Die “ou Suid-Afrika” en Afrikaans

Afrikaanse TaalmonumentHet die “ou bedeling” van voor 1994 Afrikaans bevoordeel of benadeel? Dié vraag is weer ter sake veral wanneer die land die rampspoedige 1976-onluste herdenk.

Die ou bedeling het op 31 Mei 1910 begin, die dag waarop die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het. Een van die belangrikste bepalings van die 1910-grondwet was dat, behalwe Engels, ook Hollands as amptelike taal erken is.

Voordat die onderhandelinge oor ’n nuwe grondwet in 1908 begin het, het feitlik almal verwag dat Engels die enigste amptelike taal gaan wees. Nadat Brittanje die Vrystaat en Transvaal in die Anglo-Boereoorlog verower het, was Engels daar, soos in die Kaapkolonie en Natal, die enigste onderwys- en amptelike taal.

Vir die twee Vrystaatse leiers, pres. M.T. Steyn en genl. J.B.M. Hertzog, was dit totaal onaanvaarbaar en dis aan hul sterk standpunt te danke dat die Nasionale Konvensie op 20 Oktober 1908 besluit het dat sowel Engels as Dutch amptelike tale sou wees. Daar was nog meningsverskil oor die vraag of Afrikaans of Nederlands die skryftaal van die Afrikaanssprekendes moes word. Afrikanerleiers het vroeg in 1909 ooreengekom dat Hollands die regte vertaling van Dutch sou wees, omdat dit Afrikaans en Nederlands kon insluit.

Binne enkele jare het Afrikaans die oorhand oor Nederlands gekry en in 1925 is dit wetlik bepaal dat die woord Hollands in die grondwet ook Afrikaans insluit.

Die besluit om twee amptelike tale te erken het die verengelsing van die openbare lewe in Suid-Afrika gestuit. Die twee alternatiewe was ’n langdurige taalstryd om erkenning, of berusting in die alleenheerskappy van Engels, en daarmee saam die agteruitgang en waarskynlik die ondergang van Afrikaans.

Afrikaners het Afrikaans gou opgebou tot ’n volwaardige kultuurtaal. Die gelyke behandeling van die amptelike tale in die staatsdiens, die uitbreiding van moedertaalonderwys na Afrikaanssprekendes en die skeppingskrag van joernaliste, skrywers en ander intellektuele het dit moontlik gemaak.

In 1948 het die Nasionale Party aan die bewind gekom – die “apartheidsregering”, soos baie mense dit deesdae noem. Die belangrikste wat dié bewind op taalgebied gedoen het, was om die Afrikaans-Engelse gelykheid van 1910 voort te sit, ook ná republiekwording in 1961.

Daar was geen aanslag op Afrikaanse of Engelse enkelmediumskole nie en die voertaal van die ouer universiteite is ongehinderd gelaat, terwyl die nuwe kolleges en universiteite meestal Engels was. Die SAUK het probeer om Afrikaans en Engels geyk te behandel, al het Engels in sowel die radio as die televisie mettertyd die oorhand begin kry. In die staatsdiens het gelykheid bestaan, maar in die ekonomiese lewe het Engels die belangrikste taal gebly.

Die ou bedeling het Afrikaans en Engels bo die Afrikatale bevoordeel, maar in die apartheidstyd is met volwaardige radiodienste in dié tale begin, terwyl televisiedienste vir die vyf grootste Afrikatale ingestel is kort nadat Afrikaans en Engels op TV in gebruik geneem is. Moedertaalonderwys in die Afrikatale is bevorder deur die Wet op Bantoe-onderwys van 1953, wat laerskool-onderwys in die moedertale verpligtend gemaak het.

Hierdie maatreël het die ontwikkeling van die tale aangehelp. In die hoërskole was hulle egter nie voertale nie, onder meer weens ’n gebrek aan handboeke daarin, maar ook omdat die ouers en leerlinge Engels as die taal beskou het wat vir die toekoms noodsaaklik was. Die English Academy het sedert 1970 ’n veldtog gevoer om Engels in swart skole te bevorder. Hoewel hoërskole Afrikaans en Engels kragtens die 1953-wetgewing sover moontlik gelyk moes behandel, het skole meestal verlof gekry om slegs Engels te gebruik. In die 1970’s het party amptenare daardie verlof geweier en die beleid soms onbuigsaam toegepas.

