Die ou kontinent soek na ’n nuwe toekomsvisie

Angela Merkel. (Foto: Francois Lenoir, Pool Photo via AP)

Teen die einde van 2021 sal Angela Merkel nie meer die kanselier van Duitsland wees nie. In Nederland sal ʼn nuwe koalisieregering aan bewind wees en in minstens nog vyf lidlande van die Europese Unie sal nuwe regerings verkies wees.

Die EU het onlangs aangekondig dat ʼn konferensie oor die toekoms van Europa vanjaar aangebied gaan word. Terwyl Europa steeds die veiligste, voorspoedigste en polities asook ekonomies die mees stabiele kontinent op aarde is, is groeiende verdeeldheid tussen EU-lidlande, ʼn verandering in leierskap en vraagstukke oor hoe immigrasie, Europese integrasie en die behoud van Europa se diversiteit en die EU-lidlande se nasionale soewereiniteit in die toekoms hanteer moet word, vraagstukke wat dringend hanteer moet word indien Europa in die toekoms steeds die kontinent van stabiliteit wat dit sedert die einde van die Koue Oorlog is, wil wees.

Op 31 Augustus 2015 het Angela Merkel, die Duitse bondskanselier, op ʼn mediakonferensie ná ʼn besoek aan ʼn vlugtelingkamp buite Dresden drie woorde geuiter wat haar 15 jaar as staatshoof van Duitsland uiteindelik sou definieer… “Wir schaffen das” (Ons sal dit gedoen kry) het dié enkele sin geword waarvoor Merkel waarskynlik ná haar uittrede later vanjaar onthou sal word. Merkel se leierskap is met elke krisis die afgelope 15 jaar in Europa deur hierdie praktiese fokus op eenvoudige oplossings gekenmerk. Dit raak egter toenemend duidelik dat moeiliker en groter oplossings geverg word om Europa se rol in ʼn snelveranderende wêreld te help definieer.

Sedert Merkel in 2005 die eerste vrouekanselier van Duitsland geword het, het sy daarin geslaag om Duitsland as ekonomiese mag in Europa uit te bou, Europa deur die finansiële krisis van 2008 te lei, die vlugtelingkrisis van 2015 te hanteer en vanjaar die Covid-19-pandemie en Duitsland se reaksie daarop te bestuur. Merkel was in haar 15 jaar as kanselier ook betrokke by die hantering van krisisse in, onder meer, die Oekraïne, Belarus, verskeie Balkan-lande, die Kaukasiese streek en die Midde-Ooste.

Merkel se uittrede vanjaar verteenwoordig die einde van ʼn era vir Duitsland, maar ook vir Europa. Merkel geniet steeds ongekende hoë vlakke van steun in Duitsland en daar is onder baie Duitsers ʼn benoudheid en selfs vrees vir wat ʼn era ná Merkel kan inhou. Tog is daar ook ʼn behoefte aan ʼn ander soort leier as Merkel.

Annegret Kramp-Karrenbauer. Foto: (AP Photo/Rahmat Gul)

Merkel se pogings die afgelope twee jaar om ʼn opvolger, wat op die Merkel-lees geskoei is, te laat verkies, het grootliks misluk. Haar eerste keuse om haar as leier van die Christen-Demokratiese Unie (CDU) op te volg, Annegret Kramp-Karrenbauer, het intussen haar uittrede aangekondig. Merkel se nuwe keuse, die premier van Noordryn-Westfale, Armin Laschet, geniet tans min steun in die party en dit is duidelik dat die konserwatiewe faksie binne die CDU wil hê dat die party ʼn nuwe rigting moet inslaan en ʼn meer konserwatiewe leier moet kies. Die party se kongres waar ʼn nuwe leier verkies moet word, is al twee keer vanjaar uitgestel, en hoewel dit amptelik weens die pandemie is, speel Merkel se frustrasie met lede van haar party se voorkeurkeuse vir ʼn opvolger sekerlik ook ʼn rol. Later hierdie week sal die konferensie nou uiteindelik plaasvind en sal ’n katolieke man (al drie kandidate is katolieke mans) die volgende leier van die CDU word.

