Die oorlogswond raak ʼn letsel in Oekraïne en hele Europa

Oekraïense lugafweerkanonniers van die 93ste Afsonderlike Gemeganiseerde Brigade Kholodny Yar beweeg na hul posisie in die Bakhmut-rigting in die Donetsk-streek, te midde van die Russiese inval in die Oekraïne, op 20 Februarie 2024. (Foto: Anatolii STEPANOV / AFP)

Twee jaar nadat die Russiese weermag Oekraïne binnegeval het, is die oorlogswond besig om ʼn reuse-letsel te word, met die risiko van ontsteking wat tot verdere siekte en verdriet kan lei, nie net in Oekraïne nie, maar in Europa, die Midde-Ooste en eintlik die hele wêreld.

Terwyl niemand meer kan of wil waag om te voorspel wanneer en hoe die oorlog tot ʼn einde sal kom nie, is dit wel duidelik dat die gevolge van die oorlog permanent is. Die skade aan onder andere die psige, ekonomie en infrastruktuur van groot dele van Oekraïne is reusagtig, maar selfs groter as dit is die skade aan verhoudings in Europa, tussen Europa en Rusland, en uiteindelik talle indirekte uitkringsituasies wat sedertdien ontstaan het en wat harde, nuwe globale verdelingslyne teweeg gebring het.

Verlede Saterdag se aankondiging deur Oekraïne se weermag dat hulle uit Avdiivka, ʼn strategies belangrike dorp in die Donbas, onttrek het, bevestig vrese oor Rusland se huidige voorsprong op die slagveld en is soos sout in die wonde van ʼn vuisvoos Oekraïense bevolking, en in die besonder die miljoene burgers van die oostelike Donbas wat nou reeds twee jaar lank met die gevolge van ʼn oorlog moet saamleef – insluitende toenemende sterftes van soldate en burgerlikes, vernietiging van infrastruktuur, ekonomiese induiestorting en totale onsekerheid oor die toekoms.

Dit is duidelik dat sentiment in die Donbas, die res van Oekraïne maar ook die Weste, veral in die VSA, toeneem dat ʼn onderhandelde skikking gevind moet word om ʼn einde aan die oorlog te bring. Oekraïne beskik nie oor die vermoë om self in sy behoefte na wapens te voorsien nie. Terwyl Europa nie oor die kapasiteit beskik om genoeg wapens vir Oekraïne te vervaardig nie, raak die Amerikaners, veral Republikeine in die Kongres, al hoe meer skepties oor die voortdurende koste van die oorlog.

Plaaslike inwoners stap verby ‘n woonstelgebou wat vernietig is deur ‘n Russiese missielaanval in die dorp Selydove, Donetsk-streek, te midde van die Russiese inval in die Oekraïne op 16 Februarie 2024. (Foto: Anatolii STEPANOV / AFP)

Die weermag in Oekraïne het ook reeds ʼn tekort aan soldate met duisende soldate wat dood is en nog meer wat ernstig beseer is. Verder het die oorlog die land se ekonomie met byna 50% laat krimp, wat tot reusewerksverliese, armoede en ekonomiese probleme gelei het. Oekraïne se staatsfinansies verkeer in ʼn krisis, terwyl die lugruim bo die land reeds twee jaar lank gesluit is en Rusland steeds uitvoere deur die Swartsee blokkeer.

Miljoene Oekraïners het die afgelope twee jaar na veral Wes-Europa gevlug of bloot verhuis, en terwyl hulle in lande soos Duitsland, Pole, Switserland, Oostenryk, Nederland en Swede in ʼn groot vraag na arbeid voorsien, neem die kanse met tyd af dat hulle selfs nadat die oorlog verby is, weer na Oekraïne sal terugkeer. Demografies is Oekraïne dus ook deur die oorlog ʼn groot nekslag toegedien – een wat in ʼn post-oorlogtydperk tot groot uitdagings kan lei.

Dit is duidelik dat die oorlog ʼn reuse-impak op die psige van die Oekraïense volk het, en dat hoewel daar steeds groot eensgesindheid in Oekraïne is, mense se vrese oor die toekoms van hulle land eerder toeneem as afneem. Terwyl baie Oekraïners ʼn jaar gelede positief was oor hulle land se kanse om verlore grondgebied terug te neem, het dit intussen in harde realisme en gevolglik ʼn somberheid ontwikkel.

Hoe die oorlog Europa verander het

Vir baie Europese burgers en leiers was die blote idee van oorlog op die Europese vasteland ʼn skokkende gebeurtenis – iets wat die meeste Europeërs gedink het nie maklik weer sal gebeur nie. Die groter gewaarwording waartoe Europeërs egter sedert die uitbreek van die oorlog gekom het, is hulle eie lande se onvermoë om in die toekoms hulself te verdedig.

