Die oorlog teen die Grondwet

Deur Jani Allan

Joe Biden (Foto: AP Photo/Matt Rourke)

Was dit toevallig dat Joe Biden sy oorwinningstoespraak juis op 7 November aan ’n klomp Amerikaners in ’n parkeerterrein in Delaware gelewer het? Kom ons kyk… Die dag waarop die Bolsjewiek Party die stad Petrograd (vandag bekend as St. Petersburg) beset het, was 7 November 1917.

Saterdag 7 November het die Associated Press die nuus dat Joe Biden as die 46ste president van Amerika gekies is, die wêreld ingestuur. Tog, dis mos nie die gebruik dat sommer enige paneel of nuusagentskap besluit wie die president van die VSA is nie?

Ek het op daardie oomblik saam met vriende aandete geniet. Ons het deur talle TV-kanale geblaai met die hoop om feitelike verslae te hoor, nie reklame nie.

Al die nuusaanbieders – almal op die dieselfde manier – het dieselfde te sê gehad: Joe Biden. ’n Grondverskuiwende uitslag. Meer stemme as ooit in enige verkiesing. Die Agenda was reeds opgestel…

Die verslane ou man wat by ’n motorparkeerplek opgedaag het en clichés aan ’n klomp mense geskree het, gaan nou die leier van die vrye wêreld wees. Regtig?

Dit was ’n tipiese 9/11-oomblik, daardie gevoel wat jy kry wanneer jy met ongeloof na iets kyk terwyl jy dink: Dit. Is. Nie. Waar. Nie.

Newsmax het ingespring en die situasie probeer red toe hulle besluit het om eerder ’n dokumentêr oor Elvis te wys.

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Die diep korrupte ou man was besig om nog meer clichés kwyt te raak oor hoe hy die land weer gesond gaan kry. Ja, Joe Biden, so charismaties soos ’n bak vol ou vet, saam met sy gesin en sy seun Hunter, wat tans deur Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) ondersoek word weens aanklagte wat die veiligheid van sy land in gevaar stel…

Almal is seker nie daarvan bewus dat die Biden-kartel groot profyt uit Amerika gemaak het nie. Baie patriotte sal die woorde van Samuel Adams kan onthou wat veral op hierdie onbeskaamde familie van toepassing is: “Crouch down and lick the hands which feed you. May your chains set lightly upon you, and may posterity forget that you were our countrymen.” – Samuel Adams

Soos nog nooit tevore nie, word die waarheid nou aangeval. ’n Newel van bedrog lê oor die hele wêreld – wanneer mense nie die waarheid lief het nie, begin hulle onwaarhede glo.

Ons bevind ons midde-in ’n oorlog wat deur tiranniese miljard dollar-tegnomaatskappye gefinansier word. Dis hulle wat besluit wat ons kan sien en hoor en weet. O, en nog iets: Jack Goldsmith,  prokureur en regsprofessor aan die Harvard-Universiteit, en Andrew Keane Woods, regsprofessor aan die Arizona-Universiteit, het onlangs ’n artikel in The Atlantic geplaas en verklaar: “So verrassend soos dit mag klink, digitale monitering en spraakkontrole in die VSA toon reeds baie ooreenkomste met dit wat jy in outoritêre state soos China sal vind”.

Alhoewel Facebook en Twitter privaat maatskappye is, moedig regeringsamptenare hulle aan om voort te gaan om Republikeinse politici en konserwatiewe standpunte te sensureer. Big Tech (die grootste en mees dominante inligtingstegnologie-industrie) sensureer eenvoudig alle stories wat Joe Biden kritiseer.’n Ondersoek deur die Media Research Center het bevind dat Facebook en Twitter Donald Trump en sy veldtog 65 keer sedert Mei 2018 gesensureer het, terwyl Biden nie een keer deurgeloop het nie.

Donald Trump, president van die VSA. (Foto: Alex Brandon/AP)

Corinne Weaver en Alec Schemmel skryf die volgende: “Twitter was tot dusver verreweg die grootste belediger deur Trump se tweets en dié van sy veldtog 64 keer (sic) sedert sy verkiesing te etiketteer, feite te kontroleer en selfs van sy veldtogblad te verwyder.” Kan jy glo, Twitter sensureer die president! Satire het nou die plek van die werklikheid ingeneem… George Orwell sou sekerlik nie hierdie kon versin nie.

Die Amerikaanse burgers blyk nie eens daarvan bewus te wees dat hulle reeds hul vryheid van spraak verloor het nie. Tog, hulle behoort mos bewus te wees van die ineenstorting van die regsorde wat rampspoedige gevolge kan hê?

Big Tech en die hoofstroommedia verbied of blokkeer ook verwysings na enige opstande en plunderings. Daarby word die grootte van die skare wat Trump se veldtogte bywoon, ook nooit gewys nie. Gaan kyk gerus hoe lyk dit werklik op die YouTube-kanaal RSBC.

