Die Onteieningswet en die Christen

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Deur Bennie van Zyl (TLU SA)

Hierdie rubriek het oorspronklik op die APK se webwerf verskyn en word met die APK se vergunning op Maroela Media gepubliseer.

Die emosie rondom grond en besitreg in Suid-Afrika vier tans hoogty. Dit maak van die ANC-regering, wat politiek bankrot is, ʼn baie gevaarlike rolspeler in dié sin dat grond amper die enigste aspek is waarmee hulle die massas verder met beloftes, maar ook moontlik met die daad, kan tevrede hou. Pres. Jacob Zuma is op rekord dat hulle (die ANC) die land na sosialisme en kommunisme gaan neem. Die Onteieningswet behoort dus binne hierdie konteks beskou te word. Die vraag kan tereg gevra word of die grond net geneem gaan word soos in Zimbabwe. Baie jare gelede was ek teenwoordig toe ’n ANC-minister gesê het dat hulle nie soos Zimbabwe gaan maak nie – in Suid-Afrika gaan hulle dit met wetgewing doen! Met die Onteieningswet, maar ook ander wetgewing soos byvoorbeeld Esta en ander, is die tafel gedek daarvoor dat daar wel met wetgewing, hetsy geleidelik of vinnig, grond (of ander bates) onteien/ontneem kan word.

Daar moet dadelik gemeld word dat persone verskil oor die moontlike aanwending van die wet. Groot ruimte bestaan vir moontlike verskil in interpretasie. Die vraag is egter wie se siening uiteindelik sal geld?

Wetgewing moet ingevolge die bedoeling van die wetgewer beoordeel word en dan moet dit grondwetlik wees. In Artikel 25 van die Grondwet word daar onder meer genoem dat  eiendom onteien kan word vir die openbare belang of ’n openbare doel. Die Grondwet beskryf openbare belang onder meer as die nasie se verbintenis tot grondhervorming en ook om gelyke en billike toegang tot hulpbronne te bewerkstellig. Daar word voorts gemeld dat eiendom nie tot grond alleen beperk word nie.

Onteiening ter wille van openbare belang is wêreldwyd ʼn aanvaarbare praktyk. Dit word aangewend om byvoorbeeld infrastruktuur soos damme, kragstasies en paaie te bou.

Volgens die Grondwet behoort die volgende vyf aspekte in ag geneem te word by die prysvasstelling van grond/bates wat die regering wil onteien: Huidige gebruik, rede vir die onteiening, vorige subsidies ontvang, markwaarde en die geskiedenis van die grondbesit. Gereeld word dit van politieke platforms af verkondig dat wit mense die grond gesteel het met hul aankoms in Suid-Afrika. Indien dit dan wel gevestig word as die waarheid, sal die argument gevoer kan word dat daar nie vir gesteelde goed betaal word nie.

Daar word ook in die Grondwet voorsiening gemaak vir die ontneming van bates. Geen vergoeding is dan ter sprake nie. Twee sulke hulpbronne is reeds deur die regering ontneem, naamlik water en minerale regte. Die hoogste hof in die land het dan ook bevestig dat daar nie vir die minerale regte van burgers betaal moet word nie aangesien die staat dit net reguleer namens al die mense en nie vir hulself onteien het nie. Weer eens ontstaan die vraag of grond nie ook moontlik ontneem kan word in die openbare belang (soos die Grondwet magtig) om gelyke en billike toegang tot die hulpbron te bewerkstellig en die staat dit dan bloot reguleer namens al die inwoners nie?

Baie mense reken dat hierdie wet net op plase/grond van toepassing sal wees. Dit is ’n mistasting en ʼn mens moet besef dat alle bates hieronder hanteer kan word – selfs die yskas of kos in jou huis.

Dat onteiening nie slegs vir ’n openbare doel gedoen hoef te word nie, maar ook gedoen kan word waar dit in openbare belang is, is ook problematies. Die interpretering van wat in die openbare belang is, kan uiteenlopend wees. ’n Onverantwoordelike regering wat irrasioneel in sy optrede is, kan dit moontlik aanwend as politieke instrument om die voetvolk, na wie se stemme hy vry, ’n verdere rat voor die oë te draai.

’n Verantwoordelike regering se taak in ’n demokrasie is tweërlei van aard, naamlik om na die veiligheid van die inwoners om te sien en om ’n gunstige klimaat te skep wat beleggings bevorder en sodoende ekonomiese groei bevorder. Klaaglik faal die ANC-regering ten opsigte van albei.

As gevolg van die moontlike wanaanwending daarvan bring hierdie wet net te veel onsekerheid en is die volume geld wat tans die land uitstroom seker die hoogste ooit. Dit bring mee dat daar op geen wyse by die nodige ekonomiese groei uitgekom kan word nie.  Die kapasiteit wat benodig word om byvoorbeeld werkloosheid en armoede hok te slaan, word nie geskep nie en die land verval in ’n bose, negatiewe spiraal wat die slegte dinge net slegter maak.