Verset teen apartheid was ’n belangrike rede vir die 1976-opstand. Die voertaalkwessie was iets soos ’n laaste druppel wat die emmer laat oorloop het. In ’n amptelike verslag oor die 1976-onluste is bevind dat die polisie en amptenare ondanks talle waarskuwings nie ’n dreigende gevaar sien kom het nie. Op 16 Junie 1976 het betogings teen die gebruik van Afrikaans begin en oor die hele land uitgebrei.

Anders as wat party mense deesdae dink, was dit nie die bedoeling om Afrikaans deur ’n ander Afrikataal te vervang nie, maar om te verseker dat Engels die enigste voertaal vir hoërskole word. Ná die opstand het die verengelsing van swart onderwys toegeneem. Ook die tuislande het Engels in plaas van die Afrikatale in die onderwys bevorder.

Die apartheidsbeleid en die toepassing daarvan het onreg veroorsaak en die 1976-onluste het ’n negatiewe gesindheid teenoor Afrikaners en Standaardafrikaans laat toeneem. Party bruin Afrikaanssprekendes het die land verlaat en sommige ander het verengels.

Sou dit beter vir Afrikaans gewees het as daar geen apartheid was nie en algemene stemreg en verpligte integrasie reeds gou ná 1948 ingevoer is? Dis moeilik om afdoende daarop te antwoord.

Dit is egter seker dat Engels ná graad 4 die onderrigtaal van die swart meerderheid sou gebly het. Dit sou onvermydelik die staatsdiens vinnig laat verengels het. Afrikaanse skole en universiteite sou gouer onder druk gekom het om Engels in te voer. Die SAUK sou soos tans beslis geen gelyke behandeling van Afrikaans en Engels in die TV-diens toegelaat het nie.

Sou die gesindheid teenoor Afrikaans beter gewees het? Baie sou afgehang het van hoe integrasie toegepas sou word. In die suide van die VSA het gedwonge integrasie verset uitgelok. So iets bevorder nooit gesindhede nie. Bowendien bevorder integrasie van mense van verskillende taalgroepe altyd die polities en ekonomies dominante taal – in Suid-Afrika dus Engels.

Apartheid het die beeld van “die Afrikaner” skade gedoen. Onthullings van werklike wandade, maar ook ongegronde persepsies, halwe waarhede en onwaarhede het party Afrikaners skaam gemaak vir hul groep (dit lyk amper of die woord volk uit die woordeskat verdwyn!) en onwillig om hulle te beywer vir enigiets wat vertolk kon word as “Afrikanerbelange”. Ook taalhandhawing het onder verdenking gekom.

Die slot van die geskiedenis van Afrikaans in die “ou bedeling” mag nie vergeet word nie. Afrikaanse joernaliste, skrywers, akademici en ander intellektuele het ’n nuwe klimaat geskep waarin die bewindhebbers ’n einde kon maak aan die ou orde omdat hulle dit beskou het as in stryd met “voortbestaan deur geregtigheid” (N.P. van Wyk Louw).

Die “ou bedeling” – gegrond op die 1910-grondwet met sy reg en sy onreg – het aan Afrikaans ’n geleentheid tot ontwikkeling gegee. Sy skeppende geeste het dit behoorlik benut en dié taal tot ’n kultuurtaal met ’n bloeiende letterkunde, volwaardige wetenskapstaal en lewendige massamedia opgebou. Die ou bedeling het aan Afrikaans die kans gebied om ’n “goue eeu” te beleef – soos wat Engels, Frans, Spaans, al die groot tale, hul goue eeue kon beleef en letterkundes kon skep in lande wat gedy en uitgebrei het deur slawerny, oorloë, verowering en kolonisering. Die realiteit van reg en onreg is dat groot volke en taalgemeenskappe kan onreg pleeg en as gevolg daarvan floreer, terwyl kleiner volke kan ly onder die onreg van die grotes én die reaksie op onreg wat hulle (die kleineres) soms self kan pleeg.

’n Aangepaste uittreksel uit ‘Ons gaan ’n taal maak’. Afrikaans sedert die Patriot-jare deur J.C. Steyn, gewese professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat. Dis verkrygbaar by Kraal, telefoon 012 644 4329 & www.kraaluitgewers.co.za.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Alwyn Beetge ·