’n Ineenstorting van die regsorde kan baie skade aan ’n nasie aanrig. Daar is baie nasies in die wêreld waar daar doodeenvoudig nie wet en orde toegepas word nie. Die gevolg? Misdaad, korrupsie, omkopery, boewery en wetteloosheid is algemeen, net soos die lae lewensomstandighede wat hul soos ’n skadu volg. Dus, as Amerika die wette waarop dit tot stand gekom het, oorboord gooi, sal hierdie ons toekoms wees.

Dit lyk ook nie of Joe Biden hom veel bekommer dat die struktuur van die samelewing aan die ontrafel is nie.

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Intussen gaan die linkses se haat ongesensureer voort. Kathy Griffen plaas ’n foto van die onthoofde kop van president Trump en ’n Antifa-bende wat maak asof hul ’n rou hart, wat veronderstel is om dié van president Trump te wees, eet. Asof daar feesgevier word.

Terug na die uitslae: Enigeen wat die verkiesingsuitslae bevraagteken, word flink op alle sosiale media geblokkeer.

Terwyl Joe Biden verklaar, “Ons is nie vyande nie, ons is Amerikaners,” is sy Demokratiese makkers besig om ’n lys van Trump-ondersteuners op te stel met die doel om hulle “ordentlik te straf”.

Geen Trump-“psigopaat” sal ongestraf bly nie. Gegewe die besete venyn van die linkervleuel is dit nie moeilik om te sien dat hulle graag swartlyste en goelags (strafkampe) op die been wil bring nie. Die antiwet-ideologie wat tans besig is om Amerika te deurtrek, wek in werklikheid vyandigheid teenoor die Grondwet, wat die grondslag van die land is. En Big Tech se sensuur – om hom bo die Grondwet te stel – is ‘n aanduiding van ‘n algehele miskenning en minagting van die stigterslede. Morale karakterloosheid is mos maar ’n kenmerk van die linkervleuel.

Onthou, Trump het sy land nie in 2016 verdeel nie – hy het eenvoudig gewen. Dit was die politieke verkramptheid, narsisme en die seksisme van liberale vroue wat hierdie land verdeel het.

President George Washington het in sy eerste inwydingsrede gesê: “Die grondslag van ons nasionale beleid sal gelê word in die suiwer en onveranderlike beginsels van private moraliteit”. En in sy befaamde afskeidsrede het hy gesê: “Van al die gesindhede en gewoontes wat tot politieke welvaart lei, bied godsdiens en moraliteit onontbeerlike steun”.Die rede vir die verwerping van Amerika se grondwetlike regsorde is so monumentaal, dat dit ‘n vorm van die verwerping van God is. Jy hoef net te kyk na die verbranding van Bybels of die godslasterlike dreunsang te hoor, om te besef dat daar ‘n sataniese gees in die land is.

’n Gees van wetteloosheid trek tans deur Amerika.

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Hierdie haat teen Amerika se bestaande regsorde is nie net ‘n emosionele reaksie onder anargistiese oproermakers nie. Dit is ook ‘n sterk ideologie wat die gemoedere van verslaggewers, vermaaklikheidsterre, opvoeders, skoolkinders, werkers en selfs toplede van die regering oortuig het. Die gevaar dat Amerikaners die Grondwet verwerp, is nie bloot omdat hulle nie met die spesifieke klousules daarvan saamstem nie. Die gevaar is dat hulle die konsep van ‘n grondwet van die land verwerp – ‘n wet wat almal instem om na te kom en om slegs volgens dié wet te verander as dit moet. Eenvoudig gestel: Hulle verwerp die regsorde. “Die geskiedenis toon dat ryke vernietig word as hulle nie die oppergesag van die wet, oftewel die regsorde, daarstel nie.” Terwyl die stigters die land op Bybelse moraliteit gevestig het, is hierdie groeiende beweging amoreel en anti-godsdienstig. Dit is ook anti-geskiedenis, anti-tradisie, anti-outoriteit en anti-wet.

John Adams het eens die stelling gemaak: “Ons Grondwet is slegs vir ‘n morele en godsdienstige volk gemaak. Dit is heeltemal onvoldoende vir die regering van enige ander volk. Vir die eerste keer sedert die Burgeroorlog is Amerika se bestaan ​​as funksionerende republiek op die spel.”

Ek veronderstel dat ‘n mens na die blink kant kan kyk: ons kan die pragtige verhaal van die kort tydjie in die Amerikaanse geskiedenis aan ons kinders en kleinkinders vertel van die tyd toe ‘n Amerikaanse president sy beloftes nagekom het, hoop geskep het, die gewone mens sukses laat behaal het, ons lewens beskerm het, en die nasie en mense se belange gedien het in plaas van sy eie en dié van die spesiale belangegroepe.