Van die eens groot en magtige weermagte van Europa is daar vandag baie min oor. Brittanje en Frankryk het, ten spyte van groot militêre begrotingsbesnoeiings soos in die hele Europa, tesame met Italië steeds redelik moderne en goed opgeleide weermagte. Brittanje en Frankryk beskik ook oor kernwapens. Of enige van hierdie lande hulself egter in ʼn groot oorlog sal kan verdedig, moet betwyfel word. Die res van Europa sal hulself eenvoudig nie kan verdedig nie. In Duitsland is dit algemeen bekend dat dié land ʼn volledige militêre heropbou nodig het. Dieselfde geld vir Spanje, Nederland, België en die meeste ander Europese lande.

Die nasionale vlae van lidlande buite Navo se hoofkantoor in Brussel (3 April 2023) (Foto: Kenzo Tribouillard/AFP)

Maandag het politici van regoor Europa en die VSA by Navo se hoofkantoor in Brussel vergader. Finland se onlangse toetrede tot Navo, en Swede wat ook binnekort as lidland aanvaar sal word, is ʼn belangrike uitbreiding van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), ʼn defensiewe organisasie waarvan die nut nog enkele jare gelede deur leiers soos Donald Trump en Emmanuel Macron bevraagteken is.

Die oorlog in Oekraïne het egter nuwe energie en fokus by Navo tot gevolg gehad. Finland, met sy grens van meer as 1 200 km met Rusland, is een van die lande wat die beste voorbereid is vir oorlog in Europa. Finland beskik oor die grootste artillerievermoë in Wes-Europa, en met 83% van die Finse bevolking wat gewillig is om in ʼn oorlog te veg indien Finland aangeval sou word, het die land verreweg die hoogste koers van verdedigingsgewilligheid in Europa. Finne is ook beter as die res van Europa se burgers opgelei om wapens te hanteer.

Tydens Maandag se byeenkoms by Navo in Brussel was die belangrikste twee besprekingspunte hoe Navo-lidlande hulle militêre besteding vinnig kan verhoog en hoe Navo-lidlande vinniger meer wapens aan Oekraïne kan verskaf. Terwyl slegs enkele Navo-lidlande voor die oorlog die vereiste 2% van hul bruto binnelandse produk (BBP) aan verdediging bestee het, sal dit teen die einde van die jaar tot tweederdes van alle Navo-lidlande styg. Hoewel militêre besteding in Duitsland voor die oorlog tot 1,5% van die BBP gekrimp het, sal dit vanjaar nog tot 2% styg.

Die Russiese minister van verdediging, Sergei Shoigu vergader met militêre amptenare in Moskou. Moskou het Pole en Finland daarvan beskuldig dat hulle sy veiligheid op 9 Augustus 2023 bedreig het en het ‘n reaksie belowe op die vermenigvuldiging van “bedreigings” op Rusland se westelike grens van NAVO-lede. (Foto: Russiese Verdedigingsministerie / AFP)

In Desember 2023 het die Duitse regering vir die eerste keer in twaalf jaar ʼn nuwe militêre strategiedokument gepubliseer met ʼn baie meer robuuste benadering tot nasionale verdediging. Dieselfde tendens is besig om in nog Europese lande af te speel.

Die Duitse president, Frank-Walter Steinmeier, het selfs in 2022 aan Duitsers om verskoning gevra vir die naïwiteit van die Duitse regering om op grond van reuse-energieaankope uit Rusland te dink dat Poetin só gekoöpteer kon word. Wat die oorlog in Oekraïne dus in Wes-Europa losgemaak het, is ʼn nuwe besef van die noodsaak vir eie verdedigingsgereedheid en ʼn baie meer realistiese posisie oor die verhouding tussen Wes-Europa en Rusland.

Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump, wat ook ʼn goeie kans staan om vanjaar weer as president verkies te word, se druk op Europese lande het ook hier ʼn groot rol gespeel. Sy onlangse uitspraak oor wat hy van Navo-lidlande dink wat nie die ooreengekome 2% minimum van hul BBP aan verdediging bestee nie, het skokgolwe deur die gevestigde politieke orde in die VSA en Europa gestuur. Maandag in Brussel was Trump se woorde op almal se lippe, en die gevolg is ʼn nuwe besef dat Europa vir sy eie verdediging verantwoordelik behoort te wees.

Die vraag oor die toekoms van Oekraïne is egter ook een waarmee Europeërs toenemend worstel. (Foto: Aris Messinis/AFP)

Die oorlog in Oekraïne het ook oor die korttermyn ernstige ekonomiese uitdagings in Europa veroorsaak, veral in Duitsland waar energiekoste tot inflasie en groot uitdagings met globale mededingendheid gelei het. Duitsland en Brittanje is tans in resessies, en talle ander Europese lande verwag ook om vanjaar in resessies te beland, deels weens die skok van hoë energiekoste nadat gas- en olie-invoere uit Rusland die afgelope twee jaar grootliks tot ʼn einde gekom het.