Dit lyk inderdaad nie rooskleurig nie. As Christen is daar egter altyd ’n beter antwoord as dit wat die bose magte en die owerhede (Efesiërs 6:12) op ons probeer afdwing. Deur Christus is ons reeds oorwinnaars en kan ons daarom ons koppe optel en steeds ingevolge ons kultuuropdrag (Genesis 1:28 en Genesis 2:15) positief skep en bewaar. Die Christen-boer weet waar kom al die antwoorde vandaan en in tye van voorspoed en ook in tye van nood word daar gehandel as rentmeesters van die grond met ’n uitgangspunt dat die grond, soos alles anders in ons lewe, eintlik aan God behoort en dat ons dit net leen by ons nageslag wat ook weer rentmeesters moet wees.

Dit beteken allermins dat ons die spreekwoordelike “Gods water oor Gods akker”-benadering moet volg en maar wag en kyk wat gaan gebeur nie. Die huidige situasie verg van ons elkeen om juis die wapenrusting (Efesiërs 6:10-20) op te neem, want dit is al hoe ons staande kan bly. Omgord met hierdie wapenrusting en toegerus met ons Godgegewe gawes en talente behoort ons te woeker en planne te maak sodat God se koninkryk eerstens al meer hier op aarde gevestig word, ook in ons wetgewing. Dit bring die belofte mee dat Hy al die ander dinge wat ons nodig mag hê, vir ons sal byvoeg (Matteus 6:33).

Vandag is wysheid nodig om die regte keuse te kan maak voor al die uitdagings wat ons nou en ook in die toekoms gaan ervaar. Ons kragtigste wapen is gebed. Gebruik ons dit regtig nog in diepe nederigheid en afhanklikheid? Kom ons bid vir wysheid – dan sal die insig kom oor hoe en waar ons wel ons energie moet aanwend en die regte uitkoms sal ons dan beskore wees. Uiteindelik lê die toekoms nie in ons hande nie, maar dit lê beslis ook nie in die ANC-regering se hande nie!

Ons het vandag ’n keuse of ons die oog gaan hou op die ANC en of ons ons oog gaan rig op die lewende God wat beskik oor die lotgevalle van alle volke en nasies. Daarin lê ons toekoms ongeag watter wet of handeling ’n sekulêre regering ook al skep of aanvang.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Disselboom

Daar kan baie gepraat word oor grond en eiendom en wette en howe, maar helaas moet daar oor grond bereidheid wees om fisiek oorlog te voer, anders kan die skelm (regering) dit stuk-stuk net vat en uiteindelik het jy geen woonplek meer nie. Dit sê nie maak sommer oorlog in wanorde en op die eerste aanblik nie, maar as die bewustheid, voorbereiding en bereidheid tot fisieke oorlog nie daar is nie, gaan jy jou grond verloor.

Disselboom

Daar kan baie gepraat word oor grond en eiendom en wette en howe, maar helaas moet daar oor grond bereidheid wees om fisiek oorlog te voer, anders kan die skelm (regering) dit stuk-stuk net vat en uiteindelik het jy geen woonplek meer nie. Dit sê nie maak sommer oorlog in wanorde en op die eerste aanblik nie, maar as die bewustheid, voorbereiding en bereidheid tot fisieke oorlog nie daar is nie, gaan jy jou grond verloor.

Chris Lombard

Goeie stuk en mooi uiteengesit. Dit is egter belangrik om te erken dat die moraliteit wat in die Grondwet voorkom gebaseer is op die kommunistiese/sosialisties morele sisteem. Ongelukkig is daar baie “Christene”, beide hier en in die res van die wereld wat glo dat sosialitiese moraliteit baie dieselfde is as Christelike moraliteit. Dit is egter heeltemal verwyder van die waarheid. Die twee is geensins rekonsilieerbaar nie. Dit is ironies dat dit vandag die geval was, aangesien Karl Marx, wat sosialistiese denke gewild gemaak het, onder geen sulke illusies was nie. Hy het ander gelowe tereg as in kompetisie gesien met… Lees meer »

peanut

Net n vraag………………………….
het die tyd nie gekom vir die kommersiele boer om maar vrywilliglik die grootste deel van sy grond af te staan aan die regering, vir herdistribusie aan die landlose massa wat konsuis soooooo bitter graag wil boer, …………

Dan boer hy ‘vir eie gebruik’, hy weet ten minste al klaar hoe om dit korrek te doen. Stig n ko-op met familie en vriende buite die boerdery bedryf en verskaf op klein skaal aan hulle.

Op die manier het almal mos n eweredige kans om ‘vooruit’ te boer, en is almal ‘happy’ ……..

dan nie?

John

As mens kyk na die behoeftes van die ‘ander’ tov werksgeleenthede, studie aan skole en universiteite, dan speel ‘geleentheid’ geen rol nie, mag en begeerte wel. Poste is summier oorgevat, skole en universiteite is beset en witmense is uitgedruk. Hoekom sal die sg verontregtes skielik tevrede wees met ‘n stukkie grond in die vlei van boere se plase as hulle die woonhuise en landerye ens kan vat… alles pasella en met die seenwense en beskerming van hul party. Vergeet daarvan dat die ander ‘nice’ gaan wees. Zimbabwe gaan ‘n vulletjie wees teen ons. Gierigheid ken geen perke nie. Slim onderhandelinge… Lees meer »