Die oorspronklike teks van die Belydenis van Belhar

Hierdie plasing is deel van Maroela Media se reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Die Groot Debat. -Red

h07-cross_sunset-10Wat hier volg, is die oorspronklike teks van die Belydenis van Belhar soos dit in 1986 deur die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) goedgekeur is. Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) se Algemene Sinode van 2008 het dié teks onveranderd as die grondteks verklaar.

1. Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.

2. Ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag. Ons glo dat die versoeningswerk van Christus sigbaar word in dié kerk as geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is; (Ef. 2:11-22) dat die eenheid van die kerk van Jesus Christus daarom gawe én opdrag is; dat dit ’n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees, maar terselfdertyd ’n werklikheid is wat nagejaag en gesoek moet word en waartoe die volk van God voortdurend opgebou moet word; (Ef. 4:1-16) dat hierdie eenheid sigbaar moet word sodat die wêreld kan glo dat geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense en mensegroepe sonde is wat reeds deur Christus oorwin is en dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk van Christus mag hê nie, maar bestry moet word; (Joh. 17:20-23) dat hierdie eenheid van die volk van God op ’n verskeidenheid van maniere sigbare gestalte moet kry en werksaam moet wees, daarin dat ons mekaar liefhet, gemeenskap met mekaar beleef, najaag en beoefen; (Fil. 2:1-5; 1 Kor. 12:4-31) daarin dat ons skuldig is om onsself tot nut en saligheid van mekaar gewillig en met vreugde te gee; daarin dat ons een geloof deel, een roeping het, een van siel en een van sin is, een God en Vader het, van een Gees deurdrenk is; van een brood neem en uit een beker drink, met een doop gedoop is, een Naam bely, aan een Heer gehoorsaam is, vir een saak ywer, een hoop met mekaar deel; saam die hoogte en breedte en diepte van die liefde van Christus leer ken; saam opgebou word tot die gestalte van Christus, tot die nuwe mensheid; saam mekaar se laste ken en dra en so die wet van Christus vervul, mekaar nodig het en mekaar opbou, mekaar vermaan en mekaar vertroos, saam met mekaar ly vir die geregtigheid, saam bid, saam diensbaar is aan God in hierdie wêreld, saam stry teen alles wat hierdie eenheid mag belemmer of bedreig; (Joh. 13:1-17; 1 Kor. 1:10-13; Ef. 4:1-6; Ef. 3:14-20; 1 Kor. 10:16-17; 1 Kor. 11:17-34; Gal. 6:2; 2 Kor. 1:3-4) dat hierdie eenheid slegs in vryheid gestalte kan vind en nie onder dwang nie; dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God; (Rom. 12:3-8; 1 Kor. 12:1-11; Ef. 4:7-13; Gal. 3:27-28; Jak. 2:1-13) dat die ware geloof in Jesus Christus die enigste voorwaarde is vir lidmaatskap van hierdie kerk.

Daarom verwerp ons enige leer wat óf die natuurlike verskeidenheid óf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot ’n aparte kerkformasie; wat voorgee dat hierdie geestelike eenheid werklik bewaar word deur die band van die vrede wanneer gelowiges met dieselfde belydenis van mekaar vervreem word ter wille van die verskeidenheid en vanweë die onversoendheid; wat ontken dat ’n weiering om hierdie sigbare eenheid as ’n kosbare gawe na te jaag sonde is; wat uitgesproke of onuitgesproke voorgee dat afkoms of enige ander menslike of sosiale faktore medebepalend is vir lidmaatskap van die kerk.

3. Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het; dat die kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem word omdat hulle vredemakers is; dat die kerk deur woord en daad getuies is van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon; (2 Kor. 5:17-21; Matt. 5:13-16; Matt. 5:9; 2 Pet. 3:13; Op. 21-22) dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees die magte van sonde en dood, en daarom ook van onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap, oorwin het; dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees sy volk in staat stel om te leef in ’n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring; (Ef. 4:17, 6:23; Rom. 6; Kol. 1:9-14; Kol. 2:13-19; Kol. 3:1, 4:6) dat hierdie boodskap ongeloofwaardig gemaak word en dat die heilsame uitwerking daarvan in die weg gestaan word indien dit verkondig word in ’n land wat op Christelikheid aanspraak maak, maar waarin die gedwonge skeiding van mense op rassegrondslag onderlinge vervreemding, haat en vyandskap bevorder en bestendig; dat enige leer wat sodanige gedwonge skeiding vanuit die evangelie wil legitimeer en dit nie wil waag op die pad van gehoorsaamheid en versoening nie, maar uit vooroordeel, vrees, selfsug en ongeloof die versoenende krag van die evangelie byvoorbaat verloën, ideologie en dwaalleer is.

