is…

A Dreyer ·

Puk het almal se “insette” oor die bestaande/nuwe pers kleur ook gevra(grootste klugspul!)…. en almal se keuse in elk geval gestoomroller!

naam ·

Hulle gaan dit eenvoudig net deurdruk. Hierdie plek kommunikeer nie met hulle onderdane (personeel) nie, as ons wil weet wat hier aangaan, lees ons maar wat staan in die koerant.

Ek is bevrees dis die begin van die einde.

Linda Kriel ·

Afrikaans het net soveel reg as enige ander taal. Waarom alles verander? Intimideer ons taal, Afrikaans, mense dan so vreeslik?

Rupert Ashford ·

Onttrek alle geld moontlik dadelik en maak die terugkeer daarvan onderhewig aan die uitkoms van hierdie proses laat hulle onmiddellik sien wat die gevolge is en dat mense ernstig is. Werk ook hard by Akademia en die ander plek (Aros?) intussen om die kapasiteit so gou as moontlik so groot as moontlik te kry.

Elaine Janse van Rensburg ·

Afrikaans was nog altyd die voertaal van
Pukke toe dit onder Geref Kerk tot stand gebring is so ook Tukkies, UOVS en Stellenbosch. . Engels was die taal wat behoort by Wits. Natal en natuulik al die kleiner Universiteite. Los Afrikaans uit op.kampusse. Bou Engelae Uni`s vir hulle wat kwansuis net Enfels wil praat.

Louis ·

Ja nee ek bly in die Vrystaat, net jammer toe dieselfde by ons gebeur het waar was julle almal, of het julle nou eers wakker geskrik. Maar julle kan op my stem staat maak

Yolande ·

NEE NEE en n duisend maal NEE !!!!! Ons woon in SuidAfrika. Afrikaans is die tradisionele taal van ons land. Dis ons grondwetlike REG om ons kinders in hul huistaal te laat onderrig. Afrikaanse onderrig is die behoud van NWU se sukses.

johann ·

Mediese studente wat in Kuba gan studeer moet Spaans aanleer voor hulle begin studeer so waarom kan hulle nie plaaslik Afrikaans aanleer voor hulle aan Afrikkanse universiteit studeer.?

Oom Harry ·

Is die Balfourkerel lid van die Gereformeerde Kerk? Het sy voorouers bydrae gelewer tot die stigting van die oorspronklike private PUK? Wat is sy verbintenis met die Afrikaanse gemeenskap. Hoe en wie het hom aangestel? Dit lyk na n tweede Jonathan Jansen-geval. Trojaanse perd of donkie?

Disselboom ·

Die Trojaanse perde sit van binne die GKSA met twee van hulle dominees in die senior poste in die Potch-kampus se bestuur. Proffies Fika J van Rensburg en Rikus Fick sal ‘n keer moet standpunt inneem of moet leer dat van ons hulle gaan begin noem wat hulle is om daar te sit en te help met afbreek van tradisies en die kampuskultuur, soos prof Fika onlangs mos weer gedoen het om sommer so aan ‘n paar Engelsprekende kermsakke toe te gee.

Karla ·

Nee. Almal, insluitende Afrikaans-sprekendes, het die reg om onderrig in Jip taal te ontvang. Daar is hope ander universiteite wat hul kursusse in Engels aanbied en die NWU Potch maak reeds voorsiening deur van tolke gebruik te maak. Ek glo dat dit ‘n beter opsie is om primêr Afrikaans te bly, net soos wat die ander Universiteite primêr Engels is.

Gadiamus Igitur ·

As Oud-PUK hett ek nog nie so dokument ontvang of onder oge gehad nie. Waar kan ek dit te siene kry vir kommentaar?

Verseker stuur ek nie my kind aanstaande jaar na Slim Wim se verloopte hans-kakie, kultureel-marxistiese Stellenbosch Sekonde^r toe nie, howel dit die naaste uni aan ons is. Ek soek ‘n Afrikaanse opvoeding vir my kind soos daar voorsiening gemaak word in die Grondwet en soos dit reeds aan die PUK bestaan.

Gerhard ·

Ek wens Afrikaans kan by Puk bly, maar die rasionele denker wat ek is glo daar is geen manier wat dit gestop kan word nie. Wat eerder moet gebeur as dat julle begin om Orania BAIE VINNIGER te laat groei.

Deon Koegelenberg ·

Gerhard ek dink jy is reg ons sal nog n paar plase moet bekom rondom Orania en bou huise kerke skole en alle ander geboue wat nodig is en regeer onsself

Gerhard ·

Kry meer mense wat reeds grond besit betrokke eerder as om dit alles te wil koop.

Gerhard ·

Ja, dit is waarom die tyd daarvoor ook opraak en daar veel groter as Orania gedink moet word

Annamarie Breytenbach ·

My oudste gaan volgende jaar universiteit toe. Alhoewel ek sou verkies dat hy in Afrikaans onderrig word, besef ek ook dat dit NIE tot sy voordeel strek. Die wereld is oorwegend Engels. Afrikaans, net soos Xhosa, Sotho, Zulu ens, beteken niks op internasionale vlak sou jou kind eendag oorsee gaan werk. Ek stem saam dat ons ons taal/kultuur moet behou, maar die beste plek om so te maak is tuis onder jou eie dak. Om op Afr aan te dring op tersiere vlak beteken slegs dat jou kind ‘n agterstand sal he vorentoe. NWU gaan en sal transformeer, of ons nou daarvan hou of nie. Sien dit eerder as ‘n geleentheid om voor te berei vir die wereld daarbuite.

Gerhard ·

‘n Kind wat ‘n agterstand het omdat hy nie in Engels studeer nie moet miskien eerder nooit by ‘n Universiteit toegelaat word nie. Ons het reeds genoeg onbekwame papegaai professionele daar buite.

Basson ·

Annermarie – stuur jou kind met liefde na ‘n Engelse instansie, moet egter nie namens die res van ons besluit wat is goed vir hulle nie.
(So by implikasie beweer jy dat al die persone wat in Afrikaans (of Frans, Duits ens) studeer het agter is? NS : My kinders is besig met hulle Kanadese burgerskap aansoek, raai wat tel baie in hulle guns – Frans!)

100% ·

Annamarie Breytenbach, jy kon dit nie beter gesê het nie. Ons as Afrikaners moet vooruitdink en ophou om vas te hou aan die verlede. Die tye verander, en ons moet aanpas.

rollie ·

Die kinders gaan nie in SA werk kry nie so dis beter dat hul in Engels studeer en oorsee gaan werk. Verbeter jou Engels so veel as wat jy kan, dis noodsaaklik.

Casper Labuschagne ·

Die effek daarvan dat as jy nie werk kan kry in Afrikaans nie moet jy verseker in Engels studeer en noodgedwonge in Engels moet matrikuleer, en daarom liefs heeltemal in Engels skoolgaan en daarom juis daarom die kritiese fondament lê deur na ‘n Engelse kleuterskool toe te gaan. En so word dit bewaarheid dat Afrikaans slegs ‘n taal sal wees wat die lede van ‘n gesin soms tuis sal praat.

Siek en sat ·

Bou julle eie universiteite dan kan julle daar maak en breek net soos julle wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.