Terwyl Merkel stelselmatig in Europese politiek na die agtergrond verskuif, is ander leiers aktief besig om die ruimte te probeer vul. President Macron van Frankryk het die afgelope tyd op verskeie kwessies soos Islamitiese fundamentalisme, die verhouding tussen Europa en Turkye, Europese integrasie en Europa se verdedigingstrategie leiding begin neem. Ook die jong, konserwatiewe en gewilde Oostenrykse kanselier Sebastian Kurz het begin om sy profiel oor die hele Europa te versterk.

Hoewel Nederland slegs die sewende grootste bevolking in die EU het, is die Nederlandse ekonomie die vyfde grootste en het die Nederlandse eerste minister, Mark Rutte, die afgelope tyd sy invloed toenemend by die EU laat geld. Rutte is reeds vir tien jaar staatshoof van Nederland en sy party loop gemaklik voor in peilings. Indien hy ná Maart se verkiesing daarin slaag om ’n vierde Rutte-regering te vorm, sal sy invloed in EU-politiek net verder toeneem. Terwyl Nederlanders meestal ten gunste van EU-lidmaatskap is, is daar ’n sagte EU-skeptisisme in Nederland, veral omdat die kultuur van fiskale dissipline waarvoor Nederland (volgens baie Nederlanders) bekend is, deur die spandabelrigheid van Suid-Europese lande en die EU self teengewerk word. Rutte se herverkiesing sal dus ’n mandaat vir groter fiskale dissipline in die EU wees. Saam met nog Europese leiers soos Macron en Kurz verskil Rutte ook van die Duitsers se aandrang op die uitbreiding van EU-lidmaatskap na nog lande in Oos-Europa en die Balkan.

Foto: Radovan Stoklasa/Reuters

Die volgende twee jaar gaan ʼn tydperk van belangrike herbesinning vir Europa wees. Verlede jaar was ʼn traumatiese jaar vir ʼn kontinent wat baie hard deur die pandemie getref is en waar terreuraanvalle weer met groter reëlmaat begin kop uitsteek het. Die verdelingslyne in Europa is nie net tussen Noord-Europese lande wat fiskale dissipline wil hê en die sogenaamde spandabelrige suide nie, maar ook tussen Wes- en Sentraal-Europese lande. Dit gee aanleiding tot al hoe meer geskille in die Europese Unie. Pole en Hongarye se onlangse besluit om die implementering van ʼn nuwe langtermynbegroting vir die Europese Unie, wat ook ʼn ekonomiese hulppakket insluit, te veto en dít vanweë vereistes oor die beskerming van die regstaat in EU-lidlande, het bewys dat die verdeling in Europa krisisafmetings begin aanneem. Hoewel die geskil intussen opgelos is, het die vasberadenheid van die Pole en Hongare nuwe betekening aan die oos-wes kulturele skeiding in Europa gegee.

Tydens die 2008- finansiële krisis en die 2015-immigrasiekrisis het skerp verdelingslyne in Europa ontstaan. Dit was keer op keer Merkel wat met pragmatisme en korttermynoplossings ʼn grootskaalse krisis afgeweer het. Verlede jaar het Merkel die oë in Duitsland, en veral in haar party, laat rek toe sy van Duitsland se sterk fiskale dissipline afgewyk en ingestem het tot die aangaan van gedeelde skuld deur die Europese Unie. Daardeur het sy lande in die suide van Europa weer eens gesus, terwyl ʼn nuwe blok van lande wat fiskale dissipline vooropstel, ontstaan het en die finansiering van ʼn ekonomiese hulppakket met ʼn skuldlas aan ʼn volgende generasie Europese burgers oorgedra is.

Argieffoto (Foto: CHRIS J RATCLIFFE / AFP)

In Brittanje het frustrasie met Merkel se benadering tot Europese integrasie solank Duitsland met sy bevolkings- en ekonomiese krag steeds besluite en beleid kan bly domineer wesenlik tot die hele Brexit-debakel bygedra. Met Brittanje wat nou finaal los staan van Europa, sal ʼn nuwe verhouding tussen kontinentale Europa en die Verenigde Koninkryk ontwikkel moet word.

