Die oppergesag van die reg in SA is fiksie, en dis beter so

grondwethof

Foto: Gnatj.com

Deur Morné Malan

Daar is waarskynlik geen naam wat nouer gekoppel word aan die beginsel van die oppergesag van die reg nie as dié van die 19de eeuse Britse regsgeleerde, AV Dicey. Dicey verduidelik die betekenis van dié beginsel min of meer soos volg: Dit is die absolute oppergesag of oorheersing van die gewone reg teenoor die invloed van arbitrêre mag, en dit belet die bestaan van regte of breë diskresionêre mag in die hande van die regering. Want, sê Dicey, waar daar ook al ruimte vir die regering is om arbitrêr op te tree, sal dit onafwendbaar lei na onsekerheid en selfs onveiligheid vir die burgery.

Dit kan eenvoudiger gestel word, naamlik dat die oppergesag van die reg impliseer dat net soos wat gewone burgers onderworpe is aan die reg en dus wette moet gehoorsaam, so ook is die staat onderworpe aan die regstelsel en kan derhalwe nie op ʼn onregmatige wyse inbreuk maak op die regte van sy burgers nie. Hierdie konsep hou verband met twee ander wat dikwels deur kommentators benadruk word wanneer gewone Suid-Afrikaners benoud raak oor die toestand van die land, te wete die onafhanklikheid van die regbank en die idee van konstitusionalisme.

Met betrekking tot eersgenoemde het prof. Koos Malan van die Universiteit van Pretoria, een van die voorste grondwetkenners in Suid-Afrika, reeds die mite ontbloot as ʼn klug. Om dit duidelik te stel: daar is nie werklik aanduidings dat die howe, en dan in besonder die konstitusionele hof, nie daadwerklik geskei is van die uitvoerende gesag, oftewel die ANC, nie. Dit is veel eerder die geval dat die administratiewe en logistieke skeiding tussen die twee niks beteken wanneer elkeen van die instellings in presies dieselfde ideologie gesetel is nie.

Konstitusionalisme loop presies dieselfde risiko, naamlik dat die skynskeiding tussen magte enige inperking van die regering se pogings tot vergrype onmoontlik maak. ʼn Grondwet moet altyd interpreteer word, en hierdie interpretasie, veral wanneer dit geskied binne die raamwerk van regterlike aktivisme (waar regters bykans wette maak in plaas daarvan om dit te interpreteer), geskied altyd vanuit die ideologiese perspektief van die betrokke regter – die Grondwet blyk dus baie sosialisties te wees wanneer ʼn sosialis dit interpreteer. Dink maar net aan die idee van gelykheid en hoe hierdie idee verdraai is om gelyke uitkomste in plaas van gelyke behandeling voor die reg te beteken. Ek het hierdie tema reeds in ʼn vorige skrywe behandel.

Hoe ondoeltreffend hierdie maatreëls ook al mag wees, bevestig hulle almal die denkbeeld dat die staat inderwaarheid nie die wil van die volk verteenwoordig nie, maar eerder probeer om sy alleenreg op geweld en die gebruik van mag binne ’n grondgebied te handhaaf. Al drie hierdie instellings poog dus om te verseker dat die staat nie onregmatig teen die wil van die bevolking sal optree nie. Tog, sou ʼn mens my uitgangspunt aanvaar dat hierdie maatreëls faal, hoe kan ʼn mens positief wees daaroor?