Die vraag oor die toekoms van Oekraïne is egter ook een waarmee Europeërs toenemend worstel. Die beloftes deur die Europese Unie en Navo dat Oekraïne ná die oorlog deel van die EU en Navo kan word, is belangrik, maar kan ook beteken dat die stryd tussen Europa en Rusland oor die langtermyn in ʼn Koue Oorlog met wesenlike veiligheidsrisiko’s kan ontwikkel.

Die gevolge van die oorlog vir Rusland

Rusland het die afgelope twee jaar dramaties verander. So onlangs soos 2014 met die aanbied van die Winter Olimpiese Spele in Sochi, Rusland, was Westerse leiers nog oortuig dat Poetin met sagte mag Rusland se posisie as globale mag wou bevestig. Die meeste lande en leiers was waarskynlik gemaklik daarmee.

In die dekade sedertdien het Rusland egter deur die anneksasie van die Krim-skiereiland, sy steun aan separatiste-groepe in die Donbas, sy steun aan Bashar al-Assad in Sirië en sy noue bande met Iran en China duidelik bewys dat Rusland nie net op sagte mag gaan staatmaak om as wêreldmag respek af te dwing nie. Uiteindelik is dit duidelik dat Poetin se besluit om oorlog in Oekraïne te verklaar, juis deel is van hierdie langer fase van die post-Koue Oorlog waarin Poetin deur ʼn nuwe soort nasionalisme Rusland se globale rol met geweld en mag wou afdwing.

Die afgelope twee jaar is nuwe geskiedenisboeke in skole versprei. Poetin se weergawe van die geskiedenis en Oekraïne se rol as deel van Rusland se geskiedenis is totaal herskryf. Kritiese denke, kritiek op die regering en die oop gesprek het die afgelope twee jaar tot ʼn einde gekom. Geen teenspraak word meer in Rusland geduld nie.

Alexei Navalny. (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Die dood van Aleksei Navalny verlede week was ook die simboliese einde van politieke teenspraak en opposisie in Poetin se Rusland. Hoewel Poetin vanjaar reeds 24 jaar die de facto regeerder van Rusland is, het hy veral die afgelope 10 jaar, en in ʼn uiters versnelde tempo die afgelope twee jaar, op enige politieke en kulturele opposisie en teenspraak begin toeslaan.

Poetin se kombinasie van Russiese nasionalisme en veiligheidswaarborge gekoppel aan ʼn hernude nasionale vrees vir die Westerse vyand wat Rusland se soewereiniteit wil bedreig, asook tradisionele waardes waarmee die Ortodokse Kerk sterk deur Poetin ingebind is, het Rusland weer toenemend na binne laat kyk. Rusland is enersyds deur Westerse sanksies, maar andersyds ook deur eie isolasie weer ʼn land wat homself grootliks van sy historiese Westerse invloede afgesny het.

Terwyl die Russiese ekonomie in ʼn oorlogsekonomie omskep is en die onttrekking van Westerse maatskappye en die oordrag van Westerse eiendom- en sakebelange aan Russiese oligarge tot tydelike nuwe rykdom gelei het, is daar min rede om te glo dat die Russiese ekonomie oor die medium termyn kan aanhou groei.

‘n Advertensiebord bevorder kontrakweermagdiens in Sint Petersburg. Dié bord lees: “Om Rusland te dien is ‘n regte werk”. (Foto: Olga MALTSEVA / AFP)

Rusland se ekonomie het verlede jaar vinniger as al die ekonomieë van die G7-lande gegroei, en dit gaan waarskynlik vanjaar weer gebeur. Dit is egter hoofsaaklik weens die reusebesteding aan die oorlog in Oekraïne, met byna een-derde van die Russiese regering se begroting wat vanjaar aan die oorlog bestee sal word. Dit is onmoontlik vir Rusland om vir lank hiermee vol te hou.

Verlede jaar was Rusland se inkomste uit energie-uitvoere, veral olie en gas, R8,8 triljoen roebels. Dit is sowat 25% minder as in 2022. Terwyl baie uitvoere na Wes-Europa met uitvoere na Asiatiese lande vervang is, maak dit nie op vir die volledige verlies nie. Met ʼn goeie kans dat die globale ekonomie vanjaar stadiger gaan groei, kan dalende energiepryse ook nuwe uitdagings vir Rusland skep.

ʼn Verlies aan toegang tot moderne tegnologie, die emigrasie van honderde duisende Russe wat oor spesialisvaardighede beskik, ʼn lae bevolkingsaanwas en oordrewe ekonomiese afhanklikheid van hulpbronuitvoere kan in die toekoms tot stagnasie lei. Senior regeringsleiers in Moskou waarsku self reeds maande lank hieroor.