n Eerlike uiteensetting van gebeure om Afrikaans. Voor 1948 het die Afrikaners n dilemma gehad. Hul was in beheer van die land na die Anglo- Boere oorlog en dit kon sekerlik nie verwag word dat in hul vryheidsstrewe hul sommer die mag sal weggee nie. Verder was die plaaslike bevolking on ontwikkel en geen regdenkende persoon sou wou assimmileer en oorheers word nie.
Na 1948 is baie gedoen deur die destydse regering om afsonderlike volke en tale te ontwikkel.Natuurlik sou dit nie werk nie want die oorwinningsprys was eenvoudig te groot om die hele land in te palm veral met die Westerse beheptheid van een mens een stem in n unitere staat.
Afrikaans was natuurlik n handige politieke wapen (soos nog vandag nog} om die politieke sisteem te manipuleer. Anti-Apartheid prropaganda is natuurlik ook n kragtige wapen om die mag te verkry. Natuurlik sal daar Afrikaners wees wat meelopers of hensoppers soos onder alle volke. Hulle hoof agenda is nie die Afrikaner en Afrikaans se voortbestaan nie.

Hannes Deetlefs ·

Dit val my op dat Afrikaans dieselfde verbete stryd teen Engels – eintlik Amerikaanse Engels – voer soos dit die Franse en die Duitsers ook maar moet voer. “Non speak Anglaise” sal die huurmotorbestuurder in Parys vir jou omonwonde verklaar as jy hom op Engels aanspreek. En die Duitser sal sy tong draai en verkreukel om Engels te praat. En tog is die Franse en die Duitse kulture heel goed genog om teen die Amerikanismes, die “Mac Donaldisme” van Amerika aan te gaan. Afrikaners behoort hieruit te leer: Hoe eenvoudig koers, dis die beste en enigste oplossing. Afrikaans is ‘n oorspronklike, klankvolle en moderne taal, al beweer die Engelse – en die, wat van swak Engels hou, ook – dat dit ‘n “Kitchendutch” is en bly. Die arme drommels weet nie van beter nie.

George Bekker ·

Prof Steyn vra: “Sou dit beter vir Afrikaans gewees het as daar geen apartheid was nie en algemene stemreg en verpligte integrasie reeds gou ná 1948 ingevoer is? Dis moeilik om afdoende daarop te antwoord.” Eintlik is dit eerstens ‘n politieke vraag. Wat het toe in 1994 gebeur? Die swart mense het gewen in die een mens een stem verkiesing en die ANC het geweldig gestruggle om die land se administrasie oor te neem en sake op ‘n aanvaarbare vlak aan die gang te hou, want hulle kundigheid was nog nie voldoende nie. As so iets kort na 1948 gebeur het sou die vyandigheid teen ‘n hoofsaaklik Afrikaner regering nie bestaan het nie (die Smuts regering is nie as ‘n Afrikaner of Afrikaanse regering ervaar nie), maar die swart bewind sou geen kans gehad het om sake te beheer nie, want daar was bitter min swartmense wat hoërskool opleiding voltooi het. Totale chaos sou geheers het.

Dis veral dr Verwoerd, hier teen 1960, wat swart onderwys drasties op ‘n hoër vlak geplaas het en talle nuwe universiteite gestig het. (Ek sê dit as iemand wat gemengde gevoelens oor Verwoerd het.) Herman Giliomee bevestig hierdie punt.

Al het die verslag oor die 1976 onluste “bevind dat die polisie en amptenare ondanks talle waarskuwings nie ’n dreigende gevaar sien kom het nie.” (aanhaling van Steyn) het ek bedenkinge oor hierdie stelling. Ek het in die Kaap gebly, koerante gelees en gewéét hier kom moeilikheid. Swart ouers het sterk gevoel oor die opvoeding van hulle kinders en dr A P Treurnich het net bepaal dat die helfte van vakke in Afrikaans aangebied moet word en klaar, terwyl min swart onderwysers oor die nodige kennis van Afrikaans beskik het. Dit was ‘n absolute dom politieke besluit en ek kan nie glo dat talle wit inspekteurs nie hierteen gewaarsku het nie. Ons weet uit wat later gebeur het dat in die weermag en die polisie die probleem altyd laer af gesoek is. In talle gevalle is swart mense wel deur optrede van die ou bewind bevoordeel, soos pas aangetoon. Die vorige regering het egter nie daarin geslaag om sy beleid aan die swart mense te “verkoop” nie. ‘n Groot deel van die beleid was in elk geval “onverkoopbaar”.

Steyn begin sy artikel met die vraag: “Het die “ou bedeling” van voor 1994 Afrikaans bevoordeel of benadeel?” Ek wil afsluit met: vir my was miskien die ergste benadeling van Afrikaans die lamsakkige wyse waarop onderhandelings in die 1990’s deur die “ou bedeling” gevoer is. In terme van getalle en ander feite was dit onrealisties om te dink dat die ou taalbedeling kan voortgaan, maar om bv. nie Afrikaans as onderwys- en akademiese taal behoorlik te beskerm nie, is onvergeeflik.

