Die oorlog teen Afrikaans

Deur Chris Heese

Chris Heese (Foto: Verskaf)

Daar is daagliks meer mense wat besef dat die ANC ʼn bewuste, volgehoue, beplande strategie het om Afrikaans as Suid-Afrikaanse voertaal te vernietig. Hierdie bewussyn het nog nie by alle Afrikaners en Afrikaanssprekendes geregistreer nie. Die eerste vraag is, waarom nie?

ʼn Eienskap van dié strategie is dat die ontwikkelingsgang van die vernietigingsaksies dikwels gedryf is en steeds gedryf word deur mense wat in Afrikaans opgevoed is en waarvan sommige steeds aanspraak maak op ʼn Afrikaanse identiteit.

Die jagtog na Afrikaanse universiteite

Die aanslag teen Afrikaans het bykans dadelik na die ANC-oorname begin. Daar was voortekens. Die eerste ingreep was op die universiteitswese. Die ANC het vooraf beplan om ʼn aanvullende bestuursmeganisme, die sogenaamde Inrigtingsforum by al die universiteite te vestig. Hulle enigste noemenswaardige funksies was in verband met voertaal. Ek en destydse hoofdirekteur van tersiêre onderwys in die departement van onderwys en kultuur van die administrasie volksraad, het die US besoek om die destydse rektor hierteen te waarsku. Hy het ons afgelag en verduidelik dat ons nie die toestande op sy kampus ken nie.

stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch.

Kort daarna is die eerste mosie in die US-senaat deur ʼn prof. ingestel wat Engels as voertaal aangemoedig het. Hy het destyds vertel dat die aanslag ooreenkomstig die Algerynse model sou plaasvind. Dié is gebruik om Frans na onafhanklikheid as voertaal deur Arabies te laat vervang. Die strategie was glo geskoei op Fanon se teorieë. Of dit toe wél aangewend is, weet ek nie. Wat hier gebeur het, was ʼn volgehoue propaganda aanslag wat steeds voortduur, en ʼn stelselmatige aanslag op alles Afrikaans.

ʼn Verdere element van die oorlog teen Afrikaans is so oud soos die mensdom. Alle Suid-Afrikaanse kulture het ʼn jagtradisie. Almal weet dat as jy ʼn bok keelafsny, die brein doodgaan en jy hom dan rustig kan eet. Van dag-een af was dit ʼn kerndeel van die ANC se werkswyse. Sny die taal keelaf. Teiken sy akademiese inrigtings. Die universiteite was dadelik onder skoot. Die brein moes dood.

Of die rektore van Afrikaanse universiteite, soos die bankbestuurders Luthuli Huis toe ontbied is om hulle inrigtings te verengels, weet ek nie, maar as hierdie werkswyse met die bankbestuurders gebruik is, kan ʼn mens maar aanvaar daar sou soortgelyke inisiatiewe vir die universiteite wees. Waar die bankbestuurders geweier het om die ANC se instruksies uit te voer, wil dit lyk of die rektore heel gemaklik ingeval het. Binne jare was die RAU, UP, UOVS en verskeie technikons Engelstalige inrigtings, grondwetlike verskansings ten spyt. Die Potchefstroom-kampus is ʼn noemenswaardige uitsondering en op die US-kampus het dit ʼn paar jaar geduur.

Al die frase gehoor: ons sal Afrikaans uitbou in ʼn veeltalige omgewing? Propaganda verkondig deur wie? Sogenaamde Afrikaners. Die gevolg? Afrikaans op Stellenbosch is op sterwe na dood. Soos ons  onlangs “gesaghebbend” verneem het, is Afrikaans vandag nie meer ʼn “issue” op die kampus nie. Die Engelse hegemonie is voltrek.

Die jagtog na Afrikaanse skole

Die jag was nie net op universiteite nie. Dit was op skole net so fel. In 1993 was daar in die groter Durban gebied sewe Afrikaanse hoërskole. Vandag is daar een. Hierdie storie word op plek na plek herhaal.

Skole is natuurlik sterk beïnvloed deur die propaganda dat ʼn ouer juis sy of haar plig doen as die leerling na ʼn Engelse skool gestuur word. Die mite is versprei dat Engelstalige skoling ons jeug beter sou voorberei vir ʼn Engelstalige werksmilieu – oorvloedige getuienis dat Afrikaanse skole hierdie taak self met onderskeiding regkry, ten spyt. Afrikaners uit Afrikaanse skole het immers met groot sukses in ʼn veelheid van dissiplines wêreldwyd presteer.

Nadat die universiteite grootliks verengels het, het van die gevestigde skole so ver gegaan om hulle leerlinge in die wetenskappe ook die Engelse vakterminologie te leer. Hierdie gebruik is nie wyd bekendgestel nie en die teendeel is wyd geglo. Afrikaanse ouers het met oorgawe migreer na Engelstalige skole.