Die antwoord is eenvoudig: Want hierdie formele wetlike instellings was nog nooit die primêre beskerming teen ʼn staat wat dronk is op mag en ideologie nie. Murray Rothbard (1926-1995), ʼn ekonoom vanuit die Oostenrykse skool, verduidelik dat die oomblik wanneer ʼn staat tot stand kom, die onus op die staat is om onmiddellik en deurlopend sy bestaan aan die burgery te regverdig. Met ander woorde, omdat die staat niks self produseer of oor sy eie inkomste beskik nie, kan dit slegs voortbestaan as ʼn parasiet wat lewe van die inkomste vanaf die burgers – of soos ons dit ken, belasting. Hiervoor moet die staat die burgery se inkoop wen, of andersins ten minste hul passiewe toegewing dat dit bloot “nie anders kan nie”. Maar wat as die burgers begin glo dat dit wel anders kan? Wanneer gemeenskappe raaksien dat hulle veel beter vir hulself kan sorg as wat die staat dit kan doen, en dat vryheid, veiligheid en voorspoed buite die staat kan geskied?

Ons sien dit reeds. Burgerlike instellings en privaat maatskappye vul reeds feitlik al die gapings wat deur die onbevoegdheid van die staat geskep is. Privaat universiteite, sekerheidsdienste, burgerlike instellings wat slaggate regmaak, en kultuur- en taalregte beskerm waar die staat dit wil wegneem – uiteindelik bou die Suid-Afrikaanse bevolking vir hulself ʼn werklikheid buite die staat, bestand teen die staat en onafhanklik van die wil van die regerende klas.

Uit die aard van die saak sou dit natuurlik goed wees as die oppergesag van die reg, die onafhanklikheid van die regbank en die beginsel van konstitusionalisme goed gefunksioneer het in Suid-Afrika. Dit sou baie makliker gewees het om binne die raamwerk van ʼn doeltreffende, goedgesinde staat te werk – waar ekonomiese groei en individuele regte inderdaad voorrang geniet het. Maar die huidige stand van sake is nogtans beter – al voel dit nie so nie.

Die Amerikaanse verklaring van onafhanklikheid verduidelik dat ʼn staat slegs kan voorbestaan solank as wat dit die toestemming, inkoop, vertroue en ondersteuning van die burgery geniet:

That to secure these rights, Governments are instituted among Men, deriving their just powers from the consent of the governed, That whenever any Form of Government becomes destructive of these ends, it is the Right of the People to alter or to abolish it, and to institute new Government, laying its foundation on such principles and organizing its powers in such form, as to them shall seem most likely to effect their Safety and Happiness.

Suid-Afrikaners is reeds verby hierdie punt en ons oplossing vir ʼn staat wat nie meer ons belange ter harte neem nie, was nie om ʼn revolusie te begin en ʼn nuwe staat te stig nie. Dit was veel beter, naamlik om oplossings buite die staat te skep. Gemeenskappe sorg vir hulself en vir mekaar, vrywillig en tot voordeel van almal. Die alternatief sou wees om dwang te gebruik en mense teen mekaar af te speel.

Uiteindelik is die antwoord vir Suid-Afrikaners nie ʼn beter regering nie, maar eerder ʼn meer onafhanklike burgery – en hiervoor het ons nie formele wigte en teenwigte nodig nie. Óns is die wigte en teenwigte.

  • Malan is ʼn navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Conrad ·

‘n Benadering dat:

1.  the State lacks moral legitimacy,
2.  that there is no individual obligation or duty to obey the State and, conversely,
3.  that the State has no right to command individuals.

En staan vir:

4. a gradual change to free the individual from the oppressive laws and social constraints of the state,
5. that citizens do not have a moral obligation to obey the state when its laws conflict with individual autonomy.

Watter van bogenoemde stellings kan van toepassing wees in ‘n politieke bestel waar teen spesifieke individue gediskrimineer word op grond van velkleur, taal, gewaande vorige bevoordeling?