George Bekker ·

Prof Steyn vra die vraag: “Sou dit beter vir Afrikaans gewees het as daar geen apartheid was nie en algemene stemreg en verpligte integrasie reeds gou ná 1948 ingevoer is? Dis moeilik om afdoende daarop te antwoord.” Eintlik is dit eerstens ‘n politieke vraag. Wat het toe in 1994 gebeur? Die swart mense het gewen in die een mens een stem verkiesing en die ANC het geweldig gestruggle om die land se administrasie oor te neem en sake op ‘n aanvaarbare vlak aan die gang te hou, want hulle kundigheid was nog nie voldoende nie. As so iets kort na 1948 gebeur het sou die vyandigheid teen ‘n hoofsaaklik Afrikaner regering nie bestaan het nie (die Smuts regering is nie as ‘n Afrikaner of Afrikaanse regering ervaar nie), maar die swart bewind sou geen kans gehad het om sake te beheer nie, want daar was bitter min swartmense wat hoërskool opleiding voltooi het. Totale chaos sou geheers het.

Dis veral dr Verwoerd, hier teen 1960, wat swart onderwys drasties op ‘n hoër vlak geplaas het en talle nuwe universiteite gestig het. (Ek sê dit as iemand wat gemengde gevoelens oor Verwoerd het.) Herman Giliomee bevestig hierdie punt.

Al het die verslag oor die 1976 onluste “bevind dat die polisie en amptenare ondanks talle waarskuwings nie ’n dreigende gevaar sien kom het nie.” (aanhaling van Steyn) het ek bedenkinge oor hierdie stelling. Ek het in die Kaap gebly, koerante gelees en gewéét hier kom moeilikheid. Swart ouers het sterk gevoel oor die opvoeding van hulle kinders en dr A P Treurnich het net bepaal dat die helfte van vakke in Afrikaans aangebied moet word en klaar, terwyl min swart onderwysers oor die nodige kennis van Afrikaans beskik het. Dit was ‘n absolute dom politieke besluit en ek kan nie glo dat talle wit inspekteurs nie hierteen gewaarsku het nie. Ons weet uit wat later gebeur het dat in die weermag en die polisie die probleem altyd laer af gesoek is. In talle gevalle is swart mense wel deur optrede van die ou bewind bevoordeel, soos pas aangetoon. Die vorige regering het egter nie daarin geslaag om sy beleid aan die swart mense te “verkoop” nie. ‘n Groot deel van die beleid was in elk geval “onverkoopbaar”.

Steyn begin sy artikel met die vraag: “Het die “ou bedeling” van voor 1994 Afrikaans bevoordeel of benadeel?” Ek wil afsluit met: vir my was miskien die ergste benadeling van Afrikaans die lamsakkige wyse waarop onderhandelings in die 1990’s deur die “ou bedeling” gevoer is. In terme van getalle en ander feite was dit onrealisties om te dink dat die ou taalbedeling kan voortgaan, maar om bv. nie Afrikaans as onderwys- en akademiese taal behoorlik te beskerm nie, is onvergeeflik.

Hannes Deetlefs ·

Wat het tog daardie liewe Engelsonderwyseres vir ons as Matriek-klas altyd gesê, en dit met groot oortuiging: “All children should be taught in their mother tongue.” Net, dat dit vir haar tog te duidelik was dat die “mother tongue” niks anders as suiwer, “The Queen would say”-Engels kon wees nie. Die liewe dame het ook nooit die moeite gedoen om een van die ander tale te leer of selfs net daarna te kyk nie, nie eens Duits (sy het aan ‘n Duitse Privaatskool onderrig!) of Fraans nie, vergeet van die tale van Afrika.
Dit is natuurlik hierdie arrgoante houding wat dinge vir ander tale so bemoeilik, so onmoontlik maak. Ongelukkig het die VSA dieselfde idee van die lewe, hulle, die “polisie van die aardbol wat sê wat wet is en wat geduld word”.
En, as die ander kant (in hierdie geval die Afrikanerdom) nie veg nie, nie werklik van hul waarde oortuig is nie, dan sal Engels en die arrogante houding altyd wen. As twee vliegtuie bots (en dit het gebeur) is die eerste vraag: Het die twee bemannigs Engels gepraat of nie. En as dit uitkom dat die een groep Nederlands gepraat het, is dit duidelik wie vir die botsing gesorg het. Sooooo eenvoudig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.