Volgende maand se verkiesing in Rusland is niks meer as ʼn skynverkiesing nie. Die twee kandidate wat kritiek teen Poetin uitgespreek het en wat hulself in die verkiesing beskikbaar gestel het, is albei gediskwalifiseer. Die twee kandidate wat wél teen Poetin staan, is glad nie krities teenoor Poetin nie en kan eerder, vreemd genoeg, as ondersteuners van hom beskryf word. Verwag dus ʼn reuse-oorwinning vir Poetin.

Stembriewe wat in die 2024 Russiese presidensiële verkiesing gebruik gaan word. Die verkiesing sal oor ‘n tydperk van drie dae van 15 tot 17 Maart gehou word. (Foto: Vladimir NIKOLAYEV / AFP )

Poetin gebruik die afgelope paar jaar toenemend tradisionele Christelike waardes as ʼn wapen teen die Weste. Terwyl die verval van waardes in die Weste bekend is, is Poetin se selektiewe moraliteitsmodel ook twyfelagtig. Die feit dat daar vir elke 1 000 geboortes in Rusland ook 314 aborsies plaasvind, vergeleke met 188 aborsies vir elke 1 000 geboortes in die Europese Unie-lande, moet ʼn mens laat vra: Is Poetin eerlik in sy aanname dat Rusland die groot beskermer van tradisionele Christelike waardes is? Of gebruik Poetin bloot tradisies, geloof en waardes om die kerk in Rusland te koöpteer in sy poging om Rusland duidelik van die sataniese (in sy eie woorde) Weste te onderskei?

Volgens ʼn onlangse peiling is 30% van Russe bang om hulle eie opinie oor die oorlog in Oekraïne uit te spreek. Waar jy nog enkele jare gelede groot betogings in Rusland gesien het, en daar selfs onafhanklike media was, is daar vandag geen ruimte meer oor vir enige kritiek teen die Poetin-regime nie. Poetin het met groot sukses ʼn meerderheid van Russe oortuig van die patriotiese noodsaak om Rusland ten alle koste teen die beweerde Westerse bedreiging van Russiese soewereiniteit en waardes te beskerm.

Gevolge vir die wêreld

Rusland is vandag steeds een van die invloedrykste globale magte ter wêreld. Ten spyte van die chaos van die 1990’s ná die opheffing van die Sowjetunie en die onlangse probleme met sanksies, demografiese verval en ʼn ekonomie wat grootliks op hulpbronuitvoere, militêre besteding en verouderde tegnologie gebou is, beskik Rusland oor wesenlike globale invloed.

Die onvermoë van Westerse en Russiese leiers om Rusland nader aan die Weste te bring, veral kort ná die Koue Oorlog, sal sekerlik in die geskiedenisboeke as ʼn tragedie opgeteken word. Veral militêre leiers in die VSA, asook die CIA, behoort met goeie rede hiervoor blameer te word. Dit is geen samesweringsteorie nie, maar wel ʼn feit dat hoewel politieke leiers soos Bill Clinton en aanvanklik selfs George Bush wou sien dat Rusland by die Weste aansluit, daar vanuit die Diep Staat in die VSA aktief hierteen gewerk is.

Amerikaanse president Ronald Reagan op 21 November 1985 waar hy met president van die Sowjetunie Mikhail Gorbatsjof praat tydens ‘n beraad tussen die supermoondhede in Genève. (Foto: AFP)

Uiteindelik was Poetin se opkoms in Rusland ʼn gevolg van ʼn Rusland wat in die 1990’s eers deur ʼn chaotiese post-kommunistiese ekonomiese herskikking gegaan het en daarna sy politieke en globale magsposisie moes herdefinieer.

Poetin se besluit om Oekraïne aan te val en ʼn reuse-oorlog te ontketen, het tot dusver groter as verwagte globale gevolge ingehou. Terwyl dit aanvanklik ʼn reuse-invloed op voedselproduksie gehad het weens ʼn versteuring in die uitvoer van graanprodukte en kunsmis uit Rusland en Oekraïne, en verder ook energieprobleme in talle wêrelddele tot gevolg gehad het, was dit eerder die wyse waarop globale magsverhoudinge langdurig geraak is wat die afgelope twee jaar tot groter vrese vir die langtermyngevolge van die oorlog gelei het.

Die oorlog het die wêreld in vier verdeel. Dié lande wat hulle direk by Oekraïne skaar, soos Wes-Europa, die VSA, Australasië, Japan en Suid-Korea, is bekend. Lande wat hulle direk by Rusland skaar, soos voormalige Sowjetunie-lande in sentraal Asië, asook lande soos Noord-Korea, Venezuela, Iran en sommige lande in die Sahel-streek van Afrika, is ook bekend. Dan is daar lande wat die afgelope twee jaar met groot moeite gepoog het om hulle onverbonde status van neutraliteit te behou. Dit sluit lande soos Mexiko, Brasilië, Indië, talle Afrika-lande soos Rwanda, Kenia en Zambië, en opkomende Asiatiese magte soos Indonesië in.