Met die verlies van sy tweede sterkste lidland kan die Europese Unie nie anders as om ernstig gesprek te begin voer oor die toekoms van dié organisasie en samewerking in Europa nie. Terwyl ekonomiese samewerking in Europa sy voordele inhou, is dit kulturele en politieke verskille wat tans tot verdeeldheid aanleiding gee. Die verandering in politieke leierskap deur die hele Europa kan oor die volgende twee jaar verder hiertoe bydra.

Afgesien van Duitsland, waar kiesers in Oktober na die stembus gaan om ʼn nuwe federale regering te kies, vind belangrike nasionale verkiesings ook in Nederland, Portugal, Bulgarye, Tsjeggië en Estland (almal EU-lidlande) plaas. In die aanloop tot die 2022-presidentsverkiesing in Frankryk sal die Franse president, Emmanuel Macron, 2021 waarskynlik wil gebruik om hom as die belangrikste leier in Europa te vestig en om Franse burgers daardeur te oortuig om hom, ten spyte van heelwat ongelukkigheid met sy beleid oor die afgelope drie jaar, tot ʼn tweede termyn te herkies.

Die ontslape Duitse skrywer en Nobelpryswenner vir literatuur, Gunter Grass, het ʼn paar jaar gelede geskryf dat die Europese Unie op ʼn ekonomiese fondasie ontwikkel het en dat dit nie ʼn soliede fondasie is nie omdat kulturele identiteit deur die Europese Unie en Europese integrasie verwaarloos is. Hierdie verwaarlosing het die afgelope twee dekades tot die opkoms van populistiese partye, wat juis die identiteit van Europa se verskillende volkere wil beskerm, gelei. In lande soos Hongarye, Pole en Slowakye het nasionale regerings standpunt begin inneem teen die verlies aan soewereiniteit wat die aandrang op Europese eenvormigheid meebring en wat, volgens hulle, op EU-lidlande en die diverse volkere in Europa afgedwing word.

Hierdie verwaarlosing van kulturele identiteit en die toenemende burokratisering van die Europese Unie het ʼn wesenlike bydrae gelewer wat die Verenigde Koninkryk se besluit om uit die Europese Unie te tree, betref. Die ontslape Britse filosoof en skrywer, Roger Scruton, het sy eie stem ten gunste van Brexit in 2016 verduidelik aan die hand van sy ervaring dat die Europese Unie probeer het om nasionale soewereiniteit in alle sake wat vir hom van belang was in die naam van groter Europese integrasie af te breek.

Foto: AP Photo/Emilio Morenatti

Die enkele saak wat egter die afgelope paar jaar die grootste inpak op Europa gehad het, is immigrasie. Dit was juis Angela Merkel wat in 2015 met haar besluit om vlugtelinge uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika in groot getalle in Duitsland te ontvang, terwyl lande in Oos-Europa en selfs Duitsland se buurland, Oostenryk, hul grense gesluit het, wat die Europese benadering tot die soeke na konsensus op kritieke punte tot ʼn einde gebring het.

Selfs Merkel het ʼn jaar of wat ná daardie “Wir schaffen das”-uitspraak gesê dat sy in die toekoms nie weer dié eenvoudige uitspraak sal gebruik nie. Hoewel Merkel steeds haar immigrasiebeleid van 2015 bly verdedig, het ook Duitsland intussen ʼn veel strenger immigrasiebeleid aanvaar. Toe Merkel in 2005 die kanselier van Duitsland geword het, was die assimilasie van Duitsland se aansienlike immigrantebevolking nog amptelike beleid. Intussen het Merkel self haar land en ander Europese lande se mislukking om immigrante uit veral die Midde-Ooste en Afrika te assimileer, erken. Pres. Macron praat deesdae selfs van ʼn parallelle Moslem-gemeenskap in Frankryk wat grootliks apart van die res van Frankryk funksioneer.

Die gerespekteerde Nederlandse sosiaal-demokraat, die voormalige minister van buitelandse sake en huidige adjunkpresident van die Europese Unie, Frans Timmermans, het ná die 2015-immigrasiekrisis in ʼn toespraak gesê dat dit juis die immigrasiekwessie is wat die Europese Unie tot op die afgrond laat beland het.

Die onvermoë van politieke leiers in Europa om hul eie volkere en kulture teen massa-immigrasie te beskerm, is skandalig. Kommentators en joernaliste wat ook beweer dat immigrante gemaklik in Europese samelewings integreer, sit die pot lelik mis. Selfs Macron het onlangs daarop gewys dat dit nie gebeur nie en dat parallelle samelewings orals opskiet.

