Dié organisasies bied hoop in SA van 2012

Voormalige presidente Nelson Mandela en FW de Klerk vier die einde van apartheid.

Bom in die kop, loop ek toe en dink ná die lees van Flip Buys se onthutsend deurdagte bydrae tot Die Groot Debat — Van Eerste na Derde Wêreld: Suid-Afrika onder die ANC. Politieke dier/tier al dan nie, vir die Afrikaner is die tyd ryp vir besinning oor die nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms. Laat ons praat. En so, die meeste van ons witterig, sit dié van ons wat wil praat, dan nou saam om ‘n hutspot van waarnemings, filosofieë, ervarings, denkpatrone, verskille en keuses.

Beslis gaan daar spore en klanke van die mans is van Mars, vroue van Venus-ding in dié Groot Februarie-debat wees. Elke deelnemer het sy/haar persoonlike basislyn. Elke deelnemer kan vertel van skreiende sowel as goeie verliese, van onvoorsiene winste en sowel noodsaaklike as sinlose verarming in die nuwe Suid-Afrika. Een ding het die meeste van ons hier om die hutspot darem met mekaar in gemeen: as daar in ‘n koerantberig na ons nasionaliteit verwys sou moet word, kan die verslaggewer ons nie “Suid-Afrikaners wat sedert 1995, 1999 of 2004 permanent in Kanada of Australië woon,” noem nie. Ons is nie Suid-Afrikaans gebore Kanadese of Australiërs nie. Ons is Afrikaners in Suid-Afrika, nog hier en van hier.

Tóé en nou, dit is waaroor dit in hierdie maand se debat gaan.

30 minute later

Die mega-scenario in Suid-Afrika op en ná 2 Februarie 1990 word twintig jaar later, op Dinsdag, 2 Februarie 2010 kripties deur Simon Usborne in The Independent weergegee:

“He (F.W. de Klerk) had, he says, ‘long come to the realisation that we were involved in a downward spiral of increasing violence and we could not hang on indefinitely. We were involved in an armed struggle where there would be no winners. The key decision I had to take now, for myself, was whether to make a paradigm shift.

By the time he was back in Cape Town in early January, he had taken that decision: ‘We had planned for February 2nd in great detail, and it is remarkable it didn’t leak… My objective that day was to convince both our friends and our foes alike that we had made the paradigm shift.’ That morning, he says, he awoke with a ‘sense of destiny – I knew South Africa would never be the same again but I also believed I was doing the right thing at the right time.’

When he sat down 30 minutes later, the ANC and 30 other political parties, including the Communist Party, had been unbanned unconditionally; the death penalty was suspended; the state of emergency was lifted; trade unions were allowed to function freely; all political prisoners were to be released immediately and restrictions on political exiles were lifted; and, perhaps most importantly of all, De Klerk opened the way for South Africa’s first fully democratic election in 300 years by promising ‘a totally new and just constitutional dispensation in which every inhabitant will enjoy equal rights, treatment and opportunity.’

In short, in half an hour, de Klerk had announced a commitment to a full democracy, with majority rule in a unitary state which would include the homelands, an independent judiciary, a commitment to equal justice for all under a human rights manifesto, no discrimination, and a free economy. The entire edifice of apartheid, so hated around the world, had been dismantled in a single speech.

…The veteran editor, Allister Sparks, given a preview of the speech earlier in the day, gasped: “My God, he’s done it all.” On the streets of Cape Town and in the townships, wild celebrations went on into the night. Newspaper sellers quickly sold out of the Cape Argus with its headline ‘ANC UNBANNED’, while Tutu giggled: “Just wait till de Klerk sits down with Tambo. They will discover how South African they both are!’

“Mandela, watching on TV, later remarked: ‘It was a breathtaking moment, for in one sweeping action he had virtually normalised the situation in South Africa. Our world had changed overnight.

Soos in die tyd van Noag

Maar daar was ook die klein scenarios, soos wat daar in die tyd van Noag die mega-scenario en die tienduisende minieme scenario’s van handelstransaksies, hofmaak, trou, geboorte, konflik, siekte en dood was.

