Die onsigbare net oor Suid-Afrika

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die verkiesingsveldtog in Kaapstad. Foto: Henk Kruger/ANA

Deur Connie Mulder

Elke vyf jaar word daar in Suid-Afrika gestem. Daar word gestem om te besluit watter rigting Suid-Afrika se regering moet inslaan. So ook word diegene wat swak regeer, deur die verkiesing gestraf en word nuwe regeerders elke nou en dan verkies.

Dié verkiesing het in Desember 2017 tydens die ANC se Nasrec-konferensie plaasgevind. Suid-Afrika se beleid is, realisties gesproke, by die ANC se konferensie bepaal. Die onlangse verkiesing is eerder ʼn simptoom van ons demografiese demokrasie – met die resultate wat soos ʼn sensus eerder as ʼn verkiesingsuitslag lees.

Die feitlik uitsluitlik swart partye, soos die ANC, EFF en IVP het saam weer eens sowat 74% van die steun op hulle verenig – dit teenoor ʼn totale swart bevolking (bo 18) van sowat 77%. In ʼn homogene demokrasie is dit ondenkbaar dat ʼn regerende party wat twee maande voor die verkiesing gesukkel het om die land van krag te voorsien, feitlik strafloos daarvan afkom.

In Suid-Afrika was dit te verwagte.

Hierdie verkiesingsuitslae toon net weer dat beleid ʼn besonderse klein rol speel in hoe Suid-Afrikaanse kiesers stem. Dit is veel eerder identiteit, lojaliteit en persoonlikheid wat bepaal wie die staat se septer gaan swaai.

Beleid

Suid-Afrika se grootste beleidsuitdaging die afgelope twee jaar is onteiening sonder vergoeding. Indien die land ʼn rigting inslaan waar die regering as’t ware eiendom afneem sonder om daarvoor te betaal, is die gevolge ondenkbaar verreikend. ʼn Mens sou dus verwag dat dit ʼn beleidsrigting is wat in die verkiesing gestraf of beloon sou word.

Uiteindelik sien ons dat alhoewel drie uit vier geskrewe voorleggings negatief was oor onteiening sonder vergoeding, sewe uit tien setels in die parlement aan partye gegaan het wat onteiening sonder vergoeding steun. Alhoewel slegs 6% van Suid-Afrikaanse burgers volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) meen grondhervorming moet ʼn regeringsprioriteit wees, steun 69,75% van die partye in die parlement ʼn grondwetwysiging ten opsigte van onteiening sonder vergoeding.

Amper nege uit tien Suid-Afrikaanse burgers is gekant teen rasgebaseerde regstellende aksie volgens die SAIRV se 2018-peiling. Amper 90% van die Suid-Afrikaanse parlement se setels is ten gunste daarvan. ʼn Mens sou ʼn effense oorvleueling met beleid verwag as dit deurslaggewend in verkiesings was, maar so ʼn lynregte teenstelling beteken net een ding – Suid-Afrikaanse kiesers stem vir mense met wie hulle nie saamstem nie.

Identiteit

Die vraag is dan tereg: Wat motiveer mense om vir ʼn party te stem? Hierdie verkiesing toon dat identiteit ʼn belangrike rol speel, selfs in partye waar dit nie verwag word nie. Alhoewel Suid-Afrika volgens die regering in vier rasse verdeel is, is die werklike Suid-Afrika eerder ʼn land van elf of meer kulture. Hierdie onsigbare net oor Suid-Afrika help verduidelik waarom sekere partye op sekere plekke goed vaar.

Die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) is die toonbeeld van ʼn identiteitsparty. Meer as 90% van die party se steun kom uit KwaZulu-Natal. Dit is vir alle praktiese doeleindes ʼn Zoeloe-party. Oral waar die IVP goed gevaar het, beskik die streek oor ʼn oorverteenwoordiging van Zoeloe-sprekers.

So ook is die Vryheidsfront ʼn groot party in gebiede waar Afrikaners en Afrikaanse mense woon, maar is totaal afwesig in Natal se landelike dele. Dit dui op ʼn party wat ondersteun word omdat mense met die identiteit van die party vereenselwig eerder as met ander faktore.