Foto: Petros Giannakouris, AP

Talle immigrante is jong mans uit arm lande in die Midde-Ooste en die noorde van Afrika. Hulle is bloot ekonomiese onwettige immigrante of, meer eenvoudig gestel, geluksoekers. Oor die afgelope twaalf maande het dit nou twee keer gebeur dat onwettige immigrante die kampe wat onderskeidelik in Griekeland en Bosnië vir hulle opgerig is, afgebrand het. Elke keer het polities korrekte politici in ander Europese lande ’n beroep daarop gedoen dat hierdie arme mense toegelaat moet word om oor die hele Europa ontvang te word. Die gevolg van elke so ’n oproep is net die verdere instroming van nóg meer geluksoekers. In ’n program op die nuuskanaal Al Jazeera kon nie een vrou of kind by die kamp in Bosnië opgespoor word nie. Dit was almal jong mans uit Pakistan, Indië en ander arm lande.

Sal Europese leiers ooit besef dat Europa nie elke arm immigrant uit die Midde-Ooste, Asië en Afrika kan ontvang nie? Die werklikheid is natuurlik dat baie Europese leiers bloot net op korttermyn- en mediumtermyndoelwitte gefokus is. Die staatshoofde van Duitsland (Merkel), Nederland (Rutte), Frankryk (Macron), Swede (Löfven), Luxemburg (Bettel) en Oostenryk (Kurz) het nie self kinders nie. Die vraag bestaan dus of hulle werklik die implikasies van massa-immigrasie op die toekoms van Europa se volkere kan besef.

Nadat Joe Biden die verkiesing in die VSA gewen het, behoort die wêreld se fokus nou na Duitsland te verskuif. Wie ook al die volgende Duitse kanselier gaan wees, is van groot belang vir Duitsland, Europa, maar ook die hele wêreld. Merkel se oorvereenvoudigde, pragmatiese benadering tot die hantering van krisisse het haar by tye die vaal, vervelige, maar ook stabiele, gefokusde en onbetwiste leier van Europa gemaak. Ná die verkiesing van pres. Trump in 2016 in die VSA is daar selfs na Merkel as die leier van die Weste verwys. Dit was egter ook Merkel se politieke styl wat korttermynoplossings vir langtermynprobleme in Europa geskep het. Daar is ’n groot behoefte, ook onder baie Duitsers, vir ’n leier wat minder versigtig sal wees en wat bereid sal wees om soos Macron en Kurz meer reguit oor Europa se uitdagings te praat.

Foto: REUTERS/Eric Gaillard

Die terreuraanval op 29 Oktober verlede jaar in Nice, Frankryk het die onopgeloste aard van onwettige immigrasie en die gevolge daarvan vir Europa opnuut beklemtoon. Brahim Aouissaoui, ʼn 21-jarige man van Tunisië, het in September as ʼn onwettige immigrant op ʼn boot op die Italiaanse eiland Lampedusa aangekom. Daar was hy vir 20 dae in kwarantyn weens die pandemie. Aouissaoui het kennis van die Italiaanse owerhede ontvang dat hy Europa moet verlaat omdat hy onwettig daar was. Hulle het hom tot 9 Oktober kans gegee om na Tunisië terug te keer.

Sonder dat sy bewegings gemonitor is, het hy na die suide van Italië gereis en van daar na Nice in Frankryk waar hy op 29 Oktober drie persone met ʼn mes vermoor het, waarvan een slagoffer gedeeltelik onthoof is. Ná ʼn vorige aanval in Parys vroeër in Oktober, het hierdie aanval die dringendheid van beter immigrasiebeheer in Frankryk bevestig.

Pres. Macron het die afgelope drie jaar veral gefokus op wat hy as die uitbou van Europese soewereiniteit en Europa se strategiese outonomie beskou. Dit was in direkte reaksie op die Trump-administrasie se skeptisisme oor Amerika se bydrae tot die beskerming van Europa deur, onder meer, Navo en die volgehoue teenwoordigheid van tienduisende Amerikaanse soldate in Europa.