In 1990 was daar studente in Staatsleer- en Staatsfilosofieklaskamers. Sommige van hulle was politieke diere wat hulle aantekeninge van lesings en eie werkstukke gehou het. Daar was Hoëveldse boere wat die vibes en die kyk in die oë by hulle plaaswerkers onrustig waargeneem het. Daar was winkeleienaars wat toe reeds wrokkig gewonder het hoe hulle die muur tussen die SLEGS BLANKES- en NIE-BLANKES-toonbanke sonder strukturele skade uitgekap sou kry. Daar was klein witterige laaities wat pas ‘n plek in die onder 9-rugbyspan gekry het en aan niks anders as rugby gedink het nie. Daar was die manne van die Bosoorlog: lees hulle blogs vir ‘n kyk in hulle gedagtes in die negentigs. Daar was vroue met pasgebore babas: hulle het nie tyd gehad om te dink nie. Daar was predikante, pastore en priesters, baie van hulle getroud met vroue wat self ook geestelike leiding in gemeentes moes gee. Laasgenoemde was hierdie blogger se werk, opdrag, roeping en operasionele ruimte in die negentigs.

In ‘n konsistorie van ‘n N.G. gemeente

In die negentigs moes hierdie blogger die mega-scenario soos deur Simon Usborne beskryf, so skriftuurlik moontlik binne die konteks en verantwoordelikheid van die Evangeliebediening in ‘n voorstedelike Nederduits-Gereformeerde gemeente met wit vrouelidmate deurwerk. Hierdie blogger moes dus in die negentigs met die Skrif as basis- en riglyn oor die nuwe bedeling in Suid-Afrika dink en gesprek voer. As hierdie blogger ook haar aantekeninge van die biduurvrougesprekke in die gemeentekonsistorie in die negentigs sou gehou het, sou haar aantekeninge in vele opsigte van Flip Buys s’n verskil het. Een verskil sou wees dat die praktyk die meeste van Flip Buys se destydse analitiese vooruitskouiings bevestig het— en dat die Romeine 8:28-kerngevolgtrekking waartoe die biduurvroue daar in die konsistorie gekom het, op donker dae nie meer so glashelder en onaantasbaar vir die witteriges lyk nie.

Kort en kragtig: My verwagtinge van ‘n nuwe Suid-Afrika in die vroeë negentigs was: Rom. 8:28: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Ek moes dit vir myself uitpluis; ons was met die oog op ‘n tyd soos die negentigs geroep om die Skrif te bedien.

Die “ons” in die teksvers was aanvanklik, toe ons in die konsistorie begin praat het, gelowige witterige Afrikaners. “Ons” was die produk van ons verlede en ons bekende werklikheid, daarom was die “ons” aanvanklik, in die vroeë negentigs, eksklusief en selfgesentreerd. Vir ons witteriges sou God alles ten goede laat meewerk. Hóé, het ons daar in die konsistorie nie geweet nie. Ek dink nie ons het ons koppe ook daaroor gebreek nie. Ons was by ons basislyn, ons geloofsoortuiging, en dit was vir die oomblik genoeg.

En, ja: by die basislyn het ons presies dieselfde denkfoute op die vlak van oor- en onderskatting van onsself en die ANC gemaak as almal wat nie in Bloem was om saam met ons biduur en Bybelstudie te hou nie. Ons het die fundamentele ideologiese verskil tussen Westerse demokratiese- en Marxistiese denke misgekyk. Ons het ons hoop ook maar lekker stewig gevestig op die redelikheid van mense wat hulle menswaardigheid (deur ons ontneem) teruggevind het en ‘n onaantasbare supergeskrif, die Grondwet. ‘n Gerusstellende boostertjie vir ons Romeine 8:28-belydenis.

Ag, nee, steeds virale Discidium

Die Klas van 1990 waarin Flip Buys was, se vooruitskouing van die mega-scenario wat op Suid-Afrika gewag het, was grotendeels akkuraat. Ons beleef dit en dis nie wat ons wat witterige Afrikaners is, wil hê nie.

Een ding sou die biduurvroue darem ook reeds in 1990 reg kon voorsien het: ons sou ook bly soos wat ons nou al meer as as 300 jaar lank is. Die meeste van hulle was immers met Afrikanermans getroud. Die wonderwerk sou nie gebeur nie: ons wat witterig is, sou steeds aan (en vanweë) die siekte van Afrikanervernietiging, virale Discidium, (t.w. nie-bakteriese verdeeldheid) ly.

As witterige Afrikaners sou ons in die daaropvolgende dekades sonder kohesie of gedeelde visie en identiteit reageer op wat ook al sou volg. Hier sit ons dan nou ook inderdaad om ‘n hutspot van reaksies: fatalisme, leedvermaak uit die verte, magteloosheid, negatiwiteit, nuutgevonde geloof in God en onsself, vrees, die kop-in-die-sand-keuse, realistiese hoop, die passie om in ‘n nuwe lewe in die nuwe Suid-Afrika te woon en te werk—soveel Afrikanersiele, soveel sinne.

Maar vir sommige van ons in die Biduurgroep van destyds daar was ook die onvoorsiene gevolge van wat op 2 Februarie 1990 gebeur het.