Verrassend genoeg, is selfs die EFF nie onaangeraak deur die onsigbare net van kulturele identiteit wat oor Suid-Afrika gespan is nie. In 60 uit die 77 munisipaliteite waar die EFF beter as hul landwye gemiddeld gevaar het, is daar ʼn oorverteenwoordiging van Sesotho-, Setswana- of Pedi-sprekendes. Dit beteken dat 78% van die munisipaliteite waar die EFF goed gevaar het, realisties ʼn Sotho-taalstreek is. Julius Malema, die EFF-leier en verpersoonliking van die party, is van Limpopo afkomstig – en trots op sy Pedi-agtergrond.

Wat vir die ANC besonder kommerwekkend moet wees, is dat die EFF begin het om deurbrake te maak in streke wat tradisioneel Nguni was (die Oos-Kaap en Natal). Dit dui daarop dat die EFF dalk die meeste gebaat het by die ANC se onverpoosde pogings om ʼn rasse-identiteit in Suid-Afrika te vestig.

Lojaliteit

In ʼn normale demokrasie is daar mense wat uiters lojaal aan ʼn party bly, maar daar is ook ʼn redelike groot deel wat tussen partye wissel. Dit is hierdie vloeibaarheid wat regerings aanspreeklik hou. In die VSA wissel die regerende party redelik gereeld. Suid-Afrika het nou die ANC vir die sesde verkiesing agtereenvolgens teruggestuur parlement toe met meer as 55% se steun. Dit impliseer dat bykans ses uit tien mense vir die ANC gestem het.

Hierdie verskynsel dui op ʼn uiters lojale en onwrikbare kieserskorps met min of geen vloeibaarheid nie – en dit ten spyte van beurtkrag, staatskaping en Nkandla. Inteendeel, ʼn ANC-kieser wat kwaad is vir die ANC, bly eerder weg van die stembus af as wat hy vir ʼn ander party stem. Dit is trouens ook waar die ANC die meeste slae gekry het.

Die stempersentasie van ANC-stemdistrikte in metro’s soos Johannesburg, Pretoria, Ekurhuleni en Kaapstad is telkens onder dié van die groter metro. Hierdie tendens is meer prominent op die platteland waar sterk ANC-vestings soos die Oos-Kaap deur stempersentasies in die lae 60’s getref is.

Persoonlikheid

Suid-Afrikaanse partye word verpersoonlik deur ʼn leier. Die idee van kollektiewe leierskap is nie goed gevestig in Suid-Afrika nie, met ʼn leier wat jou in ʼn verkiesing kan maak of breek. In hierdie verkiesing het Cyril Ramaphosa die ANC gered.

Waar dit die beste neerslag gevind het, kan gesien word aan die feit dat die ANC nasionaal 645 000 meer stemme as provinsiaal gekry het. Die stemme is afkomstig van kiesers wat graag vir Cyril as president wil hê, maar nie noodwendig vir Ace as premier wil hê nie.

Die Suid-Afrikaanse politiek het ʼn lang geskiedenis oor alle kultuurgroepe heen waar partye om groot persoonlikhede wentel: PW Botha, HF Verwoerd, Nelson Mandela, Mangosuthu Buthelezi, Jacob Zuma, Patricia de Lille en dan nou Cyril Ramaphosa.

Wat het nie gebeur nie?

Al vier hierdie faktore, naamlik beleid, identiteit, persoonlikheid, en lojaliteit, speel saam ten einde vir ons ʼn verkiesingsuitslag te gee wat grotendeels te wagte was as jy al die faktore in ag neem.

Verskeie kommentators wat onkant betrap is met die DA se krimping en die VF+, IVP en EFF se groei, het teorieë gewaag. Daarom is dit belangrik om eers te kyk na wat nié gebeur het nie.

Die Demokratiese Alliansie het die rassenasionaliste afgeskud, maar darem onder die swart bevolking gegroei

Die DA het amper 460 000 stemme verloor. In ʼn land waar die regering letterlik nie die krag kan aanhou nie, waar nege uit 10 munisipaliteite korrup is, het die amptelike opposisie gekrimp.

Alhoewel daar groot gewag gemaak word van die DA wat kwansuis gegroei het onder die swart bevolking, soos wat hy minderheidsteun afskud, vertel die syfers ʼn ander storie.

In Johannesburg, Pretoria, Ekurhuleni en Kaapstad het die DA 8% of minder van die steun gekry in wyke wat die ANC gewen het. Wanneer daar meer spesifiek na Soweto, Mamelodi, Nyanga en Langa gekyk word, is die DA-steun konstant naby aan 5%. In Nyanga en Langa in Kaapstad waar die DA al 15 jaar lank regeer, is dit nader aan 3%. Hierdie dui nie op ʼn deurbraak na die swart bevolking nie.