Propaganda? Ja, maar ook beleid. Almal weet van mnr. Lesufi se stappe in Gauteng. Benewens druk op Afrikaanse skole om ook anderstaliges op te neem, is daar jaarliks by een of ander Afrikaanse skool ʼn rasserelletjie wat in ʼn mediasirkus ontaard om aan te toon hoe Afrikaanse skole onderriggeleenthede van ander skoliere weerhou. Die nuwe onderwyswetgewing? Wat is dié se oogmerke?

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi. (Foto: Mia Slabbert)

Die politieke druk om nie nuwe Afrikaanse onderwysfasiliteite te skep nie, het na berigte, nou daarvoor gesorg dat Curro nie meer Afrikaanse skole stig nie. Afrikaans moet dood. Dus ook in dié skole.

Myns insiens is die enigste manier om hierdie gemors te keer, ʼn hofsaak oor die grondwetlikheid van die wetgewing. Die toekoms sal leer of die Zondo-hof ʼn juridies korrekte uitspraak gaan lewer. Of regter Zondo se hof opgewasse sal wees om die uitdaging die hoof te bied, sal ons in die volgende maande leer.

ANC-beleid is natuurlik nie beperk tot die onderwys nie. Ek noem nog een onlangse voorbeeld en elke leser kan self ʼn ellelange aanvullende lys maak. Die onlangse wysigings aan RSG se programrooster is tipies. Knou indringende debat. Sny die kop keelaf. Laat die brein doodbloei.

Vraag is, hoe het ons hier beland?

Leierskap om Afrikaanse belange te bevorder

Die redaktrise van Rapport skryf in ʼn onlangse koerant dat die oormatige gebruik van sosiale media ons koppe plat maak. Dit is so. Algemene kennisvlakke verskraal, komplekse debatte word deur baie vermy en dié gebeure speel in op die nasionale vlak van denke. Dis vandag nie vreemd om te hoor dat mense nie die nuus volg nie omdat dit gewoon bykans deurgaans onaangenaam is.

Daar is egter ʼn aanvullende gegewe wat aandag verg. Leierskap. Ek en my vrou het destyds al gesprekke aangemoedig om ʼn soort algemene leierskorps te vestig.

Was dit nodig? In die vorige bedeling was Afrikaners ingebed in sterk strukture wat elk in ʼn bepaalde rigting leierskap gegee het. Die versugting om finaal van die Britse juk bevry te word en die drang na kulturele voortbestaan was in die hande van die Nasionale Party. Die geesteslewe is gerig deur die drie susterkerke. Die Nasionale Pers het gesorg dat die breë publiek ingelig is en het van tyd tot tyd breë etiese sake aangeroer. Die AB het gesorg dat Afrikaanse organisasies gekoördineerd optree.

Na die oorgang het dinge gou en drasties verander. Die AB het grootliks ontbind en die restant het nog nie ʼn openbare standplaas verwerf nie. Die Nasionale Party het nooit ʼn beleid ontwikkel wat in die nuwe bedeling werklik sin gemaak het nie. Die kerke het inwaarts gekeer en dit lyk soms of hulle meer belang stel om te bepaal hoeveel metaforiese engele op ʼn speld se kop kan staan as om Afrikaners te lei om ʼn missie te ontwikkel om die Nuwe Testament se liefdesgebod na te volg om diensbaar te wees vir alle Suid-Afrikaners. Naspers het verword tot ʼn internasionale IT-maatskappy.

Die Solidariteit Beweging het sy 120ste bestaansjaar gevier. (Foto: Reint Dykema)

Die mantra was dat dit nie aanvaarbaar sou wees om steeds Afrikaanse belange voorop te stel nie. Ander organisasies het voortbestaan en steeds hulle missies binne die moontlike ruimtes ten beste uitgevoer. Hulle was egter nie een by magte om oorhoofse beskermheer van die Afrikaanse kultuur te wees nie. Een organisasie het ontstaan uit die Afrikaanse vakbondwese. Solidariteit moes eers uit die blokke kom om sy ledebelange te dien en die nodige dienste-organisasies te vestig.

Dinge het egter verander:

  • Solidariteit word vandag slegs deur akademiese en media randfigure gesien as ʼn ultra-regse organisasie. Sy breë diensveld het daarvoor gesorg.
  • Die ANC is nou getipeer as ʼn Mafia. Totaal ongeskik om te regeer.
  • Verskeie ander partye is betrokke by koalisies wat in bepaalde gevalle begin om wél dienste op munisipale vlak te lewer.
  • Die VF+ is besig om geloofwaardigheid te wen. Afrikaanse steun alleen sal hom nooit ʼn kragtige politieke stem gee nie. Die demografie is teen hom.
  • Gemeenskappe self is besig om intern te omvorm om dienste te lewer.

ʼn Geïdentifiseerde en sterk leierskorps is nodig om die Afrikaanse kultuur ʼn permanente staanplek te gee. Laat alle organisasies wat hierdie doel ondersteun, ʼn afgevaardigde stuur na ʼn stigtingsvergadering.