Die Oekraïense president Volodymyr Zelensky saam met Oekraïense dienspligtiges tydens besoek aan die frontlinieposisies van Oekraïense troepe. (Foto: Uitdeelstuk / UKRAINIAN PRESIDENSIAL PERS SERVICE / AFP)

Die vierde kategorie is egter dié lande met ʼn onverbonde amptelike posisie, maar wat onder soms ideologiese druk, ander kere ekonomiese druk of selfs magspolitiek geswig het. Suid-Afrika kan byna as ʼn skepper van hierdie kategorie beskou word – iets waarop Suid-Afrikaners nie trots kan wees nie. Dit het die land se globale posisie reuse-skade berokken.

Terwyl globale magsverhoudinge ernstig deur die oorlog geraak is, het die oorlog egter ook die risiko vir meer konflik en oorloë wêreldwyd verhoog. Terwyl lande reg oor die wêreld groter dele van hul begrotings aan ʼn militêre opbou bestee, het die oorlog ook die swakhede en verdeeldheid van die Weste ontbloot. Dit skep ʼn gaping vir China om binne die volgende paar jaar deur ʼn reusagtige militêre operasie Taiwan te probeer annekseer.

Hoewel Poetin dit ontken, is daar tog toenemende vrees by die Baltiese State dat Rusland hierdie state die een of ander tyd kan aanval. Die grens tussen Rusland en Finland is reeds ʼn hoogs gemilitariseerde gebied met Finland wat tans groot grensversperrings aanbring en die meeste grensposte gesluit het nadat die Russe onwettige immigrante uit die Midde-Ooste oor die grens gestuur het. Ook die regering van Moldawië vrees dat Rusland dié lande kan aanval (Rusland beset reeds ʼn deel van die land), terwyl die hoop in Georgië vir ʼn uitkoms nadat Rusland in 2008 twee provinsies, Abkhasië en Suid-Ossetië beset het, ook vervaag. Al hierdie gebiede kan maklik weer in konfliksones verval.

Die geslote Vaalimaa-grenskontrolepunt tussen Finland en Rusland. Die Nordiese land het die grens in middel Desember gesluit nadat byna 1 000 migrante sedert Augustus sonder ‘n visum deur sy oostelike grensoorgange aangekom het. (Foto: Lauri Heino / Lehtikuva / AFP) / Finland UIT / FINLAND UIT

Die ekonomiese gevolge van die oorlog is sekerlik die enkele uitdaging wat die meeste mense wêreldwyd direk raak. In Europa het energiekoste skerp gestyg nadat gasinvoere uit Rusland beëindig is. Die uitvoere van kunsmis het tot in Suid-Afrika vir boere reuseprobleme met insetkoste geskep. In talle Afrika-lande is die risiko vir hongersnood verhoog weens probleme om graan uit Oekraïne in te voer en weens tekorte aan kunsmis.

Ná die reuseversteurings aan voorsienings- en verspreidingskettings in internasionale handel tydens die pandemie, was die oorlog die afgelope twee jaar ʼn gebeurtenis wat bestaande probleme dus net verder verdiep het. Dit het direk bygedra tot die krisis met inflasie, en nou die risiko van resessies, wêreldwyd.

Wie moet blameer word?

Geldige vrae word gevra oor hoe anders dit kon wees indien die Weste Rusland anders behandel het ná die val van die Sowjetunie. Sou Poetin ooit in ʼn meer demokratiese, vry Rusland die politieke beheer kon kry?

Geldige vrae word ook gevra oor die Weste se onvermoë om veiligheidswaarborge aan Rusland te verskaf, veral nadat George W Bush Amerika se verbintenis tot die uitbou van Navo se teenwoordigheid in Sentraal- en Oos-Europa bevestig en versterk het. Die onvermoë van die Weste, maar ook Rusland, om die Minsk-ooreenkomste deeglik te implementeer, het sonder twyfel ook vir Poetin die ruimte geskep om ʼn oorlog in Oekraïne te motiveer.

Dit is egter ʼn feit dat een man die skuld vir die oorlog behoort te dra en dit is Wladimir Poetin. Daar was genoeg ruimte vir onderhandelinge om die oorlog te verhoed. Vir Poetin, wat die afgelope paar jaar toenemend ʼn obsessie met die geskiedenis van Rusland as ʼn groot ryk begin ontwikkel het, was die oorlog egter ʼn noodsaaklike stap in sy projek om die Russiese bevolking aan sy eie drome en die gedeeltelike herstel van die Russiese Ryk te laat glo.