Ook het die DA nie swakker gedoen weens lae stempersentasies nie. In Johannesburg, Pretoria, Ekurhuleni en Kaapstad is die wyke wat die DA gewen het se stempersentasie telkens hoër as die metro se gemiddeld, sommige plekke tot 10% hoër.

Die DA se tradisionele minderheidskiesers het dus opgedaag om te gaan stem, maar net vir ander partye gestem. Hierdie steun is nie ondervang met groei onder swart kiesers nie.

Ten minste het die middel gehou, meeste Suid-Afrikaners het nie na die rand toe beweeg nie

Hierdie is sekerlik fundamenteel waar. Die DA en ANC word saam deur agt uit 10 kiesers ondersteun. Tog maak die ANC ses van daardie agt kiesers uit, en het die ANC die afgelope 25 jaar ses van daardie 10 kiesers uitgemaak.

Die middel wat hou, is dus net die ANC wat meer as 50% steun kry.

Suid-Afrika is ʼn sosiaal-konserwatiewe land, soos wat die SAIRV se peiling jaarliks, asook die World Values Survey toon. Tog is die twee grootste partye beide liberaal, of dan aan die linkerkant van die spektrum. Dit impliseer dat die middel wat hou, nie op waardes of beleid gebaseer is nie, maar eerder net die demografiese werklikheid van Suid-Afrika weerspieël.

Proponente van dié siening voer aan dat die populiste ten minste nie die regering oorgeneem het nie. Dit is effe kortsigtig, want die wapenskandaal, die VIGS-pandemie, beurtkrag, die Marikana-slagting, Life Esidimeni, die Nkandla-skandaal, staatskaping, onteiening sonder vergoeding, en nog beurtkrag het alles gebeur met die “middel” wat gehou het. Die “middel” wat hou, bied min of geen verskansing teen radikale politieke beleid of korrupsie nie.

Wat het gebeur?

Vervolgens is die vraag dan: Wat het ná afloop van die verkiesing gebeur?

Streekspartye maar nie streekspolitici nie

Meeste partye het sterk steun in sekere streke en bitter min steun in ander streke. Hierdie dui daarop dat Suid-Afrika se verkiesingsuitslag in verskeie gebiede veel eerder soos dié van ʼn federasie lees.

Tog het ons nog verskeie politici wat veel eerder nasionaal ʼn rol wil speel as slegs streekgebonde wees.

Die GOOD-party van Patricia de Lille, byvoorbeeld, het 77% van sy steun uit die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap in tradisioneel bruin gebiede gekry. Dit beteken dat drie uit vier GOOD-kiesers realisties in die ou Kaapprovinsie woon. Tog het GOOD landwyd gestaan, met feitlik geen steun in Noordwes, Mpumalanga, Limpopo en die Vrystaat nie. As GOOD nie in die provinsies gestaan het nie, sou dit basies geen impak op hul uitslag gehad het nie.

Die IVP is die toonbeeld van ʼn streeksparty met ʼn leier wat graag ʼn nasionale rolspeler wil wees. Die IVP kon nie in ses van die nege provinsies staan nie, en sou eintlik geen verlies aan steun ervaar het nie.

Identiteitspolitiek

Die drie bestaande partye wat gegroei het (EFF, VF+, IVP), is almal op identiteit eerder as beleid geskoei. In Suid-Afrika is groepsidentiteit, hetsy kultureel of rasgebonde, steeds iets wat uiters belangrik is. Die feit dat kiesers hulself vereenselwig met partye wat hul groepsidentiteite versinnebeeld, dui daarop dat Suid-Afrika aan die federeer is op grond van identiteit.

In ʼn land so divers soos Suid-Afrika, is dit nie ʼn slegte ding dat groepe op politieke vlak verteenwoordig word nie. Daar bestaan weinig ander forums waar Suid-Afrikaanse burgers die vraagstuk oor groepsdinamika, veral op kultuurvlak kan hanteer.

Dit beteken ook dat Suid-Afrika se verkiesings nog vir die afsienbare toekoms meer soos sensusresultate gaan lees. Tog met die groei van die VF+ en die IVP kan dit ook soos ’n taal- of kultuurresultate lees, eerder as ʼn eenvoudige rassesensus.