Daarom verwerp ons enige leer wat in die naam van die evangelie of die wil van God die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur in so ’n situasie sanksioneer en daardeur die bediening en belewing van die versoening in Christus by voorbaat belemmer en van krag beroof.

4. Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy dié wat bedruk is, ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat dit vir Hóm reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek; (Deut. 32:4; Luk. 2:14; Joh. 14:27; Ef. 2:14; Jes. 1:16-17; Jak. 1:27; Jak. 5:1-6; Luk. 1:46-55; Luk. 6:20-26; Luk. 7:22; Luk. 16:19-31) dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom; (Ps. 146; Luk. 4:16-19; Rom. 6:13-18; Am. 5) dat die kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die veronregtes; dat die kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel.

Daarom verwerp ons enige ideologie wat vorme van veronregting legitimeer en enige leer wat nie bereid is om vanuit die evangelie so ’n ideologie te weerstaan nie.

5. Ons glo dat die kerk geroep word om dit alles te bely en te doen, in gehoorsaamheid aan Jesus Christus sy enigste Hoof, al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou straf en lyding daaraan verbonde wees. (Ef. 4:15-16; Hand. 5:29-33; 1 Pet. 2:18-25; 1 Pet. 3:15-18)

Jesus is die Heer.

Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid in ewigheid.

Die begeleidende brief

Die Sinode van die voormalige Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) in Suid-Afrika het reeds in 1982 met die aanvaarding van die Belydenis van Belhar as ʼn konsep ʼn begeleidende brief goedgekeur om altyd daarmee saam te lees.

1. Ons is daarvan bewus dat daar in die lewe van die kerk oomblikke kan ontstaan van soveel erns dat die kerk die noodsaak kan voel om opnuut sy geloof te bely in die lig van ’n spesifieke situasie. Ons is daarvan bewus dat so ’n daad van belydenis nie ligtelik gedoen word nie, maar slegs as geoordeel word dat die hart van die evangelie self op die spel staan en bedreig word. Na ons oordeel verg die kerklike en politieke situasie binne ons land en veral binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk-familie tans so ’n beslissing.

Ons doen hierdie belydenis dus nie as ’n teologiese gespreksbydrae of as ’n nuwe samevatting van al ons geloofsgoedere nie, maar as ’n kreet uit die hart, as ’n dwang wat ons opgelê is om die evangelie ontwil in die lig van die oomblik waarin ons staan. Ons bely saam met vele ons skuld daarin dat ons nie altyd duidelik genoeg hieroor getuig het nie en gevolglik medeverantwoordelik is daarvoor dat wat as sonde ervaar en bely is of as sonde ervaar en bely moes word, mettertyd gegroei het tot vanselfsprekendhede en Skrifvreemde ideologieë en dat die indruk by vele geskep is asof die evangelie nie waarlik op die spel was nie. Ons spreek hierdie belydenis uit omdat ons oordeel dat allerlei teologiese argumente daartoe bygedra het om aspekte van die waarheid so eensydig te beklemtoon dat dit in die leuen verander het.

2. Ons is daarvan bewus dat die enigste gesag agter so ’n belydenis en die enigste grond waarop dit uitgespreek kan word die Heilige Skrifte as die Woord van God is. Volkome bewus van die waagstuk verbonde aan so ’n daad, oordeel ons tog dat ons geen ander keuse het nie. Ons is boonop daarvan bewus dat geen ander motiewe of oortuigings, hoe geldig hulle ook al mag wees, ons die reg veroorloof tot ’n daad van belydenis nie. Dit moet ’n kerklike handeling wees ter wille van die suiwerheid en die geloofwaardigheid van die kerk en sy boodskap alleen.

Sover dit moontlik is voor die mense verklaar ons hiermee dat ons enigste dryfveer geleë is in ons vrees dat die waarheid en krag van die evangelie self bedreig word in hierdie situasie. Ons wil geen groepsbelang dien, partyskappe bevorder, teologieë bevorder of bymotiewe verwesenlik nie. Terselfdertyd weet ons dat ons diepste bedoelinge slegs na ware beoordeel kan word deur Hom voor Wie alles oop en bloot is. Ons spreek hierdie belydenis nie uit vanaf sy troon en uit die hoogte nie, maar voor sy troon en voor die mense. Ons pleit daarom dat hierdie belydenis nie misbruik sal word deur enigiemand met allerlei bymotiewe nie en dat dit ook nie vanuit sulke motiewe teëgestaan sal word nie. Ons begeerte is om geen valse struikelblokke in die weg te lê nie, maar om heen te wys na die egte struikelblok, die rots Jesus Christus.