“Ons”

“Ons” het sy eksklusiewe karakter verloor. “Ons” het die witteriges en die swarteriges en die bruineriges geword. As witterige het ek verarm en ryker geword. Ek is gestroop en het meer gevind as wat ek ooit in 1990 sou kon dink. Waar dit saak maak in ‘n dimensie wat nog groter as die mega-scenario in die land is – in my verhouding met en aanspreeklikheid jeens God en mens – het alle dinge ten goede meegewerk, presies soos wat dit in Rom 8:28 staan. Ek weet dat dit met ander witterige gelowiges ook gebeur het. Hulle getuig daarvan. ‘n Ou bestaan is afgegooi, soos ‘n geskeurde kledingstuk.

Aandnuus, 2020

Wanneer ons die aandnuus in 2020 aanskakel, sal ek waarskynlik steeds kan reken op Twee Groot Skokberigte, met sportnuus (krieket, rugby, sokker en gholf) altyd in die derde plek, waarna nog enkele plaaslike skokberigte en ‘n klein snapsie konflik/oorlog/ekonomiese krisis/natuurrampnuus iewers in een van die ander 55 state van Afrika en die ander ses kontinente van die aarde. Miskien loop hier dan tog ‘n paar nuwe treine en het ons dan nog ‘n paar ekstra ekonomiese lugrederye. Die meeste mense sal met bakkies en ruwepad-bestande voertuie ry. Die witteriges sal nog minder flashy wees as nou (ons is reeds uitkenbaar aan ons ou karre) en in baie gevalle sal die DA-jeugliga se nuutste plakkaat soos Flip Buys se studente-aantekeninge wees.

Maar nóú, vandag, vanaand en môre-aand, sal ek bly hoop. Ek sal bly droom van en bly gedagtes ruil oor ‘n toekoms vir die witteriges en hulle nageslag, net hier, volledig verweef met die tekstuur en die heil van hierdie land. Dit is wat ‘n mens begin doen as jy verwoesting om jou sien. Dit is die logiese ding om te doen as jy ontdek dat jy jouself en ander oor- en onderskat het.

Nooit weer swartgesmeerde gesigte by Onderstepoort nie

Ek sal hoop en bid om nooit weer witterige jongmense met swartgesmeerde gesigte by Onderstepoort te sien kruip om toelating nie. Ek sal vir God vra of ek reg gehoor het: dat dié hartseer toneel ‘n wakkerwordalarm was. Ek sal Hom vra of ek reg verstaan het dat ons witteriges by ‘n T-aansluiting is, en dat ons nie meer Onderstepoort se pad moet vat nie. Ek dink ek het. Ander dink ook so. Ander dink ook ons witteriges moet begin praat, al sit die lot van ons dan nou ook opgesaal met die vervloekte virale Discidium in ons gene.

Nooit weer daardie Onderstepoort-geweeklaag nie. Vanaand en in die maande wat kom, sal ek bid en hoop dat ons witteriges nou, ten aanskoue van die desperaatheid van baie jongmense, ‘n slag saam sal kyk na wat reeds bestaan, wat ons behou het en na wat sommige gebou, geformuleer en ontwikkel het.

Daar’s die FAK, die ATKV, Solidariteit, daar is Orania, die Rapportryers, die Vryheidsfront Plus en die DA se jeugbewegings, daar’s die Afrikaanse Handelsinstituut, die Afrikanerbond, die Dameskring, die Helpmekaar Studiefonds, die SAOU, die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie. Daar is die Vereniging van Regslui vir Afrikaans, die Voortrekkermonument- en Erfenisstigting, Helpende Hand Vroue in Aksie, Suid-Afrikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap, LitNet, Agri-SA, KKNK, Aardklop, die Voortrekkers, NasPers en suksesvolle Afrikaanssprekende sakeleiers. Daar is genoeg.

Orania of Oudtshoorn of ‘n welvarende witterige boer se plaas kan dalk net die regte plek wees vir ‘n Afrikaanse Universiteit met internasionaal geakkrediteerde kursusse en grade, buitelandse blootstellings- en professionele ontwikkelingsgeleentheide vir witterige, bruinerige of swarterige studente wat hulle tersiëre opleiding in Afrikaans wil doen. Die beste tegnologie moet in plek wees; dit is ononderhandelbaar. Die mediasentrum moet uit sy nate bars. En daar moet studenteleraars en elke geleentheid om geestelik te groei, op daardie kampus wees.