Uiteindelik is dit ʼn ding wat vir Suid-Afrikaanse burgers hoop moet skep. Indien die politiek op slegs vier rasse geskoei gaan word, gaan dit weens die ongelyke magsbalans haas onmoontlik vir die meerderheid en minderhede wees om mekaar te vind. Geen party wat enigiets wil doen vir minderhede sal ooit kan regeer nie.

As ʼn land waar ons mekaar op kultuurvlak vind, kan ons ʼn ware gemeenskap van gemeenskappe word wat polities en op ander terreine saamwerk ten einde hierdie mooi land vir almal van ons te laat groei.

  • Connie Mulder is die hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Andreas ·

Wat egter die kern van Cyril se toespraak gister was, en wat sy rigtingaanwyser is oor wat hy die belangrikste ag, is dat hy gesê het dat hy ‘n president vir die hele Suid-Afrika sal wees en nie net die ANC nie.

Hy het by die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald aangesluit dat die land gebou moet word – maar gemaan dat die verlede ook reggestel moet word.

Ek sal graag die hele teks van dr Pieter Groenewald te lese wil kry waaruit Cyril dit aangehaal het, want ek kan my nie self indink dit is soos dr Pieter Groenewald homself uitgedruk het nie, ook nie ongekwalifiseerd nie, hy sou nooit daarmee saamgestem het met Cyril se weergawe dat wit mense die grond van swart mense afgevat het nie, as hy na grond verwys het.

Daar is twee maniere waarop Cyril die verlede wil “regstel”, die een is waarop hy hamer en wat hy met ‘n onwaarheid aan die wêreld verkondig dat wit mense het in die verlede die grond van swart mense afgevat, en dat hy daardie gaan regstel.

Dan is daar nog ‘n manier wat reeds vir jare in plek is en “help” om die verlede reg te stel en dit is om met BEE en kwotas te volhard.

Dit is nou hoe hy ‘n president vir die hele Suid-Afrika sal wees.

Hans Richardt ·

Ek dink dat Afrikaanse burgerlike organisasies ‘n sigbare net vorm oor die land, met geen voorgeskrewe politieke beleid, wat ‘n nuwe era inlei. Solidariteit en onderdele, het Afrikaanse beleid, sonder stamverwante beleid. Hierdie het onderskatte politieke inslag, wat reeds in afgelope verkiesing uitgekom het by stembus.

piet piet ·

Die presedent sê hy wil n presedent wees vir alle suid afrikaners, dan wil ek vra wanneer hy die diskriminerende wetgewing gaan skrap teen die minderhede oor die kleur van hulle vel.

Sanna ·

Ek bid dat almal more-oggend as pers mense met groen spikkels wakker word. Dan wil ek sien hoe Ramaphosa wettige diefstal (BEE etc) gaan regverdig. Hy draai maar net die hitte onder die stoof se plaat nog ‘n bietjie op.

Dries du Toit ·

Andreas,Piet Piet en Sanna. Dit is so wonderlik om te weet daar is nog intelligente mense soos julle wat duidelik besef dat Ramaphosa n gevaarlike strateeg is wat met sy sogenaamde versoenende uitsprake net besig is om daai padapot se hitte stadig opstel. Wat tragies is is dat hy so baie goeie Afrikaners gaan mislei . Mense wat die voorreg het om op groot platforms gemaklik artikels skryf om ander goeie mense te beinvloed soos Gerhard Papenfus

schaun ·

Ek is van min dinge seker in hierdie land maar dat ek nooit weer sal stem vir die DA daarvan is ek seker,ek gaan volgende keer my stem definitief vir die VF+ gee.

Andreas ·

Maar wat die rooi ligte baie erg moet laat begin flikker is die steun wat die EFF as rasgedryfde party al meer kry, en vinnig. Daar word bespiegel dat die EFF oor 5 jaar die amptelike opposiesie kan word. Julius maak geen geheim van sy renons in wit mense nie. Hy wat op konflik en rassepolarisasie floreer. My vraag is, neem ons kennis daarvan en het ons minderheidsgroepe, spesifiek die VF+ en die Afrikaner burgerlike organisasies planne op die tafel, ‘n strategie?