Pres. Wladimir Poetin in Oktober 2023. (Foto: Pavel BEDNYAKOV / POOL / AFP)

Die werklikheid is egter dat Rusland nie binnekort weer ʼn groot ryk gaan wees nie. Hoewel dit steeds ʼn indrukwekkende land is, is die toekomstige ekonomiese en demografiese uitdagings van Rusland eenvoudig te groot. Sonder ʼn duidelike opvolger vir Poetin is dié land se toekoms ook deels onseker, wat dit toenemend globaal ʼn risikoland – met ʼn reuse-kernwapenarsenaal – vir globale veiligheid maak.

Die oorlog in Oekraïne het die globale interafhanklikheid wat globalisering teweeg gebring het, bevestig. Die indirekte gevolg van die oorlog is groter nasionalisme in verskeie wêreldstreke omdat bevolkings juis minder afhanklik van energie-, voedsel- en ander hulpbronne, maar ook veiligheidswaarborge uit ander lande wil wees.

Nog ʼn gevolg van die oorlog is ʼn versnelling in die herskikking van globale magsverhoudinge. China het die afgelope twee jaar die geleentheid aangegryp om sy invloed in die Midde-Ooste, Asië en Afrika te verhoog. Harder lyne tussen bondgenote van verskillende magsblokke is steeds aan die ontwikkel. Brics-lande probeer Westerse hegemonie verbreek. Rusland gebruik proksies in die Midde-Ooste en Afrika om die Weste direk aan te vat. Die wêreld is meer verdeeld as tydens die afgelope drie dekades.

Die oorlog het ook die swakhede van internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies verder beklemtoon. Die VN se Veiligheidsraad word reeds twee jaar lank lamgelê deur die stryd tussen Rusland en die Weste. Internasionale reg lê aan skerwe soos wat Rusland en die Weste hulle aan verdrae onttrek en internasionale ooreenkomste nie meer eerbiedig word nie.

Die groot vraag wat oor die volgende paar maande beantwoord moet word, is of die wêreld verby die huidige situasie kan stuur. Dit sal vereis dat daar oor vrede in Oekraïne onderhandel moet word. Om dit reg te kry, sal die Weste beter leiers na vore moet stoot, maar Rusland sal ook duideliker moet wees oor sy eise vir vrede en sy bereidwilligheid om toegewings te maak.

Jaco Kleynhans, die Solidariteit Beweging se hoof van internasionale skakeling. (Foto: Verskaf/Jaco Kleynhans)

Daar is egter ook groter uitdagings wat oorkom moet word. Die multilateralisme waarna die Globale Suide deesdae soveel smag, is goed en nodig, maar dit sal binne ʼn globale ruimte moet geskied waarin die oppergesag van die reg, nasies se territoriale integriteit en die status van internasionale verdrae gerespekteer word. Ons is tans nog verder van so ʼn posisie. En dit dra by tot die somber moment waarop die tweede herdenking van die uitbreek van die oorlog in Oekraïne plaasvind.

Die wêreld is immers meer verdeeld as twee jaar gelede, en meer lande, meer leiers en meer globale rolspelers is gereed om hierdie verdeeldheid uit te buit, eerder as om in die ekonomiese en veiligheidsbelang van alle wêreldburgers op te tree. Daarom moet ons waarskynlik verwag dat dit eers slegter, dalk selfs baie slegter, sal gaan voordat dit weer beter sal gaan.

Die tweede herdenking van die uitbreek van oorlog in Oekraïne is dus genoeg rede vir somberheid, nie net in Oekraïne nie, maar ook reg oor die wêreld.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Adriaan ·

US ‘expended decades’ worth of weapons supplies’ on Ukraine – senator

The US’ own national security needs have been undermined by its determination to prop up the Kiev regime, warned Sen. J.D. Vance (R-Ohio) in an interview at the annual Conservative Political Action Conference (CPAC).

“We have expended decades’ worth of supplies of American weapons” on the Ukraine conflict, Vance said.

He deplored the destruction of the American manufacturing base over the years, which has resulted in the fact that, “We don’t make enough of that stuff on our own.” “Yet at the same time they want us to send all of our critical weapons overseas,” the politician pointed out.

According to Vance, “the elites of America have fundamentally failed their own people” in several ways in their reaction to the Ukraine conflict, and called out the Democrats for being “obsessed with Russia,” which has clouded their judgment.

“It is absurd for the US to devote so many resources, so much attention, and so much time to a border conflict six thousand miles away while out own US southern border is wide open,” the Republican insisted, adding: “We now no longer have the weapons in store to actually prosecute our own national security. Let’s focus on our own problems.”

Adriaan ·

The Central Intelligence Agency (CIA) and other US and UK intelligence services were working long before 2022 to place their “strongholds” in Ukraine and train spies for Kiev, Russian Foreign Ministry spokeswoman Maria Zakharova has said.