Ag, watter optimistiese tyd was dit nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Cheryl ·

Jani uitstekende artikel en dis vir ‘n slag die volle waarheid. Adriaan Basson van news24 faam: neem asb kennis. Hierdie artikel is waaroor ondersoekende joernalisme gaan. Nie die valse narratief wat die medianiete skryf nie. En niemand stel belang in emosionele beriggewing nie maar feitelike gefundeerde nuus.

Bees Boer ·

Mens kan net hoop dat die uitslag dalk anders gaan wees as hulle klaar die stemme oor getel het. Daar is nog ‘n klein kans…

Leana ·

Jani puik artikel en baie interresant. Ek sien vir hulle dieselfde vooruitsig as wat ons tans in die oë staar met ‘n korrupte regering.

Sokrates ·

Jani Allan, wat n verfrissende blik op die groter en onderliggende betekenis van gebeure in die VSA. Hoofstroom joernalistiek is deesdae merendeels deel van die leuenagtige manipulering van politieke agendas, en lank nie meer eerlik ondersoekend en bevraagtekenend nie. Geensins meer geskakeerd en ewewigtig nie. Jy was nog altyd iemand wat vreesloos verby die uiterlike van n persoon of van gebeure na n dieper kyk kon dring, nie omkoopbaar deur enige gegewe establishment nie, nie bloot polities-korrek gedrewe nie…….dankie vir n artikel met veel stof tot nadenke

Marianna ·

Jani, jy slaan die spyker op die kop. Dis net so jammer regdenkende mense oral oor die wereld sien nie hierdie waarheid nie.

Human ·

Daar is ‘n geween en ‘n gekners van tande, maar die koeël is deur die kerk “check die scoreboard”.

annie ·

… die koeèl is deur die kerk… So Christelike waardes is daarmee heen? Geween en gekners van tande…. ons is nou in die hel… Is dit wat die VSA te wagte is? En mense sien daarna uit? Geloof… hoop… liefde. Hoop word omarm deur geloof en liefde. Dit is wat hoop is. Biden & kie teiken die siel van Amerika. Wat is kosbaarder as ‘n mens se siel?

Human ·

As Trump jou
verwagting is van geloof, hoop en liefde gaan die hoop jou beskaam want Trump het nie ‘n idee van wat dit beteken nie. Trump sit op sy eie troontjie en hy soek net volgelinge wat hom aanbid en bewonder terwyl hy sy wandade pleeg.

Jack ·

Watter wandade? Daar was al talle pogings om Trump van allerhande wandade aan te kla maar nog nie een daarvan kon in die hof bewys word nie. Trump se groot misdade is dat hy ‘n kapitalis is wat sy eie land en mense eerste stel, hy hang christelike waardes aan en glo in persoonlike veratnwoordeliheid – alles dinge wat vir die sosialiste/kommuniste/anarchiste vloekwoorde is.

Human ·

Sy eie land en mense eerste stel? Soos met die virus wat nou buite beheer is en volgens Trump ” it’s going to dissapear like magic”. Daar is klaar ‘n tronksel met sy naam op, net ‘n kwessie van tyd, dan gaan hy ‘n rede hê om tantrums te gooi, want sy gatgabbas wag vir hom daar.

Jan ·

Ag man, jy het duidelik die liberale cool-aid gedrink en jy is te onnosel om dit te besef. Kom ons vat nou die virus, as ‘n voorbeeld van jou onvermoeë om logies te dink en instede soos ‘n verlore lammetjie agter die linkse waninligting aan te draf, siestog.

Gelukkig is Trompie se intelligensie vêr bo jou verlepte breintjie verhef, en besef hy die virus kan nie vermy word nie, maak nie saak hoe lank jy in vrees en bewing agter maskertjies en die soort van goed probeer wegkruip nie, die virus gaan jou een of ander tyd kry.

Die enigste oplossing is om so gou as moontlik inentings en medisynes te ontwikkel, en daarin het Trompie geseëvier, deur fondse, inspirasie, en motivering aan die medisyne ontwikkelaars te verskaf en onnodige regulasies te verslap.

Intussentyd het Joe Biden in sy kelder weggekruip en met sy verlepte toitjie gespeel. En sy oplossing is net die teenoorgestelde en ondoeltreffend want die arme man is nie die skerpste mes in die laai nie. Ag siestog!

Human ·

Die een waar jy en Trump ‘n rooi kaart gekry het vir vuilspel.

maria ·

As ons net die Amerika na Suid Afrika verander en die heersende party se name verander, word daar beslis van ons Suid Afrika gepraat.

Sarel ·

Wetend of onwetend Amerikaners is besig om Amerika te vernietig

Jan ·

Jani, dit is die mees insiggewende artikel or die VSA situatie wat ek ooit gelees het. Groot asseblief, plaas ook ‘n Engelse weergawe in The Epoch Times. Die Amerikaners het dringend ‘n wakkermaak boodskap nodig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.