Die tyd is nou.

  • Chris Heese is ‘n onderwysbestuurkenner, voormalige skoolhoof, voormalige voorsitter van die destydse Natalse Onderwysersunie en voormalige ondervoorsitter van die destydse Federale Raad van Onderwysverenigings van Suid-Afrika. Chris is nou afgetree en woon in Stilbaai.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Conrad ·

So word die spyker op die kop geslaan! Ware woorde wat hier gespreek word, mag ons as volk saam kom en voortbou aan ‘n toekoms vir Afrikaners en die Afrikaanse taal ten bate van ons nasate. Ek ondersteun graag die bewegings wat só bankvas agter ons Afrikaners staan, doen jy mede leser van Maroela? Dankie vir die skryfstuk, selfs uit oom se aftrede.

Groen Ghoen ·

Puik gestel, dankie! Dit is die slinkse tegniek van misleiding wat President Paddakoker volg, sowel as al sy laakbare volgelinge in Afrikaner geledere. Die verwoesting is groot. Al oplossing om die eie te behou is Selfdoen en Selfbou.

Republikein in die Wes Kaap ·

Op mikrovlak is dit moontlik, selfs maklik. Maar die uitdaging is om jouself op makrovlak te laat geld. Kanse is goed dat verdere wette en regulasies Afrikaners magteloos gaan laat.

Republikein in die Wes Kaap ·

Chris, jy raak ‘n sensitiewe saak. Sake vir Afrikaners lyk sleg, en dit gaan erger word. Kyk maar rond wat gebeur in ons burgerlike samelewing. Dit is nou tyd om nuwe horisonne te toets. Dit behoort die belangrikste item te wees op die agendas van burgerregte- en belangegroepe wat Afrikaners se belange op die hart dra. Begin om gewone Afrikaners se menings in te samel, lede én nie-lede, want dit raak almal. Feit is, om net te kla oor SEB, regstellende aksie en uitfasering van Afrikaans gaan nie help nie. “Span praatjies” en motiveringsprekers gaan ook nie help nie. Ons is op ons eie. Ons het nie vriende nie. Ek vertrou die leierkorpse neem kennis van jou skrywe.

Treurwilger ·

Skitterende artikel!

Jammer om te moet sê, maar Afrikaanssprekendes was/is onder die grootste bydraers tot die kreeftegang/ondergang van Afrikaans sedert 1994, met Naspers en akademici by die voorheen Afrikaanse universiteite dié grootste.
Naspers, as spreekbuis vir Afrikaanssprekendes en Afrikaners, het anderpad gekyk tot dit te laat was.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat my bekommer is dat daar nie ‘n nuwe geslag sterk Afrikaner leiers na vore kom met planne wat op die groot verhoog geplaas word kan nie. My afleiding is dat hul mentors doelbewus uitgehaal is.

Braam ·

‘n Dame vra nou die dag indien haar kinders nog ‘n taal moet aanleer, watter taal sal die beste wees? Verskeie voorstelle het ingekom, soos Zulu, Frans, Russies ens. Die beste vir my was die persoon wat gesê het ‘leer hulle eers om behoorlik Afrikaans praat”.

Nommer 7 ·

Stem. Afrikaanse matrieks behoort sonder uitsondering ‘n onderskeiding in Afrikaans Eerste Taal te kry. Dit gebeur nie. Oor die algemeen kan min Afrikaans sprekendes hulself behoorlik in hul eie moedertaal uitdruk.

annie ·

Nadat Brittanje eeue gelede die Kaap oorgeneem het, is enigiets buiten die Engelse taal, kultuur en bestuur, aangeval en uitgewerk. Afrikaners is beswadder in die buiteland en by swart volke. Die Afrikaanse Sestigers het gedink dit is oulik om hul mede-Afrikaners te beswadder as agterlik en was vreeslik verlig/liberaal asof dit op hoër intelligensie dui. Dié verhewe selfverontskuldiging duur tot vandag. Die US-rektor se huistaal is Engels en sy raadsvoorsitter is Engels en uiters belig. Wat kan mens dan verwag: Die US-leierskap is noodwendig classy-verhewe bo die ‘agterlike’ plebs die sg Boerevolk.

kaplyn ·

My kommentaar hierbo by die nuwe Taalraad voorsitter is verwyder. Maar die skrywer van die berig, Chris Heese, slaan die spyker op die kop. Ek sê weer ‘n keer dit is oor al die versoenery dat ons taal se stand in die land so agteruit gegaan het. Ons het ook ten opsigte van Geloftedag versoen. Baie ouers gebruik die versoenings veskoning om hulle kinders in engels te laat skool gaan. Predikante in die 3 suster kerke wil ook net versoen. Die rektore van die voormalige Afrikaanse Universiteite wil net versoen. Die Taalraad se nuwe voorsitter wil nou ook versoen! Maar versoen wil almal versoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.