Andreas ·

Ons sien waar kry Julius steun vandaan, by watter kiesers, hoe hy studente aan universiteite bearbei, die platteland, dan is hy baie populisties en die kiesers hou van hoe hy hom uitdruk, vol charisma en bravade, hy het wat hulle betref ‘n wenresep en hulle vind aanklank, hy vul stadions. Wat ons wel weet en sien is dat Afriforum en die VF Plus het jeugorganisasies wat baie sigbaar is en hul kant bring, maar is dit genoeg? Hoe kan die Afrikanerjeug meer betrek word in die belang van hul toekoms?

Andreas ·

Daar is net een ding van Tutu se reënboog waarin die EFF belangstel, en dit is die goudpot aan die onderkant.

TTh ·

Meeste mense wat kan lees weet darem reeds van die werklikheid dat daar ‘n ‘net’ oor SA gespan is. Baie min mense besef dat die net ‘n vangnet is wat die meerderheid reeds vasgetrek het in die maalstroom na kommunisme (ANC, DA, EFF en nog ‘n paar kleintjies). Ramaposa en sy regime het die net uitgegooi en sleep die totale SA oor die afgrond met BEE, AA, Staatskaping en nou Ekonomiese Transformasie (wettige diefstal). Misdaad is normaal (swart op wit) en aanvaarbaar want die groot swart middelklas doen niks daaraan nie, wetteloosheid onder die meerderheid is ook OK, want wetstoepassing is totaal disfunksioneel. Ons het ingryping van ’buite’ nodig. Daar is geen leierskap opgewasse om die ooreenkoms ten opsigte van ‘n eie volkstaat (soewerein) af te dwing by die ANC regime nie – en dit verseker dat dit neusie verby is vir die Boerevolk of Afrikanervolk of Blank Afrikaanse goepering. Tyd sal leer…

Dirk ·

Ek stem saam met Connie se ontleding mbt identiteit wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir groei by die eff en VF. Daarmee saam sou ek kon byvoeg dat die eff se populistiese idees “son of the soil” en beloftes “jobs and land now” die grondlose, armstes van die armes, domste van die dommes en identiteitslose massas soos motte na n kersvlam toe aangetrek het en wat die getalle laat groei het. Die VF het wit en bruin kiesers getrek met populere idees soos “slaan terug” wat die belofte inhou van “geregtigheid” wat gaan seevier. Beide die eff en VF se idees weerspieel hulle kiesers se aspirasies en hoop, maar slegs een van die twee sal hulle belofte aan hulle kiesers gestand kan doen, omrede die aspirasies en hoop van die een is die bedreiging vir die ander een en daar kan uiteindelik net een wenner wees! Die volgende 5 jaar toon die belofte van seker die interresantse, maar ook deurslaggewendste 5 jaar in die geskiedenis van SA mbt verandering wat die doodskoot vir kolonialisme kan inlui indien die VF nie hulle belofte sal kan gestand doen nie!

Andreas ·

Die stang gaan deur Cyril en sy nuwe span met alle mag en nuwe ywer vasgebyt word. Mogoeng het met die inhuldiging van die LP’s hulle gemaan om korrupsie uit te roei, maar aan hulle gesê om nie die oog van die bal af te haal nie, daar is baie mense wat nog in armoede leef en die ongeregtighede van die verlede moet reggestel word. So hier kom nog baie treurmare vir ons in die land.

JohanL ·

‘n Baie intelligente stuk skrywe deur Mnr Mulder en plesier om iets te lees wat ‘n refleksie is van intelligensie eerder as die rasseretoriek van mense soos Malema.

Die realiteit is dat die land uitgelewer is aan nog 5 jaar van (onbevoegde) ANC en ‘n president wat “skynbaar wil optree” teen korrupsie – net tyd gaan leer of hy sy woord gaan gestand hou. Ek persoonlik is baie lugtig vir Mnr Ramaphosa.

Ek het pas ‘n boek gelees oor die korrupsie van FIFA en ook uiteindelik die korrupsie van die SA regering en hoe hulle dit in die openbaar ontken sonder om te blik of te bloos. Wat ons land se leiers kwytraak en wat hulle doen, is nie altyd dieselfde nie. En dit maak my baie bekommerd. Ramaphosa is te ontwykend by tye en sy steun vir “sy mense” is duidelik ook vir hom belangriker as wat die land nodig het. Weet nie of dit sy kaarte is wat hy gespeel het voor die verkiesing nie en nou ander kaarte gaan speel nie? Tyd sal leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.