Nee, die kampus hoef nie imposante geboue en lugversorging in elke lokaal, ‘n Olimpiese grootte swembad en ‘n eie gimnasium te hê nie. Op hierdie kampus gaan dit oor ‘n droom, oor ‘n ideaal: die van regeringskant ongesubsidieerde bemagtiging van mense wat ‘n verskil in hierdie land wil maak. Dit gaan oor die nie-uitwissing van Afrikaans as akademiese, handels-, wetenskaps- en onderrigtaal. Dit gaan oor die baie variante en dialekte van Afrikaans. Dit gaan oor die hokslaan van die vervloekte virale Discidium wat ons ons lewe kan kos.

Ek droom van ‘n Afrikaanse Universiteit van karakterbou met onder andere ‘n veeartsenykunde-fakulteit vol trotse, witterige gesigte; ‘n mediese fakulteit spesifiek gerig op die hantering – en die persoonlike emosionele oorlewing— van die nood van pasiënte in landelike gebiede in Afrika. Ek droom van ‘n kampus van entrepreneurskap en vindingryke oplossings vir die eiesoortige uitdagings van die nuwe Suid-Afrika. Ek droom van ‘n kampus waar studente self vir hulle ‘n dansvloer gooi en teël (oor-idealisties?), ‘n kampus van patente- en idee-ontwikkeling, ‘n kampus van wetenskaplike navorsing, ‘n kampus waarop alle studente elke weeksdag een uur lank in ‘n Afrikataal moet kommunikeer. Ek droom van ‘n kampus wat ‘n paar keer per week regtig leeg is, omdat die studente in die gemeenskap in is (en so tuis daarin raak, dat hulle sal weet hoe om uiteindelik ver in landelike gebiede raak te vat en raak te sien.)

‘n Ander manier van kyk

Ek het nie die soort kamera wat ek regtig begeer nie. Maar die een wat ek het, het darem ‘n makro-funksie. Ons het ook nie die see, die asemwegslaanwingerde van die Boland en die Groot Vyf so 11 kilometer noord van Bloemfontein nie. Ons het plat, dikwels kleurlose vlaktes en ‘n groot uitspansel met die son, die maan, die sterre en baie soorte wolke. So ontdek ek toe algaande dat ‘n wens-ek-was fotograaf soos ek nie lewenslank in gefrustreerde en verlangende verontregting na ander kameras hoef te bly kyk en oor hulle hoef te bly lees nie. Ek het ‘n kamera met ‘n makro-funksie. Ek hoef ook nie te wag totdat ons eendag weer by die see is nie. Die pad wat ek met my onindrukwekkende kamera op ‘n oënskynlik barre landskap moet loop, is die pad en die styl van oplettend kyk.

Ek het begin kyk, fyn kyk. Ek het begin gebruik wat ek het. Ek het lewe in die barheid gesien. En toe ek soveel lewe begin raaksien het, het ek aan die witterige Afrikaner, aan Afrikaans, aan die toekoms en aan ons nageslag in hierdie land gedink.

Hierdie bydrae maak deel uit van ‘n nuwe gesprekreeks op Die Groot Debat, “1990 tot 2012: Die Nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms in oënskou“. Stuur vir ons jou bydrae na [email protected] Lees gerus ook Christo van der Rheede, Charl-Pierre Naudé, Isak Burger en Louis du Plessis se bydraes.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Maretha Maartens

Meer oor die skrywer: Maretha Maartens

Maretha Maartens is die skrywer van meer as 100 gepubliseerde boeke en meer as 1000 tydskrifartikels en koerantrubrieke. Sy wil nêrens anders as in (Suid) Afrika leef en werk nie. Haar lewensleuse is om lig en eenvoudig te leef. Haar God is die God van die Bybel.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gemsbok ·

Ek dink hierdie stuk verdien applous.

Behalwe vir Rom 8:28 is daar darem ook Rom 5:3: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop”

Die pad wat ons stap is inderdaad die pad wat ons moet stap.

Ek sal net nie so vinnig wees om die Afrikaners wat vandag in Kanada, Engeland, Frankryk, Nederland, Duitsland, Amerika, Australië, Nieu-Seeland en dies meer woon, af te skryf nie.

Hulle bly steeds deel van ‘n uitgebreide familie en het ‘n belang by Afrikaans wat nie van hulle af weggeneem kan word nie. Hulle kan dit alleen self prysgee. En hoewel baie dit wel doen, doen nie almal dit nie.

Dit was vir die meeste van hulle nie hul eerste keuse om hul geliefdes, vriende en familie, agter te laat nie en baie van hulle doen vandag vir ons goeie werk, want hulle dra ‘n beeld van ons uit wat nie ooreenstem met die stereotipes wat van ons gekweek is tydens die struggle nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.