3. Ons spreek hierdie belydenis nie uit teen spesifieke mense of groepe van mense of ’n kerk of kerke nie. Ons spreek hierdie belydenis uit teen ’n valse leer, teen ’n ideologiese verdraaiing wat die evangelie self in ons kerk en land bedreig. Ons versugting is dat niemand hulle sal vereenselwig met hierdie verwerplike leer nie en dat almal wat heeltemal of gedeeltelik daardeur verblind is hulle daarvan sal afkeer. Ons is terdeë bewus van die verleidelike aard van so ’n valse leer en weet dat vele wat daardeur gekondisioneer is in mindere of meerdere mate die halwe waarheid leer glo het as die volle. Ons betwyfel daarom nie talle van sulke mense se Christelike geloof, hulle opregtheid, eerlikheid, integriteit en goeie bedoelinge en in baie opsigte lofwaardige handelswyse nie.

Juis omdat ons egter die krag van die misleiding ken, is ons daarvan bewus dat nie die erns, opregtheid en intensiteit van ons sekerhede ons vrymaak nie, dog slegs die waarheid in die Seun. Aan dié bevryding het ons kerk en ons land ’n intense behoefte. Ons praat daarom pleitend en nie beskuldigend nie. Ons pleit om versoening, dié egte versoening wat volg op bekering en verandering van gesindhede en ordeninge. Ons is daarby daarvan bewus dat ’n daad van belydenis ’n tweesnydende swaard is, dat niemand van ons die eerste klip kan gooi of nie self ’n balk in die eie oog het nie. Ons weet dat die gesindhede en optrede wat die evangelie teëwerk by ons almal aanwesig is en sal bly. Daarom is hierdie belydenis niks anders nie as ’n oproep tot voortdurende gesamentlike selfondersoek, stryd en bereidheid tot bekering in die Naam van ons Here Jesus Christus in ’n gebroke wêreld. Dit wil geen daad van selfregverdiging en onverdraagsaamheid wees, sodat ons terwyl ons vir andere preek, dalk self verwerplik sal wees nie.

4. Ons bede is dat hierdie daad van belydenis nie valse struikelblokke in die weg sal lê en daardeur valse verdelinge sal veroorsaak en bevorder nie, dog versoenend en verenigend sal wees. Ons is daarvan bewus dat so ’n daad van belydenis en ’n proses van versoening noodwendig veel pyn meebring. Dit verg die pyn van bekering, berou en skuldbelydenis. Dit verg die pyn van lewensvernuwing en -verandering, sowel individueel as gesamentlik. Dit plaas ons op ’n pad waarvan ons die einde nie kan voorsien of na ons eie wense kan manipuleer nie. Op dié pad sal ons onvermydelik intense groeipyne ervaar terwyl ons worstel om die vervreemding, die bitterheid, die onversoendheid en die vrees te oorwin.

Ons sal sowel onsself as mekaar nuut moet leer ken en beleef. Ons is terdeë daarvan bewus dat hierdie belydenis roep om die aftakeling van denk-, kerklike en samelewingstrukture wat oor baie jare heen gegroei het. Ons bely egter dat daar ter wille van die evangelie geen ander uitweg moontlik is nie. Ons bede is dat ons broeders en susters dwarsdeur die Nederduitse Gereformeerde Kerk-familie, maar ook daarbuite, hierdie nuwe begin sáám met ons sal wil maak, sodat ons sáám kan vry word en sáám hierdie weg van versoening en geregtigheid kan gaan. Ons bede is dat hierdie droefheid gevolglik ’n droefheid tot verlossing sal wees. Ons glo dat dit moontlik is in die krag van onse Here en deur sy Gees. Ons glo dat die evangelie van Jesus Christus hoop, bevryding, heil en ware vrede vir ons land kan en wil bring.

Belhar_VoorbladBestel nou jou kopie van Belhar geweeg

In Kraal Uitgewers se boek Belhar geweeg ondersoek 18 skrywers en bekendes die waardigheid van Belhar as belydenisskrif. Belhar geweeg skets nie net die agtergrond waarteen Belhar saamgestel is nie, maar vra ook brandende vrae oor die moontlike invloed van die aanvaarding van Belhar. Die boek bestaan uit ses hoofstukke met artikels wat fokus op onder meer die ontstaan van die Belydenis van Belhar en die agtergrond waarteen dit saamgestel is, die kerkordelike pad wat gestap is en die reaksie van ander kerke en jonger kerkleiers in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Belhar geweeg sluit ook die volledige teks van Belhar in sowel as die begeleidende brief wat daarmee saamgelees moet word.

Skrywers sluit in prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG kerk, prof. Piet Strauss, en bekendes soos die voormalige polisiehoof, genl. Johan van der Merwe.

Belhar geweeg is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Maroela Media-lesers kan die boek nou bestel teen die spesiale afslagprys van R70 (R20 posgeld en verpakking uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za om dit te bestel.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Hendrik van Zyl ·

Is daar geen verwysing na vergiffenis van sonde in die belydenis nie?

Hendrik van Zyl ·

Is daar geen verwysing na vergiffenis van sonde in die belydenis nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.