“The CIA has been helping Kiev to train spies. Not only spies – direct militants, extremists, terrorists, thugs. All of them. And one of the clearest examples when this chain came into motion is 2013-2014. Under the guise of democratic forces and civilians on the Maidan were primarily those who were trained at bases in Poland and the Baltics. And we also talked about this,” she noted.

In addition, Zakharova recalled how the Russian side had repeatedly stated, long before 2022, that NATO and intelligence services of NATO structures were placing bases and strongholds in Ukraine. And it goes not only for the line along the border with Russia, but for the entire territory of the country.

“The question arises, why is The New York Times only now concerned about this? All the data was provided by us in public. Why was the American press silent for many years? And ‘many years’ is not starting from 2022, but all these years,” the Russian Foreign Ministry spokeswoman stressed.

annie ·

As mense debat voer dan is daar verskillende opinies, nie eensydige skrywes nie. Joernalistiek is die weergee van verskeie sulke opinies. Nie net een ou se siening nie. Jaco is nie ‘n joenalis nie en hierdie is nie debatvoering nie. Wat sou ditbeteken as Maroela net sekere idees verkondig en die ander uitvee?

Dirk ·

CPAC is net ‘n byeenkoms van al Republican fascists, maga insurrectionist en christian extremists.

Treurwilger ·

‘n Baie volledige artikel deur Jaco Kleynhans, uit die standaard Westerse oogpunt, maar nie naastenby so eenogig soos die meerderheid nie.

Putin moes nooit vir Rusland by hierdie NAVO-geïnspireerde oorlog laat betrek het nie.
Sy geduld was egter op en wie kan hom kwalik neem.
Dekades se vordering op die wêreldverhoog is ongedaan gemaak in die proses.
Mag die vernietiging spoedig beëindig word.

(Ek wil Adriaan bedank vir sy waardevolle inset, nooit op ‘regeringsmedia’ te lees nie.)

Pieter ·

@Terugwilger. Nou dat jy dit ‘n NAVO geïnspireerde oorlog noem (vreemd aangesien dit die een alliansie is wat nie aktief baklei nie) dink ek aan ‘n ou grappie. ‘n Russiese generaal word wakker uit ‘n koma en hoor Rusland is in ‘n oorlog met NAVO. Hulle het 4 oorlogskepe 300000 soldate en honderde tanks verloor maar hulle hou aan baklei. Bietjie teleurgesteld vra hy wat NAVO verloor het. Die antwoord kom dat NAVO nog nie opgedaag het nie.

Pieter ·

@Dirk. Ek is dankbaar daar is ten minste een ander persoon op die forum waarmee ek kan saamstem.

Marthinus W ·

Pieter, “Navo…wat nie aktief baklei nie”. Doen bietjie navorsing oor Operation Gladio, oor die 78 dae se bombardering van Joegoeslawie, oor die inval in Libie in 2011 om Gadaffi te vermoor. In 2014, op die Krim, het Russiese spetznas afgekom op n Navo-eenheid; almal is gearresteer nadat spetznas met loskruit [blanks] op hulle gevuur het. [daar is n dokkie: Crimea – The Way Home daaroor, met regte film]. Navo-lede is sedert 2008 in Oekraine, om hulle op te lei, en van hierdie lede veg tans saam as “huursoldate”.

Indien die Russiese verkiesing skyn is, waarom spandeer hulle miljoene om dit te organiseer, terwyl geen ander land in die geskiedenis so versanksie is nie? Waarom neem buitelanders, soos die Nederlandse joernalis Sonia van de Ende, om net een te noem, deel as onafhanklike toesighouer tydens hulle verkiesings? Met die vorige verkiesing was daar van ons eie mense, Franse, Duitsers, Britte, en meer as onafhanklike observeerders. Die verkiesing het gister eintlik reeds begin, vir diegene, bv matrose, wat nie op stemdag in die land gaan wees nie. Met die vorige verkiesing het 1,9 miljoen burgers in die buiteland hul stemme uitgebring, en met die uitskop van Russiese diplomate uit sekere lande, probeer hulle om ten minste een stemlokaal in daardie lande te kry.

Andrew ·

Voor die oorlog was hulle befondsing erg besnoeie om op te maak vir miljoene asiel soekers wat in Europa opgeneem en gehuisves moet word, so minder “pay” vir generaals van NAVO. Verder was so min wapens en ammuniese vervaardig (met al die nuwe wapenbeheer in westerse lande oor die laaste 20 jaar) dat die industrie amper tot stilstand gebring is (vat maar Danel), dink net hoeveel geld en kommisie op nuwe wapen ontwikkeling en vervaardiging gaan daar nie nou wees nie (soos ons eie grippens en duikbote). En dit sonder om direk betrokke te wees.