Die afgelope drie maande is Macron egter met die voortdurende radikalisering van individue in Frankryk se Moslem-bevolking van bykans vyf miljoen gekonfronteer. Macron het reeds sy steun toegesê aan nuwe wetgewing wat sogenaamde Islamitiese separatisme in Frankryk moet bestry en wat, onder meer, baie strenger toesig oor moskees en ander Moslem-instellings voorstel.

Dit was ook Macron wat die afgelope tyd die leiding in Europa geneem het nadat Turkye, ʼn voormalige bondgenoot van Europa, sy aggressiewe aanslag op die oostelike Middellandse See-gebied begin verskerp het. Terwyl Merkel elke uitdaging, van immigrasie tot Europese soewereiniteit, deur dialoog wil oplos, is dit Macron wat besef dat moeiliker antwoorde wat langtermynoplossings kan bied, benodig word.

Emmanuel Macron. (Foto: AP Photo/Olivier Matthys, Pool)

Kurz van Oostenryk het in ʼn onlangse onderhoud met ʼn Duitse nuusblad ʼn visie vir Europa verduidelik waarmee hy hom in die middel plaas tussen die meer liberale Europese leiers (wat Europese integrasie binne die Europese Unie voorstaan) en die leiers van sentraal-Europese lande soos Pole en Hongarye (wat sterk voel oor die soewereiniteit van EU-lidlande). Kurz en Macron stem egter saam dat die Europese Unie sy grense beter moet bewaak, fermer teen onwettige immigrante moet optree, politieke Islam in Europa moet bestry en dat die huidige bedreigings wat van Europa se voormalige bondgenoot Turkye af kom, trompop geloop moet word. Kurz en Macron is albei ook voorstanders van ʼn onafhanklike Europese weermag en beter verhoudinge tussen Europa en Rusland. Merkel verskil van Macron en Kurz wat die meeste van hierdie punte betref.

Die konferensie oor die toekoms van Europa moet hierdie en ander strydpunte onder die loep neem om uiteindelik ʼn duidelike visie vir die Europa van die toekoms te bepaal. Planne vir die konferensie is aan die einde van 2019 bekend gemaak, maar EU-lidlande het bykans ʼn jaar lank gestry oor wie die konferensie moet lei. Dit is reeds ʼn aanduiding van hoe moeilik gesprekke op so ʼn konferensie gaan wees. Die konferensie sal na verwagting twee jaar duur en sal verteenwoordigers van oor die hele Europa betrek. Die voormalige Deense premier, Helle Thorning-Schmidt, sal die konferensie lei.

Vir ʼn kontinent wat in die vorige eeu twee verwoestende wêreldoorloë, die Koue Oorlog en verskeie ander groot ekonomiese, gesondheids- en ander krisisse trotseer het, kan die huidige uitdagings van immigrasie, lae bevolkingsaanwas, ’n verouderende bevolking, onvriendelike bure soos Rusland en Turkye, terreur op klein skaal, outoritêre leiers in Oos-Europa, korrupsie en etniese spanning in die Balkan en die gevolge van die Covid-19-pandemie nie so ernstig lyk nie. Die leiers in Europa besef egter dat die hegmiddel wat Europese lande binne die Europese Unie saambind, maklik uitgeleef en uitgedien kan raak. Brexit het dit bewys. ʼn Nuwe kleefstof is gereeld nodig om die Europese projek die toekoms in te neem.

Met nuwe staatshoofde wat oor die hele Europa verkies word, kan en moet daar nuut oor die toekoms van dié kontinent besin word. Die Pools-Amerikaanse diplomaat, Zbigniew Brzezinski, het Europa se probleem beskryf as die kontinent se onvermoë om ander lande, veral in die Midde-Ooste en Afrika, te oortuig om die Europese voorbeeld van demokrasie, vrede en samewerking te volg. Die gevolg is dat Europa steeds deur onstabiele, armoedige gebiede omring word wat tot onwettige immigrasie aanleiding gee.

Die ou kontinent het deur die eeue nog altyd kultureel, polities en ekonomies toon aangegee in die wêreld. Europa kan en moet ook in die toekoms hierdie rol behou, maar dan sal daar van leiers op dié kontinent verwag word om ’n paar eie sake in orde te kry terwyl ’n groot nuwe toekomsvisie ontwikkel word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.