Die ontwapening van slagoffers maak nie sin

Deur dr. Theo de Jager

Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. (Foto: Anja van der Merwe)

Min kwessies bied sterker bewyse van hoe ver die ANC van die werklikheid verwyderd is as minister Bheki Cele se pogings om selfverdediging as motivering vir die besit van ’n vuurwapen te skrap.

Sedert die ANC in 1994 aan bewind gekom het, word daar elke tweede dag gemiddeld een plaas aangeval en elke vyfde dag ʼn boer of ’n lid sy gesin, ’n gas of ’n plaaswerker vermoor. Wêreldwyd word boerdery in Suid-Afrika op grond van bevestigde data erken as die gevaarlikste beroep: Jou kanse om as onskuldige gemartel en om die lewe gebring te word, is groter as in enige huidige oorlog, wetstoepassing of terreurveldtog.

Soos wat die jongste plaasmoorde verlede week weer bevestig het, is die vermoë om terug te skiet deurslaggewend tot oorlewing in ’n plaasaanval. Elke navorsingsverslag, alle data en elke getuienis van slagoffers wat plaasaanvalle oorleef, onderstreep die belangrikheid dat boere en hul gesinne weerbaar moet wees, vuurwapens byderhand en gereed moet hê, en moet weet hoe om dit doeltreffend te gebruik. Cele se blatante pogings om boere te ontwapen, het geen wetenskaplike gronde nie, maar ontbloot eerder ’n duistere politieke agenda.

Die tragiese verhaal van plaasmoorde in Suid-Afrika begin trouens by die ANC self. Wyle Peter Mokaba, ’n leier van die ANC-jeugliga in die vroeë 1990’s en later adjunkminister in Nelson Mandela se kabinet, het die dreunsang “Kill the farmer, kill the Boer!” by massabyeenkomste van dié party gewild gemaak. Die ANC was sedertdien nog nooit bereid om die lied te veroordeel en homself daarvan te distansieer nie. Die ANC het doelbewus die gesindheid geskep waarin die verskriklike verskynsel van plaasmoorde ontvou.

Soos in die EFF se massa-optogte in Senekal ná die moord op die jong Brendan Horner in Oktober 2020, doen die SAPD absoluut niks teen aanstigters wat in die huidige plofbare geweldsituasie steeds graag “Kill the farmer, kill the Boer!” sing nie – ook nie aan duisende plasings op sosiale media wat die onmenslik wrede marteling en moorde verwelkom en selfs aanmoedig nie.

In die vroeë 2000’s het die ANC die kommandostelsel, wat die hoeksteen van die landelike veiligheidstelsel gevorm het, ontbind te midde van groot besorgdheid oor die kommerwekkende plaasaanvalstatistieke. Dit was aanvanklik gegrond op ’n leë belofte dat die funksies van die kommando’s deur ’n uitgebreide plattelandse reservistestelsel vervang sou word, maar daar het niks van gekom nie.

Die plan vir landelike veiligheid is meer as 15 jaar later steeds nie in werking gestel nie.

Amptelike data oor plaasaanvalle is vir baie jare dig gehou, maar deurslaggewende en betroubare monitering deur ’n aantal burgerlike organisasies het die regering se geheimhouding daarvan ongedaan gemaak. Ten spyte van wyd gepubliseerde plaasaanvalstatistieke, het pres. Cyril Ramaphosa steeds die verskynsel in 2018 by die VN in New York ontken.

Die SAPD weet dat hulle nie die mannekrag of vermoë het om die gruwelike plaasaanvalsyfers om te keer nie. Hulle erken self dat reaksietye in die afgeleë platteland ondoeltreffend stadig is. Boonop is die verlies aan vuurwapens uit polisiestasies – en deur SAPD-beamptes self – skrikwekkend hoog: ongeveer 2 200 per jaar oor die afgelope 12 jaar. Vir meer as 10 miljoen patrone kan die SAPD geen verantwoording doen nie. Volgens hul eie statistieke is daar niemand wat meer wapens en ammunisie in geweldsmisdadigers se hande laat beland as die SAPD self nie. Tog vind die redelose dryf na die ontwapening van boere onder die aanvoering van die minister van polisie plaas.

Verskeie burgerlike organisasies beveg op alle fronte die ANC se poging om geweldslagoffers weerloos te maak. Die parlement en howe is maar twee van die voor die hand liggende strydvelde, en sowel die konvensionele as sosiale media word oorval met protes teen Cele se pogings. Saai se veldtog in buitelandse media is deur 20 van die wêreld se grootste mediagroepe gedra, waaronder Sky News, CNN, BBC, The Washington Post en Deutsche Welle. Die ANC het die morele hoë grond in die kwessie verloor.

In Noord-Amerika en Europa word die lot van Suid-Afrikaanse boere onder drie hooftemas gedefinieer: 1) onteiening sonder vergoeding; 2) plaasmoorde; en 3) die redelose ontwapening van slagoffers. In die openbare diskoers word dié drie temas met mekaar in verband gebring – en die ANC het nie ’n goeie storie om te vertel nie.

Intussen moet boere oorleef en hul gesinne, werkers en plase veilig hou. Hulle moet hulself in plaaswagte organiseer om die mees basiese funksies van die staat – die beskerming van burgers – te vervang. Daarvoor moet hulle gewapen wees om hulself te kan verdedig. Wanneer daar geen alternatief vir die beskerming van jou huis, plaas en gesin is nie, is dit gevaarlik en onwys van die regering om met wettige vuurwapenlisensies te karring.

  • Dr. Theo de Jager is die direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO). 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Landbounuus, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek is nie baie bekommerd oor dit nie wat het die ANC ooit verander wat beter gewerk het as wat dit was nie,as ek moet besluit tussen my gesin en ‘n komunistiese wetsontwerp gaan ek binnekort as ‘n huidige benaadeelde krimineel wees.

Hendrik ·

Mens kan nie net die boere gebruik om vuurwapen as selfverdediging voor te hou nie. Daar is hordes gewone huisinbrake en moorde ook in woonbuurte gastehuise ens in SA. Hulle is presies in dieselfde bootjie as plaasboere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.