Pieter ·

@Marthinus W. Ek praat van die oorlog in Oekraïne nie Libië of die Balkans nie. As jy oor die Balkans wil praat sal ek noem beide Serbia en Kosovo wil lid word van Navo en die EU. Ek sien snaaks genoeg nie ‘n lang tou van lande wat die USSR weer wil vorm nie, wonder waarom. Gadaffi is deur sy eie mense vermoor wel met help van NAVO.

En laastens my Russiese kollega stem nie saam met jou baie hoe opinie van Russiese verkiesings nie. Dis een van die voordele van bly in Nederland in 2024, jy kan sommer vir die mense rondom jou wat gevlug het vra wat hulle dink.

Probeer hard en dink waarom Rusland deur die bewegings gaan om ‘n verkiesing te hou sonder dat dit werklik vry is. Ek is seker jy kan dit regkry. En liewe hemel een van die prominente opposisie leiers is vermoor net laas week.

Pieter ·

@Marthinus W. Ek praat van die oorlog in Oekraïne nie Libië of die Balkans nie. As jy oor die Balkans wil praat sal ek noem beide Serbia en Kosovo wil lid word van NAVO en die EU. Ek sien snaaks genoeg nie ‘n lang tou van lande wat die USSR weer wil vorm nie, wonder waarom. Gadaffi is deur sy eie mense vermoor wel met help van NAVO.

En laastens my Russiese kollega stem nie saam met jou baie hoe opinie van Russiese verkiesings nie. Dis een van die voordele van bly in Nederland in 2024, jy kan sommer vir die mense rondom jou wat gevlug het vra wat hulle dink.

Probeer hard en dink waarom Rusland deur die bewegings gaan om ‘n verkiesing te hou sonder dat dit werklik vry is. Ek is seker jy kan dit regkry. En liewe hemel een van die prominente opposisie leiers is vermoor net laas week.

En wie op aarde is Sonia van Ende, nog nooit van haar gehoor nie, of is sy iemand op Twitter?

Pieter ·

@Marthinus W Ek praat van die oorlog in Oekraïne nie Libië of die Balkans nie. As jy oor die Balkans wil praat sal ek noem beide Serbia en Kosovo wil lid word van NAVO en die EU. Ek sien nie ‘n lang tou van lande wat die USSR weer wil vorm nie, ek wonder waarom? Gadaffi is deur sy eie mense vermoor wel met help van NAVO.

En laastens my Russiese kollega stem nie saam met jou baie hoe opinie van Russiese verkiesings nie. Dis een van die voordele van bly in Nederland in 2024, jy kan sommer vir die mense rondom jou wat gevlug het vra wat hulle dink. Die stories is baie hartseer (beide Oekraïne en Syriee)

Een van die prominente opposisie leiers is vermoor net laas week, hoe kan jy wat Rusland het ‘n demokrasie noem? En wie op aarde is Sonia van Ende, nog nooit van haar gehoor nie, of is sy iemand op Twitter?

Adriaan ·

Russophobic elements in US Congress are set to lose influence amidst Moscow’s strength

A number of Western analysts in recent days have acknowledged Ukraine is losing in the Donbass, giving Russia a significant leverage in hypothetical peace talks with Kiev.

“It’s going to be unconditional surrender,” said former US Marine Corps intelligence officer Scott Ritter. “I don’t believe the Russians are going to sit there and say, ‘well, you can keep some Banderites here. You can keep this NATO army here.’ No, those are gone.”

The former UN weapons inspector claimed Russia would prioritize rebuilding economic links with Europe.

“It’s not in Russia’s interest to have a permanent state of conflict with Europe,” Ritter clarified, noting that Moscow’s strengthened links with BRICS nations now make it a “gateway economy” for the West.

Ritter stressed Moscow’s strength will eventually force a rapprochement from the United States as well. “We’re going to need to see not just a change in presidential administrations, but we’re going to have to see a thinning out of the Russophobic blood in Congress, and this could take several election cycles,” he noted.

Dirk ·

@Pieter, ongelukkig help dit nie elke keer om feite voor hierdie mense se voete te sit nie. Hulle sal vashou aan Putin, Ping en Trump, en hoe goed hulle is vir die wêreld. Dit is baie sleg om te sien hoe Suid Afrikaners dit toelaat om hulself so te kul met duidelike leeuns.

Mari ·

In Putin’s 2014 Sochi speech he said the following: ” I was offered a membership at the globalists table. But when I asked what will happen to my country, they all scoffed and said, what country? That’s when I turned my back on the globalism” Die hele doel van die oorlog is sodat die globaliste hulle hande op Rusland kan lê om Rusland te globaliseer: opbreek, grense oopmaak, immegrante van reg oor die wêreld te laat instroom (soos wat die globaliste met Europa en Amerika gemaak het). Die eind doel is ‘n Een Wêreld Orde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.