Die onbesonge helde

helde

Foto: ArtCoreStudios/Pixabay.com

Deur Jeannette Gnade

Suid-Afrika se mense bewys die afgelope paar dae weer hoe ʼn held – in hierdie geval die afsterwe van ʼn sportheld – die nasie, ondanks sy veelsydigheid en verskille, kan verenig. Deur die Springbokvlag omhoog te hou, word die Suid-Afrikaanse vlag inderwaarheid trots omhoog gehou.

Huldeblyke van opregte waardering vir die oud-Springbokskrumskakel, Joost van der Westhuizen, het ingestroom van regeringsleiers, politici, sportlui én die man op straat. President Jacob Zuma en die minister van sport, Fikile Mbalula, het onder meer die rugbylegende se veggees op die veld én teen sy dodelike siekte bewonder en uitgelig.

Die dood is ʼn gelykmaker.  Dit onderskei nie tussen ras of klas nie.

Maar wanneer dit by die dood kom van mense wat vermoor word, kry die dood ʼn ander gedaante. Sou ʼn mens ʼn moordenaar kan vergewe as daar ware berou is? Hoeveel keer hoor ons nie van ʼn regter wat in sy uitspraak benadruk dat die skuldige of skuldiges geen berou toon nie. Of die grynsende gesigte van moordverdagtes wat ons op beeldmateriaal sien as hulle skuldig bevind word. Dan kry die dood weer ʼn angel.

Dit is goed om helde te vereer. Almal doen dit. Maar dit is net so goed – indien nie beter nie – om elke dag die duisende onbesonge helde te vereer. Die mense wat ander in nood te hulp snel. Die landbouers wat, ongeag die droogte, peste en plae, nog sorg vir die land se kostafel. Die regeringsleiers wat korrupsie veroordeel, die jongmense wat nie huiwer om ʼn bejaarde oor die straat te help nie. Studente wat tydens ʼn betoging ʼn vrou, wat in haar motor geïntimideer word, na veiligheid lei. Mense wat uit hul pad gaan om diere te red. Daar is duisende voorbeelde van heldhaftigheid in ons land en elders in die wêreld. Die helde en heldinne is dikwels naamloos en gesigloos, maar die warm gevoel wat hulle in harte nalaat, kan nie misken word nie.

Hoekom dan soveel gruwelmisdade in ons land?  Plaasaanvalle vind gelyktydig in twee of selfs drie provinsies plaas en stads- en dorpsaanvalle is net ʼn kortkop agter. Dit is gewoonlik weerlose inwoners wat geteiken word. Dit help nie om wetgewing teen haatspraak en haatmisdaad in te stel as daar reeds soveel haatmisdade plaasvind nie. Niemand vermoor iemand op die wreedste denkbare manier net om iets klein, of selfs niks, te steel nie. Die regering het te lank uitsprake gemaak wat gewetenlose mense aanmoedig om mede-landsburgers uit te wis.

Stel ʼn ander voorbeeld. Bring hulde aan die helde, die gewone man op straat en die talle mense wat liefdeswerk vanuit ʼn hartsoortuiging verrig. Besing die onbesonge helde.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Jeannette, ek sien niemand se iets nie. Dit bewys jou net reg. Mense wil net diegene bewonder wat met groot ooh’s en aah’s aangepys word, want hulle begeer dit ook vir hulself… die bewondering van die hele wereld. Elkeen wat elke dag doen wat sy/haar hand vind om te doen en dit op eerbare wyse doen, doen wat die Skepper van ons vra. Sy opinie van ons is die een wat tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.