🤔

Gerhard ·

In die artikel word heelwat geldige punte gemaak. Ek is egter van mening dat die antwoord wat bereik word ongelukkig foutief is. Burgerlike instellings kan geen permanente antwoord wees nie, net ‘n tydelike oplossing om tyd te koop vir ‘n werklike antwoord. Vergeet ook van die beginsel of term Suid-Afrikaner. Ons verskil teveel van mekaar om doeltreffende instellings te hê wat almal effektiewelik te kan dien. Die instellings sal noodwendig op mense moet fokus wie se waardes en belange die selfde is. Verder is dit belangrik om te verstaan waarom die ANC doen wat hulle doen en waarom sekere goed in SA gebeur. Dit is belangrik om te verstaan dat enige Afrikaner sy Westerse denke opsy moet sit wanneer hy na die saak kyk en probeer verstaan wat aangaan. Vergeet van wat logies is volgens jou Westerse waardes. Dit is Afrika, kyk eerder hoe mense in Afrika optree en probeer verstaan waar dit vandaan kom. Moenie die fout maak om fout te vind met Afrika manier van doen nie, dit kan jou tot die foutiewe gevolgtrekking bring waar jy dink hulle kan nie of sal nie sekere goed doen nie, want dit maak nie sin volgens jou Westerse manier van dink nie. Verstaan dat dit Afrika is en mense in Afrika doen dinge die Afrika manier. As jy dit doen sal jy verstaan dat die mense dood eenvoudig doen wat in Afrika gedoen word. M.a.w. die rykdom van die minderhede word herverdeel en dit hou nooit op nie.

Jerry ·

Dit het alles te doen met die gesegde “from the eye of the beholder”. Ideologiee beinvloed lewenswyse, denkwyse en regsspraak. Dit was so gedurende apartheid en dit is nou so gedurende demokratiese sosialisme. Onafhanklike burgery het gedurende apartheid in opstand en konflik gestaan met die staat en die oppergesag van die reg. Dit is vandag presies dieselfde, die skoen is egter die keer aan die ander voet. Net soos gedurende apartheid sal die staat en oppergesag van die reg onafhanklike burgery teenstand teiken, stadig maar seker en tien keer erger kan ons maar te wagte wees. Ons kan n lekker sakeryk bou met selfbeskikking en alles wat daarmee saamgaan, maar as ons nie onsself instaat stel om dit in konflik te verdedig, beteken dit alles minder as niks. Ons kan nie weer iets opbou net om dit ook weg te gee nie!

Pietman ·

Die olifant in die kamer wat geîgnoreer word is dat privaatinstellings glad nie imuun is teen staatsoorname nie. Sonder beskerming van die konstitusie is daar niks wat die staat daarvan weerhou om privaat-eiendom, -maatskappye, -universiteite te nasionaliseer nie.

Oor die langtermyn slaag bogenoemde strategie net daarin om die burgery vinniger te verarm – ons betaal van die hoogste belastingkoerse ter wêreld sonder om enige iets daarvoor terug te ontvang en moet dan ter selde tyd privaatinstellings befonds vir basiese dienste. Dit is ooglopend onvolhoubaar.

In ons huidige situasie sou enige strategie deur die burgery alleenlik sin maak indien dit gepaard gaan met ‘n dryf na ‘n volhoubare staatkundige oplossing.

Eish ·

Dit is die punt, volhoubare staatkundige oplossing.
Ek betwyfel egter of dit toegelaat sal word. Ons bring net te min na die onderhandelingstafel.
Sou ons dus moet aanvaar die semi-koma bestaan van bou en weggee, permanent ontneemde geleenthede en kleurkastrasie is n onveranderlike gegewe?
Nie juis n rooskleurige toekoms nie, veral nie vir die 600 000 plus Afrikaanse wit armes!

Swanna ·

Goeie kommetaar MR. Malan maar baie van die mense sien dit nie raak nie en staar hulle blind aan lee beloftes en in hulle ongeloof is hulle blind en aanbid die wat inbeheer is oor hul eie sake sodat dit net nie moet verkeerd moet loop nie en die oomblik wanneer dit verkeerd gaan gaan hulle in paniek want hulle het dit nie verwag nie. Mense is bang om die werlikheid in gesig te staar. Dit is makliker om blind te wees en ander die skuld te gee vir die misleiding.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.